deur Mike Oettle
POLYKARPOS[1] is ’n heilige wat miskien aan jou bekend mag wees, al het hy oor die 1 700 jaar gelede geleef. (Aan die ander hand, sal jy miskien die naam aanskou as paslik vir ’n papegaai – ’n familieverwant van ons het eenmaal sy voëltjie na hom vernoem!) ’n Naam wat miskien nie so bekend sal wees nie is Maqhamusela Khanyile, al het hy in Suid-Afrika geleef en so onlangs gesterf as 1877. Maar hierdie twee martelare het, eienaardig genoeg, heelwat in gemeen, en dit is, voel ek, die moeite werd om die oop te pluis.
Ironies, al leef ons in ’n tyd wanneer feitlik alles neergeskryf word, is daar heelwat minder bekend van Maqhamusela (sy naam verskyn 9 Maart op die almanak) as van Polykarpos (23 Februarie), alhoewel heelwat van wat van
Maqhamusela bekend is, heelwat later neergeskryf is, en ook onseker is.
Dit word vertel dat die Apostel Johannes self vir Polykarpos as biskop van Smirna (huidiglik Izmir, langs die Egeïse kus van Turkye) op ’n onbepaalde tydstip voor 96 nC aangestel het, en dat hy sowat 70 jaar lank in hierdie amp gedien het, en uiteindelik Patriarg van Asië geword het (dit wil sê, die klein Romeinse provinsie Asië, nie die vasteland nie). Danksy sy groot ouderdom het hy uiteindelik blykbaar die laaste lewende skakel geword met die apostels, en was hy ’n man wat uitgesoek is vir sy liefdevolle wysheid en sy herinneringe aan die apostels se leer.
In die middel van die tweede eeu (volgens sommiges was dit 166 nC, ander sê 156) het Smirna die middelpunt geword van ’n bittere vervolging, en die gepeupel van die stad het vir sy bloed uitgeroep. Polykarpos het op ’n plaas skuiling gesoek, waar hy sy dae en nagte in gebed deurgebring het. Een nag het hy in ’n vervoering die kussing onder sy kop sien brand, en het hy wakker geword en vir sy vriende vertel: “Ek moet lewendig verbrand word.”[2] Hy het op ’n ander plaas gaan bly, maar is toe verraai. Een aand het ruiters hom kom wegneem. Polykarpos het vir die manne kos en drank bestel en het toe, met hul toestemming, ’n paar uur lank hardop gebid vir almal wat hy geken het, en vir die Kerk. Toe is hy weggeneem, eerstens op ’n donkie en later in die rytuig van die polisiehoof, wat sy beste gedoen het om die biskop te oorreed om aan Cæsar ’n offer te maak.
Hy is na die stads arena geneem, waar die pro-konsul hom probeer oorreed het om sy geloof te ontken en om vir Christus te verguis. Polykarpos antwoord: “Ses-en-tagtig jaar lank reeds is ek Sy dienskneg, en Hy het my geen skade aangedoen nie. Hoe kan ek my Koning belaster, Hy wat my verlos het?”[2] Verdere argumente en bepleitinge was tevergeefs. Die ou man het gestaan, sy gesig helder met genade, gesê: “Ek is ’n Christen.” Die gespuis het uitgeroep toe hy ter dood veroordeel is en die vuur aangesteek. Polykarpos het geweier om aan die stapel vasgespyker te word, en het volhou dat hy sou staan totdat die vlamme hom verbrand het.
Maar die vuur kon hom nie verbrand nie, en die laksman is beveel om hom eerder met ’n mes te steek; Polykarpos se sterwensbloed het die brand geblus. Slegs nadat ’n rusie ontstaan het oor wat met die lyk sou gebeur dat dit
uiteiendelik veras is.
Aan die ander hand was Maqhamusela[3] nie ’n biskop nie; inteendeel was hy nie eens gedoop nie toe hy ’n slagoffer geword het van koning
Cetewayo[4] van die amaZulu. Maar hy was ook van gevorderde ouderdom en is ook gedood omdat hy geweier het om sy Here namens sy heerser te ontsê.
Maqhamusela was ’n bekeerling van die Noorweegse Sendinggemeenskap, wat in die laat 1850s sy eerste sendingstasie in Zoeloeland geopen het, en nog sendelinge gestuur het onder beskerming van koning Mpande, wie geweiere het om bekeer te word, maar toegelaat het dat sy volk dienste bywoon.
Sy seun, Cetewayo, wat sedert 1856 namens sy vader gheers het en wat in ’72 die ou koning opgevolg het, het as doel gehad die herstel van die militêre prestasie van die amaZulu en het hy die teenwoordigheid kwalik geneem van sendelinge wat die vrede gepreek het. Hy het nie daarin geslaag om van die
sendelinge ontslae te raak nie, maar sy soldate het Zoeloe-Christene op verskeie
maniere vervolg.
Op Eshowe in 1877 het ’n groep krygsmanne vir Maqhamusela genader en hom aangesê dat hy gedood gaan word. Hoekom, vra die ou man. “Want jy leer die geloof, en wil gedoop word,” antwoord hulle.[5]
“Dit is
goed,” sê Maqhamusela, “maar laat my eers bid.” Hy kniel toe en bid. Daarna
staan hy weer op en sê hy: “Nou is ek gereed. Slaaan my dood.”
Soos die spiese hom deursteek het, het ’n donderstorm uitgebreek. Vele amaZulu het dit gesien as teken van Gods toorn teenoor Cetewayo, en die gevolg van Maqhamusela se marteldood was dat hul geloof gegroei het, ten spyte van verdere vervolging.
Nà die Zoeloe-oorlog van die daaropvolgende jaar, kon die Noorweegse sendelinge 541 gedoopte bekeerlinge wys (teenoor slegs ’n handjievol voorheen) en oor die 500 leerlinge in sendingskole. Ander kerke het ook onder die Zoeloe posgevat, en is ’n meerderheid van die Zoeloe-nasie vandag Christene.
Vooraanstaande onder sy Christene is die Buthelezi-klan, waaronder kaptein Mangosuthu Buthelezi[6] (’n leke-Anglikaan), en twee biskoppe, dr Manas Buthelezi van die Lutherse Kerk en aartsbiskop
Peter Buthelezi van die Rooms-Katolieke Kerk.
[1] In Grieks skryf ’n mens sy
naam as PolukarpoV.
[2] Aangehaal uit Stars Appearing, deur Sybil Harton.
[3] Die letter Q in hierdie naam staan vir een van die drie kliek-geluide wat kenmerkend is van die Nguni-tale en van Suid-Sotho; hierdie tale het klieks uit die Khoisan-tale van die inheemse volkere van Suider-Afrika ontvang.
Om hierdie spesifieke kliekgeluid te maak,
trek die tong weg van die verhemelte heel bo in die mond.
Die Bantu-tale van Suider-Afrika erken nie
klem soos wat dit in Europese tale voorkom nie; al die lettergrepe het min of
meer gelyke klem.
In Maqhamusela se familienaam, Khanyile, staan
die kombinasie KH nie vir ’n geluid soos die Afrikaanse G nie. Eerder is dit ’n
K-klank wat deur uitaseming gevolg word.
[4] Die eerste letter in hierdie koning se naam, C, is nog ’n kliekgeluid. Hierdie een word gemaak deur om die tong van die verhemelte direk agter die voortande terug te trek.
Engelssprekendes maak soms hierdie klank, en
word dit in Engels geskryf as “tsk-tsk”.
[5] Aangehaal uit A History of Christian Missions in South Africa, deur J du Plessis (my vertaling).
[6] Kaptein Buthelezi was, toe hierdie artikels eers geskryf is, leier van die Inkatha-Vryheidsparty en Hoofminister van KwaZulu. In 1994 is hy tot die Nasionale Vergadering verkies en het ’n dekade lank as Kabinetminister gedien.
Hy het voorheen as Gatsha bekend gestaan, maar in terme van Zoeloe-tradisie moes hy hierdie naam laat vaar nà die dood van sy moeder, wat dit vir hom gegee het.
Hy verkies om as dr Buthelezi bekend te staan, maar alhoewel hy eredoktorate hou, het hy nie deur formele studie ’n doktoraat behaal nie.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle