Prediker aan die
wêreld
deur Mike Oettle
’n MENS kan skaars die naam Wesley vergeet, want dit word aangetref as
kerknaam in verskeie dorpe en as voornaam in heelwat families. Maar om dit op
die Kerk-almanak by 3 Maart te sien: “John en Charles Wesley, Priesters” mag
vir Anglikane ’n bietjie verrassend voorkom. Was hierdie outjies dan nie
Non-Konformiste nie? En het hulle nie hul eie denominasie afgestig nie?
Nouja, alhoewel Non-Konformisme[1] in hul agtergrond ’n rol speel – hul vader, Samuel, is as Non-Konformis grootgemaak – is hulle in die rektorie gebore van die Kerk van Engeland op Epworth in Lincolnshire (tans in Humberside), waar Samuel ’n stoere Hoë-Kerk-predikant was. John, die tweede seun, is in 1703 gebore, en Charles in 1707. In 1709 het die predikantshuis afgebrand; John is net betyds gered. Later sou hy na homself “a brand plucked out of the burning”[2] verwys.
John het in 1724 op Oxford sy graad
behaal, is die jaar daarop diaken gemaak en in 1728 priester. In 1726 het hy ’n
socius geword van Lincoln College op Oxford en, met sy terugkeer na die
universiteit, het hy gevind dat Charles ’n groep gevorm het wat sommiges
spottenderwys die Holy Club genoem het, en waarvan John nou die leier geword
het. Omdat hierdie groep die enigste studente was wat konsensieus gepoog het om
die neergelegde studiemetode op Oxford probeer volg het, het ander vir hulle
Methodists genoem. Die klub, wat ook bekend was vir sy vroomheid en
weldadigheid, het slegs tot in 1735 bestaan, maar die naam leef voort.
In 1737 het John en Charles die
uitnodiging van kolonel James Oglethorpe, goewerneur van Georgia, opgeneem om
na die kolonie te gaan as sendelinge vir die Society for the Propagation of the
Gospel. Maar die sending was op verskeie vlakke ’n mislukking, en hulle het die
daaropvolgende jaar na Engeland teruggevaar.
In Amerika het hulle Morawiese
Broeders[3] ontmoet, en in Londen het hulle nou sterk onder die invloed gekom van ’n Morawiër met die naam Peter Böhler. Die keerpunt in John se lewe wat ’n vergadering op 24 Mei 1738, in Aldersgatestraat, Londen, waar, soos hy later dit vertel het, sy hart “vreemd warm geword het”[4] terwyl ’n stuk gelees is uit Luther se Inleiding tot die Brief aan die Romeine.
John was reeds intellektueel oortuig
van die waarheid van die evangelie, maar hy was nou ten volle verbind tot die
die Een Wat “my sonde weggeneem het, selfs myne, en my gered het van die wet
van sonde en dood”.[5]
Hy het begin om orals te preek waar hy dit moontlik kon doen – maar sy geesdrif was te veel vir baie priesters van die Kerk van Engeland, en baie preekstoele is hom ontsê. Dus het hy “bands” gestig, op die formaat van dié wat deur die Morawiese gelowiges gestig is. En 1 April 1739 het hy op Bristol in die ope lug voor ’n Sondagskare van 3 000
gepreek. Dit het die patroon van sy lewe neergelê: openbare prediking, die stig
van Metodiste-gemeenskappe en reis. Dit word geskat dat hy in die Britse
Eilande 400 000 km gereis het en tussen 40 000 en 50 000
preke gelewer het.
Wesley is nie deur die geordende
geestelikes gesteun nie, en hy het staat gemak op toegewyde leke om te preek en
om die Metodiste-gemeenskappe die administreer. In 1784 het die Biskop van
Londen geweier om ’n groep predikers wat na die Verenigde State (intussen het die Amerikaanse kolonies onafhanklikheid verkry) gestuur is, in te seën, dus het Wesley hulle self ingeseën. Noudat hy op hierdie manier gedwing is om buite die Staatskerk te werk, het John Wesley in dieselfde jaar aangekondig dat sy gemeenskappe onafhanklik was van enige beheer deur die Kerk van Engeland.
Charles (wat in 1788 oorlede is) het
nie slegs sy broer in sy preekbediening gehelp nie, maar het oor die 7 000
gesange[6]
geskryf – John het geglo dat as ’n mens ’n boodskap nie kon sing nie, jy liewer
daarvan moet vergeet om dit te preek. Maar Charles het ook sy broer in die steek gelaat, eerstens deur om John se verloofde, Grace Murray, te oorreed om met een van sy predikers te trou, en deurdat hy hom later aan die Metodisme onttrek het en hom weer na die Hoë Kerk gewend het. John is daarna getroud met Mary Vazeille, ’n weduwee met vier kinders.
Dit is ’n tragedie dat die Kerk van
Engeland die Wesleys uitgedryf het. Tot op die einde het John (2 Maart 1791
oorlede) homself vir ’n Anglikaanse priester gesien, en het hy ’n kapel in
Londen begiftig wat, het hy gehoop, altyd bedien sou word deur ’n ingeseënde
predikant van die Staatskerk. Dit sou anders uitdraai.
Tog het die Evangeliese Beweging wat
hy help begin het, vir Brittanje en Amerika na God bekeer in ’n tyd toe die
Europese Vasteland op die pad was na ’n goddelose rewolusie, en in beide die
Anglikaanse en Metodiste kommunies is dit steeds ’n invloed wat Gods koninkryk
op die aarde bou.
[1]
Non-Konformisme: die weiering om tot die Engelse wette wat op die Kerkhervorming gevolg het, te konformeer; hierdie wette het almal verplig om aan die Kerk van Engeland te behoort en om die plaaslike parogiekerk by te woon.
[2] “’n Half-gebrande stuk hout wat uit die vuur gehaal is.”
[3] Morawiese
Broeders, of Unitas Fratrum: Protestantse kerk van Tsjeggiese en Duitse
oorsprong wat gekenmerk word aan eenvoud, nederigheid en ’n vermyding van
geweld, en wat die Bybel gebruik as hul enigste geloofsreël.
[4] “My heart was strangely
warmed.”
[5] “. . . totally committed to the One Who had taken away my sin, even mine, and saved me from the law of sin and death”.
[6] Charles se kleinseun, Samuel Sebastian Wesley, het ’n beroemde orrelis geword en komponis van gesange- en lofsangemusiek. ’n Mens wonder wat Charles sou gesê het van Samuel se bekering tot die Rooms-Katolieke Kerk.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle