deur Mike Oettle
ANGLIKANE is blykbaar nooit heeltemal seker hoe om Maria, Moeder van Jesus,
te beskou – is sy “Heilige Maria, Maagdelike Moeder van God”, of Onse Dame,
soos die Katolieke dit stel, of sy bloot Maria, soos die Hervormdes haar
aansien, en vir wie die toewy van enige spesiale aandag aan haar Roomse
Mariolatrie[1] is?
Selfs die Anglikaanse kerkalmanak weet blykbaar nie wat om met haar te maak nie. Terwyl op die Rooms-Katolieke almanak 15 Augustus die fees is van die Hemelvaart van die Heilige Maagd Maria, en in die Grieks-Ortodokse almanak die fees van die Maagd Maria se verslaping, verskyn nie een van hierdie bewoordings in die almanak van Liturgie ’75, wat vir die 15de hierdie inskrywing het: “Sint Maria die Maagd, Moeder van Onse Here Jesus Christus”.
Aangesien die leer van die Maria-Hemelvaart nie amptelik deur die
Anglikaanse Kommunie aanvaar word nie, is dit verstaanbaar. (Om die waarheid te
sê, swyg die 39 Leerstellings oor die onderwerp van Christus se moeder.) Maar die almanak van Liturgie ’75 toon ook ander verskilpunte van die Book of Common Prayer, wat die Roomse patroon volg van vier hooffeeste van Maria.
Die vier datums wat deur Rome erken word as die belangrikste
Maria-feeste is: haar geboorte op 18 September, die Reiniging van die Heilige
Maagd Maria (2 Februarie), die Maria-Boodskap (25 Maart) en Hemelvaart (15
Augustus). Die fees van Reiniging word met ’n kers-prosessie gemerk, en word
dit tradisioneel die Maria-Ligmis genoem, of in Engels Candlemas.
Liturgie ’75 hernoem laasgenoemde as “die voorstelling van Onse Here Jesus Christus in die Tempel”, wat glad nie onpaslik is nie, want die voorstelling van die kind in die Tempel was deel van die Joodse ritueel van reiniging van ’n moeder nà geboorte; tog is dit veelseggend dat Maria se naam uitgelaat word. Liturgie ’75 het wel die Maria-Boodskap en die Geboorte van Maria op die tradisonele datums en voeg ook by, op 31 Mei, die Besoek van die Geseënde Maagd Maria.
Die Grieks-Ortodokse almanak is, sover dit Maria aangaan, nie identies met die die Roomse nie: behalwe haar Geboorte, die Maria-Boodskap en Verslaping (met dieselfde datums as op die Roomse almanak) erken dit ook Maria se Voorstelling in die Tempel (21 November).
Die Roomse entoesiasme vir Maria kan ook gesien word in die Mariaanse Jare (pelgrimsjare van spesiale toewyding aan Maria), die toegewyde Maristiese en Marianistiese ordes, die vele pelgrimsoorde wat aan Maria toegewy is en vele en veelsydige titels van parogiekerke wat in haar eer vernoem is.
Lourdes in Frankryk, Walsingham in Engeland en Fatima in Portugal is slegs drie sulke pelgrimsoorde, en kerke wat ter ere van Maria vernoem is, sluit in Mater Dei (“Moeder van God” in Latyns – daar is een in Newtonpark, Port Elizabeth) en sulke vreemde titels as Onse Dame Koningin van Martelare (op Cathcart) en Onse Dame Helper van Christene (in Kaapstad). Die Stad Los Angeles dra (deel van) die naam van sy oorspronklike sendingkerk; die nedersetting se vroegste naam is El Pueblo de Nuestra Señora, Reina de los Angeles (die Dorp van Onse Dame, Koningin van die Engele).
Die Roomse almanak sluit ook heelwat meer Maria-feeste in (daaronder is heelwat tans slegs plaaslik), sommige waarvan die oorsprong is van ongewone name – dit is ’n Katolieke tradisie om ’n kind ’n naam te gee wat te doen het met die kerkfees wat saam met sy of haar doop val. Dus word die Spaanse naam Annunziata gekoppel aan die Fees van die Maria-Boodskap (in Engels, the Annunciation), en Mercedes van die fees van Onse Dame van Genade (Nuestra Señora de las Mercedes).
Al hierdie aandag spruit uit die leerstelling dat Maria Moeder van God is (en daarmee saam die leerstellinge van die Onbevlekte Ontvangenis en die Maria-Hemelvaart) – maar die vraag is: behoort ons vir haar as Gods moeder te aanskou? In hierdie artikel sal ek probeer om daardie vraag te beantwoord.
[1] Mariolatrie: aanbidding van Maria.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle