Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

PORT ELIZABETH / IBHAYI
Provinsie/staat: Oos-Kaap (tot 1994, Kaapprovinsie/Kaap Colonie).
Distriksraad: Westelike Distriksraad (voorheen Afdelingsraad Port Elizabeth; daarna Afdelingsraad Dias; later Streeksdiensteraad Algoa).
Toevoegings: Korsten (1924), Swartkops, Newtonpark (1931), Bethelsdorp en Redhouse (1965), Walmer (1967), Ibhayi, KwaMagxaki, KwaDwesi en Motherwell (1995).
Ingelyf: in Nelson Mandela Metropool, 2000.

Wapen van 1861

Port Elizabeth

Wapen 6 Augustus 1958 deur die College of Arms, Londen, verleen; formeel beskryf as ’n verlening volgens oktrooibriewe:

In rooi, ’n silwer keper belaai met drie swart gespes, tussen twee goue vyfblaarblomme bo en ’n goue beuelhoring onder met goue koord; op ’n gekanteelde silwer skildhoof tussen twee ankers, ’n staande Indiese olifant, aldrie in hul natuurlike kleure.

Helmteken: ’n rooi muurkroon belaai met drie goue ringe, waaruit ’n seilende driemastige seilskip in sy natuurlike kleure oprys. Bo-aan die hoofmas is ’n rooi wimpelvlaggie.

Leuse: Tu Meliora Spera.

Die verlening van 1958 is nie tot die daaropvolgende jaar gepubliseer nie, toe dit na raadgewing van ’n besoekende afvaardiging van die College of Arms, dit 1 Mei 1959 in Kaapprovinsie se Amptelike Koerant gepubliseer is.

Die wapen is 25 April 1986 in terme van die Heraldiekwet deur die Buro vir Heraldiek geregistreer.

Wapen van 1861:
Port Elizabeth (oud) Hierdie verlening het op amptelike voet die wapen wat Port Elizabeth vroeër (sonder amptelike toestemming) gevoer het:

In rooi, ’n keper van silwer belaai met drie swart gespes tussen twee goue vyfblaarblomme bo en ’n goue beuelhoring onder met goue koord; op ’n gekanteelde silwer skildhoof tussen twee ankers, ’n staande Indiese olifant, aldrie in hul natuurlike kleure.

Helmteken: ’n seilende driemastige seilskip in sy natuurlike kleure, met bo-aan die hoofmas ’n rooi wimpelvlag.

Leuse: In Meliora Spera.

Die hoofverskille is dat die heroute in 1958 twee ankers as breuk bygevoeg het (amper asof die stad ’n jongere seun was van sy stigter), sowel as ’n muurkroon.

Die ankers simboliseer die veilige hawe van Algoabaai en spesifiek die besige kaaie van Port Elizabeth, maar is ook ’n verwysing na die anker wat saam met die dame Hoop in die helmteken van Kaapkolonie verskyn het.

Die muurkroon simboliseer nie net munisipale gesag nie, maar fasiliteer ook die toevoeging van die wapen van Jan van Riebeeck (In rooi, drie goue ringe), eerste Kommandeur van die Nederlandse nedersetting in Tafelbaai. Hierdie toevoeging dui op die Suid-Afrikaansheid van die wapen.

Die College of Arms het ook die bewoording van die leuse verbeter. In die verbeterde bewoording, Tu Meliora Spera, is die gebruik van die woord “tu” (“jy”) ’n aansporing om beter dinge uit te soek.

Port Elizabeth het voorheen die leuse gebruik met die bewoording In meliora spera, wat ’n traak-nie-agtige gevoel oordra dat ’n mens bloot moet hoop dat dinge beter sal gaan.

Die olifant is ’n Indiese olifant (Elephas maximus), nie ’n Afrika-olifant (Loxodonta africana) nie, en word afgelei van ’n eretoevoeging in die wapen van sir Rufane Donkin.

Ander wapens wat Port Elizabeth s’n as model gebruik, sluit egter ’n Afrika-olifant in.

Agtergrond van Port Elizabeth:
Beide die verlening van 1958 en die wapen wat vroeër gevoer is, is gebaseer op die wapen van genl sir Rufane Shaw Donkin, wat in 1820-21 Waarnemende Goewerneur was van die Kaapkolonie. Dit is moontlik dat hy toestemming gegee het dat sy wapen gevoer word, maar geen bewys hiervan is tans bekend nie.

Hy was egter die stigter van wat in 1820 niks meer was nie as as ’n gehuggie langs die kus van Algoabaai, geskuil onder die beskerming van die kanonne van Fort Frederick, ’n klip-en-beton fortifikasie met ’n houtverdieping, wat die landing aan die mond van die Baakensrivier beheer het.

Die fort, die oudste permanente struktuur in die stad en een van die oudstes in Oos-Kaapland, is in 1799 opgerig om ’n Franse landing in Algoabaai te voorkom. Die Franse het dit beoog om by die rebelse Boere-republikeine van Graaff-Reinet aan te sluit. (Tot in 1804 was Algoabaai deel van die distrik Graaff-Reinet.)

Sir Rufane (hy het aan die Kaap as generaal-majoor geland en dit as luitenant-generaal verlaat, en het later ’n volle generaal geword) het baie tyd as Waarnemende Goewerneur in die oostelike distrikte (later as die Oostelike Provinsie van die Kaapkolonie bekend) deurgebring, besig om die nedersetting van Britse setlaargroepe aan die oosgrens van die kolonie, veral in die distrik Albany.

Die dorpie Port Elizabeth het langs die strand waar die setlaars in bote geland het, gegroei.

Donkin het die dorp na sy vrou, gebore Elizabeth Markham, genoem. Sy is Augustus 1818 in Indië aan tropiese siekte oorlede, twee maande voor genl Donkin se proklamasie as Ridder-Kommandeur van die Orde van die Bad (Order of the Bath), of KCB.

(Die datums van hierdie twee gebeurtenisse beteken ook dat mev Donkin nooit as lady Donkin bekend gestaan het nie.)

Hy het ook ’n aansienlike publieke oop ruimte, die Donkin-reserwe, geproklameer, bo-aan ’n steilte met ’n goeie uitsig oor die baai, en het daarop ’n piramide laat oprig ter nagedagtenis van sy vrou.

Etlike jare lank het die Port Elizabethse Kamer van Koophandel die stad se helmteken as wapen gebruik. Die kamer het egter met ander sakeorganisasies geamalgameer, en die huidige organisasie gebruik ’n logo.

Die Afdelingsraad Port Elizabeth het die skip-helmteken ook in sy wapen gevoer (met veranderde kleure), en ’n olifant (in hierdie geval ’n Afrika-olifant) verskyn ook in daardie wapen.

Port Elizabeth het 1 Januarie 1861 munisipale status verkry en is in 1913 tot stad geproklameer.

Ná die munisipale verkiesing van 2000 het Port Elizabeth deel geword van die Nelson Mandela Metropool.

Xhosa-naam van Port Elizabeth:
Die Xhosa-benaming Ibhayi het eers in gebruik gekom toe Xhosa- en ander Nguni-sprekende arbeiders in die dorpie Port Elizabeth in die 1820s en ’30s gaan werk het. Hulle tuistes was ver van Algoabaai af, en hulle het die naam “Die Baai”, waarmee Algoabaai steeds benoem word, oorgeneem, en sy klanke aangepas om hulle by hul eie taal in te pas.

Ibhayi het egter eers in 1994 ’n amptelike naam van die Stad Port Elizabeth geword, toe Xhosa ’n landstaal geword het.

In 1995 is plaaslike regering herorganiseer, en is die apartheid-munisipaliteite van Ibhayi (die swart woonbuurte wat voorheen deel was van Port Elizabeth) en Motherwell (’n nuwe ontwikkeling noord van die Swartkopsrivier), sowel as die middelklas swart woonbuurte KwaMagxaki en KwaDwesi, in Port Elizabeth ingelyf.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Hierdie is ’n uittreksel van ’n artikel deur Mike Oettle, gepubliseer as “The Arms of Sir Rufane Donkin and the City of Port Elizabeth” in Arma, joernaal van die Heraldiese Genootskap van Suider-Afrika, Vol 5 No 1. Deur die skrywer vertaal.
Skandering van die verlening van 1958 met vergunning van die Eastern Province Herald; foto van ouer weergawe van wapen op die fasade van die Veremarksentrum, Port Elizabeth, deur Ivor Markman, wie ook die foto geskandeer en die kleure aangesuiwer het.


  • Opvoedkundige inrigtings in Port Elizabeth wat in Armoria academica verskyn: Universiteit Port Elizabeth, Alexander Road High School, Hoërskool Andrew Rabie, Chinese High School, Hoërskool Kaap Recife, Lawson Brown High School, Merryvale Skool, Laerskool Moregrove, Morningside High School, Hoër Tegniese Skool Newton, Laerskool Newtonpark, Hoërskool Pearson, Primêre Skool Sunridge, Laerskool Summerwood, Westering High and Primary Schools.

  • Port Elizabeth in Armoria ecclesiastica: Bisdom Port Elizabeth (Anglikaans), Biskop Michael Coleman (Rooms-Katoliek), St Mary’s-katedraal (Anglikaans), All Saints’-kerk (Anglikaans).

  • Port Elizabeth in Armoria corporativa: Livingstone-Hospitaal.


    Terug na indeks van munisipaliteite voor 2000

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle