

Die rasionale
basis van religieuse ervaring
Deel 4
deur A G Oettle
vertaal deur Mike Oettle
d. Spesiale
openbaring – die Bybel
Op sy beste voorsien die natuur ’n heelwat beperkte en dubbelsinnige indruk
van sy Skepper, en vele sal saam met Job gekla het dat “dit is maar die begin
van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde.”[29]
Dit sou nie onredelik wees nie om ’n meer direkte openbaring te verwag.
So ’n openbaring word in die Skrif
beliggaam, waarvan enkele aspekte geraak mag word. Moderne argeologiese
ondersoeke dui op die bevestiging van ortodokse sieninge oor die betroubaarheid
van hierdie geskrifte. Sir Frederic Kenyon skryf dat kritieke soos oorlede
biskop Barnes van Birmingham “’n hoogs imperfekte kennis of waardering van
onlangse bevindinge, en ’n deurgaans onwetenskaplike houding teenoor bewyse”[30]
toon. Die meeste van die spekulatiewe gevolgtrekkings van die hoër kritiek van
die vorige eeu[31] kan as
foutief bewys word. Hierdie critici het blykbaar hulle hipoteses as so
vanselfsprekend beskou dat bewyse onnodig was. Ten beste kan dit gesê word dat
hulle van hul eie vooronderstellings ongenoegsaam krities was, en dat hulle die
bekombare bewyse as meer beslissend gesien het as wat regverdig was nie.
Die volgende paragrawe verwys na
enkele aspekte wat vir my persoonlik beïndruk het.
1. Die eenheid daarvan. Die Boeke waaruit die
Ou en Nuwe Testamente bestaan is op verskillende tye oor vele eeue geskryf,
deur na aan 50 skrywers, van uiters anderse sosiale agtergrond en ervaring.
Nietemin behou hierdie geskrifte ’n harmonie en eenhied wat hulle as enkele
boek aanmekaar sweis, wat amper 20 eeue later vir die mensdom ’n kragtige
relevansie het. Die Ou Testament antisipeer nie duidelik die Christelike
geskrifte nie, tog is laasgenoemde nie met wat dit voorafgegaan het,
teenstrydig nie; in der waarheid is die vroeëre geskrifte tipies voorbode van
dielatere.
2. Die eerlikheid daarvan. Alhoewel hierdie
versameling hoofsaaklike toegewy is aan die geskiedenis van ’n enkele nasie,
tog skryf dit van hierdie nasie en sy helde met ’n vrymoedigheid gans anders as
die selfverheerliking wat nasionale geskiedenisse selfs tot vandag toe kenmerk.
In die lewens van almal behalwe Jesus Christus word foute, mislukings of
karakterdefekte opgeteken. Ten spyte van sy aanspraak daarop dat hy Gods volk
is, word die nasie van Israel uitgewys as selfs meer gedegenereer as die
inwoners van Sodom en Gomorra, ontrou en afgodies. Hierdie vrymoedigheid is
bekend aan dié wat met die Skrif vertroud is, maar mag verrassend wees vir die
wat dit die eerste maal lees. Dus was ’n Joodse vriend van my, vir wie ek ’n
Bybel-eksemplaar gegee het, diep geskok, en het hy sy voorouers as ’n klomp
misdadigers beskryf.
3. Die vryheid daarvan van algemene mitologiese foute.
Die algemene toon van mites en legendes is een van onmatige oordrewenheid – ’n
mens hoef slegs die grootte van hul reuse en die vurige optredes van hul drake
onthou. Tog was Goliat sowat nege voet[32]
lank, wat op die uiterste van die bekende menslike groeipotensiaal is, en die
wilde diere wat gedreig het was bloot leeus en bere.
Hierdie beheerstheid was beslis nie
’n eienskap van die betrokke volk nie, want die Talmoediese legendes van die
Bybel (Ginzberg) is volop buitensporige bewerings. Dus het Juda se woedende
gebulder die stadsmure van die hele Egipte laat neerval, swanger vroue het
miskraam, en die Farao was van sy troon afgesmyt. Ander legendes maak meer van
’n vrome beroep op die sin van die wonderbaarlike, soos in die Talmoediese
weergawe van God se redenering met Job, waar die gevare wat op die pasgebore
wildsbok so beskryf word:
“Die
gasel skenk die lewe aan haar kleintjies op die boonste punt van ’n rots, en
dit sou in die afgrond afval en doodgedruk word, het Ek nie ’n arend daarheen
gestuur om dit te vang en dit na sy moeder terug te dra. Sou die arend ’n
minuut vroeër of later as die vasgestelde tyd opdaag, sou die gaselletjie
vergaan. Dit het nooit gebeur dat die gepaste oomblik gemis is nie.”
En ’n mens hoef slegs die geskrifte
van die vroeë Christelike Vaders te lees om die treffende verskil op te let
tussen hierdie geskriftes, hoe opreg dit mag wees, en die min of meer
kontemporêre dokumente wat hulle as die Skrif beskou het. Een van die Vaders
het byvoorbeeld die storie van die Feniks vertel (as voorbeeld van opstanding
in die natuur). Die lewens van die heiliges toon dieselfde buitensporige
tendense. Vir die moderne leser met heelwat meer kennis tot sy beskikking is
dit ruimskoots duidelik dat die werke wat die vroeë Kerk erken het as
geïnspireer in heeltemal ’n ander kategorie is van dié wat hulle verwerp het.
In ’n onlangse publikasie het
McMillen op die kontras gelet tussen die eenvoudige gesondheidswette van die
Israeliete en hul paslikheid vir ’n nomadiese volk, en die bygelowige en
gevaarlike praktyke van die kontemporêre Egipties geneeskunde wat in die
Ebers-papirus neergeskryf is. Eenvoudige sanitêre reëls van isolasie,
kwarantyn, was, die begrawing van uitwerpsels en dieet merk ’n standaard van
higiëne wat voor die ontwikkeling van moderne openbare gesondheid teruggewin is
nie. Die regulasie wat besnyding op die agtste dag voorskryf is tot die Bybel
uniek: dit is tans bekend dat die vlak van protrombine in die baba se bloed op
hierdie dag tot ’n maksimum styg, sodat die risiko van bloeding minimaal is,
maar die Israeliete was glad nie by magte om hierdie feit eksperimenteel vir
hulself uit te vind nie. Die voordele van besnyding in warm klimate is
huidiglik wel bekend; dit verhoed beide inflammasie en kanker in die penis. Die
Israeliete se standaard van higiëne was ver bokant dit van hul onbesnyde bure,
en dit is steeds die geval.
Op hierdie punt kan ’n mens verwag
om hierdie wederwoord te hoor: Wat van die wonderwerke? Ek is nie ten gunste
van die afwatering van die wonderwerke nie: na alles moet Christene die
inkarnasie en opstanding van Jesus Christus aanvaar, dus lyk dit onnodiglik
puntenerig om by Jona en die walvis vas te val – veral aangesien ons voorvalle
op rekord het van ander manne wat deur potvisse ingesluk is en wat lewendig
uitgespoeg is. Wat betref Hume se argument dat dit teen die ervaring was dat ’n
wonderwerk waar kon wees, maar nie teen die ervaring dat getuienis foutief was,
sou ek Darby se antwoord aanhaal dat die gebruik van die woord “ervaring” die
idee van ’n wonderwerk uitsluit, en dat die twyfel wat op getuienis gewerp word
jou toelaat om enige getuienis te veronagsaam wat jy kies om nie te glo nie. Op
hierdie basis kan enige buitengewone observasie verwerp word, soos die
waarneming van ’n hoep-hoep in Skotland. In elk geval, indien jy in God glo,
lewer wonderwerke geen hindernis op nie. As jy nie glo nie, is die weiering om
wonderwerke te aanvaar ’n relatief kleinlike saak.
4. Die Profesieë. Die onmoontlikheid van
profesie is, soos dit van wonderwerke, ook deel van die Rasionalistiese geloof.
Hierdie aanvaarding is deur sekere geleerdes gemaak vir die datering van die
geskrifte van Ou-Testamentiese profete, nà die gebeure waarna dit verwys het. Hierdie
ontnugterde siening is nie sonder sy probleme nie. Dit verduidelik nie hoe ’n
publiek wat nooit baie simpatiek was teenoor hierdie profete was nie, sulke
retrospektiewe en bedrieglike geskrifte die moeite werd was om te behou, veral
aangesien dit oor die algemeen ’n hoogs kritiese rekenskap van hulle landgenote
gedra het. Selfs al aanvaar ons dat hierdie skrywers dit reggekry het om ’n
buitengewoon liggelowige publiek te imponeer, moet ons steeds verklaar hoe
sulke oneerlike bedrieërs sulke etiese insig te verkry en sulke openhartige en
opregte verklarings van geloof. Hierdie skeptiese houding is veels te
oppervlakkig, en sou die mees oortuigend wees vir dié wat die minste oor die
onderwerp weet.
Een voorbeeld wat nie die
aansuiwering van die datum van die geskrifte toelaat nie, vind ons in die
voorspelde terugkeer van die Jode na Palestina. Hierdie terugkeer het deel
gevorm van die algemene verwagting van Christelike groepe op ’n basis van
profetiese onderig, lank voordat die politiese gebeurtenis in die vooruitsig
gestel is. Die oorlewing van die Jode is vanself merkwaardig genoeg, en laat
dit ’n mens dink aan die antwoord wat vir Frederik die Grote gegee is, toe hy
gevra het om ’n bondige bewys van die bestaan van God: “Die Jode.”
Ander voorspellings moet steeds
vervul word, soos die moontlikheid van wêreldregering wat in die Openbaring
aangedui word. Dit is veel makliker om in die lig van moderne ontwikkelings in
kommunikasie, missiele en vervoer te visualiseer.
5. Die bondigheid daarvan. Vir dié wat gewoond
is aan die wydlopigheid van die moderne joernalisme, is die bondige karakter
van die Bybelse geskrif merkwaardig. ’n Mens hoef jou byvoorbeeld slegs indink
hoe ’n moderne skrywer die gelykenis van die goeie Samaritaan in Lukas[33]
sou vertel het, en dan na die oorspronklike kyk met sy uitsonderlike
beheerstheid in die gebruik van beskrywende terme. Die verhale van Jesus vertel
ons nie van sy hoogte, sy stemtoon of die uitdrukking in sy oë nie – slegs die
woorde en handelinge. Sulke kondensering kom nie natuurlik nie, en impliseer
gewoonlik beide gawe en ervaring. Tog is hierdie werke deur ’n verskeidenheid
skrywers wat blykbaar geen ander skryfwerk uitgebring het nie. Dit is, glo ek,
nog meer indrukwekkend in die oorspronklike tale. Dus is Psalms 111 en 112
albei in akrostiese vorm waarin feitlik elke frase uit drie Hebreeuse woorde
bestaan. As verdere voorbeeld van hierdie intensiteit van betekenis mag ek die
kommentaar aanhaal van ’n rabbi wat ek ken oor die woorde in die Psalms “sy
heil is naby die wat hom vrees”.[34]
Vir hom het hierdie woorde ’n onoplosbare paradoks geposeer, want, het hy
geredeneer, indien God aan die mens genade betoon, moet Hy die mens se werklike
aard versteek, terwyl indien die waarheid vertel word, daar alleenlik oordeel
kan wees. Vir die sensitiewe leser voorsien hierdie geskrifte ’n onuitputbare
bron van gekonsentreerde wysheid.
6. Die rykdom daarvan. Vol veelseggende frases, uitdagend of
paradoksies, het dit vir geslagte vertolkers materiaal voorsien. Dit word erken
deur dié wat hulself geamuseer het deur om die halfdosyn essensiële items vir ’n
een-rigting vaart na ’n veraf eiland te bespreek. Wanneer jou biblioteek tot ’n
enkele boek beperk moet word, is die Bybel – eerder as die Encyclopædia
Britannica – die boek waarvoor jy mins waarskynlik moeg sal raak. Dit het
’n relevansie vir persone van alle sosiale klasse, en in sy vertalings aan dié
van alle rasse, en dra sy eie gesag aan die leser oor. Verskillende aspekte mag
vir verskillende mense tref – ek het byvoorbeeld gehoor van ’n prokureur wat
deur die Tien Gebooie beproef is toe hy probeer het om ’n meer moderne stel
reëls vir optrede op te trek, maar toe vind hy dat ten spyte van die vordering
in regterlike begrip en die kompleksiteit van die moderne samelewing, hy geneig
was om na die oorspronklike terug te keer. Hy het met nuwe respek na sy
Bybellees teruggekeer. ’n Ontnugterde psigoloog mag vind dat die reëls wat
sosiale verhoudings beheer ’n sorgvuldige ondersoek werd is. Die vorige geslag
psigoloë het dit gerepudieer, maar die gevolge van hulle indoktrinasie is nie
gerusstellend nie. ’n Indrukwekkende getuienis tot die unieke eienksappe van
die Nuwe-Testamentiese geskrifte is deur twee moderne vertalers gemaak, naamlik
E V Rieu en J B Phillips. Hulle het getuig hoe, gedurende die proses
van vertaling, hierdie skrifte heelwat meer lewend geword het as voorheen. Die
vertalers is deur die materiaal wat hulle gehanteer het, beïnvloed, en die
oortuiging het op ’n kragtige wyse gegroei dat hierdie skrifte die onmiskenbare
seël van die waarheid gedra het. ’n Mens kan nie voorspel wat, indien enigiets,
’n gegewe leser sal tref, maar vir die meeste sal dit sy eie gesag dra, en
respek afdwing.
e.
Spesiale openbaring – die rekord van Jesus Christus
Die verhaal van die lewe van Christus vermeld ’n standaard wat ek nie in
die lewens van ander religieuse leraars vind nie. Ons lees nie van sy soeke na
die waarheid nie – dit was Hy self. Sy prediking is beperk tot drie jaar se
openbare diens, gevolg deur ’n hoogs skandelike dood, wat sy dissipels
ontnugter en vreesbevange, totdat die Opstanding hulle omskep het in moedige en
toegewyde sendelinge, met ’n gesaghebbende boodskap wat vir alle mense
beduidend was.
Die poging om Hom voor te stel as
nog ’n sedelike leraar en niks meer nie mag slaag by dié wat nie met die feite
goed vertroud is nie. Dit is aantreklik vir dié wat verplig word om Sy leer en
aansprake weg wil verduidelik, maar dit sal nie duld nie, want Hy het daarop
aanspraak gemaak dat hy God is. Indien hierdie sentrale aanspraak van Jesus
Christus vals is, dan kan hy nie as sedelike leraar of goeie voorbeeld beskou
word nie – indien, aan die ander hand, dit waar is, is die gevolge vir dié wat
Hom ignoreer verskriklik.
f.
Die getuienis van Christen lewens
Alhoewel ’n eties hoër standaard van optrede nie die hoofdoel is van
godsdiens nie, is dit ’n waardevolle neweproduk. Die Christelike geloof
transformeer kulture deur om karakters te hervorm: die Apostel Paulus is
miskien die treffendse demonstrasie van hierdie transformasie. Hierdie proses
is wel bekend aan dié wat betrokke is by die behandeling van alkoholisme –
daardie moeras van gebroke beloftes en mislukking – want geloof voorsien
huidiglik ’n beter bolwerk as dwelms of psigoterapie, en is amper essensieel
vir herstel. Die beswaar word soms geopper dat geloof die oorgawe van menslike
vryheid verg, en dit is wel waar. Vir die alkoholis, beslis, daag geloof ’n man
se vryheid om homself en sy familie te ruineer, maar dit bevestig ook die
waarde van een wat lank vir homself as waardeloos mag beskou het, en vir
heelwat langer deur sy kennisse so beskou is. In die plek van sy verlies van
die vryheid om homself te vernietig is daar ’n nuwe vryheid om God te dien in
’n mate wat hy in sy vorige ontaarding nie sou kon droom nie.
Die kontras tussen die motivering
van ware Christene en van hul mede-burgers kan in die koloniale geskiedenis
goed gewaar word. In die meeste kolonies het blankes twee afsonderlike
kategorieë pionier – een wat met evangeliese ywer gemotiveer is om die heidene
van hul waardie in die aansien van God te vertel, die ander deur hebsug
aangedryf. Die verskil tussen dié wat God gedien het en die in Mammon se diens
was aan die inboorlinge ruimskoots duidelik (al is opgevoede Rasionaliste nie
in staat om die verskil in te sien nie). Dit is gesê dat op die Noordwestelike
grensgebied van Indië, dr Pennell vir die Brits Raj twee bataljons werd was,
alhoewel dit nie die rede was waarom hy daar was nie.
Die omvang van die invloed van die
Christendom sal vandag miskien onerkend wees, aangesien veel van die Westelike
leefwyse deur Christelike ideale geaffekteer word. Dit is heeltemal anders as
die Oosterse leefwyse op die gebied van by voorbeeld die onskendbaarheid van
die lewe, die waarde van die mees onbeduidende mense en die plek van die vrou
in die samelewing. Die tirannie van die sterkes word in ’n mate binne perke
gehou indie dit geglo word dat die heerser voor God van homself rekenskap moet
gee. Selfs ons vryhede is deel van die Christelike erfenis. Ons hospitale,
alhoewel nie alleenlik van Christelike oorsprong nie, is in ’n groot mate aan
Christelike optrede vir hul ontwikkeling verskuldig. Konstantyn het vereis dat
elke groot stad vir sy siekes in hospitale sou sorg, en in Afrika word ’n groot
proporsie hospitaalbeddens deur sendings[35]
voorsien. Die meeste hiervan lê in verafgeleë gebiede waar die regeringsdienste
nie maklik personeel sou vind om dit te onderhou nie. Die geskiedenis van sulke
plekke vorm ’n reeks epiese verhale, grotendeels nie op skrif nie, maar net so
indrukwekkend as die storie van Schweitzer en Lambarene, wat die wêreld geneig
is om as uniek te beskou.
Hierdie
plekke voorsien vele voorbeelde van die beskeie uitleef van die Christelike
deugde. ’n Onlangse een sal hier genoem word, geneem uit die werk van dr Ian Murray
op die McCord Zulu Hospital in Durban. Die volle verhaal deur dr Aldyth Lasbery
is te lank om hier voor te stel, maar dit skilder ’n beeld van medelyendheid en
onselfsugtigheid wat selde aangetref word. Sy beskryf hoe hy sy ure van diens
af deurgebring het deur om met pasiëte te sit, en hoe hy hulle daagliks besoek
het met geestelike sowel as fisiese hulp. Sy skryf:
“Een namiddag het hy heel luiters
vir my gesê: ‘Sal jy omgee om vir my in te staan: ek moet ’n ruk lank uit wees
. . . ek het so pas my sessie by buitepasiënte klaargemaak.’ Wat om
daardoe uur plaasgevind het, is later deur ’n verpleegster vertel wat diep
beïndruk was. Dr Murray het ’n chauffeur ondersoek en gevind dat hy akuut
noodlydend was en aan kongestiewe hartsaking gely het. Toe hy ontdek dat dit
onmoontlik is om die ouerige dame wat sy werkgewer was, te oorreed dat dit
dwaas sou wees vir hierdie man om haar huis toe te bestuur, het dr Murray
eenvoudig gesê: ‘Gee vir my asseblief die motorsleutels.’ Hy het die pasiënt
saal toe gestuur, en het die werkgewer self huis toe bestuur. Daarna het hy per
bus terug hospitaal toe gery.” Dit was die klaarblyklike oplossing, maar ek kan
aan geen ongevalle-offisier dink wat ek al geken het, wat dieselfde sou gemaak
het nie.
Heelwat meer aspekte van sy lewe het
nà sy dood aan die lig gekom. Onbekend aan enigiemand behalwe die begunstigde,
het hy maande lank die huishuur vir ’n mede-Christen in die nood betaal. Hy het
die wesenstrekke van Christus eerder as sy eie persoonlikheid getoon. Dit was
nie dat hy mediese werk verwaarloos het nie, want in sy planne vir mediese
sendings het hy die organisasie van opknappingskursusse ingereken, besoeke deur
spesialiste, samevattings van onlangse vordering in die geneeskunde en reëlings
vir die plaasvervanger.
Vir sy toekomstige werk op ’n sekere
hospitaal het hy gereken dat hy sou moet leer om ’n vliegtuig te loots sodat hy
die gebied behoorlik sou kon dek. “26 Mei 1964 het hy uitgegaan om van sy
laaste voorgeskrewe ure van alleenvlug te voltooi. Nadat hy op Greytown
aangedoen het, het hy naby Harburg op wolke en mis in ’n nou vallei gekom, en
daar het hy verongeluk. Sy laaste daad van diens was om uit sy sak sy motor- en
kamersleutels te neem en dit in sy hand vas te hou. Selfs in daardie oomblik
toe hy sy noodlot erken het, het hy gepoog om vir ander mense moeite te spaar.”
Daar is nie veel medici wat luiters hul eie naderende lykverstywing vir die
gerief van ander sou benuttig.
’n Pasiënt het opgelet: “Dit lyk of
dr Murray eenvoudig in die teenwoordigheid van sy Meester ingetree het,” terwyl
’n swart personeellid geskryf het: “Ian se dood was vir my so groot asof ek my
eie broer verloor het.”
My doel in die aanhaling van hierdie
voorbeeld is nie om te beweer dat onselfsugtige en self-opofferende werkers nie
onder nie-Christene bestaan nie, en beslis nie dat alle Christene hierdie
standaarde behaal nie. Hierdie laaste erkenning behoort nie verrassend te wees
nie, aangesien die Christelike geloof die enigste waar lidmaatskap beperk is
tot dié wat hul eie mislukking erken. Ongetwyfeld keer etlike van die ou
karaktertrekke weer in die meeste van ons op. Nietemin sou ek dit stel dat die
omvang en invloed van Christelike diens die pad oopgemaak het vir ander sosiale
dienste, wat gewoonlik van meer geld voorsien is, maar heelwat minder
toewyding. Dit mag deste meer merkwaardig wees aangesien Christelike diens nie
primêr filantropies, liefdadig of humanitêr is nie – die hoofdoel is om die
Meester te dien.
Ek stel dit aan julle dat indien julle vir ’n oomblik lank die bestaan van
’n God wat met die mensdom besorgd is, toegee, is die Christelike houding nie
onredelik nie. Die aansprake daarvan verdien beslis die aandag van nadenkende
mense.
Op hierdie punt wil ek die finale argument opper, wat bloot ’n beroep is op selfbelang, deur om die gevolge daarvan te vergelyk dat ’n mens miskien foutief gekies het. Gestel nou dat ek op die lange duur verkeerd bewys word, en dat mistieke belewenisse en die gevoel van gemeenskap uitdraai om niks meer te wees as self-misleiding nie, en dat vertroue in die aangesig van die dood as vals uitdraai. (Hierdie laaste voordeel is nie onbelangrik nie, kan ek terloops noem, en indien jy dit betwyfel, stel ek voor dat jy ’n bespreking bywoon van die vraag “Behoort die dokter te sê?”) Nouja, indien ek verlei is, sal dit te laat wees vir berou – terwyl indien julle Rasionaliste die hele tyd verkeerd was, wag daar ’n helse ontwaking op julle.[36]
Gevolglik wil ek julle aanspoor om dit te oorweeg of julle houding so rasionaal is soos wat julle dit dink. Vir julle aanmoediging, haal ek die woorde aan van John Donne in ’n preek wat hy Kersdag 1624 in St Paul’s, Westminster, gelewer het:
“Ons doen ’n beroep op sekere gewetens . . . om God se genades wat van tyd tot tyd aan hulle bewys is, in herinnering te bring: genades soos wat ’n
wedergeborene genades sal noem, alhoewel ’n natuurlike man dit toevalle, of voorvalle, of gebeurlikhede sal noem . . . Hy het uit die donkerte lig gebring, nie vanuit ’n mindere lig nie; Hy kan jou somer uit die winter
uitbring, sonder ’n lente tussenin; terwyl jy tot nou toe in die weë van die lot, of verstand, of gewete miskien tot nou toe onwetend was, verys soos in die winter, bewolk en verduister, verkluim en verstyf, verstik en verstom, kom God nou na jou toe, nie soos in die daeraad nie, nie soos die lentebloeisels nie, maar soos die son in die volle middag om alle skaduwees te belig, soos die gerwe van die oes, om alle behoeftighede aan te vul . . . alle geleenthede versoek Sy genades en alle tye is Sy seisoene.”[37]
[29] Job 26:14.
[30] “a very imperfect knowledge or
appreciation of recent discoveries, and a thoroughly unscholarly attitude to
evidence”.
[31] Die 19de eeu. Onthou dat Dr Oettle in die
middel-20ste eeu gewerk het.
[32] 274 cm.
[33] Lukas 10:29-37.
[34] Psalm 85:10. In die Engels van die King
James-vertaling is dit nog bondiger: “mercy and truth are met together” is
die stukkie wat Dr Oettle aangehaal het (die tweede helfte van die vers lees:
”righteousness and peace have kissed each other”).
[35] Hierdie proporsie het in die afgelope vier
dekades aansienlik verander, weens die nasionalisering van sendinghospitale, maar
die gehalte van pasiëntesorg in sulke hospitale is in die meeste Afrika-lande
aansienlik swakker as in die verlede.
[36] Die bewoording “a hell of an awakening” het
in George Oettle se oorspronklike manuskrip verskyn, maar in die gepubliseerde
weergawe van die lesing is dit (om sy oudste seun, prof Julien Oettle, aan te
haal) “bowdlerised” (geëkspurgeer) tot “an abrupt awakening”.
Ongelukkig is die manuskrip nie meer by hande
nie, anders kon hierdie vertaling dalk nader kon wees aan George se
oorspronklike.
[37] “We call upon particular Consciences
. . . to call to mind God’s occasional mercies to them: such mercies
as a regenerate man will call mercies, though a natural man would call them
accidents, or occurrences, or contingencies . . . He brought light
out of darkness, not out of a lesser light; he can bring thy Summer out of
Winter, though thou have no Spring; though in the ways of fortune, or
understanding, or conscience thou have been benighted till now, winterd and
frozen, clouded and eclypsed, damped and benummed, smothered and stupefied till
now, now God comes to thee, not as in the dawning of the day, not as in the bud
of spring, but as the Sun at noon to illustrate all shadowes, as the sheaves in
harvest, to fill all penuries . . . all occasions invite his mercies
and all times are his seasons.”
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle