’n Wapen uit eie bodem
deur Mike Oettle
BAIE Afrikanerfamilies het nie enige wapen wat hulle mag voer nie.
Daardie punt het ek lankal beklemtoon. Maar dit beteken nie dat jy lewenslank sonder ’n familiewapen moet sit nie.
Christo Welgemoed, ’n afgetrede radio-uitsaaier wat in Lorraine Manor, Port Elizabeth(voorheen deel van Walmer), geleef het, het vasgestel dat sy familie, van Duitse herkoms, nooit ’n wapen gevoer het nie – nie in Duitsland nie, en ook nie uit hoofde van die reeks versinde wapens wat in die 1940s deur N H Theunissen in Die Brandwag gepubliseer is nie.
Waar daar glad geen wapen bestaan nie, het ’n mens die vryheid om self een op te trek, en dis juis wat Christo gedoen het.
Eers het hy homself met die verlede van sy familie bekend gemaak. Die stamvader, Johann Gottlieb Wohlgemuth, is in 1760 op Königsberg in Pruise gebore.
Königsberg, wat ook in Afrikaans as Koningsbergen bekend staan, was voor 1701 die hoofstad van die hertogdom Pruise in Pole. In 1701 het Friedrich III von Hohenzollern, keurvors van Brandenburg en hertog van Pruise, homself (as Friedrich I) tot Koning in Pruise verklaar. Later het die titel verander na Koning van Pruise, en die naam Pruise is vir al die Brandenburgse besittings gebruik.
Königsberg was vir die Hohenzollerns so belangrik dat elke nuwe koning vanaf Berlyn daarheen gereis het om eers as koning van Pruise gekroon te word, selfs nà die stigting van die Duitse Ryk in 1871. (Die konings van Pruise was tot in 1918 ook Duitse Keisers, maar is slegs as koning bekroon, nie as keiser nie.)
So belangrik was Königsberg vir die Duitsers dat toe die Sowjet-Unie se Rooi Leër in 1945 die stad ingeneem het, hulle dit dadelik totaal gesloop het, al die Duitse inwoners uit die noordelike helfte van Oos-Pruise verjaag het, en Russiese setlaars ingebring. Vandag staan die stad as Kaliningrad bekend, en al is die gebied ver van Rusland af, vorm dit steeds (na die val van die Sowjet-Unie) deel van die Russiese Republiek.
Maar nouja, Johann Gottlieb was nie ’n adellike Pruis nie, bloot ’n Duitser wat ’n bestaan moes probeer maak, en hy het Nederland toe gereis om as bootsman by die Vereenigde Oostindische Compagnie aan te sluit.
Die VOC het hom Kaap toe gestuur, en hy het in 1795 uit Jan Compagnie se diens uitgetree. Hy het sy weg na die kolonie se oosgrens gevind, en is in 1841 op sy plaas Welgevonden in die distrik Uitenhage oorlede.
Langs die weg (moontlik reeds in Nederland) het sy naam verhollands, en sy naam staan in Kaapse dokumente as Johan Godlieb Welgemoed. Cor Pama gee die betekenis van die van as “lighartig”.
Die wapen wat Christo opgestel het is 20 April 2001 deur die Staatsheraldikus geregistreer. Dit kan so geblasoeneer word:
Wapen: In blou, ’n omgewende hoofletter W in Ou Engelse teks, in die skildhoof vergesel van vier naasmekaar geplaaste sespuntige sterre, alles van silwer, die geheel binne ’n goue skildsoom.
Helmteken: ’n Goue adelaar met uitgespreide vleuels, rooi getong, op die bors belaai met die letter uit die skild van blou.
Wrong en dekklede: Blou en goud.
Wapenspreuk: Immer Welgemoed.
Christo is in 2003 oorlede, dus behoort hierdie wapen tans aan sy seun, Christo Jacobus Welgemoed, wat ongetroud is. Twee van Christo se drie dogters is getroud, en indien hul broer nie trou nie, sal hulle die wapen vir hul kinders as kwartering kan aangee. Maar hy is steeds jonk, en sal nog miskien vrou vind en kinders kry.
Om die wapens van Christo se vier kinders te sien, gaan na hierdie bladsy.
Terug na Armoria familia-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle