

Die rasionale
basis van religieuse ervaring
Deel 3
deur A G Oettle
vertaal deur Mike Oettle
Die wetenskap maak geen voorsiening vir openbaring nie, dit wil sê kennis
wat ontleen is uit God se openbaarmaking van Homself aan ’n indiwidu, onderskei
van empiriese kennis, wat onderworpe is aan herhaling en bevestiging deur ander
– en die wetenskap sluit ook nie die moontlikheid van sulke openbaring uit nie.
In hierdie sin, het die moderne wetenskap niks met vra oor God te maak nie, en
in sy bestudering van die wêreld word dit nie van die wetenskap verwag dat dit
as Gods skepping beskou moet word nie. Ook word dit nie deur die wetenskaplike
redenering van jou verwag dat jy dit so sal aanvaar nie.
Die doel van hierdie bespreking is
egter om te demonstreer dat die houding van die gelowige nie onredelik is nie,
en om dit te doen moet ek jou vir die oomblik versoek om die onderwerp vanuit
my gesigspunt te benader. Gestel dan dat jy die moontlikheid van ’n Godheid
erken, dink dan hoe sou so ’n Wese Homself aan die mens sou bekend stel. ’n
Transendente Wese kan nie as sulks bekend word nie, dus sou die bewys van Sy
bestaan indirek moet wees. Sulke bewys kan dan subjektief sowel as objektief
wees. Dus sou mense miskien ’n aanvoeling gegee word van Sy bestaan – ’n
onverduidelikbare gewaarheid van die bonatuurlike: aan die ander hand, mag
hulle in Sy werke bewyse van die Skepper vind, soos wat enige skepping iets van
die skepper weerspieël. Hy sou miskien meer presiese boodskappe aan uitgekose
persone – die profete – deur spesiale openbaring oorgee. En uiteindelik sou Hy
miskien self in inkarnasie kom, ten spyte van die beperking en inperking van
die absolute en transendente eienskappe wat dit meebring. Minder direkte bewyse
kan gevind word in die getuienis van Sy mag in menselewens.
Vir dié
wat reeds in so ’n Wese glo, voorsien sulke verskeie riglyne van bewyse sterk
ondersteuning vir hulle geloof. Maar die skeptici vee dit eenkant as
oorbehoudsel van vorige bygelowe. Dit is egter aanmerklik dat dieselfde
skeptici hulle heelwat minder krities hou wanneer dit kom by ander gelowe
waarvoor die bewyse heelwat minder aanvaarlik is as dit van die gelowe wat
hulle verloën. Byvoorbeeld het verskeie prominente Rasionaliste onvoorwaardelik
die beloftes van die Kommunisme aanvaar, die genoegsaamheid van Wetenskaplike
Humanisme as mag ten goede, die onafwendbaarheid van die mens se verbeterende
vooruitgang, of die omgewingsgebonde verduidelikings van sy boosaardigheid. Dit
is byvoorbeeld op ’n stadium volhou dat in die Kommunistiese samelewing
alkoholisme – daardie jammerlike getuie van die mens se onvermoë om die goeie
te verkies – sou verdwyn. Ander vorms van menslike tekortkoming word
uitsluitlik aan sosio-ekonomiese oorsake toegeskryf, en word dit geglo dat
wanneer sulke wanaanpassings reggestel word, misdaad sal verdwyn. Dus het
Bertrand Russell in 1945 geskryf:
“Heelwat van die haat in die wêreld spruit uit swak
spysvertering en die onvoldoende funksionering van die kliere, wat ’n gevolg is
van onderdrukking en dwarsboming in die jeugjare. In ’n wêreld waar die
gesondheid van die jeug genoegsaam besorg word en hulle lewensdrange die
maksimale ruimte gegee word, paslik met hulle eie gesondheid en dié van hul
metgeselle, sal mans en vroue meer moedig en minder kwaadaardig grootword as
wat huidiglik die geval is.
“Met sulke mense en ’n internasionale regering, mag die
wêreld miskien stabiel en tog beskaafd word.”
Liggelowigheid
is nie tot mense van geloof beperk nie.
a. Die
bestaan van ’n religieuse sin in die mens
’n Intuïtiewe sin van die bestaan van ’n skepper
met ’n belangstelling in die mensdom word in elke groep gevind, sulke
geïsoleerde rasse soos Boesmans[12]
en Eskimos[13] ingesluit,
en mense wie se tegnologie in menseheugenis dit van die Steentydperk was.
Hierdie aanvaarding van ’n geestelike matrys wat elke indiwidu vanaf geboorte
tot aan die dood omsluit, en waarmee hy verhoudinge kan vestig, is ’n intuïsie
soortgelyk aan dit wat ons oortuig van die realiteit van die fisiese wêreld om
ons. Dit verg nie die aanvaarding van enige teologiese sisteem nie, ook nie
lidmaatskap van enige religieuse sekte nie. Die vorm wat ’n mens se godsdiens
mag aanneem word vanselfsprekend deur kultuur en opvoeding, sosiale klas en
familie-agtergrond aangepas. Nietemin moet die teenwoordigheid van hierdie
religieuse sin, ten spyte van die oorlegsel van sosiologiese aansetsels,
verduidelik word. Dit is sekerlik konsekwent met die bestaan van ’n spirituele
werklikheid. Aaanvaarding hiervan verg geloof: bevestiging kom daarna, en die
subjektiewe geldigheid word sterker in ’n lewe van toewyding, en dra sy eie
oortuiging aan die sensitiewe persoon.
Sulke ervaring moet ’n mens op sy
eie verkry, as persoonlike ontdekking, en soms kom dit sonder waarskuwing
vooraf. Dit behels begrip eerder as kennis, en is dus nie die outomatiese
uitvloeisel van teologiese opleiding nie. C S Lewis het dit vergelyk met die
verskil tussen ’n teksboek vir aardrykskunde en persoonlike kennis van die land
waarvan dit jou vertel.
Hierdie onafhanklikheid van
indoktrinasie of opvoeding moet beklemtoon word, want sommige religieuse groepe
het groot klem op geleerdheid gelê, soos byvoorbeeld die Fariseërs. Jesus kon
egter juig dat hierdie dinge van die wyse en verstandiges versteek is, en aan
babas openbaar is.[14]
Paulus, wat self eens ’n Fariseër van die Fariseërs was, het geskryf beide van
die toeganklikheid van die geloof aan eenvoudige mense en van die
ontoeganklikheid daarvan aan blote geleerdheid:
“Dit was
die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot
kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die
prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo . . . ons
verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot, en vir
die ander [die Grieke] is dit onsin.”[15]
Hy het dit ook genoem dat “nie veel
wyse manne” geroepe is nie – wat gelukkig vir sommige van ons ’n opening
oorlaat. Beide Magi en skaapwagters het hul weg na Betlehem gevind.
Dit is wat ’n mens sou kon verwag,
indien hierdie vermoë om God te ken bedoel was as seën vir alle mense, en nie
slegs ’n kultuursegment wat slegs aan ingewydes toeganklik is nie. Dit moet
erken word dat daar sommiges in wie hierdie sin blykbaar atrofies is; of dit
die gevolg is van onbruik of weens ontwikkelingsgebrek, kan ek nie sê nie.
James Barrie het sulkes beskryf as “without invisible means of support”.[16]
Vandag bied die wêreld min geleentheid vir die kultivering van die geestelike
lewe, ten spyte van die vermeerdering van vrye tyd. In Engeland is dit geskat
dat die gemiddelde persoon 2½ uur per dag voor die telivisiestel deurbring.[17]
Dit is vanselfsprekend dat ons niks verkry nie – sy dit nou kennis,
vaardigheid, kreatiewe verrigting of geestelike ervaring – sonder om op die
reëls te let en die prys te betaal. Behalwe dat ’n ingestemde toehoorder verg,
het religieuse ontwikkeling sy dissiplines van gebed, Skrif lees, meditasie en
aanbidding. Waar ’n mens betrek word by ’n roetine van tydrowende
onbeduidendhede, word dit nie maklik aangekweek nie.
As voorbeeld van die skielike
flikkering van geestelike insig, haal ek die insident aan van een van die manne
wat saam met Jesus gekruisig is. Hierdie booswigte, lees ons in Matteus, het
Hom uitgetart met die teenstrydigheid tussen Sy aanspraak op mag en Sy
verknorsing, Sy vertroue op God en die afwesigheid van hulp in hierdie
ellendige tyd, Sy titel van koning en die verwerping deur Sy onderdane. Markus
vertel eenvoudig dat hulle hom gelaster het. Toe, volgens wat ons vertel word,
het hulle een sin van die lippe van Jesus gehoor: “Vader, vergeef hulle, want
hulle weet nie wat hulle doen nie.”[18]
Hierna word een van hulle getransformeer: die opskrif het waarheid geword in
plaas van ’n bespotting, en die feit van kruisiging irrelevant in sy aansien
van die Een langs hom. Met die woorde “Jesus, dink aan my wanneer U in u
koninkryk kom,” het hy die eerste Christen geword wat gesterf het, sonder enige
behoefte aan doop, aanname, geloofsbelydenis of laaste oliesel, maar met ’n
hoopvolle versekering wat die ongesiene aanskou het.
Rasionaliste het verskeie argumente
teen hierdie trant van redenering geopper:
1. Die universele voorkoms van
hierdie sin in die mensdom word verduidelik as die behoud van ’n primitiewe sin
van hulpeloosheid teenoor die magte van die natuur, en die behoefte aan
gerusstelling. Dit kyk die kern mis: die hulpeloosheidssin is duidelik, maar
wat verduidelik moet word is die universele sin van die teenwoordigheid van
God, en dit is beslis nie die enigste moontlike reaksie op die behoefte vir gerusstelling.
2. Sommige het dit gestel dat hulle
van hierdie belewenis niks weet nie, maar dit is geen argument nie as die
kleurblinde dit opper dat hy nie rooi van groen kan onderskei nie. Dit is
genoeg dat ’n meerderheid mense vir hierdie belewenis sensitief is, dat hulle
andersins normaal is, en dat hulle uit allerhande lewensweë kom, die
wetenskaplike ingesluit. Dit is nie op grond van onkunde, gebrek aan opvoeding
of indoktrinasie te verduidelik nie. Dit moet juis genoem word dat vele van die
mees militante Rasionaliste godsdienstig grootgemaak is, tog het hulle
ongevoelig gebly. Nog meer belangrik is dié wat in Rasionalistiese huise
grootgemaak is maar wat tog op die een of ander wyse ’n gevoeligheid ontwikkel
het.
3. Die ontdekking van hallusinogene
dwelms het andere gelei tot die argument dat aangesien sulke middels dit
moontlik maak om ekstase in andersins normale mense op te wek, ons alle
ekstatiese belewenisse buite rekening kan laat. Dit volg beslis nie.
Verdowingsmiddels verduidelik nie normale slaap nie, opkikkers diskrediteer nie
uiterse inspanning nie, ook nie verminder bedaarmiddels ons erkenning van
manhaftigheid nie. Dit word in elk geval nie beweer nie dat ekstase essensieel
is vir die ondervinding van God. Die teenoorgestelde is waar: ekstase is die
uitsondering, en die voorkoms of afwesigheid daarvan het geen betrekking op
geloof nie.
4. Dit mag laastens geargumenteer
word dat daar ander algemene houdings van die mensdom wat ongeldig is. Dus
aanvaar mense nie die ewekansigheid van toevallige gebeure nie. Mense glo by
voorbeeld intuïtief dat nadat ’n sekere kleur aanhoudend in ’n roulette-spel
opgekom het, die teenoorgestelde kleur op die volgende spin van die wiel meer
waarskynlik is. Ook sal hulle glo dat nadat ’n muntstuk keer op keer kruis opgekom
het, dit die volgende heer munt sal wees. Ander hou vol dat ’n mens met genoeg
wilskrag die volgende rol van die dobbelstene kan beïnvloed (psigokinese).
Sulke houdinge word sterk deur dié wat met die teorie van ewekansige gebeure
vertroud is, gerepudieer, alhoewel hulle definisies van ewekansigheid dikwels
die smaak het van sirkulêre argumente.
Nietemin is ’n geloof wat nie baie
ver van die religieuse sin is nie, onderliggend aan die populêre gedagtes oor
die werking van die toeval. Indien ’n mens die bestaan van ’n transendente en
immanente mag in die Heelal aanvaar, word die term “ewekansig” relatief, en
sulke gebeure is dan in uitsonderlike omstandighede aan bonatuurlike beheer
onderworpe. Dus lees ons in die Ou Testament: “In die skoot word die lot
gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.”[19]
Voor Pinkster is die lot op soortgelyke wyse gebruik om ’n apostel te kies, nà
gebed dat Gods keuse geopenbaar sal word.[20]
In mense wat die bestaan van ’n alomteenwoordige en alvermoënde Wese aanvaar,
is hierdie houding nie verbasend nie.
b. Die
Gewete
Die bestaan van ’n morele sin in die mens word in elke twis onuitgesproke
erken. In vele religieë, en veral in die Joods-Christelike groepering, word dit
gekombineer met ’n sin van verantwoordelikheid aan ’n eties perfekte Wese, wie
se standaarde dié is van die heelal. Ons gemeenskap met God word geaffekteer
deur ’n erkenning van nalating in die behoud van hierdie standaarde: die gewete
maak ons bewus van ons skuld en tekortkominge. Daardeur erken die mens sy
sondelikheid, en poog hy om ten koste van gerief of lus ’n beter weg in te
slaan. Die gedagte aan ’n absolute standaard word in Abraham se vraag “Sal die
regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?”[21]
beliggaam.
Die vraagstukke van reg en verkeerd
word nie in alle religieë geopper nie. Die Griekse gode en godinne het met die
gewete niks te doen gehad nie, en het eerder sinlike lus aangemoedig, met die
moontlike uitsondering van die sombere Pluto. Hulle godhede het op menslike
arrogansie of hubris gereageer maar, indien die mites enige aanduiding
is, was hulle losbandig en amoreel, en die praktyk van tempel-prostitusie
bevestig hierdie blykbaar felle oordeel.
Die Japannese etiek het op
soortgelyke wyse op nougeset korrekte optrede gekonsentreer, en daar is ’n
tendens vir die skaamtesin om die plek in te neem van skuld. Hul religie,
alhoewel Boeddhisties in oorsprong, is grotendeels amoreel. Optrede in
omstandighede waarvoor daar in die kode niks neergelê is nie, soos byvoorbeeld
in motorverkeer of as wêreldheersers, kom voor as hopeloos oneens met die
hoflikhede van die konvensionele situasies. Hier is die gewete blykbaar
heeltemal deur sosiale drukke onderdruk; nietemin is die voorkoms en
voortbestaan van Christen-groepe in Japan getuienis daarvoor dat dit nie ’n
nasionale of ras-tekortkoming nie, maar is dit sosiaal genoop is.
Die bestaan van die gewete kan
natuurlik erken word maar verduidelik as die uitvloeisel van of die behoeftes
van die stamlewe. Waar sulke binnewaartse standaarde ten gunste is van die
groep se oorlewing, kan dit geargumenteer word dat sulke groepe ’n selektiewe
voordeel sou hê oor die amoreel of die sedeloos. (’n Mens sou dit graag wil
sien dat sulke seleksie ten gunste van ’n goeie gewete in die internasionale
politiek sou voortleef!) Hierdie siening beskou alle etiese standaarde as
relatief en buigbaar. Dit word nie ontken nie dat sosiale gebruike hierdie
gewete sal kondisioneer, maar dit is ’n growwe oorvereenvoudiging om dit te
stel dat hulle die bestaan daarvan verduidelik. Sosiale faktore sal die
plaaslike padreëls bepaal, of enige ander reël, en my oorlewing mag van my
aanvaarding hiervan afhang, maar dit verduidelik nie die bestaan binne my van
’n sin van wat ek behoort om te doen, apart van wat ek sou verkies om te doen.
Die Hindoe-weduwee mag voel dat sy op haar man se doodsbrandstapel selfmoord
behoort te pleeg, terwyl die Westerse weduwee sou voel dat sy eerder die
krematorium nie vir hierdie doel sou wil gebruik nie, maar in beide is die
pligsin apart van persoonlike neiging, voordeel of oorlewing. Verwarring tussen
oorsaak en effek is die bron van veel gerieflik los gedagtes oor hierdie
onderwerp.
Wat stel die standaard vir morele
voortreflikheid? Sou dit deur die menseverstand bepaal word, wat aan die winde
van passie, selfsug en sosiale invloed onderworpe is, sou hy gou tot die vlak
van die laagste gemeenskaplike noemer neerdaal. Daarenteen erken die mens
standaarde wat hoër is as sy eie, en sal hy dikwels eers die regtheid van ’n
sekere koers erken as dit aan hom deur die held of die heilige gedemonstreer
is, en dan word dit iets waarna hy kan aspireer. Dus toe sir Philip Sidney die
drankie water vir ’n ander gewonde man aangegee het, of toe Jesus die mens
beveel het om hul vyand lief te hê, erken ons standaarde wat nie vir ons of vir
ons samelewings kenmerk nie. Ons kan dan ook die regtheid van Jesus se
opvatting van die weduwee se geldstukkies: “Dit verseker ek julle: Hierdie arm
weduwee het meer ingegooi as al die ander. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed
in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy
gehad het om van te lewe.”[22]
Die aanhoudende gewildheid van die insameling van munte dui daarop dat die les
onder fondsinsamelaars nie algemeen aanvaar word nie, selfs nie godsdienstiges
nie.
Ander het gepoog om aan die
gemeenskap die standaard te laat stel. Aan die einde van daardie gedagtetrant
is die Staat die arbiter van reg en verkeerd, en die gevolge is nie bemoedigend
nie. In ’n half-eeu van Russiese Kommunisme het ons die sistematiese
verdraaiing van die waarheid gesien, die oorskryf van die geskiedenis, die
verhore van Moskou en die regverdiging van Lysenko[23] – en die blinde dwaasheid
wat die bevindinge van sulke ondersoeke gepubliseer het. Dit mag wees dat die
verheerliking van die Staat of persoonlike abmbisie vir gewetens so onsensitief
of onbetroubaar kan maak dat dié wat vir die publikasie verantwoordelik was,
heeltemal buite voeling was met die sedelike oorleg van nasies van anderse
uitkyke.
Nòg die standaarde van die mens nòg
dié van die staat is genoegsaam om die gewete te verklaar. Humanistiese leer
kan geen ander bron vir sulke standaarde vind nie en moet op die persoonlike
skatting staatmaak. Die swakheid van hul posisie mag versteek word deur die
edellike optrede van baie Humaniste, hul resmatige verontwaardiging oor onreg,
hul sosiale bewustheid en hul agtenswaardige lewens – en dit alles mag aan
sommiges suggereer dat ’n morele lewe onafhanklik van godsdienstige geloof
behaal kan word. Hierdie sining mag verder aangemoedig word deur die duidelike
huigelary van heelwat wat sigself as Christelik voorgee. Weinige Humaniste
erken hoeveel hulle uit hulle erfenis uit ’n Christelike era put, ’n tyd wie se
standaarde as selfsprekend beskou word, alhoewel die fondamente daarvan verwerp
is. Hierdie verskynsel is al beskryf as ’n “cut-flower ethic”,[24]
wat verdoem is om op die lange duur weg te kwyn omdat dit met sy wortels alle
verbintenis verloor het. Tog is daar weinige sendinghospitale wat deur
Humaniste aangevoer is, en is daar ’n verskil tussen aandag trek op sosiale
ongeregthede en ’n persoonlike kommitering tot die verbetering van jou eie
lewe.
Gelukkig vir sy persoonlike vrede
koester die Rasionalis ’n onvoorwaardelike geloof in die aanhoudende vordering
van die mensdom. Hierdie opinie, aangesien dit ’n basiese beginsel is, is
beskou as iets wat so vanselfsprekend was dat bewyse onnodig is. Dit paai die
mensetrots op aanvaarbare wyse, want dit lê die blaam vir mislukking op ander.
Die optimisme daarvan is ongeneeslik, en kon Shelley aldus profeteer:
The world’s great age begins anew,
The golden years return,
The earth doth like a snake renew
Her winter weeds outworn . . .
Another Athens shall arise
Bequeath like sunset to the skies
The splendour of its prime.[25]
Dit kom miskien onwelwillend voor om
twyfel uit te spreek, maar sulke sieninge het nietemin in die huidige tyd ’n
smakie van misnoeë. Die welvarende samelewing het homself nie as misdaadvry
betoon nie. Inteendeel dui kriminele rekords ’n aanhoudende vermeerdering in
misdaad sedert die Tweed Wêreldoorlog, wat aanvanklik aan na-oorlogse
onewewigtigheid toegeskryf is, maar daardie verskoning is teen hierdie tyd
uitgedien. Dit is eerder voor die hand liggend dat, soos lord Goddard dit
gestel het, die oorsake van misdaad deesdae dieselfde is as wat dit nog altyd
was, dit wil sê wellus, gierigheid, hebsug en jaloesie. Die sosialisering van
die middele van produksie het nie ’n wondermiddel uitgedraai nie: dit het die
werking van menslike tekortkominge miskien in een sfeer beperk, maar die
ingebore swakhede van die private eienaars het in die amptenare weer kop
uitgesteek.
Die
realistiese benadering tot menslike vordering word in ’n brief van Benjamin
Franklin aan Joseph Priestley, waarin hy opgemerk het:
“Die
snelle vordering wat die ware Wetenskap tans maak, laat my soms spyt wees dat
ek te gou gebore is. Dit is onmoontlik om jou in te dink na watter hoogtes dit
oor ’n duisend jaar gedra kan word, die mag van die mens oor blote stof
. . . Die landbou mag sy arbeid verminder en sy produksie verdubbel,
en alle siektes mag met betroubare middels verhoed of genees word
. . . Hoe wens ek dat die morele Wetenskap ook so mooi sou kan
verbeter, dat mense sou ophou om vir mekaar wolwe te wees.”[26]
’n Realisme van sulke aard word op
die mensdom afgedwing, en die ontwikkeling van kernkrag het bloot die
onveiligheid van nasies beklemtoon. Vir die realistiese en ontnugterde
Agnostikus lê die enigste troos in die hoop dat hy op die een of ander wyse
miskien verkeerd mag wees.
By vergelyking begin die Christelike
uitkyk op die mens ontnugter, en eindig dit vol hoop. Dit aanvaar die
natuurlike verdorwenheid van die onwedergeborene mens, dit sien vir hom hoop
slegs indien dit erken word, en soos hy regkom met die Bron van sedelike
standaarde. Die Christen erken die bestaan van die bose, en alhoewel hy nie die
fundamentele oorsprong daarvan kan verklaar nie, glo hy dat die kwessie deur
Jesus Christus aangespreek en afgehandel is – ’n punt wat Chesterton in The
Man who was Thursday gemaak het.
c. Die
Getuienis van Ontwerp
Met ervaring
van hul eie kreatiewe aktiwiteite het mense vanuit die bestaan van beweging
geredeneer tot ’n Eerste Beweger, vanaf veroorsaking tot ’n Eerste Oorsaak en
van ontwerp na ’n Ontwerper. Die derde hiervan sal hier van nader beskou word.
Die Apostel Paulus het dit gestel dat die heelal genoegsame getuienis voorsien
het van die aard van God,
“wat van God geken kan word in hulle openbaar is
. . . want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af
in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en
goddelikheid”.[27]
Vir die sensitiewe persoon voorsien
die natuur oorvloedige getuienis van die Een daaragter, al is dit nie vir almal
sigbaar nie. George Herbert het geskryf:
Teach me, my God and King,
In all things Thee to
see . . .
A man that looks on glasse
On it may stay his eye;
Or if he pleaseth, through
it passe,
And then the heav’n espie.[28]
Nie almal kan of wil verder as die
onmiddellike detail sien nie, selfs al is die enigste alternatief vir ’n
Ontwerper die siening is dat alles per Toeval onstaan het, en dit verg ’n
geloof in die verrigting van die toevalligheid wat feitlik net so diepgaande is
as dit wat deur godsdiens geverg word. Toeval lei oor die algemeen na nog meer
toegalligheid en vermeerderde entropie, eerder as die gedetailleerde variëteit
van die natuur. Teelkeuse, soos dit deur Maxwell se demoon uitgewys word, het
die vermoë om variëteit uit toevallige molekulêre bewgings te bring, maar dit
berus op voorkennis en besorgdheid om die begunstigde rigtings van beweging te
eksploiteer, wat nie ver verwyder is van die begrip van Godheid nie.
Dit moet erken word dat ontwerp
retrospektief uitgeken word, en die bespeuring daarvan hang van ons verbeelding
en begrip af. Ons sal miskien dit kritiseer wat ons, deur ons onkunde, nie
verstaan nie – die snel verminderende lys “nuttelose” organe getuig tot die
selfversekerde arrogansie van die onkunde van die verlede. Aan die ander hand
mag ons dit stel dat ons ontwerp in blote toeval sien. Nietemin, aangesien die
mens self ’n skepper is, is dit nie onredelik nie dat hy die teenwoordigheid
van ontwerp in die werke van die Skepper wie se beeld hy dra, sal gewaar nie.
Dus sal die barbaar wat ’n instrument vind nie vir ’n oomblik dink dat dit per
ongeluk ontstaan het nie, maar sal hy aanneem dat dit deur iemand en vir die
een of ander doel gemaak is. Sy opinie van die doel sal van die instrument
afhang en van die afstand wat die maker van die vinder af skei. Gestel ons man
vind ’n verkyker, behoort dit nie te lank wees nie voordat die funksie daarvan
gevind word, terwyl die doel van ’n sekstant heel moontlik bo sy begrip mag
wees.
In sekere gebide het skeptici
suksesvol die aanspraak op ontwerp wegverduidelik. Dus, alhoewel die aarde
miskien sal lyk of dit by uitstek geskik is vir die onderhoud van die lewe –
die afstand daarvan van die son wat bestralingsintensiteite beheer, die polêre
skuinste wat die seisoene beheer, ’n maan van paslike grootte en afstand wat
die bestek van die getye beheer, die atmosfeer wat gevaarlike bestraling
afweer, die verhouding van water tot grondoppervlakte, wat die reënval en
temperatuur beheer, sy omwenteling elke 24 uur wat die periodes van
hitte-ontvangs en –verlies beheer – al hierdie faktore en meer word as toeval
verduidelik teen die agtergrond van die uitgestrektheid van die heelal. Ander
aardes wat ewe gerieflik is mag in die veelvoudigheid van newelvlekke ook
bestaan, en ek is nie by magte om hieroor te argumenteer nie.
Op soortgelyke wyse word die
wonderbaarlike aanpassing van lewende organismes by hul omgewings aanneemlik
verduidelik deur die swakker oorlewing van organismes wat nie so goed aangepas
is nie – wat die uitwissing van die defektiewe verduidelik, eerder as die
volmaaktheid wat in die oorlewendes gewaar word. Daar is dus sekere meganismes,
die voordeel waarvan slegs teenwoordig is wanneer ’n hoë graad van
doeltreffendheid bereik is. Daar is ’n rolprent vanuit die Moody Institute of
Science wat ’n sidderaal toon wat sy prooi uitken deur middel van iets soos
radar. Dit hou groot voordeel in vir ’n spesie wat modderwater bewoon, maar dit
verg die erkenning van ’n eggo een-drie-duisend-miljoenste van ’n sekonde nà
die uitstraling van die elektriese impuls. Die voordeel van ’n mindere verfyningsgraad
kan swaar ingebeeld word, want die die vermoë om ’n eggo
een-drie-duisend-miljoenste van ’n sekonde nà uitstraling van die impuls sou
blykbaar vir die aal of paling bloot teoreties voorkom, want die reflektor sou
’n halwe kilometer weg wees. Dit is moeilik om jou in te beeld dat so ’n
meganisme ontstaan het aan die einde van ’n suksessie van verbeterings, en òf
’n blote toeval òf ontwerp moet eerder gepostuleer word.
Aangesien dit moontlik is om heelwat
van die getuienis van ontwerp in beide aardrykskunde en biologie weg te
verduidelik, sal ek voorbeelde beskou wat nie deur die tyd verander word nie,
dit wil sê die eienskappe van sekere bekende chemiese stowwe.
Die eerste hiervan is water, die
eienskappe waarvan dit besonder gepas maak vir sy rol as die medium van die
lewe. Die organisasie wat lewende protoplasma verg, sluit die moontlikheid uit
dat dit in die gasagtige staat bereik kan word: die buigbaarheid en chemiese
reaktiwiteit wat dit benodig sluit ook die geheel soliede formaat uit, sodat protoplasma
’n vloeibare medium benodig waarin transformasies en ’n geweldige
verskeidenheid chemiese prosesse kan plaasvind. Daar is uiters min natuurlike
vloeistowwe. Maar die een wat ons as water ken maak driekwart uit van die
oppervlakmateriale op hierdie aardbol. Teen die heersende temperature van die
aarde, sou ’n mens verwag het dat hierdie eenvoudige molekule ’n gas sou wees
(soos sy eweknie H2S, met ’n kookpunt omstreeks 120°C), tog verskyn
water in die natuur in adrie state, as solied, as vloeistof en as gas – en is
in werklikheid die enigste natuurlike stof op aarde waarvoor dit waar is. In
die soliede staat neem dit ’n aantal vorms aan, en in dit wat ons as sneeu ken,
voorsien dit ligte en skuifbare afsettings heelwat minder gevaarlik aan die lewe
as wat ys, haelstene ingesluit, sou wees.
Sy buitengewone optrede by koeling
is algemeen bekend. Soos ander stowwe krimp dit as die verkoel, maar onder 4°C
vind anomale uitsetting plaas wat verysing ophou totdat die hele volume water
4°C bereik het, aangesien kouer water na die oppervlak styg. Ys het selfs laer
densiteit en dryf dit dus, wat latere smelting fasiliteer. Was dit nie hiervoor
nie, het die seë van onder af vas gevries het, en sou die moontlikheid vir die
oorlewing van lewende wesens in die seë grotendeels beperk gewees het.
Die fisiese eienskappe van water
laat dit toe om ’n merkwaardige buffer ate wees teen wisselings in die aarde se
temperatuur. Dit is nie net dat waterdamp infrarooi strale absorbeer nie, en
die wolkekombers verliese deur uitstraling verminder nie, maar die spesifieke
hitte van water is buitengewoon hoog. Die hoeveelheid hitte wat nodig is om ’n
gram water met een graad Celsius te laat styg is dertig maal dit vir kwiksilwer
en nege maal dit van yster. Verdere berging van hitte word deur die
uitsonderlik hoë latente warmte van fusie en van verdamping, onderskeidelik 80
en 539 kalorieë, vergeleke met 3 en 71 in die geval van kwiksilwer. Dit
verseker ’n merkwaardige vlak van temperatuur-stabiliteit op aarde, wat deur sy
rotasie verplig word om sy oppervlak elke nag aan die koue en donkerte van die
ruimte bloot te stel.
Die elektro-chemiese eienskappe is
ewe noemenswaardig. As gevolg van sy polêre struktuur is dit een van die
kragtigste oplosmiddels, want dit het die vermoë om die re-assosiasie van ione
te verhinder. Dit fasiliteer die formasie van ioniese en kolloïdale oplossings.
Die doeltreffendheid as polêre oplosmiddel word deur die diëlektriese konstante
gemeet, wat in water uiters hoog is (81) wanneer dit byvoorbeeld vergelyk word
met dié van ’n olie (sowat 2). Water het ook ’n hoë dipoolmoment wat verband
hou met sy hoë grensvlakspanning, wat so essensieel is vir die kapillêre
bewegings waarop die hoër plante afhang.
Laastens is water ’n merkwaardige
katalisator. Dit fasiliteer die biochemiese veranderings in protoplasma waarvan
dit in elke reaksie ’n essensiële komponent vorm. Dus vind reaksies van
oksidasie by liggaamstemperature, reaksies wat normaalweg die hitte van ’n vlam
verg. Behalwe waar lewe rustend is, soos in sade, is water die hoofkomponent
van protoplasma, en maak ’n groter deel uit as al die oorblywende konstituente
saamgevoeg.
So ’n aggregasie van uitsonderlike
eienskappe maak vir water ’n ideale medium vir die lewe. Dit kan natuurlik
geargumenteer word dat die lewe dit wat dit vind, benuttig, maar ek stel hier
voor dat dit hier iets gevind het wat òf beskou moet word as ’n buitengewone
samevalling van besonderse eienskappe, òf andersins as iets doelbewus in sy weg
geplaas is. Vir die kreatiewe menseverstand is dit ewe maklik om in te beeld
dat water aangepas is vir die toekomstige vereistes van lewende wesens, as om
dit te oorweeg dat lewende wesens aangepas is aan die eienskappe van water. Die
mens natuurlik nie verplig om te wonder nie, en mag vasberade die tegnologie
vermy, en soos wat ’n baba onvoorwaardelik die bors aanvaar, alles net so
aanvaar, maar dit verg die onderdrukking van iets in sy geaardheid wat
gewoonweg na sulke betekenis soek.
Ek vind dan ook in die eienskappe
van koolstof, waterstof en suurstof ’n soortgelyke bron van bevrediging. Die
koolstof-verbindings vorm daardie uitgestrekte reeks stowwe waaruit die
organiese skeikunde bestaan: by vergelyking is die reeks verbindings van
silikoon, wat naby verwant is, heelwat meer beperk. Daarby is die gerief
verbonde aan die uitaseming van die gas koolstofdioksied aansienlik; die
ooreenkomstige verbinding van silikoon is die solied wat ons as kwarts ken. Oor
die algemeen beskou, kan ’n mens vir hierdie groepering van gerieflike
eienskappe makliker verduidelik as ’n gevolg van ontwerp as ’n uitvloeisel van
die infinitesimale waarskynlikheid van ’n toevallige sameloop van
omstandighede.
[12] Dit word tans as “korrek” beskou om na die
Boesman-volkere van Suider-Afrika as San te verwys, omrede hierdie woord se
oorsprong in die taal van die Khoikhoi- (sogenaamde Hottentot)-volk, en weens die
etniese verwantskap tussen Khoikhoi en Boesmans.
Die woord San is egter deur die Khoikhoi
gebruik om neerhalend na hul neefs te verwys, met die impikasie dat hulle
“amper diere” is.
Die oorlewende Boesmanbendes – wat in die
verlede geen begrip gehad het van hulself as etniese groep nie, en slegs die
groepe erken het wat hulle spesifieke taal praat – het in 1995 ooreengekom dat
hulle die woord “Bushmen” verkies omdat hulle in en van die bos leef.
[13] Die woord Eskimo word deesdae nie meer
gebruik nie, want dit is ’n skelterm wat deur Noord-Amerikaanse inboorlinge
vir hierdie volk van die verste noord van beide Noord-Amerika en Siberië gebruik word.
Die verkose woord is huidiglik Inuit. Maar in 1966 was “Eskimo”
steeds die aanvaarde benaming.
[14] Matteus 11:25.
[15] 1 Korintiërs 1:21,23.
[16] Sonder onsigbare steunmiddele.
[17] Hierdie gemiddelde is ongetwyfeld hoër in die
21ste eeu, alhoewel heelwat indiwidue tans soortgelyke ure voor die rekenaar
deurbring, indien hulle tyd nie heeltemal daardeur geabsorbeer word nie.
[18] Lukas 23:34. In die gepubliseerde weergawe
van hierdie referaat, word hierdie verwysing foutiewelik aangegee as Lukas
23:24.
[19] Spreuke 16:33.
[20] Handelinge 1:24.
[21] Genesis 18:25.
[22] Lukas 21:3,4.
[23] Trofim Denisovitch Lysenko was, volgens die Encyclopædia
Britannica (my vertaling), “feitlik die diktator van biologie in die
Kommunistiese wêreld in die 1930s”.
Sy heeltemal onwetenskaplike teorieë oor
plantlewe, tesame met sy politieke en akademiese invloed, het ’n
landbouproduksieramp verseker, maar hy is deur beide Stalin en Chroesjtjof
beskerm, en is eers in 1965, nà die val van Chroesjtjof, gerepudieer.
[24] ’n Etiek soos blomme in ’n pot, sonder
wortels.
[25] “Die groot era van die wêreld begin opnuut, /
Die goue jare keer weer, / Die aarde hernieu soos ’n slang die verslete
wintersklere . . . / ’n Nuwe Athene sal ontstaan / En aan ’n
verre tyd / Soos die sonsondergang aan die hemele / die luister van sy bloeityd
bemaak.
[26] “The rapid progress true Science now
makes, occasions my regretting sometimes that I was born so soon. It is
impossible to imagine the height to which may be carried, in a thousand years,
the power of man over matter. . . . Agriculture may diminish its
labour and double its produce; and all diseases may by sure means be prevented
or cured. . . . O that moral Science were in as fair a way of
improvement, that men would cease to be wolves to one another.”
[27] Romeine 1:19,20.
[28] Leer vir my, my God en Koning, / om in alle
dinge U de sien . . . / ’n Mens mag ’n glas beskou / Sy oog mag
daarop bly rus; / Of as hy wil, daardeur kyk, / En dan die hemel beskou.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle