Naaktheid
en die profete van die Ou Testament
IS naaktheid op sigself sonde? Die
konvensionele antwoord is: “Natuurlik ja!” Maar as ons na die Skrif kyk, kom ’n
ander beeld na vore.
Veral as ons na die Skrif in sy Afrikaanse vertaling kyk, is daar
verwarring, want daar is twee verskillende Hebreeuwse woorde wat in ons Bybels
as “naak”, “nakend” of “naaktheid” vertaal word.
Die eerste is ’arom, wat
eenvoudig kaal, ongeklee of poedelnakend (of growwer gestel, “kaalgat”) beteken.
Die tweede is erwah, wat nie
bloot naak is nie maar ook ontugtig, onkuis, aanstootlik en walglik.
Indien blote naak wees sonde was, sou God dit van enigiemand gevra het?
Ons lees in hoofstuk 20 van die Boek Jesaja: “. . . in dié tyd het die HERE deur Jesaja, die seun van Amos, gespreek en gesê: ‘Gaan gord die haarmantel
van jou heupe af los, en trek jou skoene van jou voete af.’ Hy het toe so
gedoen en nakend en kaalvoet geloop.”[1]
Naak en kaalvoet was die manier waarop krygsgevangenes in daardie tyd
gereeld gedwing is om waar dié wat hulle gevange geneem het, wou laat gaan gaan.
En was dit slegs vir enkele dae? Nee.
Was dit bloot vir enkele dae? Nee. Die daaropvolgende vers sê: “Daarop het die HERE gesê: ‘Soos my kneg Jesaja nakend en
kaalvoet loop, drie jaar lank, as teken en
sinnebeeld . . .’ ”
Kommentators het sy naakte toestand probeer wegverduidelik deur om te sê dat die uitdrukking wat as
“nakend” vertaal word, eintlik die betekenis dra van “met ’n lendekleed
geklee”.
Maar die Hebreeuse woord wat gebruik word om Jesaja se toestand te beskryf,
is ’arom – bloot, en sondeloos, naak.
Daar is natuurlik ook ’n konteks van vernedering – Jesaja het die
vernedering wat Israel sou ly, voorafgeskadu – maar hy self, as die Here se
dienskneg, is nie verneder nie.
Dan lees ons in die boek van die profeet Esegiël ’n allegorie waarin
Jerusalem beskryf word as ’n naakte meisiekind, gebore uit ’n Amoriet[2] en ’n Hittiet[3] (gehate vreemdes); en dus
’n soort basterkind. Hoofstuk 16, vers 7, het dit om van haar te sê:
“En jy het gegroei en groot geword en die hoogste bloei bereik; jou borste
het styf geword, en jou hare het gegroei, maar jy was nakend en bloot.”
Die verwysing is duidelik na lieshare,[4]
want dit groei in dieselfde tydvak as wat die borste vorm aanneem – die hare op
die kopvel groei aanhoudend, en daar sou geen doel wees in die noem daarvan
nie. Die Nuwe Vertaling is hier verwarrend, want dit praat van hare wat lank
word.
Sou die Israeliete van die oudheid hul naaktheid verskuil het soos wat vele
Christene dit deesdae doen, of soos wat die Moesliems dit doen, sou die profeet
dan selfs van hierdie verskynself geweet het? En het hy die verskynsel geken,
sou dit dan paslik wees om dit te noem?
Dikwels verwag die Christelike samelewing dit van sy volgelinge dat selfs
’n man en sy wettige vrou in mekaar se teenwoordigheid nooit naak sal wees nie,
behalwe as die ligte geblus is. Watter soort siekte is dit?
Jy sal miskien vir my herinner dat daar in Levitikus aanhoudend herhaal
word dat mense wat naby verwant is, nie met mekaar intiem mag wees nie:
“Niemand van julle mag naby sy naaste bloedverwant kom om die skaamte te
ontbloot nie; Ek is die HERE julle God.”[5]
Maar kyk na die aktiewe werkword daar – ons word aangesê: “Jy mag nie die skaamte ontbloot nie . . .”
Die verbod is op die aktiewe ontkleding van die bloedverwante met die doel
van geslagsgemeenskap – daardie woord word in die Nuwe Vertaling spesifiek
aangewend, eerder as die eufemisme van die ontbloting van skaamte.
Die konteks maak dit duidelik dat die woord naak soos dit hier aangewend
word nie’arom is nie maar erwah – aanstootlike of walglike
naaktheid.
Dit is nou duidelik dat die naaktheid van die bad – en die insidentele sigbaarheid
van die ongeklede liggam – nie onder hierdie verbod val nie.
Vir ’n verdure bespreking van naaktheid in ’n Bybelse konteks, kyk hier en hier.
– Strandloper
[1] Jesaja 20:2b.
[2] Die Amoriete was ’n Semities-sprekende
volk wat die geskiedenis van Mesopotamië, Sirië en Palestina (volgens die Encyclopædia Britannica) gedomineer het van omstreeks 2000 tot 1600 vC.
Feitlik al die plaaslike konings van
Babylonië was Amoriete.
[3] Die Hittiete was ’n Indo-Europeese volk
wat omstreeks die begin van die 2de millennium vC in Anatolië verskyn het. Die Encyclopædia
Britannica stel dit dat hulle teen 1340 vC in die Midde-Ooste ’n dominante
mag geword het.
Hul ryk, wat Sirië ingesluit het, het
plotseling geval. Die Britannica noem nie die tyd nie, maar dit het gekom nà ’n
vredesverdrag met Egipte in 1250 vC. Syrië en Silisië het die daaropvolgende
vyf eeue wat hul kultuur betref hoofsaaklik Hittiet gebly.
[4] Ek verduidelik hier waarom ek die woord lieshare verkies, in plaas van die konvensionele skaamhare.
[5] Levitikus 18:6. Dieselfde gebod word in
elkeen van die daaropvolgende verse in spesifieke instansies herhaal, tot by
vers 19.
Die aanhaling
is uit die vertaling van 1933.
En terwyl vers
9 na bloedverwantes verwys, word dit in die daaropvolgende verse duidelik maak
dat die verwantskap een kan wees van óf bloedverwantskap óf wat deur die huwelik geskep is (stieffamilie sowel as
bloedfamilie), sodat geslagsverhoudings tussen ’n man en sy stiefma of
stiefsuster ewe aanstootlik is as met sy eie moeder of suster.
For English,
click here
Terug na Strandloper se
hoofbladsy
Skryf vir my: Strandloper