

Die rasionale
basis van religieuse ervaring
Deel 2
deur A G Oettle
vertaal deur Mike Oettle
a.
Die wetenskap verg geloofsdade
Voordat ek
begin uitwys dat sekere geloofsoortuigings nodig is by dié wat die veld van die
wetenskap betree, erken ek vryelik dat dit nie veel van ’n argument is om “Jy
ook!” uit te roep nie. Dit sal egter miskien ’n bietjie beskeidenheid aanmoedig
as ’n mens in gedagte hou dat die bestudering van die Natuur ook sekere
onbewysbare aanvaardings verg. By voorbeeld:
A N Whitehead, toe hy die 17de eeu
oorweeg het, het opgelet dat in daardie tyd “die geestelikes in beginsel
rasionaliste was, terwyl die wetenskapsmense tevrede was met ’n eenvoudige
geloof in die orde van die Natuur”. Huidiglik is hierdie eenvoudige geloof
deels vervang deur ’n ontnugterde gelatenheid, tog is daar steeds gebiede waar
die wetenskaplike gedwing word om standpunt in te neem sonder die moontlikheid
van wetenskaplike bewyse. Dit word oor die algemeen beskou dat sulke situasies
filosofies van aard is, maar die besluite is nietemin relevant.
Die eerste van hierdie
veronderstellings is dié van die aanvaarding van ’n objektiewe werklikheid. Dit
wil sê dat ons sintuiglike indrukke verwysings is na ’n reële en logiese wêreld
buite onsself en dat hierdie indrukke verwerk kan word, en op ’n logiese wyse
gerangskik. Die ooreenstemming van ander waarnemers voorsien bevestiging dat
ons op die regte spoor is, maar selfs sonder hierdie bevestiging, aanvaar ons
die geldigheid van die meeste van ons sintuiglike indrukke. Die betroubare
sensasies word van onbetroubare soortgelykes onderskei in omstandighede waar
ons geleer het om daarteen wantrouig te wees, soos byvoorbeeld dié wat
geassossieer word met duiseligheid, die stuur van ’n vliegtuig op instrumente,
of met hallusinogeniese dwelmmiddels. Ons aanvaar dat ons dieselfde sensasie
van “blouheid” ervaar as wat ander waarnemers het, tog kan ons dit nie bewys
nie. Die gelykheid van ons sensasies is nie direk bewysbaar nie, maar ons kan
onsself gerusstel met die argument dat ’n ras wat ernstig uit voeling uit was
met die realiteit, lankal van die aarde sou verdwyn het. (Dit sluit natuurlik
nie ander oorsake van uitwissing uit nie.)
’n Tweede aanvaarding het betrekking
op die bestaan van kausaliteit. Ek moes onlangs hierdie vraagstuk ondersoek in
verband met sigarette en longkanker.[9]
Die argument is na vore gebring dat niemand bewys het dat die gewoonte werklik
longkanker veroorsaak het nie. Hoe bewys ’n mens veroorsaking? Hoe meer ek
daaroor gelees het, hoe vaer het die onderwerp geword, en blykbaar bly die
posisie wat Hume geneem het onweerlegbaar, dat al wat bewys kan word is ’n
suksessie van gebeure. Tog het die idee van oorsaak en effek, soos soveel ander
dinge wat ’n praktiese nut het sonder teoretiese bewyse, ’n betekenis vir alle
mense, en ek kan dit nie indink dat ’n beskawing hierdie konsep sou kon verwerp
nie, al is dit hoe onbewysbaar. Dit is inbegrepe in die gedagtes van
verantwoordelikheid en sukses, in die werking van die regstelsel, of die
organisasie van kompetisies. Of filosowe dit goedkeur of nie, aanvaar gewone mense,
wetenskaplikes ingesluit, sonder meer die gedagte van veroorsaking, op grond
van menslike insig en iets wat nie baie ver van geloof af is nie.
b. Die
sfeer van die wetenskap
Die
wetenskaplike metode word in sy onderwerpsinhoud beperk. Sonder twyfel sal die
perke daarvan uitgebrei word, maar sekere sfere van ervaring ontwyk
wetenskaplike analise, soos dié van die estetiek, moraalfilosofie en religieuse
ervaring. As hulle een van Shakespeare se sonnette behandel, kan die wetenskap
die chemie van die drukkersink bespreek, of ’n koolstofdatering van die papier,
maar dit kan geen onderskeid maak tussen grootse digkuns en banaliteit nie. Die
toetse wat ’n Piltdown-vervalsing kan uitken is op groot kuns ontoepaslik.
c. Die
wetenskap bied nie absolute sekerheid nie
Die
wetenskaplike wêreld het op een stadium heel veilig gelyk, want dit is gedink
dat hipoteses deur kritieke eksperimente getoets sou kon word en vir alle tyd
gevestig wees. Die metode van induktiewe-deduktiewe rede is al verrassend
suksesvol, en dit is nie te verbase nie dat vele gedink het dat dit onfeilbaar
sou wees. Soos dame Kathleen Lonsdale geskryf het, “’n Eeu gelede het
wetenskaplikes gevoel dat enigiets wat hulle nie weet nie, vroeër of later deur
wetenskaplike tegnieke bekend sou word.”
Ten spyte van die suksesse, het
beperkings kennelik geword. Veel hang af van die meegaandheid van dit wat
ondersoek word. Die gestadige vordering van die fisika het die sosiale
wetenskap van psigologie nie bygehou nie, ten spyte van ernstige pogings. Selfs
in die fisika was daar al terugslae. A N Whitehead noem dat die 17de eeu
gekenmerk is aan die “the fallacy of misplaced concreteness”.[10]
Want hulle het gepoog om eienskappe te onderskei wat onafskeidbaar is, soos
ruimte en tyd, of stof en energie. Vandag word hierdie begrippe gekombineer in
konsepte heeltemal vreemd aan ons daaglikse ervaring en gesonde verstand. Die
kritieke eksperiment waarborg nie meer finaliteit nie, want die antwoord hang
af van hoe die vraag gestel is. Die golf-partikel sintese is ’n voorbeeld van
hierdie beperking. In plaas van absolute sekerheid bestaan daar deesdae meer as
’n blote suggestie van ambivalensie.
Bronowski (1966) het die huidige
houding in hierdie woorde uitgedruk: “Nòg die wetenskap nòg die letterkunde gee
ooit ’n gehele weergawe van die Natuur of van die lewe. In albei word die
vordering van die huidige beskrywing tot die daaropvolgende gemaak deur die
ondersoek van die dubbelsinnighede in die taal wat ons tans gebruik. In die
wetenskap word hierdie dubbelsinnighede tydelik opgelos, totdat dit bewys word
dat dit tekort skiet. Dit is waarom die bevindinge van die wetenskap op enige
gegewe oomblik op ’n aksiomatiese en deduktiewe masjien weergee kan word.” Sy
gevolgtrekking: “Dit volg dat die wette van die Natuur nie geformuleer kan word
as ’n aksiomatiese, deduktiewe, formele en ondubbelsinnge sisteeem wat ook
volmaak is nie.”[11]
[9] George Oettle was die eerste Suid-Afrikaanse
navorser, en slegs die tweede ter wêreld, wat ’n statistieke verbintenis tussen
rook en longkankger bewys het.
[10] Die dwaalbegrip van misplaaste werklikheid.
[11] “Neither science nor literature ever gives a
complete account of Nature or of life. In both of them, the progress from the
present account to the next account is made by exploration of the ambiguities
in the language that we use at this moment. In science, these ambiguities are
resolved for the time being, until it is shown to fall short. This is why the
results of science at any given moment can be presented on an axiomatic and
deductive machine. It follows that the laws of Nature cannot be formulated as
an axiomatic, deductive, formal and unambiguous system which is also complete.”
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle