deur Mike Oettle
POLITIEK is vir vele Christene ’n
vloekwoord. Tog het William Wilberforce daarvan ’n loopbaan gemaak waarin God verheerlik
is deur die verskeie erg nodige hervormings wat in Brittanje en in ander lande
verrig is deur parlementêre wette wat hy òf deur die House of Commons gevoer
het òf ondersteun het.
Hy verskyn 29 Julie op die
Kerk-almanak en staan onder die inskrywing “Filantropis, 1833”. Die jaar van
sy dood (hy is 1759 gebore) was toe die Slavery Abolition Act (Wet op
Afskaffing van Slawerny, wat op ’n toekomstige datum die slawerny dwarsdeur die
Britse Ryk onwettig gemaak het, deurgevoer is – ’n maand na sy dood. Dit was ’n
wet waarvoor Wilberforce sy hele lewe geveg het: in die ouderdom van 14 het hy
aan ’n koerant in sy tuisdorp Hull, in Yorkshire (tans in Humberside), wat die
euwels aangeval het van daardie that “odious traffic in human flesh” (die
verfoeilike handel in menselewens).
Die fondament van sy politieke
loopbaan is eerstens neergelê. William is op Cambridge opgevoed, waar hy ’n
lewenslange vriend geword het van die toekomstige Eerste Minister William Pitt die
Jongere. In die ouderdom van 21 is hy tot die House of Commons verkies; Pitt
het dieselfde jaar die Commons betree. Wilberforce sou ’n verdere 41 jaar as LP
deurbring.
’n Belangriker fondament vir sy lewe
is 1784-85 gelê toe hy, terwyl hy op die Europese Vasteland op toer was, hy tot
die evangeliese Christelike geloof bekeer is en selfs meer oortuig is dat
slawerny uit die bose was. In 1787 het hy die Society for Effecting the
Abolition of the Slave Trade (Gemeenskap vir die Afskaffing van die
Slawehandel) help stig, asook ’n genootskap vir die “reformation of manners”
(die hervorming van menslike gedrag), wat die Proclamation Society genoem is. Dit
is gemik op die beëindiging van die publikasie van onwelvoeglikheid, en het ook
gebruike soos hanegevegte, honde-en-bulgevegte en die soortgelyke
teistering van bere teengestaan, wat dan almal uiteindelik uitgesterf het as gevolg van
evangelisasie en, deels, die die werk van die genootskap. Dit was veral die
geval nà die verskyning in 1797 van Wilberforce se boek A Practical View of
the Prevailing Religious System of Professed Christians (’n Praktiese Opvatting van die Oorheersende
Sisteem van Belydende Christene), waarin hy dit wat hy “werklike
Christelikheid” genoem het met die nominale godsdiens wat destyds in Engeland
die norm was, gekontrasteer het.
Wilberforce was een van ’n groep
evangeliese Christene in die Commons – waaronder ook Thomas Clarkson, Granville
Sharp, Henry Thornton, Charles Grant, Pitt se swaer Edward James Eliot, Zachary
Macaulay en James Stephen – wat spottenderwys bekend gestaan het as die Saints
of, vanaf 1797, as die Clapham Sect. Wilberforce, Grant en Macaulay was onder
die 15 evangeliese Anglikane wat, saam met 21 andere, die British and Foreign
Bible Society in 1804 gestig het.
Sy eerste parlementêre sukses het 25
Maart 1807 gekom, toe ’n wet om die slawehandel in die Britse Wes-Indiese
eilande af te skaf, geldig geword het. Dié wat reeds slawe was, is egter nie
deur hierdie wet bevry nie. Vanaf 1821 het Wilberforce en sir Thomas Fowell
Buxton druk begin uitoefen vir die onmiddellike bevryding van alle slawe. In
1823 het hy die Society for the Mitigation and Gradual Abolition of Slavery
Throughout the British Dominions (Genootskap vir die Vereffening en Geleidelike
Afskaffing van Slawerny in die Britse Ryk) help stig, en het hy die vise-president
geword. Met sy aftrede in ’25 uit die Parlement het hy die parlementêre
leierskap van hierdie groep aan Buxton oorgegee.
Dit is onregmatig van die
Clapham-groepering beweer dat hulle slegs behep was met swart slawe oorsee, en
nie met die “blanke slawe” van industriële Engeland nie. Maar Wilberforce was een
van die weinige LPs wat gevoel het dat die ondoeltreffende Fabriekwette van
1802 en 1818 nie genoegsaam was nie. Dit was egter eers toe ’n groep
evangeliese Christen-LPs uit Yorkshire in die bresse getree het dat daar in
1833 ’n effektiewe Fabriekwet deurgevoer is – dit was dieselfde jaar as die Slavery
Abolition Act. Wilberforce het nietemin vir hierdie vooruitgang die weg gebaan deur
’n wet wat vir skoorteenveër-seuns verligting gebring het, pogings om die
gevangenestelsel te verbeter en ook gematigde parlementêre hervormings. Hy het
ook in 1813 gehelp om Indië vir sendelinge oop te maak, en om te keer dat die
regering in Brittanje met gewilde reisende evangeliste lol.
Aan die debietkant het hy ook tussen
1795 en 1819 onderdrukkende wetgewing gesteun, maar aangesien hierdie periode
hoofsaaklik in die Napoleontiese tyd geval het, kan ’n mens verstaan dat hy besorgd
was om grondwetlike orde te handhaaf.
William Wilberforce “het sy innemendheid,
takt en welsprekendheid gebruik in ’n politieke loopbaan waarna hy seker was
dat hy deur God geroep is”.[1]
[1] Die bewoording in Engels is: William Wilberforce “used
his charm, tact and eloquence in a political life to which he was sure he had
been called by God”.
Aangehaal uit The History of Christianity, ’n
Lion-Handboek.
For English, click here
Terug na Heiliges
& Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle