

Die rasionale
basis van religieuse ervaring
deur A G Oettle
vertaal deur Mike Oettle
In sy mees elementêre vorm, mag die
religieuse gewaarwording eenvoudig uit ’n gevoel van ontsag bestaan, gebaseer
op ’n geloof in ’n bonatuurlike orde waarmee die mens voel dit is moontlik om
’n harmonieuse verhouding te vestig. Gewoonlik sal hierdie bonatuurlike orde ’n
Persoon of Persone behels, wie se bestaan vir elke indiwidu relevant is, en aan
wie elke mens belangrik is. Elihu het vir Job herinner: “God is magtig maar Hy
sien op niemand neer nie”:[2]
– dus word persoonlike verbintenis beloon. Dieselfde boodskap het van Jeremia
gekom: “Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle
hele hart daarna vra.”[3]
Die huidige bespreking kan egter, terwyl dit die werklikheid van hierdie meer
eenvoudige religieuse gevoelens erken, kan nie anders nie as om geaffekteer te
word deur ’n mens se eie Christelike standpunt.
Om aan die begin sekere algemene wanopvattings by die aanvang uit die weg
te ruim, gaan ons onderwerp oor religeuse ervaring. Ons kan uit ons
oorwegings die uiterlike gebruik van aanbiddingsvorms deur dié wat bloot
lippehulde bring, maar wat sonder persoonlike geloof is, uitlaat. Dit word ook
vryelik erken dat in hul daaglikse lewens, gelowiges dit wat hulle weet reg is,
nie byhaal nie, en dat hulle dikwels die sedes en gewoontes aanvaar van ’n
samelewing wie se motivering heeltemal verskillend is van dit wat hulle na
bewering bely. Christelike optrede is dikwels ’n swak refleksie van Christelike
leerstellings. Nietemin glo ek, terwyl ek hierdie tekortkominge erken, en
toegee dat geloof die rede te bowe gaan – dit is na alles “om oortuig te wees
van die dinge wat ons nie sien nie”[4]
– glo ek dat dit tog moontlik is om te bewys dat die aansprake van so ’n geloof
op sy volgelinge nie onredelik is nie. Baie segmente van die mensebelewenis kan
nie deur logiese analise alleen omvat word nie. Alle vorms van waardering vir
die kunste, byvoorbeeld, betrek waardes en en waarnemingsvermoëns wat nie aan
mense wat dit nie besit nie, oorgedra of bewys word nie. Geen argument kan die
toondowe ompraat om die fynhede van ’n musiekstuk te waardeer nie. Op
soortgelyke wyse kan die rede oorvereenvoudigings inspan soos wiskundige
formules of die terme van sy sillogismes, maar die ervaringswêreld gaan dese
ver verby.
Die aanspraak op “rasionalisme” wat gemaak word deur dié wat hulself
Rasionaliste noem, weerstaan in werklikheid nie enige noukeurige betragting
nie. Hulle publikasies, en die titels van lesings aan Rasionalistiese
Verenigings, het reeds dikwels laat blyk dat hulle nie besig is met ’n logiese
ondersoeking van menseprobleme nie. Sou dit so wees, sou hulle sekerlik
padongelukke, opvoeding, alkoholisme en derglike probleme benader het.
Inteendeel impliseer hulle gebruik van die term “Rasionalis” eintlik niks meer
as “Anti-godsdienstig” en is hulle lede primêr aan die militante
oortuiging verbonde dat die godsdiens ydel en duister is, en dat
parapsigologiese ervaring bedrieglik is. Volgens hulle is die rede hulle enige
leiding, maar dit is slegs sover dit hulle pas.
Dit word erken dat hulle verder gaan
as die Logiese Positiviste, wat etiese en intellektuele waardes uit die weg uit
ruim deur om al die terme wat gebruik word as “betekenisloos” te kenmerk!
Nietemin repudieer die Rasionaliste saam met hulle ’n groot segment van die
menslike ervaring. Daardeur geniet hulle ’n vereenvoudigde beeld van die heelal
– maar is dit meer akkuraat? Digt lyk vir my dat terwyl hulle wel bewus is van
die swakhede van Christelike groepe, en die korrupsies van die Christendom (en
moontlik ook hieruit steun vir hulle standpunt put) hulle die werklikheid van
die ervaringe van selfs die beginners in die Christelike familie óf nie kan óf
nie wil erken nie. Hulle ervaar blykbaar probleme in die onderskeid tussen die
Christendom en die Christelike Geloof, tussen blote formele erkenning van die
uiterlike vertoon en die werklikheid, subjektief sowel as objektief, of tussen
die mislukkings van ernstige gelowiges en die triomfantelike loopbane van die
min wat werklik toegewy is. Die Ou-Testamentiese profete het heel dikwels klem
gelê op die ontoereikenheid van religiositeit. Een van die duidelikste van
hierdie gedeeltes is in Jesaja, waar die gewone bykomstighede van die vas
gerepudieer word en ’n beskrywing van die werklike vas gegee word. God sê: “Is
die vas wat Ek wil hê, nie dit nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word,
te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak,
om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood
gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ’n blyplek gee nie, dat wanneer
jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie
aan sy lot oorlaat nie?”[5]
Die profeet se vereistes was direk en realisties.
’n
Rasionalis se houding herinner my aan twee ander voorbeelde van ‘’n beperkte
uitkyk wat, alhoewel ten volle rasionaal, tog onvolmaak is. Die eerste hiervan
is kleurblindheid, waarin die geaffekteerde persoon sy gebrek miskien nie
vermoed nie totdat hy die een of ander flagrante fout in kleurpassing maak nie.
Die tweede is die geestessiektetoestand bekend as paranoia. Hier bewoon die
persoon wat aan ’n waan of wane ly, ’n wêreld wat heeltemal redelik is maar
wat, soos Chesterton dit gestel het, te klein is. Indien so ’n persoon glo dat
mense teen hom saamsweer, woord die afwesigheid van enige bewys hiervoor bloot
verdere bevestiging vir sy agterdog. Dit dui op die subtiliteit van die komplot.
’n Voorbeeld van grandieuse
selfgerigtheid vind ons in die boek Daniel. Koning Nebukadnesar het die
waarskuwing van sy droom 12 maande vantevore veronagsaam, en het in sy trots
gesê: “Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan ’n
koningstad gemaak, tot my eer en roem.”[6]
Toe het sy verstand hom verlaat, en volgens die sielkundige beginsels van sy
tyd, is hy van die menslike samelewing uitgedryf totdat hy sy oë na die Hemel
gerig het, en sy verstand herstel is. Toe het hy daardie Heerser geëer “wie se
heerskappy ’n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is”.[7]
Ek glo op soortgelyke wyse dat
Rasionaliste ’n wêreld erken wat in werklikheid te klein en te selfgerig is.
Die beperking maak dit vals. Hulle grense mag dié van die wetenskap oorskry, en
hulle sal miskien gewillig saamstem dat “’n mens leef nie net van brood nie”;
tog is die voltooiing van die aanhaling vir hulle ’n uitdaging, want dit lees –
“maar van elke woord wat uit die mond van God kom”.[8]
Ek wil nie voorgee dat die implikasies van hierdie stelling maklik is om te
begryp nie, maar dit wil voorkom dat, uit ongevoeligheid of uit antagonisme,
hulle nie by magte is om te begin verstaan nie.
[1] Job 13:15.
Die Skrifaanhalings is hoofsaaklik uit die
Nuwe Vertaling van 1983, maar waar die bewoording van die Afrikaanse Bybel van
1933 die oorspronklike teks beter pas, word dit eerder gebruik.
[2] Job 36:5.
[3] Jeremia 29:13.
[4] Hebreërs 11:1.
[5] Jesaja 58:6,7.
[6] Daniel 4:30.
[7] Daniel 4:34.
[8] Matteus 4:4.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle