Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Dewi en Pelagius

deur Mike Oettle

MAAK vir jou ’n sinnebeeld van ’n nà-koloniale nasie, deel van ’n groot ryk vir ’n paar eeue lank en dan aan homself oorgelaat. Heidense barbare val toe die land binne en verdryf die Christen-inwoners in ’n klein hoekie, waar hulle in die bergagtige terrein beter vir hulself kan verdedig. Intussen loop die Kerk self die gevaar dat hy homself sal vernietieg weens ’n arglistige leer, uitgedink deur ’n man wat in hierdie selfde land gebore is.

Nee, dit is nie Afrika, Amerika of Asië in die 20ste of 21ste eeu nie – alhoewel die patroon miskien daar herhaal mag word. Dit is Brittanje in die 6de eeu nC, binnegeval deur Germaanse invallers van oorkan die Noordsee. Die Romeinse Britte is weswaarts gedryf en is in Clydeside, Galloway en Cumbria in die noorde gevind, in Wallis, en in Cornwall, waarvandaan baie ook gevlug het na Brittanië, of Klein Brittanje.

Die listige leer was die werk van ene Pelagius, wat die Kerk se leer van erfsonde betwyfel het en ontken het dat die sonde die oorsaak is van menslike swakheid. Sy leer kom eintlik heel modern voor: hy stel dit dat God mense vry gemaak het om te kies tussen goed en kwaad. Pelagius, wie omstreeks 354 gebore is – blykbaar in Brittanje, alhoewel die bewyse onseker is – is bekommer deur swak morele standaarde onder Christene en het die hoop gekoester dat hy hul optrede kon verbeter.

Die groot fout in Pelagius se leer, soos Augustinus van Hippo dit uitgewys het, was die gedagte dat mense deur hul eie toedoen regverdigheid kon bereik. Die mens, het Augustinus gesê, is geheel op God vir verlossing afhanklik.

Alhoewel Pelagianisme op verskeie algemene konsilies van die Kerk tydens dye 5de eeu verdoem is, het dit in ’n paar geïsoleerde dele van die Romeinse wêreld voortbestaan, en Wallis was een daarvan.

Omstreeks die jaar 520 is ’n seun gebore aan ’n heilige vrou genaamd Non, wat verkrag is deur ’n kaptein met die naam Sant. Die seun is Dewi gedoop, die Britse vorm van die naam van Israel se grootste krygsman-koning, die herderseun Dawid. (Die naam beteken “geliefde”.)

Bitter min kan met sekerheid van Dewi, of Dafydd[1] (die Walliese bynaam Taffy kom van hierdie vorm) gesê word. Hy is glo naby St Bride’s Bay in die verre suidweste van Wallis, en sy opvoeding op Henfynyw[2] ontvang. Dit word gesê dat hy toe 10 jaar op ’n eiland deurgebring het, waar hy onder Sint Paulinus die Skrif geleer het, waarna hy 10 kloosters gestig het. Hy het sy tuiste op Mynyw, of Menevia, gemaak, langs St Bride’s Bay.

Hy was ’n streng eenvoudige man en het sy monnike geleer om ’n lewe van swaar fisiese arbeid te lei op ’n dieet van brood, groentes en water. Hy het onder die bynaam Aquaticus bekend geraak, blykbaar omdat hy alle sterk drank in sy kloosters verbied het, en slegs water of melk toegelaat het.

Hy is na die sinode van Brevi (of Llanddewi-Brefi)[3] ontbied, maar het na berig word geweier om te gaan en moes gehaal word. Toe hy daar opdaag, praat hy welsprekend teen die Pelagianisme, en tydens die latere Sinode van Oorwinning op Caerleon het hy voorgesit toe die Pelagianisme die nek ingeslaan is.

Dit word vertel dat hy as biskop en daarna as aartsbiskop gekies is weens sy argumente teen Pelagianisme. Hy was beslis biskop van Caerleon, gebaseer in ’n stad wat eens (onder die naam Isca) een van die drie legioenbasisse was van Romeinse Brittanje. (Die ander twee was Deva [Chester] en Eboracum [York].) Maar Caerleon[4] was gevaarlik naby aan die Engelse, en David het sy bisdomlike setel na Mynyw verskuif, wat daarna Ty-Dewi, of St David’s, genoem is.

Hy is in die ouderdom van ongeveer 80 dood – miskien 601, moontlik 589 – en sy laaste woorde was glo: “Wees blymoedig, broers en susters; behou die geloof en let presies op al die klein dingetjies wat julle van my geleer het.”

Alhoewel David slegs in Suid-Wallis en Cornwall gereis het (en miskien ook na Glastonbury) – daar is in Suid-Wallis meer as 50 kerke van Sint David – is hy beskermheilige van die gehele Wallis. Op Sint Dawidsdag, 1 Maart, dra Walliesers preie of affodille om hulle aan hom te herinner, alhoewel niemand presies kan sê waarom nie.

Hy verskyn gewoonlik in beelde met sy biskoplike gewaad, en met ’n duif op sy skouer, simbool van sy oorwinning oor die Pelagianisme.



[1] Sê Da-wath (met die A soos Engelse U, en die TH ook soos in Engels; in Wallies staan die kombinasie DD daarvoor). In Wallies staan die letter Y vir ’n klank soos die U in “cut”, en die F vir ’n W-klank.

[2] Sê Hen-wa-na-oo (weereens is die U soos in “cut”, terwyl die letter W vir ’n OE-klank staan).

[3] Hierdie langer vorm van die naam eerbiedig vir Dewi, want dit voeg “Kerk van Dewi” by die oorspronklike Brevi of Brefi.

[4] Die stad is later deur die Engelse verower en het deel geword van die Engelse graafskap Monmouthshire. Toe streeksadministrasie in 1974 herorganiseer is, het Monmouthshire die Walliese graafskap Gwent geword.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Maartmaand 1994 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Skryf vir my: Mike Oettle