Heiliges & Jaargetye
http://uk.oocities.com/saintsnseasons

Die rasionale basis van religieuse ervaring

deur A G Oettle

vertaal deur Mike Oettle

IN HIERDIE referaat is ek van voorneme om te bewys dat religieuse ervaring geensins rasionale denke en logiese argument weerspreek nie. Terwyl ek dit stel dat dit nie in stryd is met die rede nie, erken ek egter vryelik dat godsdienstige oortuging nie deur argument oordraagbaar is nie. Hier is ’n persoonlike betrokkenheid wat baie ooreenstem met verlief raak. Twee wat mekaar reeds lange jare liefhet mag ’n dosyn redes na vore bring, tog sal geeneen van hulle hierdie redes as genoegsame verduideliking beskou nie. Die moontlike maniere van optrede “since first I saw thy face” word in ’n 17de-eeuse liefdeslied oorweeg, maar eindig dit dan: “No! No! No! My heart is fixed, and cannot disentangle!” Des te meer is dit waar van iemand wat lank reeds vertroud is met Gods liefde! Saam met Job, en met vele andere sedertdien, kan hy uitroep: “Kyk, al wil Hy my doodmaak – ek hoop op hom.”[1]

In sy mees elementêre vorm, mag die religieuse gewaarwording eenvoudig uit ’n gevoel van ontsag bestaan, gebaseer op ’n geloof in ’n bonatuurlike orde waarmee die mens voel dit is moontlik om ’n harmonieuse verhouding te vestig. Gewoonlik sal hierdie bonatuurlike orde ’n Persoon of Persone behels, wie se bestaan vir elke indiwidu relevant is, en aan wie elke mens belangrik is. Elihu het vir Job herinner: “God is magtig maar Hy sien op niemand neer nie”:[2] – dus word persoonlike verbintenis beloon. Dieselfde boodskap het van Jeremia gekom: “Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.”[3] Die huidige bespreking kan egter, terwyl dit die werklikheid van hierdie meer eenvoudige religieuse gevoelens erken, kan nie anders nie as om geaffekteer te word deur ’n mens se eie Christelike standpunt.

 

ALGEMENE WANOPVATTINGS

Om aan die begin sekere algemene wanopvattings by die aanvang uit die weg te ruim, gaan ons onderwerp oor religeuse ervaring. Ons kan uit ons oorwegings die uiterlike gebruik van aanbiddingsvorms deur dié wat bloot lippehulde bring, maar wat sonder persoonlike geloof is, uitlaat. Dit word ook vryelik erken dat in hul daaglikse lewens, gelowiges dit wat hulle weet reg is, nie byhaal nie, en dat hulle dikwels die sedes en gewoontes aanvaar van ’n samelewing wie se motivering heeltemal verskillend is van dit wat hulle na bewering bely. Christelike optrede is dikwels ’n swak refleksie van Christelike leerstellings. Nietemin glo ek, terwyl ek hierdie tekortkominge erken, en toegee dat geloof die rede te bowe gaan – dit is na alles “om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie”[4] – glo ek dat dit tog moontlik is om te bewys dat die aansprake van so ’n geloof op sy volgelinge nie onredelik is nie. Baie segmente van die mensebelewenis kan nie deur logiese analise alleen omvat word nie. Alle vorms van waardering vir die kunste, byvoorbeeld, betrek waardes en en waarnemingsvermoëns wat nie aan mense wat dit nie besit nie, oorgedra of bewys word nie. Geen argument kan die toondowe ompraat om die fynhede van ’n musiekstuk te waardeer nie. Op soortgelyke wyse kan die rede oorvereenvoudigings inspan soos wiskundige formules of die terme van sy sillogismes, maar die ervaringswêreld gaan dese ver verby.

Die aanspraak op “rasionalisme” wat gemaak word deur dié wat hulself Rasionaliste noem, weerstaan in werklikheid nie enige noukeurige betragting nie. Hulle publikasies, en die titels van lesings aan Rasionalistiese Verenigings, het reeds dikwels laat blyk dat hulle nie besig is met ’n logiese ondersoeking van menseprobleme nie. Sou dit so wees, sou hulle sekerlik padongelukke, opvoeding, alkoholisme en derglike probleme benader het. Inteendeel impliseer hulle gebruik van die term “Rasionalis” eintlik niks meer as “Anti-godsdienstig” en is hulle lede primêr aan die militante oortuiging verbonde dat die godsdiens ydel en duister is, en dat parapsigologiese ervaring bedrieglik is. Volgens hulle is die rede hulle enige leiding, maar dit is slegs sover dit hulle pas.

Dit word erken dat hulle verder gaan as die Logiese Positiviste, wat etiese en intellektuele waardes uit die weg uit ruim deur om al die terme wat gebruik word as “betekenisloos” te kenmerk! Nietemin repudieer die Rasionaliste saam met hulle ’n groot segment van die menslike ervaring. Daardeur geniet hulle ’n vereenvoudigde beeld van die heelal – maar is dit meer akkuraat? Digt lyk vir my dat terwyl hulle wel bewus is van die swakhede van Christelike groepe, en die korrupsies van die Christendom (en moontlik ook hieruit steun vir hulle standpunt put) hulle die werklikheid van die ervaringe van selfs die beginners in die Christelike familie óf nie kan óf nie wil erken nie. Hulle ervaar blykbaar probleme in die onderskeid tussen die Christendom en die Christelike Geloof, tussen blote formele erkenning van die uiterlike vertoon en die werklikheid, subjektief sowel as objektief, of tussen die mislukkings van ernstige gelowiges en die triomfantelike loopbane van die min wat werklik toegewy is. Die Ou-Testamentiese profete het heel dikwels klem gelê op die ontoereikenheid van religiositeit. Een van die duidelikste van hierdie gedeeltes is in Jesaja, waar die gewone bykomstighede van die vas gerepudieer word en ’n beskrywing van die werklike vas gegee word. God sê: “Is die vas wat Ek wil hê, nie dit nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ’n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?”[5] Die profeet se vereistes was direk en realisties.

’n Rasionalis se houding herinner my aan twee ander voorbeelde van ‘’n beperkte uitkyk wat, alhoewel ten volle rasionaal, tog onvolmaak is. Die eerste hiervan is kleurblindheid, waarin die geaffekteerde persoon sy gebrek miskien nie vermoed nie totdat hy die een of ander flagrante fout in kleurpassing maak nie. Die tweede is die geestessiektetoestand bekend as paranoia. Hier bewoon die persoon wat aan ’n waan of wane ly, ’n wêreld wat heeltemal redelik is maar wat, soos Chesterton dit gestel het, te klein is. Indien so ’n persoon glo dat mense teen hom saamsweer, woord die afwesigheid van enige bewys hiervoor bloot verdere bevestiging vir sy agterdog. Dit dui op die subtiliteit van die komplot.

’n Voorbeeld van grandieuse selfgerigtheid vind ons in die boek Daniel. Koning Nebukadnesar het die waarskuwing van sy droom 12 maande vantevore veronagsaam, en het in sy trots gesê: “Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan ’n koningstad gemaak, tot my eer en roem.”[6] Toe het sy verstand hom verlaat, en volgens die sielkundige beginsels van sy tyd, is hy van die menslike samelewing uitgedryf totdat hy sy oë na die Hemel gerig het, en sy verstand herstel is. Toe het hy daardie Heerser geëer “wie se heerskappy ’n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is”.[7]

Ek glo op soortgelyke wyse dat Rasionaliste ’n wêreld erken wat in werklikheid te klein en te selfgerig is. Die beperking maak dit vals. Hulle grense mag dié van die wetenskap oorskry, en hulle sal miskien gewillig saamstem dat “’n mens leef nie net van brood nie”; tog is die voltooiing van die aanhaling vir hulle ’n uitdaging, want dit lees – “maar van elke woord wat uit die mond van God kom”.[8] Ek wil nie voorgee dat die implikasies van hierdie stelling maklik is om te begryp nie, maar dit wil voorkom dat, uit ongevoeligheid of uit antagonisme, hulle nie by magte is om te begin verstaan nie.

 

NA DEEL 2



[1] Job 13:15.

Die Skrifaanhalings is hoofsaaklik uit die Nuwe Vertaling van 1983, maar waar die bewoording van die Afrikaanse Bybel van 1933 die oorspronklike teks beter pas, word dit eerder gebruik.

[2] Job 36:5.

[3] Jeremia 29:13.

[4] Hebreërs 11:1.

[5] Jesaja 58:6,7.

[6] Daniel 4:30.

[7] Daniel 4:34.

[8] Matteus 4:4.


Counter

Terug na bo

For English, click here


Terug na inleiding

Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


Skryf vir my: Mike Oettle