Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Mal Caterina of heilige Caterina?

deur Mike Oettle

DIE naam Catarina van Siena, wat 29 April op die almanak verskyn, bring die fokus op die praktyk van asketisme,[1] wat vir die Protestantse tradisie so vreemd is, selfs ietwat in Anglikanisme. Hierdie artikel het oorspronklik in die Vastyd (ook Lent genoem) verskyn, wat miskien ’n paslike tyd is vir ’n nadere blik op hierdie verskynsel.

Die meisie se naam was Caterina Benincasa, en sy is 25 Maart 1347 in die Italiaanse stad Siena[2] gebore, in die rûens van Toskanje suid van Florence. Sy was die dogter van ’n familie weefstofkleurders in die stad se besige tekstiel-distrik. Sy was ’n gewone, gelukkige kind totdat sy in die ouderdom van ses jaar ’n lewensveranderende belewing deurgemaak het. “Sy was saam met haar broer op straat en daar, bokant die groot kerk van die Heilige Domenicus wat bo-op die heuwel getroon het waar haar huis gestaan het, he sy in ’n hemel vol onaardse kleure en vorms vir Christus gesien, op sy troon as priester. Hy het stip na haar, Caterina, gekyk, en haar geseën.”[3]

Stilte, selfonthouding en gebed het hierna haar wens en haar lewe geword, selfs toe haar familie daarop aangedring het dat sy met die kleurwerk moet help. As tiener is sy deur haar familie, en veral deur haar moeder, aanhoudend gepla, en gedwing om hard te werk (alhoewel sy haar nooit daarteen verset het nie). Maar toe sy 16 was, het haar familie ingegee en haar toegelaat om haar eie kamertjie te hê waar sy op ’n plank geslaap het, en geleef het op bietjies brood, water en ongekookte groentes. Sy het slegs uitgegaan kerk toe, en het slegs gepraat toe sy voor die priester gaan bieg het. Eenmaal is sy selfs uit die kerk gewerp toe sy in ’n geestelike vervoering was, blykbaar omdat sy van dronkenskap verdink is.

Toe sy 19 was het sy haar binnewaartse geesteslewe na die wêreld gedraai. Sy het steeds haar selfverloënende leefwyse gevoer, maar het ook vir haar familie as bediende gewerk. Sy het by die Dominikaanse Orde as tersiêre aangesluit (iemand wat ’n eenvoudige eed aflê maar buite ’n klooster mag bly), en het in die hospitale van Siena gewerk en ’n bediening onderneem aan die armes en melaatses. Een melaatse het selfs in haar kamer gebly.

Sy het opspraak gewek, en priesters sou by haar besoek aflê om haar wonderwerkende vermoëns en haa teologiese kennis te toets. Sy het feitlik heeltyd gevas, en het dikwels die eucharistiese hostie as haar enigste kos ingeneem. Dit is nie verbaaslik dat sy begin het om verskriklike pyn te ly en, so is dit vertel, het sy selfs die merke van die kruisiging getoon, wat in die Katolieke geloof beskou is as ’n merk van spesiale goddelike genade.

En toe mense begin uitvind het dat sy geestelik rein was, het sy ’n gevolg verkry. Selfs haar moeder het by hierdie groep aangesluit. Sommiges het vir haar briewe geskryf, want sy het met vooraanstaande mense begin korrespondeer, in ’n desperate strewe om vrede in ’n Italië wat gely het onder oorloë tussen stede in vorste waarin selfs die Kerk betrokke was.

Sy het vir haar land hoop beging insien in die terugkeer van die pous uit Avignon, waar die Heilige Bisdom gesetel was sedert die verkiesing van die swak Franse pous Clementius V in 1305. Onder druk van die Franse koning het hy versuim om na Rome te verhuis.

Die idee om die pous na Rome te bring was nie aanvanklik Caterina se gedagte nie. Om die waarheid te sê, toe sy in 1376 saam met haar biegvader Raimundo van Capua gereis het (Raimundo het later haar lewensverhaal geskryf) was haar hoofdoel vrede in Italië en ’n kruistog teen Islam. Maar sy het oortuig geword dat dit nodig was om pous Gregorius XI na Rome te bring, en haar volharding is beloon – alhoewel sy nie die kardinale oortuig het nie. Gregorius (wat in 1378 oorlede is) het nie lank genoeg geleef om enige verskil te maak. Die diktatoriale Urbanus VI het hom opgevolg, en toe hy vir sekere van die kardinale aanstoot gegee het, het hulle daarop gereageer met die verkiesing van nog ’n pous, Cle­mentius VII. Toe Clementius nie van Urbanus beheer oor Rome kon verkry nie, het na Avignon teruggeval – en het daardeur die Groot Skisma begin.

Caterina se pogings om vrede te maak – sy het ook in ander twiste as tussenganger opgetree – is nie met sukses bekroon nie, maar mense het nietemin in hulle honderde hulle na haar gewend en die lewens van baie indiwidue is verander. Aan die einde van haar kort lewe het sy oor slegs enkele dae ’n boek gedikteer wat later as die Dialogo bekend gestaan het, wat bestaan uit verhandelinge wat tans Voorsienigheid, Oordeel, Gebed en Gehoorsaamheid genoem word – ’n boek wat steeds gebruik word as handboek deur mense wat besig is met beide gebed en diens. Sy het toe na Rome gereis om haarself tot Urbanus se beskikking te plaas.

Afgeleef en uitgeput, al was sy slegs 33, het Caterina ’n reeks beroertes gely en is sy 29 April 1380 oorlede. In 1461 is sy tot heilige verklaar, en in in 1939 tot beskermheilige van Italië.

Was haar opoffering dit werd? Wie is ons om oordeel te vel? Die idee van iemand wat op ’n plank slaap en van gebed en die Liggaam van Onse Here leef lyk vir ons in die 21ste eeu meer soos malheid. Maar die geestelikes wat haar ondersoek het was tevrede dat sy eg was, en sy het beslis ’n invloed ten goede gehad in die lewens van honderde – miskien duisende – mense. Miskien vind ons die beste raad in Jesus se woorde in die Berpredikasie: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” (Matteus 7:1)

Caterina is ook die naam van vyf ander heiliges, van wie drie ook laat-Middeleeuse Italiaanse mistici was. Die naam se gewildheid kom blykbaar van Caterina van Alexandrië, wie na berig word in die vroeë 4de eeu nC dood is deur om op ’n spekige wiel gemartel te word en daarna onthoof is – maar die vroegste dokument wat haar dood berig verskyn eers so laat as die 9de eeu, en is as legende verwerp. Haar feesdag, 25 November, het van die kerk-almanak weggeval, maar ’n vuurwerk wat haar naam dra bly gewild.

Die naam self kom van die Griekse Aikaterine (Aikaterine), waarvan die oorsprong en betekenis onbekend is. Foutiewe navorsing het dit egter van die Griekse woord kathara (kaqara) afgelei, wat rein of onbevlek beteken – ’n betekenis wat blykbaar in gedagte was in die besluit om menige Caterina, Katarina, Catherine, Kathrine, Kath­leen, Catriona of Katrina so te noem.



[1] askeet: “Persoon wat hom onthou van sinlike genietings en na volmaaktheid strewe, o.a. deur selfkastyding.”

Die HAT definieer asketisme so: “Leer dat ’n mens deur selfkastyding en onthouding van singenot na volmaaktheid kan strewe.”

My Engelse woordeboek het hierdie definisie van die woord ascetic: “one who rigidly denies himself ordinary bodily grati­fi­ca­tions for conscience’ sake; one who aims to compass holiness through mortification of the flesh; a strict hermit; one who lives a life of austerity”.

[2] Hierdie stad se naam word nie dieselfde as die Afrikaanse vrouenaam Siena uitgespreek nie nie. Sê dit as “Sie-jenna”.

[3] Aangehaal uit Stars Appearing, deur Sibyl Harton (my vertaling).1


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Aprilmaand 1990 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Skryf vir my: Mike Oettle