‘Die seun wat die ploeg aanvoer[1]
. . .’
deur Mike Oettle
DINK vir ’n oomblik aan William Tyndale (7 Oktober) as jy weer jou eie
Bybel oopmaak en die Afrikaanse woorde lees wat daar gedruk staan. Sonder hom
is dit moontlik dat jy nooit een sou mag besit, en ook nie die Skrif kon lees
of aanhoor in enige taal behalwe Latyns, Grieks of Hebreeus.
Tyndale, gebore 1494, was in baie opsigte voor sy tyd, alhoewel hy nie die
eerste was om die Bybel in Engels te vertaal nie – dit is reeds in die
middel-14de eeu deur John Wyclif (1329-1384) gedoen. Hy was een van Engeland se
leidende filosowe op die Universiteit van Oxford en het ’n kontroversiële
persoonlikheid geword toe hy sy steun gewerp het agter die regering se reg om
die eiendom van korrupte geestelikes te konifiskeer. Dit het hom daartoe gelei
om van die sentrale leerstellings van die Middeleeuse Kerk teen te staan. Hy
het daarmee begin om die vertaling van die Bybel in Engels vanuit die Latyns
van Sint Jerome se Vulgaat te vertaal, en het ander geïnspireer om daarmee
voort te gaan. Hy het ook ’n groep volgelinge opgebou wat Lollarde gebnoem is.
Né sy dood het hulle ’n georganiseerde groep geword, met hul eie predijkante,
wat dikwels deur die Kerk-owerhede onderdruk is. Hulle was op heelwat maniere
voorlopers van die Hervorming, en het hulle die weg voorberei vir die koms van
die Lutheranisme in die daaropvolgende eeu.
Tyndale was ook ’n Oxoniaan, en dit is moontlik dat hy ook op Cambridge gestudeer het. Terwyl hy in diens was as leermeester in ’n ridder se huishouding het Tyndale opgelet hoe onkundig die plaaslike geestelikes was, en het vir een gesê: “As God my lewe spaar, voordat vele jare verbygaan sal ek sorg dat ’n seun wat die ploeg aanvoer, meer van die Skrif sal weet as jy” – wat toe sy lewenswerk geword het.
Die onjuisthede van die Wyclif-Bybel – sowel as die aktiwiteite van die
Lollarde – het in 1408 tot die verbanning van daardie vertaling gelei. Tyndale
het begin met ’n vertaling uit Hebreeus en Grieks. Alhoewel hy gehoop het om
die steun van die biskoppe te kry, het hulle nie belang gestel nie omdat hulle
die verspreiding van die Lutheranisme gevrees het (Luther het in 1517 die
Hervorming begin), en alhoewel hy finansiële steun gevind het by ’n groep van
Londen se leidende koopmanne, het Tyndale Engeland onveilig gevind en in 1525
permanent die land verlaat. Hy het arres op Keulen nouliks ontkom, en sy
vertaling van die Nuwe Testament is in dieselfde jaar op Worms gepubliseer.
(Soos Wyclif, is Tyndale as ketter beskou, en hy was ook verantwoordelik vir ’n
teologie wat later vorm gegee het aan die Puriteinse beweging in Engeland.)
Tony Lane skryf in The History of Christianity (my vertaling):
“Tyndale se vertaling het ’n ontsaglike invloed gehad, en het regtens vir
hom die titel verkry van ‘vader van die Engelse Bybel’. Dit kan amper gesê word
dat elke Engelse Nuwe Testament tot in hierdie eeu[2]
eenvoudig ’n hersiening was van Tyndale s’n. Sowat 90% van sy woorde het deel
geword van die King James-vertaling en sowat 75% van die Revised Standard Version.
Tyndale het ook dele van die Ou Testament vertaal, die eerste vyf boeke
ingesluit. Hy kon die Ou Testament nie voltooi nie want hy is in 1535 naby
Brussel verraai en in hegtenis geneem. In Oktober 1536 is hy verwurg en
verbrand. Dit word berig dat sy laaste woorde dit was: ‘Here, maak oop die oë
van die koning van Engeland.’ ”
Dit was slegs twee jaar voordat sy gebed beantwoord is.
Miles Coverdale het die vertaalwerk opgeneem en het in 1535 die eerste
voltooide Engelse Bybel gepubliseer. ’n Uitgawe van 1537 het die inskrywing
gedra dat dit met die koning se vergunning gepubliseer het, en in 1538 het
Henry VIII vir geestelikes beveel om in elke parogiekerk op ’n gerieflike plek
in te stel “een boek van die gehele Bybel van die grootste volume in Engels”.
Dit het gesag verleen aan ’n vertaling wat onder redaksie was van ’n vriend van
Tyndale genaamd John Rogers, wat beide Tyndale en Coverdale se vertaalwerk
bevat het. Die groot uitgawe wat onder Henry se opdrag gedruk is het bekend
geword as die Great Bible.
[1] My vertaling van sy woorde,
wat in Engels in die Encyclopædia Britannica aangehaal is.
Die Engelse woorde wat hy
gesê het is: “If God spare my
life, ere many years pass, I will cause a boy that driveth the plough shall
know more of the Scriptures than thou dost.”
[2] Die 20ste eeu.
For English, click here
Terug na Heiliges en Jaargetye -indeks
Skryf vir my: Mike Oettle