Strandloper
http://www.oocities.org/strandloper2003

Met vervulling van alle geregtigheid

 

Naaktheid met betrekking tot die doop en die miqweh

in Antieke Israel en die Vroeë Kerk

 

JESUS[1] het na die Jordaanrivier afgegaan na waar sy neef Johannes[2] besig was om mense te doop, en het gevra dat hy ook gedoop word.

Aangesien die doop ’n rituele reiniging is van sonde, wat Johannes aangepas het van die antieke Hebreeuse tradisie van die miqweh, [3] het dit dan gevolg dat die een wat dit ondergaan het, noodwendig sondes moet hê waarvan hy gereinig moet word. Johannes besef dit (en dat Jesus sonder sonde is) en sê vir Jesus: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?”[4]

Jesus antwoord: “Laat dit nou toe, want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.”[5]

Wanneer die doop van volwassenes deesdae plaasvind, word die kandidate gewoonlik vooraf in wit togas aangetrek. Dit pas by die gevestigde tradisie van die Kerk dat die naakte menseliggaam boos is, of ten minste seksueel afleidend, en dat dit dus ten alle tye geklee behoort te wees.

Maar juis hierdie leer is hereties, en is afgelei van die leerstellinge van die Gnostiese kultus, wat geglo het dat die fisieke bestaan boos is, en dat ’n mens moet streef om in die dood van die menseliggaam vry te wees.

Niks kan verder wees van die ware Evangelie nie: alhoewel dit vir ons ontsaglike seëninge in die hiernamaals belowe, is dit ten eerste ’n boodskap wat vir ons aanmoedig om hierdie lewe ten volle te leef.

Jesus het dit selfs persoonlik so belowe: “Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” [6]

Veel is bekend van die rituele besonderhede van die miqweh, waarvan daar in die 1ste eeu nC en in die daaropvolgende tydvakke heelwat geskryf is. Tot heel onlangs toe is min bekend oor die oorspronge van hierdie tradisie.

Maar onlangse navorsing[7] dui daarop dat sulke fasiliteite nie slegs in die tyd van die konings van Israel reeds bestaan het nie, maar dat dit spesifiek gebou is.

Argeoloog Shimon Gibson het, nà enkele jare van uitgrawings in ’n grot op Suba, 10 minute se ry weswaarts van Jerusalem se buitewyke deur die heuwels van Judea, tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie grot nie slegs uitsluitlik as miqweh gebruik is nie, maar dat dit tydens die Ystertydperk spesifiek vir hierdie doel gebou is. Hy noem nie die presiese tydvak nie, maar vir Israel kan dit gesê word dat die Ystertyd begin het met die uitsetting van die Filistyne. Hierdie oorheerservolk het, in die jare toe hulle die Judeaanse hooglande gedomineer het, ’n monopolie behou in die verwerking van yster. Met hul verdrywing het die Israeliete self yster begin verwerk.

Dit wil voorkom dat die grot in die tyd van die konings aanhoudend in gebruik was, dat dit ten tye van die Ballingskap verlate was, dat dit ná die terugkoms van die Jode weer in gebruik geneem is, en dan moontlik vòòr die 1ste eeu vC weer verlate was.

Sy navorsing bevestig verder lank-vergete tradisies, wat tot vòòr die Kruistogte terugdateer, dat Johannes en sy moeder, Elisabet,[8] die grot gebruik het as skuilplek toe Herodes die Grote in die omgewing van Betlehem die dood beveel het van alle manlike kinders onder die ouderdom van twee.[9]

Dit wil voorkom dat, nà die vroeë dood van Elisabet, Johannes alleen daar gebly het, en die grot weer in sy antieke rol gebruik het deur om daar te doop, voordat hy na die Jordaan-oewer verskuif het en in die woestyn hierdie praktyk voortgesit het.

Gibson vermoed wel dat Johannes se dissipels duiwe in hokke aangehou het, sodat hule vrygestel kon word om die nuwe begin in die doop te simboliseer – maar hy gee geen gedetailleerde verduideliking vir hierdie gissing nie, dus wil dit vir my voorkom dat dit bloot ’n modernis se poging is om ’n verduideliking te verstrek vir die voorkoms wat in die Evangelies genoem word waar Jesus “die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom”[10].

As ’n mens dan kyk na beskrywings van die teologie en ritueel van die miqweh kom daar nog inligting te voorskyn.

Dr Ron Moseley[11] skryf: “Die term mikweh in Hebreeus beteken letterlik enige samekoms van water, maar word in die Joodse wet spesifiek gebruik vir die water of bad vir rituele indompeling.

“Die bou van die mikveh was in die antieke tyd so belangrik dat dit glo voorkeur geniet het bo die bou van ’n sinagoge.”

Hy skryf verder: “Die Misjnah skryf aan Esra ’n dekreet toe wat vereis dat elke man hom voor gebed of studie moet laat indompel.

“Daar was etlike Joodse groepe wat die rituele indompeling daagliks gehandhaaf het sodat hulle gereed was vir die koms van die Messias. Die Kerkvaders het een sulke groep onder die naam Hemerobaptiste genoem, wat in Grieks ‘daaglikse baaiers’ beteken. Onder dié wat gereeld gedoop het was die Essene en ander wat die Talmoed tovelei shaharit of ‘dagbreekbaaiers’ noem.”

Hy skryf verder “die oseaan is steeds ’n wetlike mikweh”.

Met spesifieke verwysing na die tyd van die Nuwe Testament, skryf hy:

“Ons weet geskiedkundig dat daar heelwat rituele doopbaddens (mikwa’ot) op die Tempelberg was, en daaronder een in die Kamer van Melaatses wat in die noordwestelike hoek was van die Vrouehof (Midrasj 2:5).”

Indompeling was vir beide mans en vroue vereis tydens hulle bekering tot die Joodse geloof – wat dit dan ’n parallel maak met die indompeling van bekeerlinge tot die Christelike geloof.

’n Heel eienaardige ingangspunt het vereis dat potte en eetgereedskap wat deur ’n nie-Jood gemaak is, ingedompel moes word.

En dit is van alle Jode, manlik en vroulik, vereis dat hulle voor die Sabbatsdag ingedompel word, “sodat ’n mens hom tot die heiligheid van die dag vatbaar kan maak”, en voor Jom Kippoer, “as teken van reinheid en berou”.

Dit was ook maandeliks vir vroue verpligtend, nà die maandstonde.

Moseley is heel spesifiek daarop dat “in die antieke tyd moes die indompeling in die teenwoordigheid van getuies moes plaasvind”.

“Die persoon wat gedoop is het spesiale voorbereidings gemaak deur om sy naels te sny, het toe geheel ontklee en het dan voor die aangewese ‘vaders van die doop’ opnuut sy geloof bely (Kethub. 11a; Erub 15a). Dit is moontlike waar die Kerk, in ’n latere stadium, die term peetouers [in Engels godfathers] ontleen het. Die indiwidu het regop gestaan met die voete uitmekaar en die hande na vore gehou.”

Moseley skryf verder: “Omdat Levitikus 15:16 dit stel ‘moet hy sy hele liggaam in die water bad’, lê die Judaïsme klem daarop dat die gehele liggaam met die water van die mikweh kontak moet hê. Om te verseker dat die indompeling geldig was, mog geen kleding of mense die kandidaat raak nie.”

Let hierop: die persoon wat gedoop is, het geheel ontklee, en geen kleding sou hom of haar raak nie. [12]

Die Evangelie van Johannes verwys na die miqweh in die voorbereiding vir die Laaste Aandmaal. Toe Jesus in die bokamer was om deel te hê aan die seder-ete van die Pase (wat die Laaste Aandmaal in werklikheid was) het Hy sy klere uitgetrek en ’n handdoek om sy middellyf gesit, en beurtelings na elkeen van die dissipels gegaan om sy voete te was – die werk van ’n nederige bediende of slaaf.

Slegs een dissipel se reaksie is op rekord:

Simon Petrus[13] het Hom gevra: “Here, gaan Ú mý voete was?”[14]

Nadat Petrus daarop aangedring het dat die Here nooit sy voete sou was nie, het Jesus geantwoord: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”

Toe gee Petrus toe en sê hy: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”

Maar hierop antwoord Jesus: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”[15]

Dit is vanuit Moseley se bespreking van die miqweh-tradisie dat Jesus en die dissipels nie lank vantevore nie ’n miqweh besoek het, in voorbereiding nie niet op die weeklikse Sabbat nie, maar spesiall vir die allerheilige Sabbat van die Pase. Hulle was slegs in hierdie opsig vuil dat hulle in sandale op stowwerige strate geloop het, dus was dit nodig dat hulle voete skoongevee word voordat hulle vir die ete op rusbanke gaan lê het.

Moseley se verwysings na naaktheid in die miqweh vind ’n weerklank by David Chidester.[16] Hy skryf dat in die 3de eeu nC Christelike doopkandidate “gelas is om hul kleding te verwyder’. Hulle ‘was nakend . . . maar hulle het hul nie geskaam nie’ (Gen 2:25).”

Hy skryf verder: “Beide die inisiandi en die priesters het nakend gestaan.”

’n Diaken het gereed gestaan om die inisiandi te salf, maar ten eerste:

“Die inisiandi het hulle klere, hulle ‘skaamtegewaad’ uitgetrek, en deur om dit met hulle voete te betrap, het die inisidandi simbolies die sterflikheid van die mens afgewerp.

“Deurdat hulle met olies gesalf is, wat te kenne gee dat hulle die Christus – die ‘gesalfde’ van God – ontvang het, het die inisiandi dan begin om ’n nuwe onsterflikheid aan te neem.

“Soos hulle nakend voor die kerkvergadering gestaan het, is hulle voorberei om die water van die doop te betree.”

Chidester bevestig wat ek reeds uit Moseley aangehaal het:

Naaktheid was ook ’n essensiële ingrediënt in die kontemporêre Joodse gebruik van die doop van bekeerlinge. In die Joodse ritueel, soos in die Christelike kon geen kleding toegelaat word om tussen die inisiandus se liggaam en die water tussenin te kom nie.”

Hy noteer:

“Onder gewone omstandighede is openbare naaktheid belet. As gebruik wat geassosieer is met diere, barbare en Grieks-Romeinse heidene wat die gimnasium of baddens besoek het, was die openbare ontbloting van die naakte liggaam voor die oë van ander vir die Joodse denkwyse vreemd. In die konteks van bekering egter was openbare naaktheid ook deel van die doop van Joodse proseliete.

“Alhoewel Christene onder normale toestande ’n soortgelyke ‘afsku vir naaktheid’ getoon het, het hulle openbare naaktheid tydens die ritueel van die doop vereis.

“In daardie rituele konteks het naaktheid die oorspronklike toestand van Adam en Eva aangedui, of die onbedorwenheid van kinders. Naaktheid was dus ’n embleem van ’n nuwe begin.”

Chidester takel dan ’n kwessie van wat paslik is:

“In die Christelike praktyk van die salwing van die naakte liggaam, het ’n kwessie van rituele fatsoenlikheid ontstaan: behoort ’n manlike diaken die naakte liggaam van ’n vrou te salf?

“Volgens een gesag, die Didascalia Apostolorum uit Sirië in die 3de eeu, behoort ’n vrou deur ’n vroulike diaken[17] gesalf te word. Terwyl ’n manlike diaken haar kop mag salf, behoort ’n vroulike diaken die salwing van die res van haar liggaam te voltooi.

“Die teks gaan egter verder: ‘Waar daar geen vrou byderhand is nie, en veral nie ’n diakones nie, moet hy wat doop onvermydelik vir haar wat gedoop word, salf.’ ”

Chidester let verder op:

“Alhoewel hierdie riglyne sorg toon vir die behoud van ’n sekere standaard van seksuele fatsoenlikheid, dui hulle duidelik aan dat sulke oorwegings minder belangrik is as die vereistes van die ritueel dat die inisiandi, manlik en vroulik, naak moet wees en met olie gesalf voordat hulle die water betree.

“Die naaktheid van manlikes en vroulikes saam is in der waarheid by tye geïnterpreteer as ’n radikale vryheid van geslagsverskille en menslike seksualiteit..

“In hierdie opsig kon rituele naaktheid geïnterpreteer word as die verwerkliking van Paulus se stelling: ‘daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus’ (Gal 3:28).”

Onthou dat Jesus vir Nikodemus gesê het: “As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”[18]

Terwyl Moseley nie melding maak van die naaktheid van die persoon wat in die Joodse ritueel ingedompel of gedoop[19] het nie, blyk dit onwaarskynlik te wees dat die Kerk hierdie aspek van die prosedure ingevoeg het nie. Dit is dan duidelik dat die Joodse persoon wat gedoop is en die Joodse persoon wat gedoop het, albei naak moes wees.

’n Mens kan nou ’n sinnebeeld vorm van die naakte Christus in die Jordaanrivier, bygestaan deur ’n naakte Johannes die Doper. En alhoewel ons vanuit die Evangelies weet dat Johannes klere van kameelhaar gedra het en ’n leerband om sy heupe, kan dit it afgelei word dat hy, terwyl hy gedoop het, nog die een nog die ander gedra het nie.

Dit sou verkeerd wees om in hierdie naaktheid enigiets onbetaamliks in te sien nie: dit was ’n vereiste van die rabbi’s (dit wil sê die Fariseërs), en gesien as paslik tot die ritueel wat afspeel.

Die Evangelies noem dit nie in soveel woorde nie dat Johannes vroue sowel as mans gedoop het nie. Maar hulle noem ook nie dat slegs mans die ritueel ondergaan het nie – die sinoptiese Evangelies verwys almal na “mense”, nie mans nie.

Die woord menigtes word gebruik, en word daar verwys na “al die inwoners” van die landstreek. Daar is elders in die Evangelies verwysing na die getal mans wat in ’n menigte teenwoordig was, maar in die wonderwerke waar Jesus die menigte gevoed het, word dit duidelik dat vroue en kinders ook daarby was.

Dus is dit logies om te aanvaar dat vroue ook deur Johannes gedoop is, en dat hulle ook naak was toe hulle die water betree het.

 

Die implikasies van die bevindinge van hierdie artikel word hier en hier verder bespreek.

– Strandloper



[1] In Hebreeus, Jehosjua, en in Aramaïes, die taal van die tyd, Jesjua.

[2] In Hebreeus, Joganan.

[3] Ek gebruik hier self die spelwyse miqweh, wat ook deur Shimon Gibson gebruik word. In die artikel deur dr Ron Moseley, wat hierin aangehaal word, word die spelling mikveh gebruik, wat ek in Afrikaans as mikweh aanwend.

[4] Matteus 3:14. Christus se doop word in al vier Evangelies genoem, maar slegs Matteus haal hierdie woorde van Johannes aan.

Hierdie aanhaling is uit die Nuwe Vertaling van 1983.

[5] Matteus 3:15. Aangehaal uit Die Bybel in Afrikaans, 1933. Die aanhalings is uit òf die vertaling van 1933 òf dié van 1983, afhangende van hoe dit die gevoel van die boodskap pas.

[6] Johannes 10:10b.

[7] Kyk The Cave of John the Baptist, deur Shimon Gibson (Century, 2004).

[8] In Hebreeus, Elisjeba.

[9] Matteus 2:16.

[10] Matteus 3:16, ook in Markus 1:10, Lukas 3:22 en Johannes 1:32 genoem.

[11] In ’n artikel met die opskrif “The Jewish background of Christian baptism”, wat in die tydskrif The Tree of Life gepubliseer is.

Die paragrafering en die vertaling uit Engels is myne.

[12] Die gebruik van rooi letters om sleutelwoorde aan te dui is heeltemal myne, en reflekteer geen klem deur die aangehaalde skrywers nie.

[13] In Hebreeus, Sjimon. Jesus het daarby vir hom die naam Kefas gegee, wat “rots” of “klip” beteken, wat in Grieks PetroV (Petros) is, en in Afrikaans Petrus.

Terwyl die gewone Afrikaanse noemnaam Pieter of Piet is, praat ons steeds van die Apostel as Petrus.

[14] Johannes 13:6 en daaropvolgende verse.

[15] ’n Verwysing na Judas, wat kort daarop sou vertrek om Jesus te verraai.

[16] In Christianity: A Global History (Penguin, London, 2000). Die paragrafering in hierdie aanhalings is myne.

[17] Toevallig ’n bevestiging dat vroue in daardie tyd tot die diakenskap toegelaat is.

Hier word nie gepraat van diakens soos dit in die Gereformeerde geloofstradisie bestaan nie: sulke diakens was nie gekose beamptes van die plaaslike gemeente nie, maar geestelikes.

[18] Johannes 3:3, kyk ook die daaropvolgende verse.

[19] My gebruik van die woord doop met betrekking tot die Joodse gebruik is nie ’n anneksering van die miqweh as Christelike gebruik nie, maar ’n beklemtoning op die soortgelykheid (tot ’n groot mate, die gelykheid) van die ritueel – die doop is duidelik dieselfde ritueel, met bykomstige betekenis.

Die Griekse woord baptizein beteken om in te dompel. Van hierdie woord word die Engelse woorde baptise en baptism afgelei, asook die Afrikaanse woorde Baptis, soos in Baptistekerk, en baptisterium – ’n plek wat vir doopgebruik ingewy is.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Terug na Strandloper se hoofbladsy


Skryf vir my: Strandloper