Elwe en Feë

Behoort Christene om Harry Potter te lees?

deur Ælf

BEHOORT Christene die stories van J K Rowling oor die avonture van Harry Potter te lees?

Volgens ’n sekere klas Christen is die antwoord beslis nee.

Jeanine McGill, van Africa Christian Action, het briewe aan koerante landswyd in Suid-Afrika geskryf wat die verskynsel van Harry Potter verdoem. Sy spreek veral kommer uit oor die invloed daarvan op ons jeug.

Haar houding in hierdie saak is gebaseer op verslae wat sy van ander het oor die boeke; sy erken reguit dat sy die boeke nie gelees het nie.

As Christen en as iemand wat in die Heilige Skrif se boodskap glo, maar wat ook al die boeke in die reeks gelees het, het ek ’n ander houding oor hierdie saak.

Maar ek sal die saak nie forseer deur om te sê dat sy mislei is nie. Haar verskeie argumente sal ek elders bespreek. In hierdie artikel gaan ek slegs op een vraag fokus, naamlik of die lees van hierdie boeke vir Christene raadsaam is.

Soos ek hierdie vraag opweeg, kyk ek in Paulus se brief aan die kerk in Korinte,[1] waar hy die kwessie bespreek of Christene vleis behoort te eet wat aan afgode geoffer is.

Dit was blykbaar ’n hitsige kwessie in die Korintiese kerk, want nadat hy ander sake bespreek, begin hy ’n gedeelte (tans bekend as hoofstuk agt van sy brief) deur om te sê: “En nou julle vraag oor vleis wat aan ’n afgod geoffer is . . .”

Hy skryf: “Ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat ‘God’ en baie wat ‘Here’ genoem word, is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.”[2]

Etlike lede van die Kerk, let hy op, het die gebruik gehad om vleis te eet wat aan afgode geoffer is waar hulle dit beskou as heilig aan daardie afgode. Hy voeg by: “Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar.”[3]

Ander, sê hy, beskou dit nie dat sulke vleis enigiets met afgode te doen het nie. Dit op sigself sien hy nie as problematies nie, maar hy waarsku: “Pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien ’n struikelblok word vir die wat swak is nie.”[4]

Met my kennis aangaande heksery, en die ferme geloof in Jesus Christus wat my daarvan keer dat ek daaraan glo, is ek deur die noem van heksery en toordery in Joanne Rowling se boeke nie nie geaffekteer nie. My kinders, wat soortgelyk ingelig is, is eweso ongeaffekteer.

Daar is egter baie families waar die lees van Harry Potter-boeke heeltemal verban word. Ek respekteer die reg van die ouers in daardie huise om hulle kinders van die boeke te belet.

Toe ek ’n kind was, wou my ouers dit verseker dat ek en my broers ordentlike leesstof gehad het. Ons is Britse prentjieskoerante toegelaat, maar Amerikaanse prentjiesboeke (“comic books”) is verban. Alhoewel ek my ouers in die steek gelaat het deur om in ander mense se huise waar ek dit ookal kon, prentjiesboeke te verslind, het hul reël my op ’n sinvolle pad geplaas, en ek het nie met sinlose leesstof behep geraak nie.

Tans in die 21ste eeu het ons ’n geslag kinders wat glad nie boeke lees nie. Die anlokkingskrag van televisie, video-speletjies en die Internet trek hulle weg van die outydse dissipline om self ’n storie te lees. Die groot waarde van Me Rowling se skryfwerk is dat sy ’n geslag jongmense teruggetrek het na die gewoonte om te lees.

Om redes wat ek in ander artikels[5] sal bespreek, sien ek dit as positiewe bydrae tot die kultuur van die 21ste eeu.

Mev McGill weier om in hierdie beweging enigiets positiefs te sien nie. Ek respekteer haar gevoelens in hierdie opsig, maar ek twyfel ernstig of dit sal uitloop op ’n geslag jongmense wat boeke lees en dan ook na heksery draai, en dan praktiserende hekse word wat goëlary en ander okkulte praktyke gebruik.



[1] 1 Korintiërs 8:1-13 (aanhalings in hierdie artikel is hoofsaaklik uit die Nuwe Vertaling van 1983).

[2] 1 Korintiërs 8:4b-6

[3] 1 Korintiërs 8:7c (aangehaal uit die Afrikaanse Bybel van 1933)

[4] 1 Korintiërs 8:9

[5]Die mag van name”, “Halloween”.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Terug na Elwe en Feë se hoofbladsy


Skryf vir my: Ælf