deur Mike Oettle
WATTER soort beeld kom in jou gedagtes voor as jy die almanak-inskrywing
vir 4 Oktober lees? “Franciscus van Assisi, Toegewyde, 1226” lees dit. Hier is
’n man wat so geïdentifiseer is met die natuur, skryf Sibyl Harton, “dat hy ’n
soort beskermheilige geword het van diere-allegaartejis en sentimentele
voëltjie-tafels”.[1] Maar die belangrikste ding oor Franciscus is sy asketisme[2] – en let ook daarop dat hy die titel
beskermheilige van Italië met daardie ander uitstaande askeet Caterina van Siena (1346-80) deel. Sommige mense mag aan hom dink as “Broeder Son” na aanleiding van die gewilde rolprent Brother Sun, Sister Moon (alhoewel dit sy manier was om van die daglig en van die nag te praat).
In die algemene gedagtebeeld is een toneel egter blykbaar as gevolg van daardie film vasgelê: hierdie seun van ’n ryk koopman wat sy klere uittrek en sy ouerhuis daarsonder verlaat.
Hy is in 1181 of ’82 in die Umbriese dorp Assisi [3] gebore, en het bekend gestaan as Francesco di Pietro di Bernardone (Franciscus, seun van Pieter Bernardone).[4] In 1202 het hy soldaat geword en in ’n mindere plaaslike oorlog geveg. Hy is ’n jaar lank gevange gehou, en toe hy vrygelaat is, het hy siek geword. Nadat hy
weer geprobeer het om aan te sluit, het hy ’n droom gehad wat hom huis toe
gestuur het om die roeping af te wag tot ’n nuwe soort ridderskap. Hy was
voorheen ’n persoon wat bedelaars en melaatses verafsku het, maar nou het hy
homself onder bedelaars gevind en het vir een sulke medelye gevoel dat hy hom
gesoen het. Toe hy die bouvallige kerk van San Damiano, buite Assisi, besoek
het, het hy in ’n droom vir Jesus gesien, wat vir hom sgesien, wat vir hom sê:
“Gaan, Franciscus, en herstel my huis, wat, soos jy sien, haas ’n ruïne is.”
Franciscus het uit sy vader se winkel geneem, asook ’n perd, dit verkoop, en
probeer hy die geld aan die priester by die San Damiano-kerk te skenk. Sy
vader, boos weens die vermeende diefstal, het hom voor die magistrate gedagvaar
en, toe Franciscus weier om die hof te erken, voor die biskop. Toe Franciscus
voor die biskoplike hof verskyn, het hy al sy kleding behalwe ’n boetekleed
uitgetrek. Die verbaasde biskop het vir hom ’n mantel gegee en, aldus geklee,
het Franciscus weggeloop om sy lewe in armoede en toewyding te lei. Sy vader se
reaksie? Hy tel sy geld op, asook sy seun se klere, en vervloek hy vir
Franciscus.
Franciscus het hom weer na die San Damiano-kerk gewend, en het aan die herstel daarvan begin werk. Maar hy het geweier om van die priester aldaar kos te ontvang. In plaas daarvan het hy ’n bak geneem en het onder sy eermalige vriende in Assisi gaan bedel. Takke en dekriet het vir hom dekkin gegee. Daarna is ’n kapel van Sint Petrus en die kapel van Santa Maria degli Angeli[5] gerestoureer, en dit was in laasgenoemde kapelletjie waar hy op Sint Matthiasdag, 24 Februarie 1208 – twee jaar nadat hy sy ouerhuis verlaat het – dat hy besef het dat die huis wat Christus vir hom wou laat herstel die Universele Kerk was. Hy het geroepe gevoel tot ’n bediening as rondgaande prediker soos wat Jesus vir die Twaalf in Matteus 10 opgelê het – sonder goud, silwer of bykomstige kleding. Hy het binnekort volgelinge aan hom gelok, en toe hulle ’n twaalftal was het hy Rome toe gereis om die goedkeuring te verkry van pous Innocentius III, wat hy 16 April daardie jaar mondelings verkry het – daardie datum word tans beskou as die stigtingsdatum van die Franciskaner-Orde. Vroue het in 1212 die orde toegetree toe Franciscus ’n kleed soos sy eie aan ’n Assisiaanse edelvrou, Clara, gegee het, wat onthou word as die Heilige Clara van Assisi. Die vroue wat haar gevolg het is die Klarisse genoem. En in 1221 het Franciscus die Derde Orde van Broeders en Susters van Penitensie, bestaande uit leke wat in hul eie huise gebly het en nie ’n kloostereed afgelê het nie, maar die beginsels van die Franciskaanse lewe uitgeleef het.
Franciscus was nie gereed om die administrasie van die groeiende
Franciskaanse Orde op te neem nie. Hy het voortgegaan met vas, gebed en preek,
en na verskeie pogings om die evangelie na Islam te neem, is hy in 1219 na
Egipte, waar hy voor die Soeltan gepreek het. Hierdie magtige was na berigte
beïndruk, en het Franciscus toegelaat om die heilige plekke in Palestina te
besoek. Maar Franciscus moes na Italië terugkeer want sy ordebroeders[6] het moeilik geraak. Hy het ’n vikaris aangestel (iemand wat namens hom die orde sou lei), wat binnekort gesterf het, en moes nog iemand aanstel. ’n Groot probleem was dat Franciscus se eenvoudige reglement ontoereikend was vir ’n groot en steeds groeiende orde, en hy het tyd daaraan gewy om dit te hersien en uit te brei. Nadat dit in 1223 goedgekeur is, het hy hom al hoe meer van die wêreld onttrek.
Franciscus het “die hele natuur as die spieël van God beskou, en as soveel trappe na God”.[7] Alle skepsels was vir hom sy broers en susters, soos wat hy so duidelike geskryf het in sy Lofsang van die Skepsels (ook Lofsang van die Son genoem), “waarin God geloof word vir al sy skepsels, op die einde selfs ook vir Suster Dood”.[8]
Lyding en visies kenmerk wat oorgebly het van sy lewe (bloot 44 of 45 jaar), die laaste deel waarvan hy saam met Clara en haar susters op die San Damiano-kerk deurgebring het – en was dit ook hier wat hy daardie beroemde
lofsang gedig het. Hy het ook die merke ontvang van Christus se lyding, wat hy
geheim gehou het, maar nà sy dood in 1226 – dit was kenmerkend genoeg in ’n
vervoering van lyding – is dit algemeen bekend gemaak dat Franciscus die
Stigmata gedra het.
Slegs
twee jaar later, in 1228, het Rome vir hom tot heilige verklaar, en in 1230 is
sy oorskot verskuif na die basiliek wat in sy eer aan die weseinde van die stad
Assisi in aanbou was. In 1979 is hy tot beskermheilige van ekoloë verklaar.
Sy orde bly tot vandag toe, maar dit kon nooit naby genoeg aan sy eenvoudige voorbeeld trou bly nie. Die groep wat die beste probeer het om so te maak is op die ou end onderdruk, en huidiglik maak drie verskillende broederordes aanspraak op afstamming van Franciscus se predikergroepie. Die Klarisse het miskien ’n beter voorbeeld gestel.
[1] In Stars Appearing
(Hodder and Stoughton) (my vertaling).
[2] Hier is alweer daardie definisie: askeet: Persoon wat hom onthou van sinlike genietings en na volmaaktheid strewe, o.a. deur selfkastyding.
[3] Om hierdie pleknaam uit te
spreek, let daarop dat die eerste S verdubbel is, maar in die laaste
lettergreep is daar slegs een S – sê “As-sie-zie”.
[4] Franciscus beteken ’n lid
van die Germaanse stam wat Franke genoem is (hulle het hul naam aan Frankryk
verleen – dit was vroeër Gallië – nadat hulle dit verower het). Dit beteken ook
iemand wat reguit praat (wat die Franke glo gedoen het).
Om sy naam in Italiaans uit te spreek, sê Fran-tsjes-ko.
[5] Die Heilige Maria van die
Engele.
[6] In Engels word hulle
“friars” genoem.
[7] Aangehaal uit die artikel
“Francis of Assisi, Saint”, in die Encyclopædia Britannica (my
vertaling).
[8] Aangehaal uit Stars
Appearing (my vertaling).
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle