Heiliges & Jaargetye
http://uk.oocities.com/saintsnseasons

Die rasionale basis van religieuse ervaring
Deel 2

deur A G Oettle

vertaal deur Mike Oettle

Terug na Deel 1

DIE BEPERKINGS VAN DIE WETENSKAP

a. Die wetenskap verg geloofsdade

Voordat ek begin uitwys dat sekere geloofsoortuigings nodig is by dié wat die veld van die wetenskap betree, erken ek vryelik dat dit nie veel van ’n argument is om “Jy ook!” uit te roep nie. Dit sal egter miskien ’n bietjie beskeidenheid aanmoedig as ’n mens in gedagte hou dat die bestudering van die Natuur ook sekere onbewysbare aanvaardings verg. By voorbeeld:

A N Whitehead, toe hy die 17de eeu oorweeg het, het opgelet dat in daardie tyd “die geestelikes in beginsel rasionaliste was, terwyl die wetenskapsmense tevrede was met ’n eenvoudige geloof in die orde van die Natuur”. Huidiglik is hierdie eenvoudige geloof deels vervang deur ’n ontnugterde gelatenheid, tog is daar steeds gebiede waar die wetenskaplike gedwing word om standpunt in te neem sonder die moontlikheid van wetenskaplike bewyse. Dit word oor die algemeen beskou dat sulke situasies filosofies van aard is, maar die besluite is nietemin relevant.

Die eerste van hierdie veronderstellings is dié van die aanvaarding van ’n objektiewe werklikheid. Dit wil sê dat ons sintuiglike indrukke verwysings is na ’n reële en logiese wêreld buite onsself en dat hierdie indrukke verwerk kan word, en op ’n logiese wyse gerangskik. Die ooreenstemming van ander waarnemers voorsien bevestiging dat ons op die regte spoor is, maar selfs sonder hierdie bevestiging, aanvaar ons die geldigheid van die meeste van ons sintuiglike indrukke. Die betroubare sensasies word van onbetroubare soortgelykes onderskei in omstandighede waar ons geleer het om daarteen wantrouig te wees, soos byvoorbeeld dié wat geassossieer word met duiseligheid, die stuur van ’n vliegtuig op instrumente, of met hallusinogeniese dwelmmiddels. Ons aanvaar dat ons dieselfde sensasie van “blouheid” ervaar as wat ander waarnemers het, tog kan ons dit nie bewys nie. Die gelykheid van ons sensasies is nie direk bewysbaar nie, maar ons kan onsself gerusstel met die argument dat ’n ras wat ernstig uit voeling uit was met die realiteit, lankal van die aarde sou verdwyn het. (Dit sluit natuurlik nie ander oorsake van uitwissing uit nie.)

’n Tweede aanvaarding het betrekking op die bestaan van kausaliteit. Ek moes onlangs hierdie vraagstuk ondersoek in verband met sigarette en longkanker.[9] Die argument is na vore gebring dat niemand bewys het dat die gewoonte werklik longkanker veroorsaak het nie. Hoe bewys ’n mens veroorsaking? Hoe meer ek daaroor gelees het, hoe vaer het die onderwerp geword, en blykbaar bly die posisie wat Hume geneem het onweerlegbaar, dat al wat bewys kan word is ’n suksessie van gebeure. Tog het die idee van oorsaak en effek, soos soveel ander dinge wat ’n praktiese nut het sonder teoretiese bewyse, ’n betekenis vir alle mense, en ek kan dit nie indink dat ’n beskawing hierdie konsep sou kon verwerp nie, al is dit hoe onbewysbaar. Dit is inbegrepe in die gedagtes van verantwoordelikheid en sukses, in die werking van die regstelsel, of die organisasie van kompetisies. Of filosowe dit goedkeur of nie, aanvaar gewone mense, wetenskaplikes ingesluit, sonder meer die gedagte van veroorsaking, op grond van menslike insig en iets wat nie baie ver van geloof af is nie.

 

b. Die sfeer van die wetenskap

Die wetenskaplike metode word in sy onderwerpsinhoud beperk. Sonder twyfel sal die perke daarvan uitgebrei word, maar sekere sfere van ervaring ontwyk wetenskaplike analise, soos dié van die estetiek, moraalfilosofie en religieuse ervaring. As hulle een van Shakespeare se sonnette behandel, kan die wetenskap die chemie van die drukkersink bespreek, of ’n koolstofdatering van die papier, maar dit kan geen onderskeid maak tussen grootse digkuns en banaliteit nie. Die toetse wat ’n Piltdown-vervalsing kan uitken is op groot kuns ontoepaslik.

 

c. Die wetenskap bied nie absolute sekerheid nie

Die wetenskaplike wêreld het op een stadium heel veilig gelyk, want dit is gedink dat hipoteses deur kritieke eksperimente getoets sou kon word en vir alle tyd gevestig wees. Die metode van induktiewe-deduktiewe rede is al verrassend suksesvol, en dit is nie te verbase nie dat vele gedink het dat dit onfeilbaar sou wees. Soos dame Kathleen Lonsdale geskryf het, “’n Eeu gelede het wetenskaplikes gevoel dat enigiets wat hulle nie weet nie, vroeër of later deur wetenskaplike tegnieke bekend sou word.”

Ten spyte van die suksesse, het beperkings kennelik geword. Veel hang af van die meegaandheid van dit wat ondersoek word. Die gestadige vordering van die fisika het die sosiale wetenskap van psigologie nie bygehou nie, ten spyte van ernstige pogings. Selfs in die fisika was daar al terugslae. A N Whitehead noem dat die 17de eeu gekenmerk is aan die “the fallacy of misplaced concreteness”.[10] Want hulle het gepoog om eienskappe te onderskei wat onafskeidbaar is, soos ruimte en tyd, of stof en energie. Vandag word hierdie begrippe gekombineer in konsepte heeltemal vreemd aan ons daaglikse ervaring en gesonde verstand. Die kritieke eksperiment waarborg nie meer finaliteit nie, want die antwoord hang af van hoe die vraag gestel is. Die golf-partikel sintese is ’n voorbeeld van hierdie beperking. In plaas van absolute sekerheid bestaan daar deesdae meer as ’n blote suggestie van ambivalensie.

Bronowski (1966) het die huidige houding in hierdie woorde uitgedruk: “Nòg die wetenskap nòg die letterkunde gee ooit ’n gehele weergawe van die Natuur of van die lewe. In albei word die vordering van die huidige beskrywing tot die daaropvolgende gemaak deur die ondersoek van die dubbelsinnighede in die taal wat ons tans gebruik. In die wetenskap word hierdie dubbelsinnighede tydelik opgelos, totdat dit bewys word dat dit tekort skiet. Dit is waarom die bevindinge van die wetenskap op enige gegewe oomblik op ’n aksiomatiese en deduktiewe masjien weergee kan word.” Sy gevolgtrekking: “Dit volg dat die wette van die Natuur nie geformuleer kan word as ’n aksiomatiese, deduktiewe, formele en ondubbelsinnge sisteeem wat ook volmaak is nie.”[11]

 

NA DEEL 3



[9] George Oettle was die eerste Suid-Afrikaanse navorser, en slegs die tweede ter wêreld, wat ’n statistieke verbintenis tussen rook en longkankger bewys het.

[10] Die dwaalbegrip van misplaaste werklikheid.

[11] “Neither science nor literature ever gives a complete account of Nature or of life. In both of them, the progress from the present account to the next account is made by exploration of the ambiguities in the language that we use at this moment. In science, these ambiguities are resolved for the time being, until it is shown to fall short. This is why the results of science at any given moment can be presented on an axiomatic and deductive machine. It follows that the laws of Nature cannot be formulated as an axiomatic, deductive, formal and unambiguous system which is also complete.”


Counter

Terug na bo

For English, click here


Terug na inleiding

Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


Skryf vir my: Mike Oettle