En wonderwerke ook
. . .
deur Mike Oettle
“GELD het ek nie, maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus
Christus van Nasaret, staan op en loop.” So het Petrus by die Mooipoort gesê in
die verhaal wat dikwels aangehaal word om die wonderwerke van die Nuwe
Testamentiese heiliges te illustreer. Daar was natuurlik baie ander ook, maar
deesdae is mense nie so seker dat sommer enige Christen wonderwerke kan laat
verrrig – ten minste, so was dit toe ek ’n seuntjie was.
Vader Francis McNutt vertel, in sy boek Healing, ’n jammerlike storie van homself as pas ingeseënde priester: ’n Protestantse vriend het hom versoek om vir sy seun te bid, want die kind is deels blind gebore. “Ek het geglo dat genesing moontlik is,” skryf hy (volgens my vertaling). “Maar slegs heiliges kon sulke dinge doen. En ek was glad nie ’n heilige nie. Wat kon ek doen?”
Op die ou end het hy sy vriend
afgeskeep deur hom die name te gee van twee lede van sy Orde wat na sy mening
heilig was. Sedertdien het vader McNutt tot die besef gekom dat terwyl hy, soos
hy dit self stel “no saint, certainly not with a capital ‘S’ ” is nie, God
wel gewone mense soo hy gebruik, en sy boeke getuig daartoe dat hy ’n aktiewe
diens van genesing uitoefen.
Maar waarvandaan die idee dat slegs
heiliges dit kan doen? Die Evangelie gee ons geen regverdiging vir sulke
geestelike diskriminasie nie. Jesus se laaste woorde wat Markus vertel, is:
“Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle
duiwels uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle
slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen
kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”
Watter woord gebruik hy daar? Nie apostels nie, nie heiliges nie – slegs die
wat glo.
Die boek The History of
Christianity suggereer dat die oppervlakkige bekering van groot getalle
heidene in die tyd van die keiser Konstantyn iets daarmee te doen gehad het:
hulle geloof in, en verering van, die moedergodin (in haar verskeie gedaantes)
en die vele plaaslike gode en hul tempels, is geakkommodeer deur om spesiale
klem te lê op Maria en die graftombes van plaaslike martelaars, en terwyl die
aanbidding van sulke mense streng verbied is, het die idee versprei dat dit in
orde was om vir sulkes te bid in die hoop dat hulle, op hulle beurt, met Jesus
of die Vader as bemiddelaar sou optree.
Teen die Middeleeue was dan ’n
algemeen aanvaarde gedagte dat ’n mens, veral as jy siek was, vir ’n sekere
heilige (veral ’n martelaar) behoort te bid, en dat enige genesing wat
plaasvind getel is tot die krediet van die betrokke heilige – soveel so dat
amptelike erkenning as heilige gereserveer is vir dié vir wie aanspraak tot
sulke nadoodse wonderwerke gemaak is. Indien jy ooit Chaucer se Canterbury
Tales (1399) gelees het, sal jy die woorde van die Proloog onthou. Dit
begin: “Whan that Aprille with his shoures soote/ the droghte of March hath
perced to the roote.” (Wanneer April, met sy soete reënbuie, die droogte
van Maart tot die wortel deurgedring het.) Nadat dit die heerlike weer beskryf,
word dan opgemerk:
Than
longen folk to goon on pilgrimages . . .
And
specially, from every shires ende
Of
Engelond, to Caunturbury they wende,
The hooly
blisful martir for to seke,
That them
hath holpen whan that they were seeke.
(Dan verlang mense om met
pelgrimsreise te gaan, en veral vanuit elke graafskap van Engeland wend hulle
hulle na Kantelberg om die heilige, geseënde martelaar te soek wat hulle gehelp
het toe hulle siek was.)
Die betrokke martelaar was Thomas Becket (1170 oorlede), aartsbiskop van Kantelburg, wat teen Chaucer se tyd uiters gewild geword het.
Terwyl hy van nasionale belang was,
was sy kultus natuurlik ook deur Rome aangemoedig as teengewig vir koninklike
predominansie in die Kerk – wat op die ou end sy ondergang bewerkstellig het,
want Henry VIII en sy opvolgers kon skaars entoesiasme aanmoedig vir ’n prelaat
wat sy koning teengestaan het ten gunste van die Pous.
Sedert die Reformasie is die
Christelike wêreld feitlik in twee kampe gedeel – aan die een hand die
Ortodokse en Katolieke, wat steeds aktief wonderwerke van afgestorwe heiliges
soek deur gebede wat voorbidding by die Here vra; en aan die ander hand die
Protestante, wat volhou dat ons deur Christus direkte toegang tot die Vader het,
sonder dat dit nodig is om enigiemand anders (selfs Christus se moeder) te
versoek om vir ons voorbidding te doen.
Johannes skryf (1 Johannes 2:1):
“Ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader”,
terwyl Paulus in Romeine (8:26) skryf dat “die Gees self bepleit vir ons met
versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie”. The Book of Common Prayer – wat grotendeels die werk was van Thomas Cranmer[1]
– gebruik die Protestantse uitdrukking “Jesus Christ, our only mediator and
advocate” (Jesus Christus, ons enigste bemiddelaar en voorspreker).
Maar selfs in die huidige tyd het
die voorbidding van heiliges op ons lewens ’n invloed: elke keer wat dit in die
Rooms-Katolieke Kerk voorgestel word om ’n afgestorwe persoon tot heilige te
verklaar, word geweldige klem gelê op outentiese wonderwerke. Veral Amerikaners
het deskundiges geword in die verkryging van die soort getuienis wat gesoek
word, en ’n aansienlike aantal van persone wat onlangs òf salig òf heilig
verklaar is, was Amerikaans. Maar selfs in Suider-Afrika vind dit plaas. In
1988 het pous Johannes Paulus in Lesotho besoek afgelê, waartydens hy die
Franse sendelingpriester vader Joseph Gérard salig verklaar het.
[1] Aartsbiskop van Kantelburg
onder Henry VIII, en in 1556 aan die stapel verbrand onder Mary I. Sy dag op
die kerk se almanak is 21 Maart.
For English, click here
Terug na Heiliges en Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle