deur Mike Oettle
DAAR was al veel wat onregmatig as ketters verbrand is, maar min met meer
onreg as Girolamo Savonarola, wat 23 Mei 1498 opgehang en toe verbrand is. En
tot vandag toe leef die onreg voort, want die Kerk van Rome het steeds nie
ingestem om hom tot heilige te verklaar nie, ten spyte van verskeie wonderwerke
wat tot sy toedoen toegeskryf is.
Hy is in 1452 op Ferrara gebore, en sy opvoeding was deur sy oupa, Michele Savonarola, ’n mediese dokter en ’n man van onwrikbare sedelike en
godsdienstelike beginsels. Van hom het die jong Girolamo blykbaar ’n
Middeleeuse uitkyk op die wêreld verkry wat vir hom van sy Renaissance-tydgenote laat uitstaan het. “Selfs op daardie vroeë tyd, het hy in
’n brief aan sy vader geskryf, kon hy nie ‘die blinde goddeloosheid van die
volkere van Italië’ verdra nie. Hy het ondraaglik die humanistiese heidenisme
gevind wat sedes, kuns, poësie en selfs godsdiens vervorm het. Hy het ingesien
dat die oorsaak van hierdie verspreidende korrupsie die geestelikes was wat
selfs in die hoogste vlakke van die kerklike hiërargie boosaardig was.”[1]
Hy het vir ’n baccalaureaat in die vrye kunste gestudeer en toe artseny begin leer, maar in 1475 het hy sy vader se huis en ook sy studies verlaat om op Bologna by die Dominikaanse Orde aan te sluit
Broeder Girolamo het ’n dosent van die Skrif geword, eerstens op Ferrara (in ’79) en toe in Florence[2] (’82), “waar hy ’n groot reputasie verdien het vir sy geleerdheid en asketisme. As prediker was hy onsuksesvol totdat ’n skielike openbaring hom geïnspireer het om sy profetiese preke te begin.”[1] Hy het in ’85 en ’86 in die Vastyd onderrig gegee waarin hy sy aanhoorders geleer het dat die Kerk hervorming benodig het, dat dit kastyding sou ly en dan hernieu so word.
In 1487 het hy ’n jaar lank Bologna toe gegaan om studiemeester te wees op die skool (kollege) aldaar, en het dan in verskeie stede gepreek totdat Lorenzo dei Medici gereël het dat hy na Florence sou terugkeer – ’n ironie, want Savonarola sou die mees uitgesproke vyand word van die Medici.
“Met sy terugkeer na die stad van sy lotsbestemming (1490), het Savonarola vrymoedig teen die tiranniese misbruike van die regering gepreek. Te laat het Lorenzo aan die gevaarlike welsprekendheid met dreigemente en paaiwoorde probeer keer, maar sy eie lewe was na aan sy einde, terwyl die geesdrif onder die bevolking vir Savonarola se preke aanhoudend vermeerder het.”[1]
Nà Lorenzo se afsterwe is die Medici deur Charles[3] VIII van Frankryk omvergewerp – soos Savonarola dit voorspel het. Sy profesieë, en sy rol as tussenganger, het sy gesag verhoog, en Girolamo het ’n demokratiese
regering bewerkstellig.
Die vyande van Frankryk en van Savonarola het nou in die sogenaamde Heilige Alliansie saamgesweer met die doel om hom af te sit, en pous Alexander VI,[4] een van die belhamels, het hom na Rome ontbied. Girolamo het gepleit dat hy nie gesond is nie. Die pous het hom na Bologna ontbied. Girolamo het in die dokument 18 foute uitgewys. Die pous het hom verbied om te preek. Florence het daarop aangedring dat die verbod op Savonarola gelif word, en die pous het mondelings ingestem. “So is dit moontlik gemaak dat Savonarola sy preke oor Amos kon lewer, wat onder sy beste en mees deurtastend is, en waarin hy die Roomse hof met hernieude geesdrif aangeval het. Hy het ook blykbaar verwys na die pous se skandelike privaat lewe, en laasgenoemde het aanstoot geneem hierteen. ’n Kollege teoloë het in die broeder se woorde niks gevind wat hulle kon kritiseer nie, en na die Vastyd kon hy dan begin, sonder verdere remonstransies uit Rome, met sy preke oor Rut en Miga.”[1]
Die pous se daaropvolgende strategie was om vir Savonarola ’n
kardinaalshoed aan te bied. Sy antwoord: “’n Rooi hoed? Ek kort ’n bloedige
hoed.” Alexander het toe Girolamo se broedergemeente by ’n ander ingelyf, wat
hom van alle gesag ontneem het. Savonarola, wie se enigste alternatief
ekskommunikasie was, het dit gehoorsaam. Hy het nietemin tydens Advent 1496 en
in die Vastyd van 1497 voortgegaan met preke oor Esegiël. Florence het in die
karnavaltyd daaraan gehoor gegee met ’n verbranding van nietighede – onsedelike
beelde, kaarte, speeltagels en persoonlike ornamente is op ’n brandstapel
gewerp.
Maar gebeure het teen Savonarola gedraai. Die Hemelvaartdag is gekenmerk aan heiligskennende onluste, en is hy in die ban gedoen. Tog was die
ekskommunikasiebul so onreëlmatig dat die pous dit moes ontken. Die pous het
toe gepoog om Florence in die “Heilige Alliansie” in te trek as die prys vir
die bul se onttrekking. Girolamo se antwoord was ’n reeks preke oor Eksodus
vir die Vastyd van 1498.
Dit was fra Domenico da Pesca wat sake op ’n punt gebring het. ’n
Franciskaan enigiemand wat die egtheid van Savonarola se ekskommunikasie
betwyfel het, tot ’n brandbeproewing uitgedaag, en Domenico het die uitdaging
opgeneem. Op die gekose dag het die Franciskaan nie opgedaag nie, maar die
gespuis het vir Savonarola geblameer dat ’n wonderwerk nie plaasgevind het nie.
Die pouslike faksie het oproerig geraak en het Girolamo, Domenico en nog ’n
orderbroeder geneem. Nà ’n valse verhoor deur pouslike afgevaardigdes, het die
siviele owerhede die drie metgeselle op ’n hoë skavot bo ’n brandende vuur
opgehang. Voordat hy die skavot bestyg het, het Savonarola vroom die pous se
absolusie ontvang.
Sedert sy dood is Savonarola deur beide Katolieke heiliges (mense wat later tot heiliges verklaar is) en Protestante vereer. Maar sy beste nalatenskap lê miskien in sy geskrifte, waaruit Triumphis crucis en Compendium revelationum en enkele preke uitstaan – iemand het die preke neergeskryf toe hy dit gelewer het. Miskien sal hy tog as heilige erken word.
[1] Uit Encyclopædia
Britannica aangehaal (my vertaling).
[2] Die Afrikaanse vorm van
hierdie Italiaanse stadsnaam word dieselfde as in Engels gespel, maar die
uitspraak is meer Frans. Die Italiaanse naam is Firenze.
[3] Hierdie Franse voornaam het
dieselfde spelform as in Engels, maar dit word anders uitgespreek. Dit is nie
Tsjarlz nie, maar Charl (soos die Franse vorm in Afrikaans geskryf word).
[4] Die Spaanse pous Alexander
VI se regte naam was Rodrigo de Borja y Doms, en hy is in Italië Rodrigo Borgia
genoem.
Die Encyclopædia Britannica beskryf hom as korrup, wêreldlik en ambisieus. Hy het ’n houvrou gehad, en sy kinders het berugte loopbane gehad.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle