Armoria familia
http://www.oocities.org/skildsoom

Die Stockenström-baronette

deur Mike Oettle

Landdros Anders / Landdros Andries / kommissaris-generaal / luitenant-goewerneur / 1ste baronet / Parlement
Sir Gijsbert / Regter Andries / 3de baronet / Sir Anders


INDIEN jou van Stockenström is, het jy miskien al die naam in Cor Pama se Groot Afrikaanse Familienaamboek[1] nageslaan en die illustrasie hieronder gevind.

Die logiese gevolgtrekking is dat hierdie wapen een is wat jy mag voer. Maar om twee redes is dit nie:

Eerstens is die wapen in 1912 deur die College of Arms verleen.

Engelse verlenings is slegs aan ’n spesifieke indiwidu, en aan sy nageslag in die manlike lyn – nie aan ’n ganse familie nie.

Tweedens is dit onwaarskynlik dat die wapen vòòr die verlening bestaan het nie, soos wat soms die geval is.
wapen van sir Andries Stockenström, derde baronet, en sir Anders Stockenström, vierde baronet

Die betrokke familie is van Sweedse herkoms, en die wette van Swede is ferm: die gebruik van heraldiese wapens is beperk tot die getitelde adel (van baronne tot hertoë, sowel as die koningshuis); gewone mense kwalifiseer nie.

Daar is geen aanduiding dat die stigter van die Suid-Afrikaanse familie, Anders Stockenström, uit die adelstand gekom het nie.

Kom ons kyk eers na die wapen, en dan na die familie aan wie se naam dit gekoppel is.

Die wapen word so deur Pama geblasoeneer:

 

Wapen: golwend deurgesny in drie: A in silwer ’n skuinsgekruiste swaard en ’n louriertak, gesteek deur die astronomiese simbool van Mars, van natuurlike kleur; B van blou; C in goud, die stomp van ’n boom waaruit aan die regterkant ’n takkie spruit wat oprys uit water in die skildvoet.

Dekklede: blou en silwer.

Helmteken: voor ’n boomstomp soos in die skild twee skuinsgekruiste swaarde, die punte omhoog.

Wapenspreuk: Fortissi jure ortis.

 

In die vroeëre Pama-boek, Heraldry of South African Families,[2] word die blasoen in Engels aangegee, maar op ’n vreemde manier, want dit volg nie die styl wat die College destyds gebruik het nie.

Daarbenewens word die leuse (wapenspreuk) se bewoording aangegee, wat in blasoene vanuit die College gewoonlik geïgnoreer word (selfs al verskyn die leuse in die illustrasie op die verleningsdiploma).

Die boomstomp, met sy groen takkie, is ’n woordspeling op die eerste helfte van die familienaam, terwyl die golwende dwarsstreep op die tweede deel (ström) speel; dit beteken stroom.

Die Mars-simbool en die swaarde verwys heel waarskynlik na die lewensjare van die eerste Andries Stockenström (*06-07-1792 †15-03-1864) en sy vader, Anders Stockenström (*06-01-1757 †29-12-1811), waartydens hulle meermale die burgers van Graaff-Reinet in oorlog moes lei. Andries was ook ’n offisier in die Cape Regiment, en later ook ’n kolonel.

Die simbool vir die planeet Mars word ook met die heidense Romeinse god van dieselfde naam geassosieer. Soos dit hier verskyn, is dit dieselfde as dit wat gebruik word om die manlike geslag aan te dui: ’n sirkel met ’n pylpunt wat links skuins lê. Simbolewoordeboeke dui egter dat die egte Mars-simbool die pylpunt regop staan.

Die louriertak verwys na die pogings van beide Anders en Andries om vrede op die oosgrens te bewerkstellig. Andries was bekend vir sy ywer na vrede, as landdros, as kommissaris-generaal en as luitenant-goewerneur.

Hierdie wapen is verleen aan sir Andries Stockenström, 3de baronet (*22-09-1868 †01-12-1922), kleinseun van die luitenant-goewerneur, wat in 1840 tot baronet verhef is.
die rooi hand van Ulster, kenteken van ’n baronet van die Verenigde Koninkryk

’n Verdere eienaardigheid in die wapen soos geblasoeneer en geïllustreer is die gehele uitlating van die rooi hand van Ulster, die kenteken van baronette van die Verenigde Koninkryk,[3] wat na regte deel van die verlening moes uitmaak. Blykbaar het Pama dit uitgelaat het om sodoende die devies ’n “familiewapen”[4] te maak – dit wil sê, ’n wapen wat enigiemand wat die naam dra, mag voer.

Inteendeel word dit beperk tot die nageslag van sir Andries – die derde baronet, nie sy vader, regter Andries Stockenström nie, ook nie van sy oupa, Sir Andries, die eerste baronet Stockenström.

Die derde baronet is deur sy seun, sir Anders, opgevolg. In sy boek van 1972 vertel Pama (my vertaling): “Die titel het uitgestef na die dood van sy [sir Andries se] seun sir Anders Johan Booysen Stockenström, geb. 1908, oorl. 1957 getr. 1937 Elsine Constance Burnett-Smith, d.v. Harold Burnett-Smith.”

Sir Anders het slegs een kind gehad, ’n dogter. Haar nageslag is daarop geregtig om die Stockenström-wapen as kwartering te voer.

Ander Suid-Afrikaanse Stockenströms is van jongere seuns van landdros Anders Stockenström afgestam, en het geen aanspraak op die baronetskap nie.

In antwoord op die vraag: “My naam is Stockenström: op watter wapen is ek geregtig?” is daar onder streng Engelse reg geen wapen wat jy mag voer nie.

Maar in Pretoria is dit moontlik dat daar ’n ander insig mag wees. Indien ’n Stockenström of Stockenstroom (soos wat die naam by tye blykbaar gespel word) by die Staatsheraldikus aansoek doen om ’n wapen te registreer wat gebaseers is op, maar genoegsaam anders is as, die wapen van die derde baronet, is dit miskien moontlik dat die aansoek suksesvol sou wees.

 

’n Beroemde familie:
Dit is nietemin die moeite werd om na die voorgeslag van die twee wapenvoerende Stockenströms te kyk, en hulle plek in ons land se geskiedenis te erken.

Anders Stockenström:
Gebore 06-01-1757 te Filipstad, in Värmland, Swede, was Anders die seun van Anders Andersen Stockenström (*1707 †1764), inspekteur van myne en burgemeester van Filipstad, en Caterina Margarita Ekman (*1723).

In September 1781 het Anders vanuit Texel gevaar as kanonnier aan boord van ’n VOC-skip, ’t Zeepaard.

Toe die vloot die Ewenaar bereik het, het skeurbuik uitgebreek, en toe dit in Desember ’82 Tafelbaai bereik het, was 1 202 uit die 2 753 mense op die skepe reeds dood, en 915 was siek. Vier van die skepe wat die meeste grofgeskut aan boord gehad het, waaronder ’t Zeepaard, het na vier weke na Batavia geseil om behulpsaam te wees in die oorlog teen die Britte.

Dit is onbekend of Anders saam met die vloot geseil het nie. Twee jaar later was hy ’n assistent in die negotie comptoir (goederekantoor) in Kaapstad, waar hy etlike jare lank gebly het. Hy het ook as skeepskoopman gedien op ’n skip wat vir die VOC slawe vanaf Madagaskar na die Kaap gebring het, en was daarna, tot in 1795 (toe die Britse magte die Kaap ingeneem het), vloot-boekhouer.

Hy is 01-06-1786 getroud met Maria Geertruyda Broeders (11-03-1764 gedoop), dogter van Peter Caspar Brodersen (of Broders), van Rantrum, ’n Noord-Friesiese dorp in Sleeswyk,[5] en Elsabe Cornelia Colijn. Die egpaar het vier seuns en vier dogters gehad.

In Maart 1796 het genl J H Craig vir Anders as sekretaris tot landdros A A Faure, van Swellendam, aangestel.

Nà die oorname van die Kaap deur die Bataafse Republiek, is Anders as landdros van Graaff-Reinet aangestel deur beide goewerneur Jan Willem Janssens en kommissaris-generaal Jacob Abraham Uitenhage de Mist. De Mist het hom 14-02-1804 ingesweer; op hierdie stadium was Graaff-Reinet reeds sedert 1801 sonder permanente landdros.

Gedurende sy agt jaar as landdros – onder Bataafse bewind tot in 1806, en daarna onder Britse bewind – het die distrik Boesman-invalle in die noorde en noord-weste beleef, asook ’n onstuimige grens met die amaXhosa. Openbare geboue moes ook herstel word nà die Khoikhoi/Xhosa-inval van 1802-03 (die derde Grensoorlog).[6]

Terwyl kommandos teen die Boesmans uitgestuur is, het Anders ook geprobeer om versoening met die Boesmans te bereik deur om vir hulle wild te laat skiet, en het ook van tyd tot tyd vir hulle vee gegee.

Toe daar uiteindelik in Desember 1811 teen die Xhosa opgetree is, het Anders, in bevel van die burgers van Graaff-Reinet, Bruintjieshoogte beset om die gebied benoorde die Suurberg te beskerm. Die kommandos van George, Uitenhage en Swellendam, tesame met die Cape Regiment, het by die Sondagsriviermond saamgekom en, nà Kersfees, die rivier oorgesteek om die Xhosa uit die Addo-bos te verwyder.

27 Desember het kol John Graham van Fintry vir Stockenström beveel om op Coerney by die res van die mag aan te sluit, waar kol J G Cuyler (landdros van Uitenhage) in bevel was. Anders, wat besef het dat dit die gebied benoorde die Suurberg aan aanvalle sou blootlê, het die saak met Graham gaan bespreek.

Teen sononder op 29-12-1811 het hy saam met 24 mans uitgery. Sowat vyf uur later het hy ’n aantal Xhosa raakgeloop. Hulle was van die Imidange-klan onder Kasa, en het gestaan op Doringnek, die waterskeiding tussen die Wit- en Coerneyrivier, op die Suurberg.

Anders het staatgemaak op sy gewildheid as die vriend en weldoener van beide koloniste en inboorlinge, en het van sy perd afgeklim en die oorlogsparty ongewapend gaan ontmoet. Hy het ten minste ’n halfuur lank gepoog om Kasa te oorreed om na hulle tuisland sonder bloedvergieting terug te keer. Maar toe hy terugdraai om op sy perd te klim, het die Imidange sy groep omsingel en het hulle aangeval. Agt burgers en ’n tolk is doodgemaak. Vier is gewond maar het weggekom.

Andries Stockenström:
Die oudste seun van Anders Stockenström het in Kaapstad ’n elementêre opvoeding ontvang, en het in 1808 ’n aanstelling opgeneem as klerk in sy vader se kantoor te Graaff-Reinet.

Op pad Graaff-Reinet toe het hy lt-kol R Collins ontmoet en is omgepraat om hom as Nederlandse tolk te vergesel tydens ’n reis wat hulle na die Oranjerivier geneem het, asook die Xhosa-gebied.

Andries was vasberade om ’n militêre loopbaan te volg, en het in 1810 die ekspedisie (burger en militêr) meegemaak wat gestuur is om Ndlambe,[7] die Rharhabe[8]-opperhoof, te laat weet van die regering se voorneme om hom uit die Suurveld[9] te verban.

Nà hierdie tog het hy in 1811 ’n kommissie verkry as vaandrig in die Cape Regiment. In hierdie hoedanigheid het hy deel gehad in die 4de Grensoorlog van 1811-12, en in die veldtog teen Ndlambe.

Toe Anders Stockenström vermoor is, was Andries sy vader se aide-de-camp. Toe kennis van die insident Bruintjieshoogte bereik het, het Andries en berede burgers haastig Doringnek toe gery, waar hulle etlike van die moordenaars verras het, 13 van hulle gedood het, en agt perde teruggewin.

Nà die Doringnek-insident is Andries in sy vader se posisie aangestel as bevelvoerder van burgermagte.

Nadat Ndlambe uitgesit is, was hy kol John Graham behulpsaam in die uitkies van militêre aanlegte vir die beskerming van die Visrivier-grens, waarna goewerneur sir John Cradock hom aangestel het tot die nuwe posisie van assistent-landdros van Graaff-Reinet, aanvanklik op Van Stadensdam op die (bo)-Visrivier gestasioneer, en daarna op die nuutgestigte dorp Cradock.

Aangesien sy pligte hoofsaaklik van ’n militêre aard was, het Andries sy kommissie behou en het met volle betaling afgetree.

In 1813, in bevel van die burgers van sy distrik, het hy deel gehad aan die veldtog oor die Visrivier teen Xhosa-stamme wat die nuwe grens geskend het. In Meimaand 1814 het hy luitenant in die Cape Regiment geword. A H Duminy[10] skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek:[11]

“In Mei 1815 stel lord Charles Somerset S. op grond van die aanbevelings van sy voorgangers, graaf Caledon en Cradock, aan as landdros in die distrik Graaff-Reinet. So gebeur dit dat hy hy op twee-en-twintigjarige leeftyd die hoofwerktuig van die Britse beleid word in hierdie buitengewoon uitgestrekte uitgebreide grensdistrik, waar die inwoners nog skaars enige doeltreffende bestuur ondervind het. Sy gebied grens in die noorde aan dié van die Boesmans en die Griekwas, en in die ooste aan dié van die Bantoe. Nie alleen moet hy die betrekkinge tussen die koloniste en die grensstamme reël nie, maar ook die beleid van die Britse owerheid uitvoer. Dit bestaan veral uit die vervanging van die bestaande leningplaasstelsel deur ’n stelsel van ewigdurende erfpag, die verskaffing van onderwysgeriewe, en die uitbreiding van regsbeskerming tot die Hottentotte[12] en ander nie-blankes. Die vraagstukke waarmee die uitvoering van hierdie beleidsake gepaard gaan, blyk uit die Slagtersnek-opstand in November 1815, kort nadat S. aangestel is. In dié gebeurtenis speel hy ’n belangrike rol deurdat hy koloniste oorreed om nie aan die voorgestelde opstand deel te neem nie en ook help om die opstandelinge aan die gereg oor te lewer.

“In 1817 vervang die ‘terugvatstelsel’ die ‘kommandostelsel’ wat op die grens in swang is en wat op die landdros se burgerlike gesag gegrond was deurdat hy gewapende togte oor die grens kon magtig om gesteelde vee terug bring. S. bly ’n onomwonde kritikus van die ‘terugvatstelsel’, ingevolge waarvan burgerpatrollies vergesel moes word deur ’n militêre afdeling en vergoeding kon eis van die kraal waarheen die spoor van gesteelde vee gevolg is, ongeag of die gesteelde vee daar gevind is. Die Xhosa moes dan die skuldiges soek en hul beeste van dié terugeis.”

Die jaar 1818 het landdros Andries teen Ndlambe en die amaGcaleka die veld geneem as bondgenoot van Ngqika. Die burgers van Graaff-Reinet het, onder sy bevel, die linkerflank by die Katrivier verdedig.

Weer in 1819 het hy die veld geneem toe Ndlambe – wat hierdie maal onder die bevelvoerders van sy leër die profeet Makanda, of Nxele, ingesluit het – die kolonie binnegeval het en Grahamstad aangeval het. Die taak van die Graaff-Reinet-burgers was om enige moontlike inval in die noorde teen te staan.

Kol T Willshire het toe tesame met die kommandos van die Kaap, Stellenbosch en Swellendam teen die Gcaleka opgemars, en die Graaff-Reinet-kommando is beveel om die Visrivier-bos skoon te maak – voorheen is dit beskou as ondeurdringbaar. Stockenström se beloning vir sy rol in hierdie veldtog was ’n bevordering na kaptein in die Cape Regiment.

Van hierdie tyd af het Andries se verhouding met goewerneur lord Charles Somerset versleg, miskien weens sy “onomwonde kritiek van Somerset se grensbeleid, of weens sy weiering om die nedersetting van die 1820-Setlaars in sy distrik toe te laat en sy teenkanting teen hulle plasing langs die grens” – so suggereer Duminy altans, maar verwys hy dan na ’n heelwat meer waarskynlike oorsaak: ’n meningsverskil met die goewerneur se seun, kol Henry Somerset. Daarby was Andries met waarnemende goewerneur sir Rufane Donkin vriendelik, en aangesien die Grahamstadse redakteur Robert Godlonton[13] deurgaans ’n ondersteuner was van kol Somerset, het dit beteken dat “die res van sy openbare loopbaan gekenmerk is deur persoonlike en politiese vetes”.[14]

Sy militêre loopbaan het in Julie 1820 op ’n einde geloop toe hy na die Corsican Rangers oorgeplaas is en sy soldy in die helfte gesny is.

Die Graaff-Reinet-distrik se kontak met die grens is in 1821 verminder deur die skepping van die aparte distrik Albany (uit Uitenhage) en in 1826 van die distrik Somerset (later Somerset-Oos, uit Graaff-Reinet). Maar Andries het landdros gebly tot die hervorming van 1828 wat daardie amp afgeskaf het.

Duminy skryf:

“Terwyl hy die algemene grondslae van goeie bestuur aanvaar, bly S. dwarsdeur sy administratiewe loopbaan ’n onverskrokke kritikus van baie van die belaglike beleidspunte wat in Kaapstad of in Londen bedink is en van die buitensporige aansprake van die L.S.G.[15] So weier hy om die koloniste te belet om noord-oostelike grens, waarmee hy agtereenvolgens as landdros, as kommissaris-generaal en as luitenant-goewerneur gemoeid is, in droogtetye oor te steek. Hy bepleit inteendeel die uitbreiding van die grensgebied om te verhoed dat een ras gebied van ’n ander skend. Hy steun die uitvaardiging van ordonnansie no. 50 van 1828 waarvan hy sommige bepalings opgestel het, maar dring daarop aan dat dit vergesel moet gaan van ’n wet teen leeglêery.”

In 1827 is die Council of Advice (Adviesraad) vergroot om twee nie-amptelike[16] lede in te sluit, en in Junie van dieselfde jaar is Andries as een van hierdie twee aangestel.

Andries is 08-12-1828 getroud met Elsabe Helena Maasdorp (1808-1889), dogter van Gijsbert Henry Maasdorp. Die paar het ses kinders gehad, van wie die eersgbore as baba dood is.

Vroeg in 1829 het generaal-majoor Richard Bourke, wie in 1826 in die kolonie aangekom het as luitenant-goewerneur van die Oostelike Provinsie, maar in plaas daarvan slegs ’n maand later met die vertrek van lord Charles Somerset waarnemende goewerneur geword het, vir Andries tot die nuwe pos van kommissaris-generaal vir die Eastern Province (Oostelike Provinsie) aangestel. Duminy skryf:

“Hoewel dit die bedoeling is dat hy die senior burgerlike gesag in die ooste moet wees, word sy presiese magte as kommissaris-generaal baie vaag aangedui. Daar heers verwarring, veral omdat sy ondergeskiktes nog steeds regstreeks met die koloniale sekretaris in Kaapstad in verbinding moet bly. Sy presiese verhouding teenoor die militêre gesag word ook verwarrend; hoewel hy die bevoegdheid ontvang om ’n burgermag op te roep, moet so ’n mag deur ’n militêre offisier aangevoer word indien daar een beskikbaar is. Met die oog op die openlike vyandskap van kol. Henry Somerset, wat volhou om die terugvatstelsel (repraisalle-stelsel) te bepleit nadat dit in 1826 deur Bourke opgeskort is, was dit baie onwaarskynlik dat die kommissaris-generaalskap sou slaag.”

Ten spyte van hierdie probleme het Andries geprobeer om ’n grensskikking te bereik, en het sy oë gerig op die nedersetting van ’n digte bevolking in die Ceded Territory (die afgestaande gebied tussen die Vis- en Keiskammarivier).

Die Xhosa-kaptein Maqoma het vroeër in 1829 met die afsterwe van sy vader, Ngqika, en die opvolging van sy baba-halfbroer Sandile, regent van die amaRharhabe geword. Andries het hom nou vanuit die strategiese Katriviervallei uitgedryf en dit met Khoikhoi bevolk.

Hy het ook nuwe regulasies aangaande die herwin van gesteelde vee uitgereik. Solank die siviele gesag toestemming gegee het, kon gewapende groepe die grens oorsteek en gesteelde beeste (nadat dit eers gevind is), indien nodig met geweld, terugwin.

In 1830 het Andries ’n veldtog teen Tyali[17] gemagtig, nadat hy oortuig is dat hierdie Xhosa-kaptein openlik skuldig was aan diefstal. Maar die ekspedisie het uitgedraai in die skiet van ’n ander kaptein, Zeko, wat kontroversieel was. Andries het aanvanklik vir veldkommandant Erasmus vir sy optrede geprys, maar latere ondersoek het dit getoon dat terwyl dit berig is dat Zeko gewapend was en besig was om beeste te verwyder, hy in werklik ongewapend was en was besig om die burgers te help deur om sy vee na Fort Willshire aan te dryf.

Die uitkoms van hierdie ondersoek was agterdog aan Andries se part van kol Somerset se bewering dat verdere weerwraak-ekspedisies nodig was. Sake het in Junie 1832 tot uitbarsting gekom toe Somerset vanuit Kaapstad verlof verkry het om ’n ekspedisie te onderneem, self nadat Andries beswaar gemaak het.

Andries het geleidelik meer krities van grensbeleid geword, nie slegs in sy verslae vanuit Graaff-Reinet nie, maar ook in die besprekinge van die Council of Advice. Nadat lord Stanley, sekretaris vir die kolonies, sy bedanking uit die raad versoek het, het Andries vroeg in 1833 die kolonie verlaat en, terwyl hy in Londen was, as kommissaris-generaal bedank. Toe berigte hom bereik het van die begin van die Sesde Grensoorlog in Desember 1834, het hy besluit om hom in Swede te vestig.

In Augustus 1835 het hy aan die House of Commons se gekose komitee oor inboorlinge getuienis gelewer. Sy sieninge, terwyl dit krities was van die filantrope, het ’n indruk gemaak op lord Glenelg, die nuwe sekretaris vir die kolonies, wat hom aangestel het as luitenant-goewerneur van die Eastern Province.

Dit het egter nie sy taak op die oosgrens enigsins vergemaklik nie, aangesien hy steeds geen gesag oor die militêre gehad het nie, sy onderhoriges steeds vry was om met Kaapstad te korrespondeer, en hy nie meer onafhanklikheid van die goewerneur gehad het as voorheen nie.

Sy ampstermyn as luitenant-goewerneur is gekenmerk aan venynige en lasterlike aksies teen hom, wat deur kol Somerset, Godlonton en ’n verskeidenheid ander belanghebbendes gevoer is, wat op die ou end alle goed wat hy wou doen om vrede aan die grens te bring, nietig te maak.

Maar selfs hier is reëlings in sy afwesigheid verander. Andries se planne vir die nedersetting van die Ceded Territory is laat vaar. Goewerneur sir Benjamin d’Urban het nietemin die Mfengu[18] in daardie gebied geplaas, en dit ook vir permanente blanke nedersetting oopgemaak. Duminy skryf:

“S. se stelsel word gewoonlik as die verdragstelsel bestempel, maar in werklikheid was verdrae ’n kenmerk van die meeste grenstelsels. Die onderskeidende kenmerk was eerder die poging om beginsels van die volkereg op grensverhoudinge streng toe te pas. Daarom word die skending van die grens deur gewapende geselskappe van enige kant verbied, en en koloniste wat kan bewys dat hul vee gesteel en oor die grens geneem is, word verplig om hulle op die stamhoofde te verlaat om dit terug te besorg. Hierdie bepalings is waarskynlik op Glenelg se aandrang ingevoer, daar dit nie ooreenstem met S. se vroeëre geloof aan die kommandostelsel nie. Met hoofde wat hulle skuldig gemaak het aan skending van die verdrae wat in Desember 1836 onderteken is, kon daar natuurlik gehandel word asof daar oorlog met hulle bestaan. Origens is S. se regulasies met betrekking tot die bewaking van vee en die onmiddellike agtervolging van gesteelde vee presies soos dié wat hy na 1828 ingestel het.”

In Februarie 1838 het Andries teen kaptein Duncan Campbell, siviele kommissaris vir Albany, ’n lasteraksie gebring oor aantygings dat hy in 1813 ’n Xhosa vermoor het. Die Hooggeregshof het egter die getuienis teen Campbell onoortuigend gevind, en Andries het die nuwe goewerneur, sir George Napier, versoek om ’n volle ondersoek in te stel.

Andries is in Junie 1838 deur die ondersoekhof vrygespreek, maar het nietemin gevoel sy posisie is hopeloos, en het Brittanje toe gereis om vir Glenelg te raadpleeg. Glenelg het geweier om Andries se bedanking te aanvaar, maar sy opvolger, lord Normanby, het nietemin in Augustus 1839 vir Andries afgedank.

As beloning vir sy diens is Andries eers tien jaar later, in 1849, tot baronet verhef en het hy ’n pensioen van £700 per jaar ontvang.

Toe hy in Mei 1840 na die Kaap teruggekeer het, het hy op sy plaas Klipkraal gebly, in die Swaershoekvallei naby Somerset-Oos; op Uitenhage en in Kaapstad. In 1845 het hy hom op sy plaas Maasström,[19] aan die voet van die Kagaberge,[20] gevestig, en het hy daar gebly tot April 1846 toe die Sewende Grensoorlog uitgebreek het.

Die burgers het geweier om onder ’n militêre bevelvoerder te dien, en goewerneur sir Peregrine Maitland het Andries in bevel van die kommandos geplaas, met die rang van kolonel.

Die burgermag het aanvanklik die suid-westelike deel van die Oostelike Provinsie skoongemaak, tot by die bo-Visrivier, en het toe na Fort Beaufort opgemars, waarvanaf die plan was dat hy die Xhosa-gebied sou binneval. Die militêre het hom egter na die Amathole-berge[21] gestuur. Nadat hulle die Xhosa-gebied oos van die Kei sonder hom binnegeval het, het toe probeer om hom te diskrediteer deur om die ooreenkoms wat Andries met die Rharhabe-opperhoof, Sarhili,[22] gemaak het, te repudieer.

Andries, sy gesondheid deur hierdie ekspedisie geruineer (hy was die res van sy lewe siekerig), het op die Britse regering ’n beroep gemaak om die oorlog te laat ondersoek, want, het hy gesê, dit is onnodiglik uitgerek.

Maar die nuwe goewerneur, sir Harry Smith, het windmakerig die Stockenström-verdragstelsel as die oorsaak van die oorlog gebrandmerk – tydens ’n vergadering met die Xhosa-kapteins het hy ’n stuk papier opgeskeur en uitgeroep: “No more treaties” – en in ander opsigte het hy ook vir Andries kwaad gemaak, en het hy gewaarsku dat Smith se beleid ’n krisis sou ontketen.

Maar graaf Grey, sekretaris vir die kolonies, het besluit om nie op te tree nie.

Sir Andries se reaksie was om die beweging vir verteenwoordigende regering te steun. Toe Smith in 1850 ’n verkiesing geproklameer het (dit was enig van sy soort) om die probleem om te los van die soek na gepaste persone om in die wetgewende raad te dien, het sir Andries die meeste stemme ontvang wat vir enige kandidaat uit die Oostelike Provinsie gewerp is.

Maar die amptelike lede het dit hulle taak gemaak om die verkose lede se aanspraak om die volswil te verteenwoordig, te diskrediteer, en sir Andries het in September saam met die ander verkose lede bedank.

In 1851 het hy en John Fairbairn Brittanje toe gereis met die hoop om die Britse regering om te praat om aan die Kaap verteenwoordigende regering in te stel. Maar as gevolg van sy beroep om ’n ondersoek na goewerner Smith se beleide, is sir Andries op sy beurt die sondebok gemaak vir die mislukking daarvan, en is daarby ook geblameer vir die Katrivier-rebellie tydens die Agtste Grensoorlog van 1850.

Tydens sy afwesigheid het sy opponente in 1851 vir Maasström afgebrand.

In plaas van ’n kommissie van ondersoek, is ’n gekose komitee aangestel. Duminy skryf dat dit ’n ondersoek nie voorgestel het nie, ook nie het dit ’n verslag voorberei nie.

Verteenwoordigende regering is nietemin in 1853 ingestel, en sir Andries is genader om hom verkiesbaar te stel vir Parlementsetel vir die Eastern Divisions (Oostelike Provinsie). Om die onkoste van die veldtog te kan dra, asook dié van die vernietiging van sy eiendom, het hy gereël vir die onderverdeling van ’n gedeelte van Maasström (een-derde van die 4 985 morg) as dorpsgebied, wat toe Bedford vernoem is, ter ere van sir Andries se vriend, die 8ste hertog van Bedford.

Nà ’n vurige verkiesingsveldtog het sir Andries sy ou vyand, Godlonton, met amper 2 000 stemme verslaan – ten spyte van die herpublikasie van al die ou bewerings teen hom in die Graham’s Town Journal.

As lid van die wetgewende raad het sir Andries die passasie van die Divisional Councils Act (Wet op Afdelingsrade) deurgevoer, wat soos hy dit gesien het, ’n skakel tussen die regering en die geregeerdes herstel het wat in 1828 verbreek is (toe die amp van landdros afgeskaf is). Hy het ook die deurvoer van die Burgher Force Bill (Ontwerpwet vir ’n Burgermag), wat die kommandos op gelyke voet met die militêre geplaas het.

In ander opsigte is hy gefrustreer. Die Khoikhoi-nedersetting langs die Katrivier is opgebreek, en min is gedoen om die oorlogsmakelaars langs die grens en die grondspekuleerders in toom te bring.

Weens swak gesondheid het hy in Maart 1856 sy setel bedank. Hy het in die daaropvolgende maand die kolonie verlaat. Hy het ’n ruk lank Nizza, Napels en Engeland gebly, is in 1860 terug na die Kaap, en in ’62 is hy weer terug Londen toe, waar hy uiteindelik dood is aan die brongitis wat hom jare lank gepla het. Hy is in die Kensel Green-begraafplaas in Londen begrawe.

Sir Gijsbert Henry Stockenström:
Sir Andries se oudste oorlewende seun (*1841 †1912) het hom as baronet opgevolg en was vanaf 1891 tot 1910 lid van die Kaapse Wetgewende Raad.

Sy oudste suster is getroud met die boer en politikus Charles William Hutton, wie in 1887 ’n geredigeerde uitgawe van sir Andries se autobiografie in twee volumes uitgegee het. Die volgende suster was getroud met die prokureur en administrateur sir Sidney Shippard.

Sir Gijsbert is sonder kinders oorlede, en die titel het oorgegaan na die nageslag van sy jongste broer, wat ook die naam Andries gehad het.

Regter Andries Stockenström:
Die jongere Andries, gebore 22-04-1844 te Graaff-Reinet, het in Engeland en Duitsland ’n opvoeding in die regte ontvang. Hy is in 1865 aan die Middle Temple as advokaat toegelaat (soos dit in die Engelse tradisie gestel word, “he was called to the bar”) en in 1866 is hy ook in Kaapstad as advokaat toegelaat. Hy het binnekort na Grahamstad verhuis, waar hy ’n aansienlike praktyk opgebou het.

In 1875 is hy benoem as regter in die Griqualand West Land Court op Kimberley deur Hoë Kommissaris sir Henry Barkly. Soos sy vader, egter, het twiste hom gevolg, en dit is gesê dat hy bevooroordeel is teenoor die prokureur David Arnot, agent vir die Waterboer-Griqua, en meegevoelig teenoor president Johannes Brand van die Oranje Vrij Staat.

In ’n kritieke bevinding het Andries regspraak gelewer dat die Griekwa-kapteins stamheersers was, nie gebiedsheersers nie. Die gevolg hiervan was die ontsegging van verskeie grondbriewe wat deur Nicolaas Waterboer, Cornelis Kok en andere verleen is. Dit het ook die OVS se aansprake op die droë diamantdelwerye gevalideer, maar president Brand het sy land se regte afgesien en in plaas daarvan ’n betaling van £90 000 ontvang.

Die herrie wat los was nà die bevindinge van die grondregtehof het daartoe gelei dat Barkly se opvolger, sir Henry Bartle Frere, Andries se versoek om ’n volle koninklike ondersoekkommissie te steun. Winifred Maxwell skryf in die SABW[23] (met verwysing na Andries):

“Tot sy ontsteltenis het Brittanje dit geweier weens ‘mnr. Stockenström se hoë reputasie vir die pligsgetrouie kwyting van sy amptelike verpligtinge’. Daar was volgehoue vertroue in sy integriteit.”

Andries is 24-12-1867 getroud met Maria Henrietta Hartzenberg, van Graaff-Reinet. Hulle het een seun gehad, ook Andries (*1868 †1922), wat sy vader in die regte gevolg het, en in 1912 die derde baronet geword het.

Andries het in 1876 hom verkiesbaar gestel vir Grahamstad se parlementêre setel, maar is nie verkies nie. Hy is in ’77 as prokureur-generaal aangestel, en is in ’78 suksesvol verkies as LV vir Albert (Burgersdorp). Hy is in ’79 weer as regter aangestel.

Alhoewel hy siekerig was, het hy in 1880 ’n rondgaande hofsitting begin, maar is op sy 36ste verjaarsdag oorlede.

Sir Andries Stockenström:
In 1912, nà die afsterwe van sir Gijsbert, het die baronetskap na sy broerseun Andries (*1868), seun van regter Andries Stockenström (*1844), oorgegaan.

Sir Andries was ’n advokaat van die Transvaalse Hooggeregshof en lid van die parlemente van Transvaal en die Unie. Hy is in 1922 oorlede.

Sir Anders Stockenström:
Die vierde baronet was Anders Johan Booysen Stockenström (*1908 †1957).

Duminy gee die naam van sy enigste kind as mev Andrée Mabel Gardiner, eienaar van Maasström. Sy word ook genoem as die eienaar van een van ’n getal bestaande portrette van die eerste baronet.



[1] Deur Human & Rousseau uitgegee.

[2] A A Balkema, 1972.

[3] Die titel baronet is uniek aan die Britse Eilande en die Britse Ryk, en die paslike kenteken verskyn as eretoegvoeging in die wapens van alle baronette. Ander lede van hul families voer nie hierdie kenteken nie, al voer hulle wel ’n heraldiese wapen.

Baronette van die Verenigde Koninkryk voer ’n vryhoek of ’n klein binneskild of hartskild van die rooi hand van Ulster, terwyl baronette van Nova Scotia vir hulle kenteken ’n miniatuur (ook as vryhoek of binneskild/hartskild) voer van die wapen van Nova Scotia.

Die aanspreekvorm van ’n baronet is “sir ___” (die voornaam word gebruik), soos in die geval van ’n ridder (die titel spruit uit ’n koning se mislees van die titel van ’n sekere klas Middeleeuse ridder). Maar anders as ’n ridder, word die baronet nie formeel met sy titel ingehuldig nie, en aan sy skouers met ’n swaard geraak. Dit titel word formeel geskep deur middel van ’n oktrooibrief.

[4] Pama en verskeie vroeëre Suid-Afrikaanse heraldiste het die valse idee gepropageer dat ’n familiewapen (of die wapen van ’n spesifieke familienaam) gevoer mag word deur enige persoon wat die van voer. Tot die mate dat so ’n voorreg bestaan (en dit is aan regsargument onderworpe) is dit slegs in die gevalle van enkele Suid-Afrikaanse families toepaslik, en almal is afkomstig uit die eermalige Heilige Romeinse Ryk.

[5] ’n Hertogdom wat aan die Heilige Romeinse Ryk (en later aan Duitsland) behoort het, wat as hertog geheers is deur die koning van Denemarke, en dus beide Duits en Deens was, nie net polities nie maar ook in terme van sy bevolking. In 1864 is dit in sy geheel deur Duitse (Pruisiese en Oostenrykse) magte ingeneem as deel van die maneuvrering waardeur Pruise die vooraanstaande staat in Duitland geword het, en met die verloop van tyd het Sleeswyk deel geword van die Duitse Ryk. Nà ’n volkstemming in 1920 is dit min of meer op die basis van taalgebruik tussen Duitsland en Denemarke gedeel.

Rantrum is vandag deel van die Duitse Land (staat) Schleswig-Holstein.

[6] Die Grensoorloë, waarvan daar nege was, is vanaf die laat 1700s tot 1877-78 tussen die Xhosa en die kolonie geveg. Oor die jare heen het die Khoikhoi verskeie rolle weerskante gespeel.

In die verlede is daarna verwys as die Kafferoorloë, want in daardie tyd is die term Kaffer spesifiek van die amaXhosa gebruik. Hierdie woord is egter nie meer as aanvaarbaar beskou nie.

Die “polities inkorrekte” gebruik het egter spesifiek die volk aangedui met wie die kolonie gebots het, wat ’n onderskeid toegelaat het tussen hierdie reeks oorloë en die vroeëre grensoorloë teen Khoikhoi (die Eerste en Tweede Hottentot-oorloë, wat voor 1700 in die Wes-Kaap geveg is) en teen die Boesmans (vier oorloë, die laaste waarvan in 1774 afgespeel het).

Huidiglik is die polities korrekte term vir die Grensoorloë die Wars of Dispossession (Ontnemingsoorloë). Die ontneming van erfgrond was egter ’n kenmerk van verskeie koloniale oorloë, nie slegs dié tussen die Xhosa en die kolonie nie. Ook het nie al hierdie oorloë na die vergroting van die kolonie gelei nie. Laastens verskuil die naam die feit dat die aggressie wat op hierdie oorloë uitgeloop het, nie uitsluitlik aan die kant van die koloniale owerheid, of van die koloniste, gelê het nie.

[7] In koloniale rekords verskyn hierdie kaptein se naam as Slambi of Slambie.

[8] Die amaRharhabe het die westelike vertakking uitgemaak van die Xhosa-volk, en het meestal wes van die Keirivier gewoon. Etlikes het kortstondig grondgebied wes van die Visrivier bewoon, maar die meerderheid was oos van daardie rivier.

[9] Later bekend as die Albany-distrik.

[10] A H Duminy, MA, dosent in geskiedenis aan die Universiteit Natal.

[11] Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, redakteurs W J de Kock en D W Krüger (Kaapstad: Tafelberg/Geesteswetenskaplike Navorsingsraad).

[12] The korrekte term vir die “Hottentot”-volk is Khoikhoi. Hierdie woord, wat “mense van mense” beteken, is deur die Khoikhoi gebruik om hulself te beskryf en om hulle te onderskei van die verskeie Boesman-bendes wat as jagter-vergaarders dwarsoor die subkontinent gewoon het, wat etnies aan hulle verwant was.

[13] Godlonton was redakteur van die Graham’s Town Journal.

[14] SABW, vol II, p 775.

[15] Die Londense Sendinggenootskap, oftewel die London Missionary Society.

[16] Deur “nie-amptelik” word bedoel dat die aangestelde lede nie vanuit die goewerneur se onmiddellike ampternaarskring was nie.

[17] Die naam Tyali klink effens soos “Charlie”, en is by tye ook so neergeskryf.

[18] Vir inligting oor die amaMfengu of Fingo, kliek hier.

[19] Sir Rufane Donkin het in 1820 hierdie plaas aan Andries verleen. Sy naam, Maasström, het dit eers gekry nà Andries se huwelik in 1828 met Elsabe Maasdorp.

Maasström, wat langs die dorp Bedford geleë is, bly tot vandag toe in familiebesit.

[20] Die bergreeks se naam word met ’n harde G uitgespreek: Ka-gha.

[21] Die koloniale spelling van hierdie bergreeks se naam is Amatola.

[22] Hierdie opperhoof se naam verskyn in koloniale rekords as Kreli.

Die korrekte uitspraak van Sarhili is met ’n sagte (Afrikaanse) G waar die letters RH verskyn.

[23] SABW, vol IV, pp 654, 655.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: illustrasie van Stockenström-wapen uit Die Groot Afrikaanse Familienaamboek; tekening van hand uit Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little (Frederick Warne & Co); kleure met behulp van MS Picture It! aangepas


    Terug na familiewapens-indeks

    Terug na Armoria familia-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle