Christus se landgenoot
deur Mike Oettle
JESUS het sowat 2 000 jaar gelede deur die heuwels van Galilea gestap.
Vandag in Galilea se heuwels sal jy vind, indien jy na die dorpie Ibilllin
gaan, ’n man genaamd Elias Chacour (Sjakoer) – of Abuna[1]
Elias, soos sy mense hom noem.
Om
Palestyn te wees maak die lewe swaar in die 21ste eeu. Om Palestyn in Israel te
wees is ’n stryd met die Joodse owerhede. Om ’n Christen-Palestyn te wees
beteken dat die Moesliems (verreweg die meerderheid onder die Arabiere) nie van
jou hou nie, en om ’n Melkiet, of Grieks-Katolieke Christen, te wees, sit jou
teenoor die Grieks-Ortodokse, die meerderheid in die Christen-gemeenskap.
Maar Abuna Elias is geen sektariër nie. Hy is dankbaar vir die voorreg om in die Heilige Land te woon, waar sy voorouers geleef het sedert voor Abraham se tyd, en om naby te bly aan waar die man wat hy “my landgenoot, Jesus Christus” noem, grootgeword het, waar Hy in alle waarskynlikheid as timmerman gewerk het, waar Hy die Blye Boodskap gepreek het, die siekes genees het, die blindes laat sien het en die dodes laat opstaan het . . . en waar Hy teruggekeer het na die Opstanding.
Van meet af was Elias se dienstermyn
op Ibillin – waar hy in 1965 as pas-ingeseënde priester gestuur is – gekenmerk
aan vrees, haat en wantroue. ’n Maand lank het hy dit met groeiende woede in
die gesig gestaar, maar voordat dit hom verbitter het, het hy dit aan die Here
oorgegee, en daarna was sy benadering eenvoudig om mense lief te hê.
Maklik was dit nie. Hy is teengestaan deur sy eie kerkvoog, wat hom op die dag van sy aankoms nie eens wou toelaat om uit sy motor te klim, en wat vir hom geblameer het vir die verwoesting wat deur sy voorganger verrig is – die kerk was leeg, en daar was geen deure aan die twee-kamer parogiehuis nie. Elias het eenvoudig met die man gebid, en toe ingegaan om die liturgie op te sê (dit was ’n feesdag). Slegs een man het die antwoorde gesing, en slegs ’n handjievol het die nagmaal kom gebruik.
Die deurbraak het Palmsondag gekom, toe feitlik die hele Melkiet-gemeente kerk toe gekom het. Nà die erediens het Elias die kerkdeure gesluit en aangekondig dat niemand sou uitstap nie voordat hulle versoen is nie. Indien hulle die kerkgebou wou vertlaat, moes hulle hom of doodmaak of omhels. En, Eers het slegs die gehate Israeliese polisieman dit gedoen, maar op die ou end het hulle almal vir mekaar en vir Abuna Elias omhels. Toe Elias uiteindelik die deure oopgesluit het, het hy dit hulle Opstandingsdag genoem. Later het hy die slotte verwyder.
Aanvanklik het Elias slegs sy eie gemeente besoek. Maar toe, omdat die kerkvoog hom aangesê het om dit nie te doen nie, hey hy ook besoek afgelê by daardie “verraaier”-Melkiete wat by die Ortodokse Kerk aangesluit het, en die mans wat by ’n sekere winkel byeengekom het, en wat kommuniste genoem is. Elias het uitgevind dat die “verraaiers” mense was wat hulle stemme dikgemaak het oor ongeregtighede aan die kant van die Israeliese owerhede, en wat gevolglik deur die Melkietiese Kerk in die ban gedoen is. Die “kommuniste” was nie sosialiste nie, maar het sosiale geregtigheid voorgestaan.
Daarna het Elias besoek afgelê (weereens teen die sin van die kerkvoog) by sy Ortodokse eweknie, Abuna Ibrahim. Die twee priesters en hulle gemeentes het saam gebid en aanbid. Toe Ibrahim, ’n man in sy tagtigs, oorlede is, het die Ortodokse biskop vir die begrafnis aangekom met ’n brief van die patriarg wat Ortodokse Christene belet het om met lede van ander kerke te bid. Elias het hom vooruitgegaan deur om aan die dorpsmense aan te kondig dat, aangesien Abuna Ibrahim die priester was van die gehele dorpie, die diens tweemaal gehou sou word: eers in die Melkietkerk, en dan in die Ortodokse. Die dorpenaars het juigend met hom saamgestem, en toe die biskop daarna die brief voorgelees het, het die Ortodokse besluit om dit te ignoreer, en om steeds saam met hulle Melkietiese bure te aanbid. Daarna het die biskop versuim om ’n opvolger vir Ibrahim te benoem, en dit was Elias wat ’n petisie gereël het wat versoek het dat ’n Godvresende leek tot priester gemaak is en, toe hy ingeseën is, daarvoor gesorg dat hy teologies opgelei is.
Die volgende deurbraak het gekom toe ’n donderstorm die dorp getref het en verskeie geboue beskadig is, veral die moskee. Elias het besoek afgelê by die plaaslike sheikh [sjeig], of Moesliem-predikant, en het hom die nodige geld gegee om die moskee se koepel te herstel, en het ook die Moesliems uitgenooi om in sy kerk te bid – en het slegs daarna sy gemeentelede vertel. Dit was vir hom onnodig om hom daaroor te bekommer: hulle het ook gehelp om die moskee te herbou.
Op hierdie manier het Abuna Elias treetjie vir treetjie Gods liefde versprei en die hindernisse tussen die Godvresende mense van die dorpie afgebreek – en verder weg ook.
Maar dit
was nie slegs direk in sy priestersamp wat Elias Chacour deurbrake gemaak het
nie. In 1967 het hy hom by die Hebreeuse Universiteit ingeskryf om vir ’n
meestersgraad te studeer in die Bybel (Ou Testament) en die Talmoed – die
eerste Palestyn en die eerste Christen-priester wat ooit by hierdie akademie
ingeskryf is. Twee jaar lank het hy sy plig op Ibillin voltooi – wat ook
privaatklasse en openbare lesings ingesluit het, wat gehelp het om sy
studiegeld en onkoste te betaal – en dan ook in Jerusalem klasse bygewoon. Sy
uiteindelike graduering in 1969 sou vele deure oopmaak.
Elias Chacour se diens duur voort, en in die volgende artikel sal ek meer oor hierdie merkwaardige afbreker van hindernisse.
[1] “Abuna” beteken “ons vader” en is die gewone aanspreekvorm vir ’n Palestynse Christen-priester.
For English, click here
Terug na Heiliges en Jaargetye-indeks