deur Mike Oettle
UIT al die heiliges op die almanak is daar een wat jy in die 21ste eeu skaars kan ignoreer: Valentinus. Tussen Kersfees en Pase is 14 Februarie die een dag wat die handel en veral die reklamewęreld aan die gang kry – hulle por by die publiek aan om op sentimentele geskenke vanaf groetekaarte tot juweliersware te spandeer . . . miskien selfs motorkarre.
En, anders as Kersfees en Paasfees, wat in die sekulęre węreld tog iets behou van hulle godsdienstige fokus, word Valentynsdag suiwer aangesien as ’n dag vir romanse in al sy vele variasies – waarvan sommiges heel onfatsoenlik is.
(Nie almal is oortuig dat selfs Kersfees godsdienstig is nie. ’n Gewilde spotprent van jare gelede toon ’n beatnik wat ’n plakkaat bekyk wat lees: “Put Christ back into Christmas”, en hy sę: “Like, man, they’re trying to push religion into everything these days.”)
Wie was dan Valentinus of Valentyn, en waarom is sy dag dan so belangrik vir almal behalwe die Kerk? – jy sal hom nie op moderne Kerk-almanakke vind nie.
Om mee te begin is niemand selfs seker dat daar wel ’n martelaar was met die naam Valentinus, en indien jy aanvaar dat daar wel so iemand was, vind jy dat hy op twee plekke geëerbiedig word . . . was hy een man of
twee?
Gestel nou daar was ’n Romeinse priester genaamd Valentinus agter die verskeie legendes wat uit die verlede uitkom, blyk dit of hy gedood is tydens die vervolgings wat fondom 269 nC deur die keiser Claudius II beveel is. Dit was natuurlik in die tyd toe die Kerk steeds vir ’n rewolusionęre organisasie aangesien is, en dit was nie tot nŕ Konstantyn (in 337 oorlede) dat rekord openlik gehou is en martelaars amptelik herdenk is. Valentinus was dus nie tot in 350 geëer nie, toe pous Sint Julius ’n basiliek (’n kerk in die vorm van ’n Romeinse magisteriële hofgebou) ter ere van hom laat bou het. Op die perseel van die basiliek het opgrawings ’n katakombe aan die lig gebring waarin die stoflike oorskot van ene Valentinus gevind is.
Maar daar is ook ’n tweede Valentynse tradisie wat ons mag verwar.
Die stad Interamna (huidiglik Terni genoem), 95 km vanaf Rome, het na berig word ’n biskop gehad genaamd Valentinus wat ’n marteldood gesterf het. Maar geen graf op Terni is as syne uitgeken nie, en miskien was die biskop van Interamna in Rome tereggestel. Moontlik is hy dieselfde Valentinus wat in die Romeinse basiliek herdenk word. Die getuienis is onseker.
Maar kom ons aanvaar dat die Valentinus wat in Rome tereggestel is – sy hy nou uit Rome of van Interamna – ’n priester was, miskien selfs ’n biskop. Hy kom na vore weens ’n edik van Claudius.
Hierdie keiser, Marcus Aurelius Claudius, om sy volle naam aan te gee, ook bekend as Claudius Gothicus weens sy sege oor die Gote in die Balkane in 269, het die jaar vantevore, 268, keiser geword. Hy was kortstondig heerser, want hy is in 270 in ’n veldslag dood, en het slegs oor Italië en die Balkane mag gehad – ander keisers is in Griekeland en langs die Ryn geproklameer. Die
barbaarse invalle was die hoofgevaar en hy het ’n groot aantal manne vir sy
legioene benodig.
Om nog rekrute in te trek, het Claudius gemaak wat Shaka sowat 1 600 jaar later sou doen: hy het jong manne belet om te trou. Volgens die storie oor hom wat die meeste vertel word, het die keiser se toorn op die hals gehaal deurdat hy jong paartjies in die huwelik gevestig het, en is hy, word dit
vertel, 14 Februarie hiervoor tereggestel.
Ander stories vertel dat Valentinus met kinders gewild was, en toe hy in die tronk gegooi is (omdat hy geweier het om die gode te eer) het die kinders vir hom liefdevolle briewe in sy sel gegooi. En nog ’n storie vertel dat
Valentinus die tronkbewaarder se blinde dogter weer laat sien het.
Pous Gelasius het in 496 14 February as Sint Valentynsdag genoem.
In Middeleeuse Frankryk het die Normandiërs van ’n minnaar of gallant as ’n galantine gepraat, en aangesien hulle die klanke V, W en G verwar het, was dit vir hulle ’n vorm van “Valentine”[1] – en daarom, word dit vertel, is die heilige as beskermheer van minnnars
aangesien
Die vroegste Engelse verwysings na Sint Valentynsdag noem dit as die tyd wanneer elke voël sy maat kies. Die 14de-eeuse digter Geoffrey Chaucer het The Parliament of Fowls geskryf, wat hierdie reël bevat: “For this was on St Valentine’s Day,/ When every fowl cometh there to choose his mate.”[2] En Shakespeare verwys ook daarna in A Midsummer Night's Dream.
Die tradisie van minnaars se boodskappe op Valentynsdag is versterk deur die storie van Charles,[3] Duc d’Orléans, wat in 1415 tydens die slag van Agincourt deur die Engelse
gevange geneem is, en in die Tower van Londen gehou is. 14 Februarie het hy sy
vrou ’n gerymde minnebrief vanuit sy sel gestuur.
Maar dit lyk of daar altyd onkruid is in enige rosetuin, en hierdie tuin se onkruid is ’n heidense Romeinse fees, Lupercalia. Hierdie fees, wat 15 Februarie gevier is, het as doel gehad beskerming teen wolwe. Jong mans sou mense met repies diervel slaan, en vroue, wat geglo het dat die slae hulle vrugbaar sou maak, het toegelaat dat hulle gelooi word. Dus het middel Februarie reeds sedert vňňr die dood van Valentinus ’n konnotasie van vrugbaarheid.
Ongelukkig is die koppeling tussen Sint Valentynsdag en al sy bybetekenisse wat nie heeltemal Christelik is nie (en dikwels heetemal onchristelik) taamlik sterk.
Aan die ander hand is die liefde – in al sy verskeie vorms – ’n gawe van God, en dit is miskien goed dat romantiese liefde, deur die beskerming van Sint Valentinus, vanuit ’n Christen-perspektief gesien kan word.
[1] Hierdie naamvorm word ook
in Frans gebruik; die uitspraak is anders as in Engels.
[2] Want dit was op Sint
Valentynsdag, wanneer elke voël daar kom om sy maat te kies.”
Let op die gebruik van
“fowl” vir “voël” – die Engelse woord spruit uit dieselfde Germaanse
wortelwoord, en het eers later in sy betekenis vereng tot waar dit vandag
“hoender” beteken.
[3] Die Franse uitspraak van hierdie voornaam is nie die Engelse Tsjarlz nie, maar SjaRl. (Die klein R dui op ’n bryklank.)
Die Afrikaanse voornaam Charl is ’n poging om
die Franse uitspraak te behou.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks