Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Apostel van die Verre Ooste

deur Mike Oettle

DIE banier van die Parogie van Sint Franciscus Xavier[1] in Kabegapark (hierdie heilige se dag is 3 Desember), toon hom in ’n baie Sjinese omgewing, met ’n jonk wat op die water agter hom seil. Dit weerspieël egter nie veel van sy lewe nie.

Legendes wat versprei het skilder ook ’n ekstraordinêre beeld van hierdie man as iemand wat geseën is met ’n gawe vir tale – met ander woorde ’n vaardigheid vir die goue bemeestering van ’n vreemde taal vir die doel van die evangelisasie – en dat hy so ’n begawing vir bekerings gehad het dat hy persoonlik in Asië meer as miljoen mense gedoop het. Was hy regtig so?

Om mee te begin was sy tuisland dié van ’n besondere volk, die Baske, of Euzkara[2] – Europa se vroegste menslike bewoners en, as nasie, onder die vroomste Rooms-Katolieke ter wêreld. Maar aangesien Franciscus, of Francisco,[3] ’n edelman was, was hy waarskynlik Spaans, eerder as Baskies, en blykbaar ook van die Wes-Gote afgestam.

Hy is 7 April 1506 in die kasteel Xavier[4] in Navarra gebore; Navarra was toe ’n onafhanklike koninkryk in die Baskiese gebied.[5] Aangesien die jong Francisco de Xavier die derde seun was in sy familie (sy vader was ’n invloedryke edelman, die raadspresident van die koning van Navarra), is hy van geboorte af vir ’n kerklike loopbaan bestem. In 1525 is hy na die Universiteit Parys gestuur. Hier, soos dit geval het, was sy kamermaat nog ’n Baskiese edelman, Ignacio de Loyola, ’n oud-soldaat 15 jaar ouer as hy, wat ’n diepgaande bekering ondergaan het en besig was om ’n groep manne om hom te groepeer wat sy ideale gedeel het – hierdie manne sou die kern wees van Loyola se Genootskap van Jesus (die Jesuïte), en alhoewel Francisco aanvanklik oor Ingacio se ywer voorbehoude gehad het, is hy ook oorgewen. Hy was een van sewe manne wat 15 Augustus 1534, ede afgelê het van armoede en selibaatheid en belowe het om na die Heilige Land pelgrimstogte te onderneem, en daarna om hulself toe te wy aan die verlossing van gelowiges sowel as ongelowiges.

Francisco is in 1537 as priester ingeseën maar het die Heilige Land nie bereik nie. Hy was wel gewillig om as plaasvervanger te gaan toe een van die manne wat Loyola gekies het om na Indië te gaan nie kon gaan nie. Hy het in der waarheid alleen vanaf Lissabon gevaar en was hy ter see toe die Jesuïtiese orde in 1541 formeel erken is, en het in 1542 in Goa aangekom. Hy het sy werk onder die Parava begin, ’n arm kaste pêrelvissers, van wie 20 000 die doop aanvaar het as deel van ’n pakket-ooreenkoms van Portugese ondersteuning teen hul vyande. Hulle het egter van Christus feitlik niks geweet nie. Twee jaar later het hy sy aandag gevestig op die Macuane, ’n primitiewe volk, en het van hulle 10 000 gedoop. Hier het hy soos elders gesukkel om die tale te leer van die mense onder wie hy gewerk het, maar sy werk het behoue gebly: die Parava en die Macuane is tot vandag toe Katolieke.

Vanaf 1545 tot ’48 het hy die huidige Maleisië en Indo­nesië bewerk, en het sendings gestig op Malakka, in die Maleise Skiereiland en onder die wrede kopjagters van die Molukke (of Spesery-eilande). Sy werk onder die Maleiers en Malakkane het voortgeduur, maar wrede en uitgerekte vervolging in die 17de eeu, wat die marteldood van duisende behels het, het sy werk in die Molukke uitgewis.

In 1548 het hy na Goa teruggekeer, en het hy verantwoordelikheid aanvaar vir die opvoeding van inboorlingpriesters en kategiste in ’n bisdom wat vanaf die Kaap die Goeie Hoop tot by Sjina gestrek het. Maar sy oë was op Japan gerig, wat slegs vyf jaar vantevore deur Westerlinge ontdek is, en die daaropvolgende jaar het hy die hawestad Kagoshima binnegevaar met ’n geselskap waaronder ’n Japannees genaamd Anjiro, wie hy in Malakka ontmoet het en wat onlangs gedoop is. In hierdie nuwe land moes hy sy metodes wysig – die Japannese is nie deur die armoede beïndruk waarmee hy soveel in die Indiese gebiede oorgewin het nie – maar die sending het gefloreer en, toe hy in 1551 weg is, het sy metgeselle beheer gehad van sowat 2 000 Christene in vyf gemeenskappe.

Jammerlik sou hierdie sending dieselfde lot ly as die werk in die Molukke, maar die Japannese het meer volharding getoon en, toe die Kerk nà 2½ eeue se vervolging en onderdrukking weer toegelaat is om in die openbaar sy werk te doen, het dit duidelik geword dat duisende geheime gelowiges – waaronder heelwat afstammelinge van Francisco se bekeerlinge – besig was om die Christelike Geloof te volg.

Nà sy terugkeer uit Japan, het Francisco weereens hom besig gehou met administratiewe werk in Goa – hy was nou die owerste van die nuwe Jesuïtiese Provinsie van Indië – maar hy het ’n nuwe doel gehad: Sjina. Vir die Japann­ese het alle wysheid uit Sjina gekom, en indien hy Japan sou wen, sou hy eerstens Sjina moes wen. Hy het op die eiland Shang-ch’uan Tao, langs die kus van Sjina se provinsie Kwangtung (en sowat 15 km vanaf Makao), gewag op toestemming om die Geslote Ryk binne te gaan toe hy 3 Desember 1552 van koors dood is.

Legendes eenkant gelaat, wat hy wel behaal het was indrukwekkend. Hy het persoonlik sowat 30 000 mense gedoop, en het altyd gesorg dat dié aan wie hy die evangelie gebring het, daarna ook pastorale sorg geniet het. Baie van sy werk was eintlik die onderrig van mense wat deur ander haastig gedoop is. ’n Belangrike bydrae was sy baanbreker-idee “dat die sendeling hom moet aanpas by die gebruike en taal van die mense wat hy evangeliseer”[6] en het hy groot klem gelê op die opvoeding van inboorling-predikante – iets wat sy opvolgers dikwels nie stip nagekom het nie.

Francisco is in sy eie leeftyd as heilige beskou. Hy is in 1622 tot heilige verklaar, en in 1927 is hy benoem as beskermheilige van alle sendings.



[1] Die parogie is die enigste Anglikaanse kerkgemeente in Port Elizabeth spesifiek vir die Sjinese gemeenskap.

[2] Euzkara name is moeilik om uit te spreek. Die Z klink soos die TH in die Engelse woord “thin”. Spreek die woord uit: OETh-ka-RA (met die hoofklem op die eerste lettergreep en met effense klem op die finale A).

Die land se naam, Euzkadi, is ook moeilik. Die D klink soos die TH die Engelse woorde “thee” en “thine”: Oeth-ka-thie.

[3] Hierdie doopnaam is bloot die Spaanse vorm van Franciscus, ’n naam wat herinner aan die Germaanse stam die Franke.

Om die (Castiliaans) Spaanse uitspraak reg te kry, dink aan die eerste C as TH in die Engelse woord thin – Fran-thies-ko.

[4] Nog ’n moeilike uitspraak. Die X klink soos G in Afrikaans of Nederlands; die A is soos in Afrikaans. Së: Ga-wie-êr (weereens is die klem op die eerste lettergreep).

Die foutiewe uitspraak “Zei-wie-er” is heelwat meer aanvaarbaar as “Eks-ei-wie-er” of “Egz-ei-wie-er”.

[5] Die koningshuis van Navarra was, soos al die koningshuise van Iberië behalwe dié van Portugal, ’n vertakking van die Wes-Gotiese koningshuis wat in die Donker Tyd vir die Romeinse Hispania verower het, nadat hulle eers die Wandale verjaag het.

Die koninkryk Navarra is uiteindelik deur oorerwing gedeel tussen Spanje en Frankryk, alhoewel die streek wat tans as Navarra bekend staan heeltemal binne Spanje lê.

Koning Henri IV van Frankryk was eers koning van Navarra. Hy was aanvanklik ’n Protestant, en het die Edik van Nantes uitgevaardig waardeur godsdiensvryheid in Frankryk gewaarborg is. Sy seun, Louis XII, en kleinseun, Louis XIV, is deur Jesuïte grootgemaak. Louis XIV het die edik teruggetrek, met die gevolg dat Protestante onder druk gekom het. Groot getalle het die land gevlug, terwyl dié wat agtergebly het onder dwang Katolieke geword het, of andersins die marteldood gesterf het.

[6] Aanhaling uit die artikel “St Francis Xavier” in die Encyclopædia Britannica (my vertaling).


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is in die Desember 1989/Januarie 1990-uitgawe van Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Skryf vir my: Mike Oettle