deur Mike Oettle
TWEE vername Christen-moeders verskyn op die almanak vir Mei: Monica (4
Mei), moeder van Sint Augustinus, en Helena (21 Mei), moeder van die keiser
Konstantyn I. Hierdie twee moeders, wat heelwat van mekaar verskil, bly in
herinnering hoofsaaklik deur die hoë profiels van hul seuns, en dit is
interessant om die twee te vergelyk.
Monica, of Monnica (387 nC oorlede), ’n Romaniseerde Berber-vrou van
Tagaste in Numidia (tans die dorp Souk-Ahras in Algerië), is op ’n vroeë
ouderdom met ’n heiden genaamd Patricius getroud. Haar lewe saam het hom was
nie maklik nie, want hy was ’n man met ’n kort jumeur en sy moeder (wie saam in
die huis gebly het) ’n moeilike vrou, maar Monica was ’n pligsgetroue,
geduldige en liefdevolle Christin en, alhoewel sy eers geslaag het om haar man
laat in sy lewe tot bekering te bring, het sy met hulle geheel en al in vrede
geleef tot hulle onderskeidelik gesterf het. Van haar twee seuns, was sy veral
lief vir Augustinus (354 nC gebore) en het was dit die begeerte van haar hart
dat sy hom gedoop wou sien.
Augustinus het aan die Universiteit van Carthago (tans in Tunis) gaan
studeer waar hy, in die ouderdom van 19, ’n getroue volgeling geword het van
die filosifie of “goddelike wysheid”. Hy is deur die “barbaarsheid” van die Ou
Testament verafsku, en het hom na Manigeïsme gewend, ’n godsdiens wat, alhoewel
dit asketisme en intense toewyding aan Christus aangemoedig het, ook geleer het
dat die fisise wêrel boos was en het dit ook nie sy wilde leefstyl ontmoedig
nie – ook nie die feit dat hy ongetroud saam met ’n meisie gebly het. Hy was
oor die 10 jaar saam met haar – langer as sy negejarige beheptheid met
Manigeïsme. (Die paartjie het ook saam ’n seun gehad.) Toe hy 28 was het
Augustinus, ’n leermeester in die retorika, Rome toe gegaan om beter leerlinge
te vind, maar het toe op Mediolanum[1]
’n professorskap (met die titel Keiserlike Retorikus) verkry.
Deur al hierdie jare het Monica aanhoudend vir haar seun gebid en het
uiteindelik by hom in Mediolanum aangesluit (hy het haar bedrieg en haar op
Carthago agter gelaat). Daar het sy vir biskop Ambrosius ontmoet, wat reeds vir
haar seun begin beïnvloed het. Onder die leiding van Ambrosius en Monica was
dit seker dat Augustinus sy weg sou vind na volle verbintenis met Jesus, en dit
het uiteindelik gebeur toe hy in ’n tuin besig was om die Brief aan die Romeine
te lees en op hierdie woorde afgekom het: “Ons moet welvoeglik lewe soos dit in
die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en
onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos
volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om
julle sondige begeertes te bevredig nie.”[2]
Nà ’n tyd van voorbereiding het Ambrosius hom in 387 gedooop.
Monica se lewenswerk was verby. Binne slegs vyf dae het sy siek geword en
gesterf, 56 jaar oud, tevrede dat haar seun uiteindelik ’n Christen was.
Augustinus het na Afrika[3]
teruggekeer om ’n monastiese lewe op Tagaste te volg, maar in 391 is hy onder dwang
’n priester gemaak in die nabye stad Hippo[4]
(tans Annaba) en het in 396 die biskop aldaar geword. Sy geskrifte maak hom die
groot filosoof van die vroeë Katolieke Kerk, en sy invloed word steeds vandag
gevoel, deels omdat hy ’n diepgaande invloed gehad het op die groot hervormer
Calvyn.
(Augustinus van Hippo moet nie verwar word met Augustinus van Kantelberg,
ook bekend as Austin, wat die evangelie na suid-oos Engeland gedra het. Hy is
26 Mei 605 oorlede.)
In teenstelling was Helena (248-328 nC) glad nie so ’n voorbeeldige moeder
nie, altans voordat sy ouer was. Dit is nie eens seker of sy met Konstantyn se
vader, die keiser Constantius, getroud was nie, maar dit is nie juis haar skuld
dat hy haar eenkant gesit het om met die dogter van ’n keiserlike vennoot te
trou, en daardeur sy politieke loopbaan te bevorder. Nadat Konstantyn in 306
keiser geword het, het hy vir Helena as keiserinweduwee laat proklameer, en vir
haar oorreed om Christin te word. (Alhoewel hy vir die Christelike Geloof as
amptelike godsdiens gevestig het, het hy self die doop uitgestel tot kort voor
sy dood.) Helena het min gedoen wat noemenswaardig is nie voordat ’n
familie-tragedie ontwikkel het rondom haar lieflingskleinseun Crispus en sy
stiefmoeder, Fausta, wat tereggestel is vir ’n bloedskendige verhouding. Die
bedroewe ouma het ’n pelgrimstog na die Heilige Land onderneem, waar sy kerke
laat bou het op die vermeende tonele van die Geboorte van Christus en van die
Hemelvaart.
Op hierdie punt verdwyn Helena ongelukkig in die miswolke van die legende,
want die ontdekking van die kruis waarop Jesus dood is (die sogenaamde ware
kruis), is aan haar toegeskryf. Hierna het mense ’n hele spul wonderwerke aan
haar toegeskryf. Dit wil voorkom of dit hoofsaaklik te danke is aan verwarring
tussen haar en ander vroue genaamd Helena. Tydens die Middeleeue was dit veral
gewild om vir haar die bid, maar dit lyk of sy haar gewildheid aan haar
keiserlike status en aan legendes te danke, eerder as aan enige diepgaande
Christelike eienskap.
In haaar eie tyd en in die Middeleeue was Helena nietemin hoog geag. (Sy
was veral in religieuse kuns gewild, waar sy saam met die “ware kruis” verskyn
het.) Wat vir my in die gedagte voorkom is die woorde van die Lofsang van Maria
(wat ’n mens respektiewelik op Monica en Helena kan toepas): “Hy het sy
nederige diensmaagd aanskou met welgevalle” en “Hy het sy krag getoon,
hoogmoediges in hul trots verstrooi. Magtiges van hulle trone afgeruk en
ned’riges verhoog.”
Sy was ook in die tyd van koning John (*1167 †1216, koning vanaf 1199) vir
Engeland belangrik, want Rome het hom probeer onttroon op grond daarvan dat
Engeland ’n pouslike leengoed was. John het daarteen geargumenteer dat Engeland
nie onder Rome se gesag was nie want dit was “’n ryk op sigself”, ’n ietwat gewronge
argument gebaseer op die feit dat Constantius op Eboracum (York) as keiser
geproklameer is, en dat Konstantyn in sy kinderjare in Brittanje gewoon het.
Beide Helena en Monica het deel geword van die geografiese benaming, danksy
die eiland Sint Helena (op Sint Helenasdag 1502 deur die Portugese navigator
João da Nova Castella ontdek), Sint Helenabaai op die Kaapse Weskus (7 November
1497 deur Vasco da Gama ontdek), en die stad Santa Monica, in Kalifornië se Los
Angeles County.
APART van
Monica is die enigste heilige uit Afrika wat Meimaand op die almanak verskyn
Simon van Ciréne (12 Mei), ’n Jood wat uit die oostelike deel van die huidige
Libië afkomstig was.
[1] Milaan.
[2] Romeine 13:13,14.
[3] Die Romeine het die woord
“Africa” alleenlik gebruik vir die lande wat ons huidiglik Marokko, Algerië en
Tunsië noem; op sy verste het die woord ook die westelike deel van die huidige
Libië ook aangedui.
Die naam is afgelei van die
stamnaam Aferi; hierdie stam se tuiste was in die nabyheid van die stede
Carthago en Tynes (vandag Tunis), wat tussen 310 en 307 vC drie jaar lank deur
Griekse magte uit Siracusa beset is.
Na hierdie oorlog het die
Fenesiërs van Carthago en wes-Sicilië en die Grieke van oos-Sicilië mekaar in
vrede gelaat, maar die Grieke het nou ’n naam gehad vir die land rondom
Carthago: Afrika, of Afrika.
In latere jare het die Romeine met die Fenesiërs in drie oorloë slaags geraak. Die derde oorlog, die sogenaamde Derde Puniese Oorlog (149-146 vC) het uitgeloop op die vernietiging van Carthago en Tynes, die herbou van Tynes, en die permanente Romeinse besetting van ’n grondgebied wat basies die modernie Tunisië is, wat die Romeine toe Africa genoem het.
Nà hulle latere oorname van
gebiede verder wes, het die Romeine daardie gebied Africa Nova genoem. Die
verdere uitbreiding van die gebied wat deur die naam Africa gedek is, het eers
in die tyd van Prins Hendrik die Seevaarder (15de eeu) gekom.
[4] Hippo beteken “perd” – dis nie ’n afkorting vir hippopotamus (seekoei) nie; daardie woord vertaal uit die Latyns as “rivierperd”.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle