Die Rasionale Basis van Religieuse Ervaring
deur Alfred George Oettle
*22-06-1919 †08-11-1967
The Rational Basis of Religious Experience (of, soos dit hier vertaal word, Die Rasionale Basis van
Religieuse Ervaring) is geskryf deur dr Alfred George Oettle,[1] MBChB (Wits), wat dit in 1966 as lesing aangebied het aan die Rational Society (Rasionalistiese Vereniging) van die Universiteit van die Witwatersrand. Daarna is dit deur die Christian Medical Fellowship, van Kingsway 56, London WC2, uitgegee.
Die voorwoord in die gepubliseerde weergawe van die lesing is deur J F Murray MD, van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Mediese Navorsing in Johannesburg, geskryf. Dit
lui, volgens my vertaling:
Dr George Oettle,[2] wat 8 November 1968[3] oorlede is, was aan sy kollegas bekend as een wat lief was vir die heen ein weer van debattering. Tot op ’n punt krities, het hy sy briljante verstand gebruik om elke stelling wat hy teegekom het en elke stel feite wat hy in die loop van sy navorsing ontdek het, te toets en te evalueer. Niks het hom meer geïrriteer nie as losse of slordige dinkwerk, en hy het hom verheug in die toepassing van logika tot die oorweging van sy navorsingsbevindinge. Sy voorliefde vir logika en vir rasionale denke is op elke aspek van sy lewe toegepas. Dit was dus nie verbasend nie dat, toe hy uitgenooi is om die Rasionalistiese Vereniging van die Universiteit van die Witwatersrand oor die onderwerp “Die Rasionale Basis van Religeuse Ervaring” toe te spreek, hy die geleentheid verwelkom het om sy gedagtes in hierdie rigting uiteen te sit. Hy het ’n diepgaande kennis van die Bybel gehad en was hy ’n man van diepe en onwrikbare geloof in die Voorsienigheid van God. Ten spyte van sy briljante verstand, sy groot wetenskaplike prestasies en sy vaardigheid vir navorsing, was hy deurgaans ’n beskeie en innemende man. Alhoewel hy uiteraard diep godsdienstig was, het hy nooit sy oortuigings op ander afgedwing nie, en het dit ook nie in die openbaar uitgeblaker nie. Nietemin kon niemand lank in die teenwoordigheid van George Oettle deurbring nie sonder om te besef dat hier ’n man was by wie elke gedagte en handeling gekleur en gedetermineer is deur Christelike liefde en geloof.
Nà ’n briljante en suksesvolle akademiese loopbaan het hy die res van sy lewe, wat alte kort was, aan die voltydse soeke na kennis in die navorsingsveld. Kort nadat hy in 1951 die personeel van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Mediese Navorsing aangesluit het, het hy homself gerig op die epidemiologie van kanker en het hy in hierdie veld die leidende gesag in Suid-Afrika geword. Ondersoekmetodes wat hy uitgedink het vir gebruik onder die Bantu[4] in Suid-Afrika is sedertdien aangepas en gevolg in vele wêrelddele. Sy bydraes tot die wetenskap is ontsaglik, maar vir dié wat hom persoonlik geken het, is die oorwegende herinnering een van ’n man wat die profeet se woorde uitgeleef het “dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God”.
By hierdie kommenderende woorde voel ek dat ek moet byvoeg dat my oom George ’n gesinsman was, diep verlief aan sy vrou, my vader se suster Elsa,[5] en ’n liefdevolle en sorgsame vader teenoor sy ses kinders. Buiten sy professionele betrokkenheid in die wetenskap en sy diepe Christelike geloof, het hy oor die algemeen in die wêreld om hom ’n belangstelling getoon, en was hy ’n ywerige amateur-ornitoloog wat sy voëls deeglik geken het.
Hierdie referaat verskyn in Heiliges & Jaargetye met vergunning van George Oettle se kinders, my neefs en niggies.
Om meer te lees van die Oettle-familie, kliek hier.
Die foto van George Oettle is deur sy seun, dr Charl Oettle, van Worcester, voorsien.
[1] In die gepubliseerde weergawe van hierdie referaat, verskyn George se van as Oettlé, ’n spelvorm wat deur sommige lede van die Suid-Afrikaanse tak van die familie gebruik word om daarop klem te lê dat die finale E in die naam wel uitgespreek word. Aangesien die naam egter Duits is,
nie Frans nie, en omdat die geaksenteerde vorm soms mislees word as Oet-lei, verkies ek om die akuutaksent te vermy.
Die van word in Suid-Afrika uitgespreek as Oet-lie, maar in Duits het dit ’n umlaut: Ött-le. George se oom George Samuel Oettle het altyd vir mense vertel dat dit met “absolutely” rym.
[2] ’n Voetnoot aan die voorwoord lui (weereens my vertaling): “Ten tye van sy dood was George Oettlé direkteur van die Kankernavorsingseenheid in Suid-Afrika, asook voorsitter van die Internasionale Komitee oor Slukdermkanker. Professor J F Murray het hierdie voorwoord verskaf as
aanduiding van die aansien waarin dr Oettlé deur sy kollegas gehou is. Die toespraak wat in hierdie boekie weergee word is op versoek van die lede 25 April 1966 aan die Rationalist Society (Rasionalistiese Vereniging) van die Universiteit van die Witwatersrand gelewer.”
[3] Dit is onduidelik hoe hierdie verkeerde datum in druk verskyn het nie. Dr Oettle is reeds ’n jaar vantevore oorlede.
[4] Die gebruik van die woord Bantu, sonder verdere verduideliking, om die Bantu-sprekende volkere van Suider- en Sentraal-Afrika te beskryf, word nie meer as aanvaarbaar beskou nie, veral nie in Suid-Afrika sedert 1994. Dit
was egter die aanvaarde gebruik gedurende die 1960s.
Ek gebruik hier die spelvorm “Bantu”, eerder as die Afrikaanse
“Bantoe”, om twee redes: eerstens is dit die wetenskaplik aanvaarde naam vir hierdie taalgroep (afgelei van die Xhosa woord abantu, wat “mense” beteken), en tweedens omdat dit veral die Afrikaanse vorm van die woord was wat gebruik is om gedurende die apartheidsjare vernederend na die swart landsbewoners van Suid-Afrika te verwys.
[5] George se huwelik aan Elsa was een tussen neef en niggie. Elsa was die dogter van George se oom Erich (Emil Frederich Oettle *1881 †1972). George se vader, Max (Carl Maximilian Oettle *1882 †1957), was Erich se naasjongste broer.
Hul vader Georg Johann (George) Oettle (*1847 †1919) was vir
sowat 2½ dekades bibliotekaris aan die Port Elizabeth Public Library (Openbare Biblioteek Port Elizabeth) nà sy emigrasie uit die koninkryk Württemberg, in Duitsland.
George en Elsa was aanvanklik bekommerd dat so ’n huwelik risiko’s ingehou het, maar toe George se professors aan die Mediese Skool van die Witwatersrandse Universiteit hom verseker het dat daar geen genetiese risiko was nie, is hulle toe getroud.
For English, click here