Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

IBHAYI
Provinsie: Kaapprovinsie
Streeksdiensteraad: Algoa
Ingelyf: in Port Elizabeth, 1995

Ibhayi

Hierdie wapen is met die Staatsheraldikus onder die naam van die Stadsraad Khayamnandi geregistreer. Die munisipaliteit is na ’n kort tydjie hernoem na Stadsraad Ibhayi. Hierdie munisipaliteit het steeds die wapen gevoer. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: in blou, ’n tralie van goud; op ’n golwende skildhoof van silwer ’n ring tussen twee vyfblare, almal van rooi.

Helmteken: Rysend uit ’n muurkroon van blou, ’n goue vlam belaai met ’n anker in sy natuurlike kleure.

Dekkleed: Silwer en blou.

Leuse: United We Stand (Ons staan saam).

Agtergrond van wapen:
Ek het geen amptelike beskrywing van hierdie wapen nie. Die vyfblare is blykbaar van die wapen van Port Elizabeth geneem, asook die anker. Die ring verwys miskien na Van Riebeeck se goue ringe wat in Port Elizabeth se wapen op die (rooi) muurkroon verskyn.

Apart van hierdie verwysings is die simboliek onduidelik en het seker vir die inwoners van die munisipaliteit min beteken. Die simbole is geheel en al Westers, en dit lyk nie of enige poging gemaak is om simbole te vind wat in enige swart Afrika-kultuur betekenis gehad het nie.

Die gebruik van Engels vir die leuse is ook nie van pas nie. Dit mag miskien in Soweto (tans in Gauteng) aanvaarbaar gewees het, want die inwoners daar is min of meer eweredig verdeelbaar in die nege inheemse taalgroepe, maar nie in Port Elizabeth nie.

Agtergrond van munisipaliteit:
Die munisipaliteit is in 1979 gevorm (as Khayamnandi) uit swart woonbuurte wat vroeër deur die Munisipaliteit Port Elizabeth geadministreer is – New Brighton, Rooi Lokasie, Kwazakhele, Zwide en naasliggende gebiede. Gedurende die 1970s is hierdie gebiede van die Stadsraad se beheer ontneem en onder die Oos-Kaapse Bantoe-Administrasieraad geplaas (hierdie instansie is later Oos-Kaapse Administrasieraad genoem). Die woonbuurte is tradisioneel lokasies genoem, maar teen dié tyd het dit mode geword om dit “townships” (dorpsgebiede) – dit ten spyte van die feit dat feitlik geen swart woonbuurte in werklikheid geproklameerde dorpsgebiede was nie.

Die naam Khayamnandi beteken “geluksoord”.

Die daarstelling van die munisipaliteit – en soortgelykes dwarsdeur Suid-Afrika – was die vervulling van ’n droom vir die Nasionale Party-regering, wat totale skeiding in die siviele lewe en veral in administratiewe en verteenwoordigende strukture tussen mense van verskillende rasse in Suid-Afrika wou bewerkstellig.

Die inwoners van Ibhayi was amptelik beskou as amaXhosa, maar alhoewel sprekers van isiXhosa ’n groot meederheid in die gebied gevorm het, was daar ook vele sprekers van Suid-Sotho (Sesotho sa Borwa) en ander tale ook in die munisipaliteit woonagtig.

Omdat die munisipaliteit vir Xhosa-sprekendes geskep is, is dit ’n naam in daardie taal gegee. Ibhayi is die tradisionele Xhosa-benaming vir Port Elizabeth, en is nou die amptelike naam in Xhosa vir die stad in sy geheel.

Verkiesings is vir ’n stadsraad gehou, maar aangesien die bestaan van munisipaliteite van hierdie soort totaal deur die meerderheid inwoners verwerp is, het min mense daarvoor óf geregistreer óf gestem, en die raad wat so verkies is, is aangesien vir ’n klomp strooimanne en Uncle Toms. Uiteindelik is die burgemeester en raadslede verplig om bedank – dit het ook in baie ander swart munisipaliteite die land oor gebeur – en die Stadsklerk is buitengewone magte gegee op sonder ’n munisipale raad se gesag op te tree.

Een van die eerste stappe wat deur die ná-apartheidse Nasionale Eeenheidsregering geneem is, was die afskaffing van aparte munisipaliteit van hierdie soort en om hulle in die munisipaliteite waaraan hulle voorheen behoort het, te herintegreer – in hierdie geval, die Stad Port Elizabeth.


Counter

Terug na bo

Vir Afrikaans, kliek hier

  • Bron van illustrasie: foto van Ibhayi munisipale vlag deur Ivor Markman. Skandering met vergunning van die Evening Post.


    Terug na munisipaliteite-indeks

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle