Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Woodbine Willie

deur Mike Oettle

“EK weet wat dink julle: hier kom ’n blerrie predikant.”[1] Dis hoe Geoffrey Studdert Kennedy begin het by die rookkonsert wat in 1917 op St Pol in noord-Frankryk gehou is vir die manne van die Britse 4de Leërskool en hul gaste.

Sy lewe deur het hy van sy toehoorders met sulke taal verras en sommiges ook ontstel, maar vir duisende manne en vroue in sy tyd was hy die enigste man wat vir God en Jesus Christus werklik kon voorstel, en het die heiligste waarhede uitgedruk in taalgebruik wat deur eenvoudige, onopgeleide mense verstaan en waardeer kon word.

Bostaande twee paragrawe kom uit Saints of the Twentieth Century, deur Broeder Kenneth van die Gemeenskap van die Heerlike Hemelvaart.[2] Dit beskryf in fyn besonderhede vir Kennedy – wat ook bekend gestaan het as “Woodbine Willie”, weens sy gebruik om ’n pakkie van sy gunsteling-sigarette uit te gee.

Geoffrey Anketell Studdert Kennedy is in 1883 in Leeds (tans in Wes-Yorkshire) gebore, waar sy pa die predikant[3] was van die Sint Mariakerk van Quarry Hill. Miskien het die familie se Ierse herkoms iets met sy boheemse karakter te maak. Hy het sy opleiding op Trinity College in Dublin voltooi voordat hy onderwyser geword het. Hy het nie lank by hierdie beroep gebly nie; nou seker dat hy ’n priester behoort te wees, het hy die teologiese kollege Ripon Hall op Oxford bygewoon, waar hy kort voor lank getoon het dat hy ’n prediker van besonderlike aantrekkingskrag sou word. Terwyl hy op die dorp Rugby as hulppredikant gedien het, het hy gevind dat as hy nie ten minste tweemaal op ’n Sondag gepreek het nie, hy baie ongelukkig was. Maar ’n ortodokse prediker was hy beslis nie.

Geoffrey het sy geloof so opgesom: “Ek wed my lewe op Christus – die gekruisigde Christus.”[4] Broeder Kenneth skryf: “Eenmaal het hy ’n vroom gemeente met ’n baie ou en mooi kerkgebou vertel dat hy soms gevoel het hy wil ’n groot voorhamer vat en elke gekleurde glasvenster in die gebou stukkend slaan, en dan die eucharistie met ’n teekoppie en bord in ’n oop weiveld te gebruik.”

En Geoffrey het ook dit geskryf: “Niemand is oor Christus bekommerd nie solank hy in kerke toegesluit kan wees. Daar is Hy heeltemal veilig. Maar daar is altyd moeilikheid as jy Hom probeer uitlaat.”[5]

Geoffrey was die verpersoonliking van vrygewigheid. Die dame by wie hy geloseer het, het geweet dat hy vir enigiemand selfs sy eie hemp sou gee, en het hom vir haar al sy geld laat gee en dit vir hom brokkie vir brokkie uitgedeel. Sy het hom eenmaal ’n oorjas gegee – wat hy ook weggegee het.

In 1912 het Geoffrey sy pa by St Mary’s gaan help, en in 1914 is hy getroud.[6] Sy vader het gesterf, en die gemeente wou hê hy moet aanbly, maar hy is instede daarvan drie ander predikantsampte aangebied. Hy het die armste aanvaar, op die Sint Pauluskerk in Worcester – nadat hy sy vrou gevra het of sy bereid sou wees om in die vikarishuis te bly.

Die uitbraak van die Eerste Wêreldoorlog daardie selfde jaar het alles verander. Geoffrey het vir alle liggaamlik geskikte mans om vrywillig aan te sluit en het self ’n leërkapelaan geword so gou dit moontlik was. Hy was alles wat ’n kapelaan moet wees – hy het die Mili­têre Kruis gewen vir sy (ongewapende) optrede onder vuur in ’n eerstehulp-pos – maar sy ervaring van die oorlog het hom ook laat sien dat oorlig nie die manier is om ’n beter wêreld te bou.

Selfs in die leër het hy onkonvensioneel gebly – natuurlik. Hy het eenmaal ’n nuwe kapelaan so raad gegee: “Neem ’n dosie sig’rette in jou rugsak en sommer baie liefde in jou hart.”[7]

Die soldate was vir hom lief en hy was orals bekend, en toe Geoffrey in 1919 uit die militêre getree het, is hy as koninklike kapelaan aangestel.

Hy het nie meer tot parogiewerk aangetrokke gevoel nie, en het by die Industrial Christ­ian Fel­lowship aangesluit, ’n organisasie wat Christen-sosialisme voorgestaan het, sowel as die verkondiging van die evangelie deur lekepredikers in die fabrieke en op straat. Hy het vikaris geword van ’n kerk in die Stad Londen[8] wat slegs van hom verwag het dat hy Sondae optree, en het vir homself toegewy op die werk van die ICF, en het die lengte en breedte van Engeland gereis.

Geoffrey was sy lewe lank ’n asmalyer, en die eise wat hy op sy gestel gemaak het deur sy reise en sy rookgewoonte het sekerlik sy lewe aansienlik verkort. Dit is vandag maklik om terug te kyk en te sê dat dit beter sou wees as hy nie gerook het nie, maar dit was eers ’n geslag later dat die mediese professie die gevare daarvan ingesien het. Geoffrey het sigarette gebruik (en ook sy vrygewigheid daarmee en met allerhande ander goed) as middel om met mense te kan kommunikeer, en het dit met groot sukses gedoen.

In Maart 1929 het hy, alhoewel hy siek was, Liverpool toe gereis vir een van sy vele verpligtings, en is die 8ste daar oorlede. Terwyl hy oor die Merseyrivier op ’n veerboot geneem is, het iemand die lykskis genader en ’n pakkie Woodbines daarop geplaas.

William Temple[9] het van hom geskryf (en hier haal ek weer vir Broeder Ken­neth aan): “Indien die priestersamp dit behels om ander op die hart te dra en om hulle saam met jouself in die opoffering van die mensegeaardheid – die Liggaam en die Bloed – aan God die Vader van onse Here Jesus Christus te offer – dan was Geof­frey Studdert Kennedy die beste priester wat ek ooit geken het.” [10]



[1] Sy woorde was: “I know what you’re thinking, here comes a bloody parson.”

[2] In Engels, the Community of the Glorious Ascension

[3] Eerwaarde Kennedy snr was vikaris, of vicar, op St Mary’s.

Baie predikantsampte in Engeland is in die eienaarskap van plaaslike here wat dan ’n vikaris tot die spesifieke kerk sal benoem.

[4] In Engels: “I bet my life on Christ – Christ crucified.”

[5] “Nobody worries about Christ as long as he can be kept shut up in churches. He is quite safe there. But there is always trouble if you try to let him out.”

[6] Broeder Kenneth sê nie wat mev Kennedy se voornaam was of waar sy vandaan gekom het nie.

[7] “Take a box of fags in your haversack and a great deal of love in your heart.”

[8] Die sogenaamde vierkante myl van die ou stad Londen, of City of London, wat tot onlangs toe bestuur is deur die vakgildes wat sedert die Middeleeue daar bestaan.

[9] William Temple (*1881 †1944) aartsbiskop van Kantelberg 1942-44.

[10] “If to be a priest is to carry others on the heart and offer them with self in the sacrifice of human nature – The Body and the Blood – to God the Father of our Lord Jesus Christ – then Geof­frey Studdert Kennedy was the finest priest I have ever known.”


Counter

Terug na bo

For English, click here

Hierdie artikel is Maartmaand 1992 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.


Terug na indeks van heiliges

Terug na chronologiese indeks

Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


Skryf vir my: Mike Oettle