Armoria familia
http://www.oocities.org/skildsoom
Algoa Sun

Elke wapen uniek

deur Mike Oettle

Gravin van Erroll

ELKE heraldiese wapen moet uniek wees. So lui die tradisionele wet van die heraldiek.

Maar presies hoe werk hierdie uniekheid?

Die uniekheid word beperk tot ’n spesifieke ryk – nie die Britse Ryk nie, want dit het nie in die Middeleeue bestaan nie, maar byvoorbeeld Engeland, of Skotland, of Ierland, of Frankryk, of die vorsdomme van die Heilige Romeinse Ryk.

In die Heilige Romeinse Ryk, tot 1444, was daar in Swabenland ’n hertogdom van Urslingen. Die hertoë het ’n wapen gevoer: in silwer, drie skildjies van rooi.
Lord Erroll Hay van Leys

Net tien jaar lank, van 1371 tot 1381, het die Urslingens die stad Schiltach besit, maar die stadsowerheid het die hertog se wapen op sy seël gebruik, en alhoewel die stad vanaf 1444 tot 1918 in besit van die hertoë (later konings) van Württemberg was, het die owerheid die Urslingen-wapen behou omdat die woordspeling gepas was (’n skildjie is in Duits ein Schildchen).

Hierdie wapen is toevallig ook gevoer deur ’n Normandies-Britse familie (eintlik van Vlaamse herkoms) wat eers as De la Haye bekend gestaan het, en wat in Brittanje geleidelik Hay begin heet het.
Hay van Broxmouth Hay van Boyne

Watter Hay/De la Haye die wapen eers gevoer het, weet ek nie, maar die hoofde van die familie in Normandië, Engeland, Skotland en Ierland voer elkeen die identiese wapen: in silwer, drie skildjies van rooi.

Ander lede van die familie moes dit wysig deur om sogenaamde breuke aan te bring, en veral in Skotland en Ierland het ’n fascinerende reeks variasies aan die familiewapen ontstaan.

Die heroute van Engeland sal ook variasies op ’n familiewapen aanbring, maar in Ierland en Skotland word die klan as belangrik geag, en ingewikkelde sisteme van breuke is uitgewerk.
Lord Hay van Yester Hay van Fudie

Die gevolg is dat elke familielid wat sy eie wapen wil laat verleen, ’n kombinasie het wat nie net aandui dat hy lid is van die klan nie, maar ook aandui aan watter tak van die familie hy behoort.

Die oudste seun voeg in sy vader se leeftyd ’n baresteel by: Lord Hay (oudste seun van die graaf van Erroll) het ’n blou baresteel. (Lees hier verder oor die baresteel en hoe dit gebruik word.)

Die huidige graaf van Errol, wie in 1978 die titel geërf het, was die oudste seun van Diana Hay (gebore 1926), gravin van Erroll in eie reg. Sy het van haar vader nie net die graafdom maar ook die amp van Hoë Konstabel van Skotland geërf. Haar wapen verskyn bo regs. Die skildvorm is die ruit, merk van die ongehude vrou of die weduwee, want ten opsigte van haar feodale amp is sy as ongehuud beskou. (Lees hier verder oor die ruit en hoe dit gebruik word.) Agter die skild is die gekruisde stawe en gepantserde hande wat swaarde vashou, wat die amp van Konstabel simboliseer. Hierdie amp het die gravin voorrang gegee oor al die hertoë van Skotland.
Hay van Park Hay in Leith

Maar kom ons kyk weer na seuns: alle jongere seuns moet ’n permanente breuk aanbring. ’n Paar van die variasies word hier aangetoon:
ommeswaai met skildsoom

Hay van Leys het die skildveld verander van silwer na hermelyn; Hay van Broxmouth se skildjies is groen; Hay van Boyne het die kleure omgeswaai na silwer op rooi; lord Hay van Yester het silwer op blou; Hay van Fudie het ’n keper tussen die skildjies; Hay van Park het ’n juk in die skildhoof; Hay in Leith het gerwe op sy skildjies, Hay van Naughton het ’n uitgeskulpte skildsoom, en Hay van Hayfield het ’n skildsoom plus ’n vyfpuntige ster.
Hay van Naughton Hay van Hayfield

Maar Hay, graaf van Kinnoull, vierendeel die eenvoudige Hay-wapen (in die tweede en derde kwartiere) met die wapen van sy graafdom. (Lees hier verder oor kwartering.)

Terloops, die Engelse familiehoof is graaf van Carlisle; die Ierse, Hay van Slade; en die Normandiese is die sire de la Haye Hue.

Nouja, al hierdie families is ver weg van Suid-Afrika, maar gedurende die 19de en vroeë 20ste eeu het nie minder nie as vyf indiwiduele Hay-mans hulle in Suid-Afrika kom vestig.
Hay, graaf van Kinnoull

Van hulle is twee met Afrikanervroue getroud: John Henry Hay, van Skotland, en Robert Hay, van Ierland. Twee (miskien aldrie) van die res was ook Skotte.

Die nageslag van al vyf wat vandag nog die van Hay dra, is daarop geregtig om Hay-wapens te voer wat volgens die wette van Skotland (of in die geval van Robert, van Ierland) breuke het.

’n Samekoms van Hays

  • Om meer te leer oor die wapens van die Hay- en De la Haye-families, kyk hierdie bladsy.
  • Vir Duitse wapens wat dié van die Hay-klan dupliseer, kyk hier, hier, hier, hier, hier en hier.

  • Counter

    Terug na bo

    For English, click here

  • Erkenning: Wapentekenings deur Don Pottinger, uit Simple Heraldry deur sir Iain Moncreiffe of Moncreiffe en Don Pottinger (Thomas Nelson and Sons). Sir Iain was terloops met die gravin van Erroll getroud en was die vader van die huidige graaf van Erroll.

  • Hierdie artikel is aanvanklik in die Algoa Sun, 27 April 2000, gepubliseer.

  • Terug na familiewapens-indeks

    Terug na Armoria familia-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle