LOS- EN VASSKRYF - OPSOMMENDE AFRIKAANSE SPELREËLS EN OPMERKINGS

| Tuisblad | Koop die AWS | Geskiedenis van die AWS | Taalkommissie-lede | Oorsig oor die reënboog-AWS | Spelreëls en kommentaar (ons s'n en joune ook) | Omgangstaalafrikaans | Weggelate woorde | Debat oor die 1991-AWS | Skakels |

Kliek hier vir die spelreëls-hoofbladsy.

LOS- EN VASSKRYF

Die laaste sê oor die los- of vasskryf van woorde is nog nie gedoen nie. Die volgende dinge het 'n invloed op die keuse van los of vas:

Daar is ander oorwegings ook, maar die jongste AWS skryf dit te kort om verstaanbaar te wees, en omdat ons nie verstaan wat hulle met die prys van eiers te doen het nie, het ons hulle uit dié lysie weggelaat.

(14.1) Afsonderlike woorde word los geskryf. (14.2) Woorddele word vas geskryf.

(14.3) Dele van samestellings word vas geskryf. (14.4) Reduplikasies word met 'n koppelteken vas geskryf. (14.5) Samestellings met afkortings, simbole, syfers ens word met 'n koppelteken vas geskryf aan daardie afkorting, simbool of syfer.

Die reëls oor samestellings met 'n eienaamkomponent het drasties verander... let mooi op! Vroeër (in 1991) kon enige samestelling wat 'n eienaam as woorddeel bevat het, los of vas of gekoppel geskryf word. Nou, in 2002, maak dis skielik saak watter woordsoort die samestelling sélf is. As die samestelling ook 'n eienaam is, kan dit los geskryf word, maar as die samestelling nie sélf ook 'n eienaam is nie... nouja... dan moet dit vas of met 'n koppelteken geskryf word.

Prof Ernst Kotzé het 'n artikeltjie geskryf oor hoekom ons nou weer moet vasskryf waar ons vroeër mog losskryf. Ons het intussen 'n kommentaartjie en weerlegging van dié artikel geskryf -- lees dit gerus en sê wat jy dink.

(14.6) Samestellings met eiename in, waar die samestelling sélf ook 'n eienaam is, kan op verskillende maniere geskryf word, onder meer: vas sonder koppelteken, vas met 'n koppelteken, en 'n hoofletter ná die koppelteken, vas met 'n koppelteken en 'n kleinletter na die koppelteken, los met albei woorde 'n hoofletter. Straatname word vas geskryf as dit nie 'n eienaam-element bevat nie, maar as dit 'n eienaam-element bevat, kan dit soos in reël 14.6 geskryf word (hoewel "vas" die normale manier is). Ad hoc, by besigheidsame waar daar 'n samestelling is, maar geen eienaam-elemente in voorkom nie, kan dit ook los geskryf word omdat die een woord kwansuis die waarde van 'n eienaam gekry het omdat dit 'n besigheidsnaam is.

(14.7) (14.10) (14.11) (14.12) Samestellings met eiename in, waar die samestelling 'n soortnaam is, kan die woord op twee maniere geskryf word: vas sonder koppelteken, of vas met koppelteken waar die tweede deel nie 'n hoofletter kry nie.

(14.9) In samestellings word akronieme en lettername wat van 'n eienaam afkomstig is, ook as "eiename" gereken en dienooreenkomstig hanteer.

(14.8) Plekname se spelling word deur die regering gereël. Die spelling van taalname word op 'n ander manier hanteer as ander soort eiename.

Die volgende taalname word vas sonder 'n koppelteken geskryf: (14.13) Taalname in die vorm [s.nw.]+[taalnaam], (14.14) in die vorm [geografiese naam]+[taalnaam], (14.15) in die vorm [naam van gebruikersgroep]+[taalnaam], (14.16) in die vorm [onverboë b.nw.]+[taalnaam], (14.17) in die vorm [ww.]+[taalnaam], en (14.18) in die vorm [voorvoegsel]+[taalnaam].

Die volgende taalname word vas met 'n koppelteken geskryf: (14.19) Taalname in die vorm [afleiding van 'n geografiese naam]+[taalnaam], (14.20) in die vorm =[nie-s.nw.-deel][o]+[taalnaam] (waar die nie-s.nw.-deel gewoonlik afgelei is van 'n eienaam, anders sou dit soos reël 14.18 geskryf moes word), (14.21) in die vorm [taalnaam]+[taalnaam] en [volksnaam van die taalgebruikers]+[taalnaam], en (14.22) in die vorm [windrigting]+[taalnaam].

Enige taalnaam met 'n opeenhoping van klinkers kry 'n koppelteken, in welke geval albei stukke met 'n hoofletter geskryf word (as die samestelling nie 'n taalnaam is nie, maar 'n soortnaam, is dinge anders...). REGSTELLING: Die woorde "kry 'n koppelteken" is vroeër per abuis uit hierdie paragraaf gelaat.

Die volgende uitsonderings word los geskryf: Taalname met "ou", "nuwe", "swart", "wit" en diesulke onverboë byvoeglike naamwoorde. (14.23) Taalname met verboë byvoeglike naamwoorde word ook los geskryf (selfs al berus die byvoeglike naamwoord op 'n eienaam of taalnaam).

(14.24) Woordele wat deel van 'n woordgroep uitmaak, word los geskryf. Wat dít ookal mag beteken. (14.25) Afleidings wat uit so'n woordgroep gemaak word, word weer vas geskryf. (14.26) As samestellings met woordgroepe soos in reël 14.24 gemaak word, word alles vas geskryf, behalwe in gevalle waar hoofletters by betrokke is en dit duidelik uit die konteks is dat die woordgroep byeen hoort, of in gevalle waar daar 'n byvoeglike naamwoord by betrokke is, in welke geval daar 'n afstandskoppelteken gebruik kan word.

[x] Kyk ook na die koppelteken-reëls vir verdere uitsonderings en verdere reëlsinge.

Die AWS gebruik die woord "verbinding" om dinge aan te dui wat nie noodwendig samestellings is nie, maar wat wel saam voorkom. Ons gebruik egter die woord "verbinding" om albei betekenisse te gee (konteks, ou maat).

(14.27) Verbindings in die vorm [b.nw.]+[s.nw.] word los geskryf, tensy daar 'n betekenisverandering plaasvind in die vasgeskrewe vorm. (14.28) Waar dit lyk of iets 'n s.nw. is, maar eintlik 'n kleuraanduiding is, word dit as 'n b.nw. gereken, en los geskryf. (14.29) By plant- en diername, egter, word sulke kleurname (of dan enige kleurname) tradisioneel vas geskryf (maar die voorbeelde wat die AWS gee vir dié reël, is almal vasskrywinge in terme van reël 14.27.

[x] Nou vir die moeiliker stuff... (14.30) Verbindings in die vorm [b.nw.]+[s.nw.] waar die hele verbinding 'n byvoeglikenaamwoord-funksie het, word die verbinding vas geskryf, maar die verbinding sélf word los van die daaropvolgende woord geskryf. As die verbinding egter net attributief en nie predikatief nie as byvoeglike naamwoord kan optree, word dit vas geskryf aan die woord wat daarna kom. As die seun 'n dikbek seun is, is hy dikbek, maar as die nooi blouoog is, dan is sy nie 'n blouoognooi nie... sy is 'n geslane nooi.

(14.31) By gevalle in die vorm [b.nw.]+[s.nw.] waar die verbinding in geheel 'n nuwe betekenis gekry het, word dit vas geskryf. Vergelyk donker kamer x donkerkamer. As daar twyfel oor die graad van verdigting is (m.a.w. as jy nie weet of jy dit moet vas of los skryf ingevolge reël 14.31 nie), kan dit vas én los geskryf word.

(14.42) Hooftelwoorde kan met of sonder koppelteken geskryf word in die vorm [telwoord]+[en]+[telwoord] (en dit geld ook (14.45) vir rangtelwoorde van dié soort), tensy (14.43) dit 'n samestelling met =tien is (en dit wat vir reël 14.45 en 14.44 geld, geld ook hier). Samestellings (14.44) met =honderd, =duisend, ens kan los of vas geskryf word, sonder koppelteken.

(14.32) Verbindings met telwoorde word los geskryf, tensy daar 'n ander rede is vir die vasskryf. Verbindings met dubbele rangtelwoorde kan los of vas geskryf word. (14.32) Verbindings in die vorm [telwoord]+[enkele ander woord], waar betekenisverandering ingetree het, word ook vas geskryf. (14.34) Straatname met telwoorde kan los of vas geskryf word, tensy (14.35) die telwoord as 'n syfer geskryf word, in welke geval dit los geskryf moet word. (14.36) Rangtelwoorde plus geografies naam word vas geskryf, maar (14.37) hooftelwoorde plus 'n geografiese naam word los geskryf as die geografiese naam 'n meervoudsvorm is, en (14.38) vas geskryf indien die geografiese naam 'n enkelvoudsvorm is. (14.39) En ai, telwoordverbindings met al= word altyd los geskryf. (14.40) Samestellings en afleidings van telwoorde word vas geskryf.

(14.41) Maatbepalingss met 'n b.nw. as kern, word los geskryf. (14.47) By woordgroepe met 'n byvoeglike naamwoord as kern word byvoeglike naamwoorde en graadname los geskryf, hoewel daar gevalle soos "pasgebore" is waar tradisioneel vas geskryf word.

(14.48) Verbindings in die vorm [woorddeel]+[ww.] word vas geskryf, tensy dit geskei word in die sin, in welke geval dit obviously los geskryf word (sonder afstandskoppeltekens). In gevalle waar daar tradisioneel meer as een keuse is, kan dit ook los geskryf word. In die geval van (14.49) [naamwoord]+[ww.] waar die samestelling as 'n werkwoord optree, en daar 'n betekenis-verdigting plaasgevind het, word dit vas geskryf. Weereens kan woorde waaroor jy onseker is, los ook skryf. (14.50) Dieselfde wat vir reël 14.49 geld, geld ook vir woorde in die vorm [bywoord/b.nw.]+[ww.]. REGSTELLING: Vroeër het die eerste sin van hierdie paragraaf 'n ekstra "en woordeel" in gehad, wat nou verwyder is.

(14.51) Samestellings in die vorm [voornaamwoord]+[self] kan los of vas geskryf word. [x] Die AWS maak 'n hoeha oor die nie-erkenning van die anglisistiese taalgebruik om samestellings soos in reël 14.51 te gebruik waar net "self" sou doen, maar gee geen leiding oor of dit los of vas geskryf sou word nie. Blykbaar hoop die Taalkommissie dus dat as hulle nie sê hoe 'n ding geskryf moet word nie, sal die ding nie meer gebesig word nie. Foeitog. Blykbaar kan jy dit dus in die anglisistiese taalgebruik dus ook los of vas skryf. Let ook op dat die los of vas vorms soms verskillende betekenisse mag hê.

(14.52) Bywoordelike uitdrukkings wat nie 'n s.nw.-deel bevat nie, word los geskryf, behalwe as (14.53) dit 'n verbinding met =eens is, in welke geval dit vas geskryf word (dit geld ook vir "meteens", al is dit 'n bastervorm van "met een"). (14.54) Verbindings met 'n s.nw. met =toe, word los geskryf. Altyd. Maar (14.55) verbindings met =toe waar dit nie 'n s.nw. is nie, maar 'n bywoord, word dit vas geskryf.

(14.56) Verbindings van setsels met hier= en daar= word vas geskryf, tensy (14.57) die hier en daar as bywoorde van plek gebruik word.

Op bladsy 172-173 word 'n lys los en vas uitdrukkings gegee. Lees en leer.

KOMMENTAAR

Ons verwelkom kommentaar van ons lesers, hetsy kommentaar op ons opmerkings of direk kommentaar op die spelreëls sélf. Skryf solank jou kommentaar, en wanneer ons klaar is, sal ons die posadres gee waarheen jy jou kommentaar kan stuur. Kommentaar word onderaan elke hoofstuk geplaas (anoniem of met jou naam).


Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.

Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.

π