Heiliges & Jaargetye
http://uk.oocities.com/saintsnseasons

Die rasionale basis van religieuse ervaring
Deel 3

deur A G Oettle

vertaal deur Mike Oettle

Terug na Deel 2

DIE OPENBARING VAN GOD

Die wetenskap maak geen voorsiening vir openbaring nie, dit wil sê kennis wat ontleen is uit God se openbaarmaking van Homself aan ’n indiwidu, onderskei van empiriese kennis, wat onderworpe is aan herhaling en bevestiging deur ander – en die wetenskap sluit ook nie die moontlikheid van sulke openbaring uit nie. In hierdie sin, het die moderne wetenskap niks met vra oor God te maak nie, en in sy bestudering van die wêreld word dit nie van die wetenskap verwag dat dit as Gods skepping beskou moet word nie. Ook word dit nie deur die wetenskaplike redenering van jou verwag dat jy dit so sal aanvaar nie.

Die doel van hierdie bespreking is egter om te demonstreer dat die houding van die gelowige nie onredelik is nie, en om dit te doen moet ek jou vir die oomblik versoek om die onderwerp vanuit my gesigspunt te benader. Gestel dan dat jy die moontlikheid van ’n Godheid erken, dink dan hoe sou so ’n Wese Homself aan die mens sou bekend stel. ’n Transendente Wese kan nie as sulks bekend word nie, dus sou die bewys van Sy bestaan indirek moet wees. Sulke bewys kan dan subjektief sowel as objektief wees. Dus sou mense miskien ’n aanvoeling gegee word van Sy bestaan – ’n onverduidelikbare gewaarheid van die bonatuurlike: aan die ander hand, mag hulle in Sy werke bewyse van die Skepper vind, soos wat enige skepping iets van die skepper weerspieël. Hy sou miskien meer presiese boodskappe aan uitgekose persone – die profete – deur spesiale openbaring oorgee. En uiteindelik sou Hy miskien self in inkarnasie kom, ten spyte van die beperking en inperking van die absolute en transendente eienskappe wat dit meebring. Minder direkte bewyse kan gevind word in die getuienis van Sy mag in menselewens.

Vir dié wat reeds in so ’n Wese glo, voorsien sulke verskeie riglyne van bewyse sterk ondersteuning vir hulle geloof. Maar die skeptici vee dit eenkant as oorbehoudsel van vorige bygelowe. Dit is egter aanmerklik dat dieselfde skeptici hulle heelwat minder krities hou wanneer dit kom by ander gelowe waarvoor die bewyse heelwat minder aanvaarlik is as dit van die gelowe wat hulle verloën. Byvoorbeeld het verskeie prominente Rasionaliste onvoorwaardelik die beloftes van die Kommunisme aanvaar, die genoegsaamheid van Wetenskaplike Humanisme as mag ten goede, die onafwendbaarheid van die mens se verbeterende vooruitgang, of die omgewingsgebonde verduidelikings van sy boosaardigheid. Dit is byvoorbeeld op ’n stadium volhou dat in die Kommunistiese samelewing alkoholisme – daardie jammerlike getuie van die mens se onvermoë om die goeie te verkies – sou verdwyn. Ander vorms van menslike tekortkoming word uitsluitlik aan sosio-ekonomiese oorsake toegeskryf, en word dit geglo dat wanneer sulke wanaanpassings reggestel word, misdaad sal verdwyn. Dus het Bertrand Russell in 1945 geskryf:

 

“Heelwat van die haat in die wêreld spruit uit swak spysvertering en die onvoldoende funksionering van die kliere, wat ’n gevolg is van onderdrukking en dwarsboming in die jeugjare. In ’n wêreld waar die gesondheid van die jeug genoegsaam besorg word en hulle lewensdrange die maksimale ruimte gegee word, paslik met hulle eie gesondheid en dié van hul metgeselle, sal mans en vroue meer moedig en minder kwaadaardig grootword as wat huidiglik die geval is.

“Met sulke mense en ’n internasionale regering, mag die wêreld miskien stabiel en tog beskaafd word.”

 

Liggelowigheid is nie tot mense van geloof beperk nie.

 

a. Die bestaan van ’n religieuse sin in die mens

’n Intuïtiewe sin van die bestaan van ’n skepper met ’n belangstelling in die mensdom word in elke groep gevind, sulke geïsoleerde rasse soos Boesmans[12] en Eskimos[13] ingesluit, en mense wie se tegnologie in menseheugenis dit van die Steentydperk was. Hierdie aanvaarding van ’n geestelike matrys wat elke indiwidu vanaf geboorte tot aan die dood omsluit, en waarmee hy verhoudinge kan vestig, is ’n intuïsie soortgelyk aan dit wat ons oortuig van die realiteit van die fisiese wêreld om ons. Dit verg nie die aanvaarding van enige teologiese sisteem nie, ook nie lidmaatskap van enige religieuse sekte nie. Die vorm wat ’n mens se godsdiens mag aanneem word vanselfsprekend deur kultuur en opvoeding, sosiale klas en familie-agtergrond aangepas. Nietemin moet die teenwoordigheid van hierdie religieuse sin, ten spyte van die oorlegsel van sosiologiese aansetsels, verduidelik word. Dit is sekerlik konsekwent met die bestaan van ’n spirituele werklikheid. Aaanvaarding hiervan verg geloof: bevestiging kom daarna, en die subjektiewe geldigheid word sterker in ’n lewe van toewyding, en dra sy eie oortuiging aan die sensitiewe persoon.

Sulke ervaring moet ’n mens op sy eie verkry, as persoonlike ontdekking, en soms kom dit sonder waarskuwing vooraf. Dit behels begrip eerder as kennis, en is dus nie die outomatiese uitvloeisel van teologiese opleiding nie. C S Lewis het dit vergelyk met die verskil tussen ’n teksboek vir aardrykskunde en persoonlike kennis van die land waarvan dit jou vertel.

Hierdie onafhanklikheid van indoktrinasie of opvoeding moet beklemtoon word, want sommige religieuse groepe het groot klem op geleerdheid gelê, soos byvoorbeeld die Fariseërs. Jesus kon egter juig dat hierdie dinge van die wyse en verstandiges versteek is, en aan babas openbaar is.[14] Paulus, wat self eens ’n Fariseër van die Fariseërs was, het geskryf beide van die toeganklikheid van die geloof aan eenvoudige mense en van die ontoeganklikheid daarvan aan blote geleerdheid:

 

“Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo . . . ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot, en vir die ander [die Grieke] is dit onsin.”[15]

 

Hy het dit ook genoem dat “nie veel wyse manne” geroepe is nie – wat gelukkig vir sommige van ons ’n opening oorlaat. Beide Magi en skaapwagters het hul weg na Betlehem gevind.

Dit is wat ’n mens sou kon verwag, indien hierdie vermoë om God te ken bedoel was as seën vir alle mense, en nie slegs ’n kultuursegment wat slegs aan ingewydes toeganklik is nie. Dit moet erken word dat daar sommiges in wie hierdie sin blykbaar atrofies is; of dit die gevolg is van onbruik of weens ontwikkelingsgebrek, kan ek nie sê nie. James Barrie het sulkes beskryf as “without invisible means of support”.[16] Vandag bied die wêreld min geleentheid vir die kultivering van die geestelike lewe, ten spyte van die vermeerdering van vrye tyd. In Engeland is dit geskat dat die gemiddelde persoon 2½ uur per dag voor die telivisiestel deurbring.[17] Dit is vanselfsprekend dat ons niks verkry nie – sy dit nou kennis, vaardigheid, kreatiewe verrigting of geestelike ervaring – sonder om op die reëls te let en die prys te betaal. Behalwe dat ’n ingestemde toehoorder verg, het religieuse ontwikkeling sy dissiplines van gebed, Skrif lees, meditasie en aanbidding. Waar ’n mens betrek word by ’n roetine van tydrowende onbeduidendhede, word dit nie maklik aangekweek nie.

As voorbeeld van die skielike flikkering van geestelike insig, haal ek die insident aan van een van die manne wat saam met Jesus gekruisig is. Hierdie booswigte, lees ons in Matteus, het Hom uitgetart met die teenstrydigheid tussen Sy aanspraak op mag en Sy verknorsing, Sy vertroue op God en die afwesigheid van hulp in hierdie ellendige tyd, Sy titel van koning en die verwerping deur Sy onderdane. Markus vertel eenvoudig dat hulle hom gelaster het. Toe, volgens wat ons vertel word, het hulle een sin van die lippe van Jesus gehoor: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”[18] Hierna word een van hulle getransformeer: die opskrif het waarheid geword in plaas van ’n bespotting, en die feit van kruisiging irrelevant in sy aansien van die Een langs hom. Met die woorde “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom,” het hy die eerste Christen geword wat gesterf het, sonder enige behoefte aan doop, aanname, geloofsbelydenis of laaste oliesel, maar met ’n hoopvolle versekering wat die ongesiene aanskou het.

Rasionaliste het verskeie argumente teen hierdie trant van redenering geopper:

1. Die universele voorkoms van hierdie sin in die mensdom word verduidelik as die behoud van ’n primitiewe sin van hulpeloosheid teenoor die magte van die natuur, en die behoefte aan gerusstelling. Dit kyk die kern mis: die hulpeloosheidssin is duidelik, maar wat verduidelik moet word is die universele sin van die teenwoordigheid van God, en dit is beslis nie die enigste moontlike reaksie op die behoefte vir gerusstelling.

2. Sommige het dit gestel dat hulle van hierdie belewenis niks weet nie, maar dit is geen argument nie as die kleurblinde dit opper dat hy nie rooi van groen kan onderskei nie. Dit is genoeg dat ’n meerderheid mense vir hierdie belewenis sensitief is, dat hulle andersins normaal is, en dat hulle uit allerhande lewensweë kom, die wetenskaplike ingesluit. Dit is nie op grond van onkunde, gebrek aan opvoeding of indoktrinasie te verduidelik nie. Dit moet juis genoem word dat vele van die mees militante Rasionaliste godsdienstig grootgemaak is, tog het hulle ongevoelig gebly. Nog meer belangrik is dié wat in Rasionalistiese huise grootgemaak is maar wat tog op die een of ander wyse ’n gevoeligheid ontwikkel het.

3. Die ontdekking van hallusinogene dwelms het andere gelei tot die argument dat aangesien sulke middels dit moontlik maak om ekstase in andersins normale mense op te wek, ons alle ekstatiese belewenisse buite rekening kan laat. Dit volg beslis nie. Verdowingsmiddels verduidelik nie normale slaap nie, opkikkers diskrediteer nie uiterse inspanning nie, ook nie verminder bedaarmiddels ons erkenning van manhaftigheid nie. Dit word in elk geval nie beweer nie dat ekstase essensieel is vir die ondervinding van God. Die teenoorgestelde is waar: ekstase is die uitsondering, en die voorkoms of afwesigheid daarvan het geen betrekking op geloof nie.

4. Dit mag laastens geargumenteer word dat daar ander algemene houdings van die mensdom wat ongeldig is. Dus aanvaar mense nie die ewekansigheid van toevallige gebeure nie. Mense glo by voorbeeld intuïtief dat nadat ’n sekere kleur aanhoudend in ’n roulette-spel opgekom het, die teenoorgestelde kleur op die volgende spin van die wiel meer waarskynlik is. Ook sal hulle glo dat nadat ’n muntstuk keer op keer kruis opgekom het, dit die volgende heer munt sal wees. Ander hou vol dat ’n mens met genoeg wilskrag die volgende rol van die dobbelstene kan beïnvloed (psigokinese). Sulke houdinge word sterk deur dié wat met die teorie van ewekansige gebeure vertroud is, gerepudieer, alhoewel hulle definisies van ewekansigheid dikwels die smaak het van sirkulêre argumente.

Nietemin is ’n geloof wat nie baie ver van die religieuse sin is nie, onderliggend aan die populêre gedagtes oor die werking van die toeval. Indien ’n mens die bestaan van ’n transendente en immanente mag in die Heelal aanvaar, word die term “ewekansig” relatief, en sulke gebeure is dan in uitsonderlike omstandighede aan bonatuurlike beheer onderworpe. Dus lees ons in die Ou Testament: “In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.”[19] Voor Pinkster is die lot op soortgelyke wyse gebruik om ’n apostel te kies, nà gebed dat Gods keuse geopenbaar sal word.[20] In mense wat die bestaan van ’n alomteenwoordige en alvermoënde Wese aanvaar, is hierdie houding nie verbasend nie.

 

b. Die Gewete

Die bestaan van ’n morele sin in die mens word in elke twis onuitgesproke erken. In vele religieë, en veral in die Joods-Christelike groepering, word dit gekombineer met ’n sin van verantwoordelikheid aan ’n eties perfekte Wese, wie se standaarde dié is van die heelal. Ons gemeenskap met God word geaffekteer deur ’n erkenning van nalating in die behoud van hierdie standaarde: die gewete maak ons bewus van ons skuld en tekortkominge. Daardeur erken die mens sy sondelikheid, en poog hy om ten koste van gerief of lus ’n beter weg in te slaan. Die gedagte aan ’n absolute standaard word in Abraham se vraag “Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?”[21] beliggaam.

Die vraagstukke van reg en verkeerd word nie in alle religieë geopper nie. Die Griekse gode en godinne het met die gewete niks te doen gehad nie, en het eerder sinlike lus aangemoedig, met die moontlike uitsondering van die sombere Pluto. Hulle godhede het op menslike arrogansie of hubris gereageer maar, indien die mites enige aanduiding is, was hulle losbandig en amoreel, en die praktyk van tempel-prostitusie bevestig hierdie blykbaar felle oordeel.

Die Japannese etiek het op soortgelyke wyse op nougeset korrekte optrede gekonsentreer, en daar is ’n tendens vir die skaamtesin om die plek in te neem van skuld. Hul religie, alhoewel Boeddhisties in oorsprong, is grotendeels amoreel. Optrede in omstandighede waarvoor daar in die kode niks neergelê is nie, soos byvoorbeeld in motorverkeer of as wêreldheersers, kom voor as hopeloos oneens met die hoflikhede van die konvensionele situasies. Hier is die gewete blykbaar heeltemal deur sosiale drukke onderdruk; nietemin is die voorkoms en voortbestaan van Christen-groepe in Japan getuienis daarvoor dat dit nie ’n nasionale of ras-tekortkoming nie, maar is dit sosiaal genoop is.

Die bestaan van die gewete kan natuurlik erken word maar verduidelik as die uitvloeisel van of die behoeftes van die stamlewe. Waar sulke binnewaartse standaarde ten gunste is van die groep se oorlewing, kan dit geargumenteer word dat sulke groepe ’n selektiewe voordeel sou hê oor die amoreel of die sedeloos. (’n Mens sou dit graag wil sien dat sulke seleksie ten gunste van ’n goeie gewete in die internasionale politiek sou voortleef!) Hierdie siening beskou alle etiese standaarde as relatief en buigbaar. Dit word nie ontken nie dat sosiale gebruike hierdie gewete sal kondisioneer, maar dit is ’n growwe oorvereenvoudiging om dit te stel dat hulle die bestaan daarvan verduidelik. Sosiale faktore sal die plaaslike padreëls bepaal, of enige ander reël, en my oorlewing mag van my aanvaarding hiervan afhang, maar dit verduidelik nie die bestaan binne my van ’n sin van wat ek behoort om te doen, apart van wat ek sou verkies om te doen. Die Hindoe-weduwee mag voel dat sy op haar man se doodsbrandstapel selfmoord behoort te pleeg, terwyl die Westerse weduwee sou voel dat sy eerder die krematorium nie vir hierdie doel sou wil gebruik nie, maar in beide is die pligsin apart van persoonlike neiging, voordeel of oorlewing. Verwarring tussen oorsaak en effek is die bron van veel gerieflik los gedagtes oor hierdie onderwerp.

Wat stel die standaard vir morele voortreflikheid? Sou dit deur die menseverstand bepaal word, wat aan die winde van passie, selfsug en sosiale invloed onderworpe is, sou hy gou tot die vlak van die laagste gemeenskaplike noemer neerdaal. Daarenteen erken die mens standaarde wat hoër is as sy eie, en sal hy dikwels eers die regtheid van ’n sekere koers erken as dit aan hom deur die held of die heilige gedemonstreer is, en dan word dit iets waarna hy kan aspireer. Dus toe sir Philip Sidney die drankie water vir ’n ander gewonde man aangegee het, of toe Jesus die mens beveel het om hul vyand lief te hê, erken ons standaarde wat nie vir ons of vir ons samelewings kenmerk nie. Ons kan dan ook die regtheid van Jesus se opvatting van die weduwee se geldstukkies: “Dit verseker ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.”[22] Die aanhoudende gewildheid van die insameling van munte dui daarop dat die les onder fondsinsamelaars nie algemeen aanvaar word nie, selfs nie godsdienstiges nie.

Ander het gepoog om aan die gemeenskap die standaard te laat stel. Aan die einde van daardie gedagtetrant is die Staat die arbiter van reg en verkeerd, en die gevolge is nie bemoedigend nie. In ’n half-eeu van Russiese Kommunisme het ons die sistematiese verdraaiing van die waarheid gesien, die oorskryf van die geskiedenis, die verhore van Moskou en die regverdiging van Lysenko[23] – en die blinde dwaasheid wat die bevindinge van sulke ondersoeke gepubliseer het. Dit mag wees dat die verheerliking van die Staat of persoonlike abmbisie vir gewetens so onsensitief of onbetroubaar kan maak dat dié wat vir die publikasie verantwoordelik was, heeltemal buite voeling was met die sedelike oorleg van nasies van anderse uitkyke.

Nòg die standaarde van die mens nòg dié van die staat is genoegsaam om die gewete te verklaar. Humanistiese leer kan geen ander bron vir sulke standaarde vind nie en moet op die persoonlike skatting staatmaak. Die swakheid van hul posisie mag versteek word deur die edellike optrede van baie Humaniste, hul resmatige verontwaardiging oor onreg, hul sosiale bewustheid en hul agtenswaardige lewens – en dit alles mag aan sommiges suggereer dat ’n morele lewe onafhanklik van godsdienstige geloof behaal kan word. Hierdie sining mag verder aangemoedig word deur die duidelike huigelary van heelwat wat sigself as Christelik voorgee. Weinige Humaniste erken hoeveel hulle uit hulle erfenis uit ’n Christelike era put, ’n tyd wie se standaarde as selfsprekend beskou word, alhoewel die fondamente daarvan verwerp is. Hierdie verskynsel is al beskryf as ’n “cut-flower ethic”,[24] wat verdoem is om op die lange duur weg te kwyn omdat dit met sy wortels alle verbintenis verloor het. Tog is daar weinige sendinghospitale wat deur Humaniste aangevoer is, en is daar ’n verskil tussen aandag trek op sosiale ongeregthede en ’n persoonlike kommitering tot die verbetering van jou eie lewe.

Gelukkig vir sy persoonlike vrede koester die Rasionalis ’n onvoorwaardelike geloof in die aanhoudende vordering van die mensdom. Hierdie opinie, aangesien dit ’n basiese beginsel is, is beskou as iets wat so vanselfsprekend was dat bewyse onnodig is. Dit paai die mensetrots op aanvaarbare wyse, want dit lê die blaam vir mislukking op ander. Die optimisme daarvan is ongeneeslik, en kon Shelley aldus profeteer:

 

The world’s great age begins anew,

The golden years return,

The earth doth like a snake renew

Her winter weeds outworn . . .

 

Another Athens shall arise

And to remoter time

Bequeath like sunset to the skies

The splendour of its prime.[25]

 

Dit kom miskien onwelwillend voor om twyfel uit te spreek, maar sulke sieninge het nietemin in die huidige tyd ’n smakie van misnoeë. Die welvarende samelewing het homself nie as misdaadvry betoon nie. Inteendeel dui kriminele rekords ’n aanhoudende vermeerdering in misdaad sedert die Tweed Wêreldoorlog, wat aanvanklik aan na-oorlogse onewewigtigheid toegeskryf is, maar daardie verskoning is teen hierdie tyd uitgedien. Dit is eerder voor die hand liggend dat, soos lord Goddard dit gestel het, die oorsake van misdaad deesdae dieselfde is as wat dit nog altyd was, dit wil sê wellus, gierigheid, hebsug en jaloesie. Die sosialisering van die middele van produksie het nie ’n wondermiddel uitgedraai nie: dit het die werking van menslike tekortkominge miskien in een sfeer beperk, maar die ingebore swakhede van die private eienaars het in die amptenare weer kop uitgesteek.

Die realistiese benadering tot menslike vordering word in ’n brief van Benjamin Franklin aan Joseph Priestley, waarin hy opgemerk het:

 

“Die snelle vordering wat die ware Wetenskap tans maak, laat my soms spyt wees dat ek te gou gebore is. Dit is onmoontlik om jou in te dink na watter hoogtes dit oor ’n duisend jaar gedra kan word, die mag van die mens oor blote stof . . . Die landbou mag sy arbeid verminder en sy produksie verdubbel, en alle siektes mag met betroubare middels verhoed of genees word . . . Hoe wens ek dat die morele Wetenskap ook so mooi sou kan verbeter, dat mense sou ophou om vir mekaar wolwe te wees.”[26]

 

’n Realisme van sulke aard word op die mensdom afgedwing, en die ontwikkeling van kernkrag het bloot die onveiligheid van nasies beklemtoon. Vir die realistiese en ontnugterde Agnostikus lê die enigste troos in die hoop dat hy op die een of ander wyse miskien verkeerd mag wees.

By vergelyking begin die Christelike uitkyk op die mens ontnugter, en eindig dit vol hoop. Dit aanvaar die natuurlike verdorwenheid van die onwedergeborene mens, dit sien vir hom hoop slegs indien dit erken word, en soos hy regkom met die Bron van sedelike standaarde. Die Christen erken die bestaan van die bose, en alhoewel hy nie die fundamentele oorsprong daarvan kan verklaar nie, glo hy dat die kwessie deur Jesus Christus aangespreek en afgehandel is – ’n punt wat Chesterton in The Man who was Thursday gemaak het.

 

c. Die Getuienis van Ontwerp

Met ervaring van hul eie kreatiewe aktiwiteite het mense vanuit die bestaan van beweging geredeneer tot ’n Eerste Beweger, vanaf veroorsaking tot ’n Eerste Oorsaak en van ontwerp na ’n Ontwerper. Die derde hiervan sal hier van nader beskou word. Die Apostel Paulus het dit gestel dat die heelal genoegsame getuienis voorsien het van die aard van God,

“wat van God geken kan word in hulle openbaar is . . . want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid”.[27]

Vir die sensitiewe persoon voorsien die natuur oorvloedige getuienis van die Een daaragter, al is dit nie vir almal sigbaar nie. George Herbert het geskryf:

 

Teach me, my God and King,

In all things Thee to see . . .

 

A man that looks on glasse

On it may stay his eye;

Or if he pleaseth, through it passe,

And then the heav’n espie.[28]

 

Nie almal kan of wil verder as die onmiddellike detail sien nie, selfs al is die enigste alternatief vir ’n Ontwerper die siening is dat alles per Toeval onstaan het, en dit verg ’n geloof in die verrigting van die toevalligheid wat feitlik net so diepgaande is as dit wat deur godsdiens geverg word. Toeval lei oor die algemeen na nog meer toegalligheid en vermeerderde entropie, eerder as die gedetailleerde variëteit van die natuur. Teelkeuse, soos dit deur Maxwell se demoon uitgewys word, het die vermoë om variëteit uit toevallige molekulêre bewgings te bring, maar dit berus op voorkennis en besorgdheid om die begunstigde rigtings van beweging te eksploiteer, wat nie ver verwyder is van die begrip van Godheid nie.

Dit moet erken word dat ontwerp retrospektief uitgeken word, en die bespeuring daarvan hang van ons verbeelding en begrip af. Ons sal miskien dit kritiseer wat ons, deur ons onkunde, nie verstaan nie – die snel verminderende lys “nuttelose” organe getuig tot die selfversekerde arrogansie van die onkunde van die verlede. Aan die ander hand mag ons dit stel dat ons ontwerp in blote toeval sien. Nietemin, aangesien die mens self ’n skepper is, is dit nie onredelik nie dat hy die teenwoordigheid van ontwerp in die werke van die Skepper wie se beeld hy dra, sal gewaar nie. Dus sal die barbaar wat ’n instrument vind nie vir ’n oomblik dink dat dit per ongeluk ontstaan het nie, maar sal hy aanneem dat dit deur iemand en vir die een of ander doel gemaak is. Sy opinie van die doel sal van die instrument afhang en van die afstand wat die maker van die vinder af skei. Gestel ons man vind ’n verkyker, behoort dit nie te lank wees nie voordat die funksie daarvan gevind word, terwyl die doel van ’n sekstant heel moontlik bo sy begrip mag wees.

In sekere gebide het skeptici suksesvol die aanspraak op ontwerp wegverduidelik. Dus, alhoewel die aarde miskien sal lyk of dit by uitstek geskik is vir die onderhoud van die lewe – die afstand daarvan van die son wat bestralingsintensiteite beheer, die polêre skuinste wat die seisoene beheer, ’n maan van paslike grootte en afstand wat die bestek van die getye beheer, die atmosfeer wat gevaarlike bestraling afweer, die verhouding van water tot grondoppervlakte, wat die reënval en temperatuur beheer, sy omwenteling elke 24 uur wat die periodes van hitte-ontvangs en –verlies beheer – al hierdie faktore en meer word as toeval verduidelik teen die agtergrond van die uitgestrektheid van die heelal. Ander aardes wat ewe gerieflik is mag in die veelvoudigheid van newelvlekke ook bestaan, en ek is nie by magte om hieroor te argumenteer nie.

Op soortgelyke wyse word die wonderbaarlike aanpassing van lewende organismes by hul omgewings aanneemlik verduidelik deur die swakker oorlewing van organismes wat nie so goed aangepas is nie – wat die uitwissing van die defektiewe verduidelik, eerder as die volmaaktheid wat in die oorlewendes gewaar word. Daar is dus sekere meganismes, die voordeel waarvan slegs teenwoordig is wanneer ’n hoë graad van doeltreffendheid bereik is. Daar is ’n rolprent vanuit die Moody Institute of Science wat ’n sidderaal toon wat sy prooi uitken deur middel van iets soos radar. Dit hou groot voordeel in vir ’n spesie wat modderwater bewoon, maar dit verg die erkenning van ’n eggo een-drie-duisend-miljoenste van ’n sekonde nà die uitstraling van die elektriese impuls. Die voordeel van ’n mindere verfyningsgraad kan swaar ingebeeld word, want die die vermoë om ’n eggo een-drie-duisend-miljoenste van ’n sekonde nà uitstraling van die impuls sou blykbaar vir die aal of paling bloot teoreties voorkom, want die reflektor sou ’n halwe kilometer weg wees. Dit is moeilik om jou in te beeld dat so ’n meganisme ontstaan het aan die einde van ’n suksessie van verbeterings, en òf ’n blote toeval òf ontwerp moet eerder gepostuleer word.

Aangesien dit moontlik is om heelwat van die getuienis van ontwerp in beide aardrykskunde en biologie weg te verduidelik, sal ek voorbeelde beskou wat nie deur die tyd verander word nie, dit wil sê die eienskappe van sekere bekende chemiese stowwe.

Die eerste hiervan is water, die eienskappe waarvan dit besonder gepas maak vir sy rol as die medium van die lewe. Die organisasie wat lewende protoplasma verg, sluit die moontlikheid uit dat dit in die gasagtige staat bereik kan word: die buigbaarheid en chemiese reaktiwiteit wat dit benodig sluit ook die geheel soliede formaat uit, sodat protoplasma ’n vloeibare medium benodig waarin transformasies en ’n geweldige verskeidenheid chemiese prosesse kan plaasvind. Daar is uiters min natuurlike vloeistowwe. Maar die een wat ons as water ken maak driekwart uit van die oppervlakmateriale op hierdie aardbol. Teen die heersende temperature van die aarde, sou ’n mens verwag het dat hierdie eenvoudige molekule ’n gas sou wees (soos sy eweknie H2S, met ’n kookpunt omstreeks 120°C), tog verskyn water in die natuur in adrie state, as solied, as vloeistof en as gas – en is in werklikheid die enigste natuurlike stof op aarde waarvoor dit waar is. In die soliede staat neem dit ’n aantal vorms aan, en in dit wat ons as sneeu ken, voorsien dit ligte en skuifbare afsettings heelwat minder gevaarlik aan die lewe as wat ys, haelstene ingesluit, sou wees.

Sy buitengewone optrede by koeling is algemeen bekend. Soos ander stowwe krimp dit as die verkoel, maar onder 4°C vind anomale uitsetting plaas wat verysing ophou totdat die hele volume water 4°C bereik het, aangesien kouer water na die oppervlak styg. Ys het selfs laer densiteit en dryf dit dus, wat latere smelting fasiliteer. Was dit nie hiervoor nie, het die seë van onder af vas gevries het, en sou die moontlikheid vir die oorlewing van lewende wesens in die seë grotendeels beperk gewees het.

Die fisiese eienskappe van water laat dit toe om ’n merkwaardige buffer ate wees teen wisselings in die aarde se temperatuur. Dit is nie net dat waterdamp infrarooi strale absorbeer nie, en die wolkekombers verliese deur uitstraling verminder nie, maar die spesifieke hitte van water is buitengewoon hoog. Die hoeveelheid hitte wat nodig is om ’n gram water met een graad Celsius te laat styg is dertig maal dit vir kwiksilwer en nege maal dit van yster. Verdere berging van hitte word deur die uitsonderlik hoë latente warmte van fusie en van verdamping, onderskeidelik 80 en 539 kalorieë, vergeleke met 3 en 71 in die geval van kwiksilwer. Dit verseker ’n merkwaardige vlak van temperatuur-stabiliteit op aarde, wat deur sy rotasie verplig word om sy oppervlak elke nag aan die koue en donkerte van die ruimte bloot te stel.

Die elektro-chemiese eienskappe is ewe noemenswaardig. As gevolg van sy polêre struktuur is dit een van die kragtigste oplosmiddels, want dit het die vermoë om die re-assosiasie van ione te verhinder. Dit fasiliteer die formasie van ioniese en kolloïdale oplossings. Die doeltreffendheid as polêre oplosmiddel word deur die diëlektriese konstante gemeet, wat in water uiters hoog is (81) wanneer dit byvoorbeeld vergelyk word met dié van ’n olie (sowat 2). Water het ook ’n hoë dipoolmoment wat verband hou met sy hoë grensvlakspanning, wat so essensieel is vir die kapillêre bewegings waarop die hoër plante afhang.

Laastens is water ’n merkwaardige katalisator. Dit fasiliteer die biochemiese veranderings in protoplasma waarvan dit in elke reaksie ’n essensiële komponent vorm. Dus vind reaksies van oksidasie by liggaamstemperature, reaksies wat normaalweg die hitte van ’n vlam verg. Behalwe waar lewe rustend is, soos in sade, is water die hoofkomponent van protoplasma, en maak ’n groter deel uit as al die oorblywende konstituente saamgevoeg.

So ’n aggregasie van uitsonderlike eienskappe maak vir water ’n ideale medium vir die lewe. Dit kan natuurlik geargumenteer word dat die lewe dit wat dit vind, benuttig, maar ek stel hier voor dat dit hier iets gevind het wat òf beskou moet word as ’n buitengewone samevalling van besonderse eienskappe, òf andersins as iets doelbewus in sy weg geplaas is. Vir die kreatiewe menseverstand is dit ewe maklik om in te beeld dat water aangepas is vir die toekomstige vereistes van lewende wesens, as om dit te oorweeg dat lewende wesens aangepas is aan die eienskappe van water. Die mens natuurlik nie verplig om te wonder nie, en mag vasberade die tegnologie vermy, en soos wat ’n baba onvoorwaardelik die bors aanvaar, alles net so aanvaar, maar dit verg die onderdrukking van iets in sy geaardheid wat gewoonweg na sulke betekenis soek.

Ek vind dan ook in die eienskappe van koolstof, waterstof en suurstof ’n soortgelyke bron van bevrediging. Die koolstof-verbindings vorm daardie uitgestrekte reeks stowwe waaruit die organiese skeikunde bestaan: by vergelyking is die reeks verbindings van silikoon, wat naby verwant is, heelwat meer beperk. Daarby is die gerief verbonde aan die uitaseming van die gas koolstofdioksied aansienlik; die ooreenkomstige verbinding van silikoon is die solied wat ons as kwarts ken. Oor die algemeen beskou, kan ’n mens vir hierdie groepering van gerieflike eienskappe makliker verduidelik as ’n gevolg van ontwerp as ’n uitvloeisel van die infinitesimale waarskynlikheid van ’n toevallige sameloop van omstandighede.

 

NA DEEL 4



[12] Dit word tans as “korrek” beskou om na die Boesman-volkere van Suider-Afrika as San te verwys, omrede hierdie woord se oorsprong in die taal van die Khoikhoi- (sogenaamde Hottentot)-volk, en weens die etniese verwantskap tussen Khoikhoi en Boesmans.

Die woord San is egter deur die Khoikhoi gebruik om neerhalend na hul neefs te verwys, met die impikasie dat hulle “amper diere” is.

Die oorlewende Boesmanbendes – wat in die verlede geen begrip gehad het van hulself as etniese groep nie, en slegs die groepe erken het wat hulle spesifieke taal praat – het in 1995 ooreengekom dat hulle die woord “Bushmen” verkies omdat hulle in en van die bos leef.

[13] Die woord Eskimo word deesdae nie meer gebruik nie, want dit is ’n skelterm wat deur Noord-Amerikaanse inboorlinge vir hierdie volk van die verste noord van beide Noord-Amerika en Siberië gebruik word.

Die verkose woord is huidiglik Inuit. Maar in 1966 was “Eskimo” steeds die aanvaarde benaming.

[14] Matteus 11:25.

[15] 1 Korintiërs 1:21,23.

[16] Sonder onsigbare steunmiddele.

[17] Hierdie gemiddelde is ongetwyfeld hoër in die 21ste eeu, alhoewel heelwat indiwidue tans soortgelyke ure voor die rekenaar deurbring, indien hulle tyd nie heeltemal daardeur geabsorbeer word nie.

[18] Lukas 23:34. In die gepubliseerde weergawe van hierdie referaat, word hierdie verwysing foutiewelik aangegee as Lukas 23:24.

[19] Spreuke 16:33.

[20] Handelinge 1:24.

[21] Genesis 18:25.

[22] Lukas 21:3,4.

[23] Trofim Denisovitch Lysenko was, volgens die Encyclopædia Britannica (my vertaling), “feitlik die diktator van biologie in die Kommunistiese wêreld in die 1930s”.

Sy heeltemal onwetenskaplike teorieë oor plantlewe, tesame met sy politieke en akademiese invloed, het ’n landbouproduksieramp verseker, maar hy is deur beide Stalin en Chroesjtjof beskerm, en is eers in 1965, nà die val van Chroesjtjof, gerepudieer.

[24] ’n Etiek soos blomme in ’n pot, sonder wortels.

[25] “Die groot era van die wêreld begin opnuut, / Die goue jare keer weer, / Die aarde hernieu soos ’n slang die verslete wintersklere . . . / ’n Nuwe Athene sal ontstaan / En aan ’n verre tyd / Soos die sonsondergang aan die hemele / die luister van sy bloeityd bemaak.

[26]The rapid progress true Science now makes, occasions my regretting sometimes that I was born so soon. It is impossible to imagine the height to which may be carried, in a thousand years, the power of man over matter. . . . Agriculture may diminish its labour and double its produce; and all diseases may by sure means be prevented or cured. . . . O that moral Science were in as fair a way of improvement, that men would cease to be wolves to one another.”

[27] Romeine 1:19,20.

[28] Leer vir my, my God en Koning, / om in alle dinge U de sien . . . / ’n Mens mag ’n glas beskou / Sy oog mag daarop bly rus; / Of as hy wil, daardeur kyk, / En dan die hemel beskou.


Counter

Terug na bo

For English, click here


Terug na inleiding

Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


Skryf vir my: Mike Oettle