DEELTEKEN - OPSOMMENDE AFRIKAANSE SPELREËLS EN OPMERKINGS

| Tuisblad | Koop die AWS | Geskiedenis van die AWS | Taalkommissie-lede | Oorsig oor die reënboog-AWS | Spelreëls en kommentaar (ons s'n en joune ook) | Omgangstaalafrikaans | Weggelate woorde | Debat oor die 1991-AWS | Skakels |

Kliek hier vir die spelreëls-hoofbladsy.

DEELTEKENS SE REËLS

(5.1) Die deelteken word op aangrensende klinkers geplaas indien dié klinkers van verskillende lettergrepe is én daar 'n kans is om die twee klinkers verkeerdelik as 'n tweeklank uit te spreek. Waar daar geen kans van verkeerd uitspreek is nie, kom daar geen deelteken nie.

Daar is egter uitsonderings op reël 5.1. Die laaste oordeel oor die kans van verkeerd uitspreek berus klaarblyklik by die Taalkommissie, want "geuiter" kry byvoorbeeld nie 'n deelteken nie, ten spyte van die kans op "geu=iter". In gevalle wat nie meer as twee lettergrepe uitgespreek word nie, maar waar die woord tradisioneel met 'n deelteken geskryf word, bly die deelteken behoue, soos by "reën" en "seën", wat as "reen" én "ree-en" of "seen" en "see-en" uitgespreek kan word. Die deelteken word ook soms gebruik om homonieme te onthominimiseer, byvoorbeeld reëling x reling, of leer x leër. Verbindings in die vorm =[a][agtig] kan met 'n koppelteken óf met deelteken geskryf word.

(5.2) Woorde in die vorm =[ieel], =[ieer] en =[ieet] kry tans nie enige deeltekens nie, behalwe (5.3) by afleidings, byvoorbeeld finansieel en finansiële.

(5.4) By 'n opeenhoping van klinkers waar die eerste lettergreep op 'n "e" eindig en die volgende lettergreep met a of o begin, kom daar geen deelteken nie. By (5.5) samestellings (stamme wat verbind word) kry opeengehoopte klinkers 'n koppelteken, maar by afleidings (stam+niestammorfeem) word 'n deelteken gebruik. Dus "geëet" maar "mee-eet" (as ek reg verstaan). (5.9) Die "ae"-verbinding in Afrikaans kry geen deelteken nie, ongeag die hoeveelheid lettergrepe wat dit voorstel, behalwe as die ae-woord van klassieke oorsprong is, in welke geval dit wel 'n deelteken kry. Ons sal binnekort hier 'n lys instansies aandui waar jy, die leser wat graag reg wil spel, 'n duur kursus kan loop om te weet watter woorde is "klassiek" en watter nie. As die ae-verbinding in werklikheid twee afsonderlike klanke is wat die einde van een lettergreep is en die begin van 'n ander lettergreep, en die eerste lettergreep is 'n woorddeel van klassieke afkoms, soos by dodeka-eder en dodekaëder, kan jy 'n deelteken óf 'n koppelteken gebruik. Kyk ook reël 5.6.

Opmerking: 'n onlangse studie van die gebruik van aëro= versus aero= in vier Afrikaanse koerante (Beeld, Volksblad, Rapport en Die Burger) het bevind dat ruim 20%-35% van die redaksionele personeel die skryfwyse sónder die deelteken verkies, ten spyte van die feit dat dié skryfwyse in geen AWS tot hede toelaatbaar geag is nie. Onses insiens is daar ook geen dwingende rede waarom die deelteken nodig is nie.

Die 1991-reël dat by verbindings met klassieke voorvoegsels dit saakmaak of die voorvoegsel één of twéé lettergrepe het, verval. Tans (5.6) kan afleidings met klassieke voorvoegsels ongeag die hoeveelheid lettergrepe met 'n koppelteken óf met 'n deelteken geskryf word. Dus hidroëlektries en hidro-elektries, poli-ester en poliëster is albei reg. Let op dat dié vergunning slegs van toepassing is indien die voegsel inderdaad 'n afleidingsvoegsel is, en nie 'n betekenisvolle stammige voegsel nie. Dus "fotoëlektries" is reg indien "foto" op lig dui, maar "foto-uitstalling" kan net 'n koppelteken kry omdat "foto" in dié geval nie op lig dui nie, maar op 'n werklike foto. Onthou: selfstandige woorde koppel óf vas (sonder deelteken) óf met 'n koppelteken, maar nie vas met 'n deelteken nie.

(5.7) Geen deelteken kom op 'n tweede lettergreep as die eerste lettergreep se klinker 'n kappie het nie.

(5.8) Wanneer woorde met deeltekens afgekap word, word daar vóór die gedeeltekende letter afgekap (blykbaar ongeag of die deelteken 'n sogenaamde tradisionele deelteken of 'n werklike lettergreepverdelende deelteken is).

Woorde (5.10) in die vorm =[medeklinker][ee] kry by die meervoud bloot 'n deelteken op die tweede e. Maar woorde in die vorm =[medeklinker][i], =[medeklinker][ie] en =[medeklinker][oe] kry 'n ekstra deelteken-e by die meervoud. Hoekom dié 'n enkele reël is en nie twee nie, weet ons nie.

KOMMENTAAR

Ons verwelkom kommentaar van ons lesers, hetsy kommentaar op ons opmerkings of direk kommentaar op die spelreëls sélf. Skryf solank jou kommentaar, en wanneer ons klaar is, sal ons die posadres gee waarheen jy jou kommentaar kan stuur. Kommentaar word onderaan elke hoofstuk geplaas (anoniem of met jou naam).


Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.

Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.

π