Distriksowerhede in Suid-Afrika
deur Mike Oettle
SUID-AFRIKAANSE distriksowerhede kan teruggevoer word tot die aanstelling deur Kommandeur Simon van der Stel[1]
in Augustus 1682 van vier heemraden of plaaslike raadslede vir die distrik Stellenbosch, wat gemagtig is om klein verskille te besleg en om oorsig te hê oor paaie en brûe.
Die eerste landdrost in die kolonie is in 1685 vir Stellenbosch aangestel. Hierdeur is ’n vorm plaaslike bestuur aan die Kaap die Goeie Hoop daargestel wat tot 1827 sou voortduur, en ’n amp ingebring wat, alhoewel dit tweemaal afgeskaf is, vandag bestaan. Die landdrost was ex officio voorsitter van die hof of kollege (collegie) heemraden, wat verantwoordelikheid gehad het vir administrasie en mindere jurisdiksie in beide dorp en distrik.
Die term landdrost is in Nederland nie onbekend nie, maar die korter vorm drost is daar beter bekend. Dit is ’n verkorting van die Oud-Nederlandse drossaard, of drossate, wat ’n persoon was wat die gesag van die Staat in plattelandse distrikte of graafskappe verteenwoordig het.
Die argaïse woord heem is verwant aan die Duitse woord Heim en die Engelse home (dit kom in Nederlandse plekname voor, gewoonlik in die vorm -heim). In Nederland is ’n heemraad ’n persoon wat aangestel is om oor dyke en polders oorsig te hê.
Die terme landdrost en heemraden was ook in Nederlandse Oos-Indië in gebruik; aangesien die Kaapse nedersetting onder die gesag van die Goewerneur-Generaal in Batavia (tans Djakarta) geval het, was dit natuurlik dat bestuurstrukture aan die Kaap geskep sou word wat ooreenstem met dié van Nederlands-Indië.
Onder Nederlandse regering is verdere drostdijen[2]
te Swellendam (1745), Graaff-Reinet (1785-86), Uitenhage (1803) en Tulbagh (dorp 1795 gestig, distrik 1804 geskep) gestig.[3]
In die Kaapse distrik, waar Kaapstad die setel was van beide die Kommandeur/Goewerneur (kyk voetnoot 1) en die Raad van Justitie, is ’n hof van landdrost en heemraden eers in 1809 onder Britse gesag aangestel.
Die sisteem van landdrost en heemraden is tydens die bewind van die Bataafse Republiek (1803-06) hervorm toe Kommissaris-Generaal Jacob Abraham Uitenhage de Mist, onder andere hervormings, aan die heemraden vir hul regsbesluite duidelike geskrewe riglyne gegee het. (Sulke riglyne het nie in die tyd van die Vereenigde Oostindische Compagnie bestaan nie.)
Kommissaris-generaal De Mist het ook ’n outonome dorpsraad vir Kaapstad geskep (die Raad der Gemeente Kaapstad, die eerste in die land) en aan hierdie inrigting, asook aan die vyf drostdijen, wapens verleen. Die patroon vir hierdie wapens was ’n skild met ’n enkel anker as skildhouer. In elke geval het die skild die familiewapen gedra van die stigter of naamgewer van die dorp – die wapen van Jan van Riebeeck vir Kaapstad, Simon van der Stel vir Stellenbosch, Hendrik Swellengrebel vir Swellendam, Cornelis van de Graaff vir Graaff-Reinet, Ryk Tulbagh vir Tulbagh, en De Mist self vir Uitenhage.
Die anker was lank reeds ’n simbool van die Kaap Colonie – ’n simboliese maagd wat Hoop verteenwoordig het, met ’n anker om die deug wat sy voorgestaan het, voor te staan, is sedert die 17de eeu as simbool van die kolonie gebruik
In 1827 het die Waarnemende Goewerneur, generaal-majoor Richard Bourke, die Charter of Justice (Regsoktrooi) afgevaardig, wat die pos van landdrost afgeskaf het, en in die plek daarvan magistrate en civil commissioners (siviele kommissarisse) aangestel het. Die rolle van regsbeampte en administrateur is steeds (gewoonlik) in een persoon vereenselwig, maar in sy regsfunksie is die beampte ’n magistraat genoem, terwyl hy in sy administratiewe hoedanigheid ’n civil commissioner was. Hierdie dualiteit het in die meeste van Kaapkolonie se distrikte/siviele afdelings bestaan, maar in enkele instansies is magisteriële
distrikte gestig wat onderafdelings van siviele afdelings was. Dit was veral die geval in die Kaapse Skiereiland, wat ’n enkel afdeling gevorm het, maar in die 19de eeu drie magisteriële distrikte: Kaapstad, Wynberg en Simonstad.
Toe die eerste rade van munisipale kommissarise (wat later munisipale rade genoem is) in 1840 gestig is, het hierdie rade (op die dorpe wat vroeër drostdysetels was) die reg op die paslike drostdywapen aanvaar.
In 1855 het sir Andries Stockenström die Divisional Councils Act (Wet op Afdelingsrade) deur die Kaapse Parlement gevoer. Dit het voorsiening gemaak vir die oprig van ’n plattelandse bestuursraad in elke siviele afdeling, met in elke geval die siviele kommissaris as voorsitter. Hierdie stelsel is in alle dele van die Kaapkolonie toegepas, met uitsondering van die Transkeigebied (kyk Transkei).
Een Transkeise afdeling, dié van Umzimkulu in die verre noord-ooste, het ’n plaaslike padraad bekom, wat beskou is as gelyk aan ’n afdelingsraad, maar in die res van Transkei was beheer in die hande van magistrate en statutêre stamowerhede.
Siviele kommissarisse het onder die Unie van Suid-Afrika verdwyn, en die afdelingsrade het daarna hul eie voorsitters gekies.
Afdelingsrade het eers nie wapens gevoer nie, maar toe hulle dit begin doen het, was die drosdywapens reeds etlike jare deur die betrokke munisipaliteite gebruik, en die afdelingsrade moes nuwe simbole vind.
In 1958 het die Unie-regering aangekondig dat die term landdros in die gevolg gebruik sou word as die Afrikaanse ekwivalent vir magistrate (die woord magistraat is vroeër gebruik).
Op sy hooggety het die Kaapprovinsie 92 afdelingrade gehad (waar die naam van die afdeling van dié van die distriksetel verskil, word die hoofdorp se naam tussen hakies gegee):
Aberdeen, Albany (Grahamstad), Albert (Burgersdorp), Alexandria, Aliwal-Noord, Barkly-Oos, Barkly-Wes, Bathurst, Beaufort-Wes, Bedford, Bredasdorp, Britstown, Caledon, Calitzdorp, Calvinia, Carnarvon, Cathcart, Ceres, Clanwilliam, Colesberg, Cradock, De Aar, Elliot, Fort Beaufort, Fraserburg, George, Gordonia (Upington), Graaff-Reinet, Hanover, Hay (Griekwastad), Heidelberg, Herbert (Douglas), Hopetown, Humansdorp, Indwe, Jansenville, Kaap, Kenhardt, Kimberley, King William’s Town, Knysna, Komga, Kuruman, Ladismith, Lady Grey, Laingsburg, Loxton, Maclear, Mafeking, Malmesbury, Maraisburg (Hofmeyr), Middelburg, Molteno, Montagu, Mosselbaai, Murraysburg, Namaqualand (Springbok), Oos-Griekwaland (Kokstad), Oos-Londen, Oudtshoorn, Paarl, Pearston, Philipstown, Piketberg, Port Elizabeth, Prieska, Prince Albert, Queenstown, Richmond, Riversdal, Robertson, Somerset-Oos, Stellenbosch, Sterkstroom, Steynsburg, Steytlerville, Stutterheim, Sutherland, Swellendam, Tarka (Tarkastad), Tulbagh, Uitenhage, Uniondale, Vaalharts, Vanrhynsdorp, Venterstad, Victoria West, Vryburg, Williston, Willowmore, Wodehouse (Dordrecht) en Worcester.
Die Kaapse Afdeling was ’n uitsondering op hierdie stelsel. Dit het teen 1970 uit vyf landdrosdistrikte bestaan (met inbegrip van Bellville en Goodwood), asook dele van die distrikte Stellenbosch en Malmesbury, en het nege munisipaliteite en 17 plaaslike gebiede ingesluit. Die Kaapse Afdelingsraad was die heel eerste wat in 1855 tot stand gekom het. Volgens Wet 33 van 1909 het dit die Rural Council of the Cape Division (Plattelandse Raad van die Kaapse Afdeling) geword, maar volgens ’n ordonnansie van 1917 het dit na sy oorspronklike naam teruggegaan. Dit het wyer magte gehad as enige van die ander 91 afdelingrade gehad, en groter belastingsvermoë.
Die Afdelingsraad Oos-Griekwaland het ná Transkeise onafhanklikheid in 1976 ’n takkantoor van die Natalse Provinsiale Administrasie geword toe hierdie afdeling aan die kleiner provinsie oorhandig is.
In die 1970s het die hoë onkoste van plattelandse administrasie die Kaapse Provinsiale Administrasie gedwing om verskeie afdelingsrade te amalgameer. In die Algoabaai-streek het die Afdelingsraad Dias tot stand gekom; in die omgewing van George, die Afdelingsraad Outeniqua; en in die Grensgebied die Afdelingsraad Stormberg (in Queenstown gesetel) en die Afdelingsraad Kaffraria (in Oos-Londen gesetel). Die Kaffraria-afdeling se naam herinner aan die kolonie British Kaffraria, wat vanaf 1847 tot 1866 ’n aparte bestaan gehad het; alhoewel daardie kolonie die distrik Oos-Londen ingesluit het, het dit egter nie Oos-Londen self ingesluit nie.
In die 1980s is ’n nuwe stelsel van streeksdiensterade ingebring. Sulke SDRs het verdere konsolidasie van bestaande afdelingsrade gesien.
Die herorganisasie van plaaslike bestuur van 1995 (ná die verkiesing van die eerste na-apartheidse Parlement in 1994) het die inbring gesien van distriksrade, wat die proses van amalgamasie ’n stap verder gebring het.
Die tweede na-apartheidse herorganisasie, wat in 2000 geïmplementeer is, het in ’n radikale verandering uitgedraai waaronder munisipale en distriks-gesag die eerste maal sederd 1840 gekombineer is. Dit lyk gepas om hierdie geskiedienis hier te eindig, en om die sisteem sedert 2000 apart te oorweeg.
Die stelsel van afdelingsrade het uniek aan die Kaap gebly, en het geen ekwivalent in die ander drie state wat in 1910 in die Unie saamgekom het nie.
Die Republiek Natalia het in 1840 drie distrikte georganiseer – Port Natal, Pietermaritzburg en Winburg – elk met ’n landdrost en heemraden, maar hierdie stelsel het in 1841 verval met die anneksasie van die staat as die Kolonie Natal. Blykbaar het die heemraadsamp op Winburg verval toe daardie dorp as deel van die Orange River Sovereignty geannekseer is.
Toe die Oranje Vrij Staat en Zuid Afrikaansche Republiek in die 1850s tot stand gekom het, het hierdie state in elke distrik ’n landdrost aangestel, maar geen heemraden nie. Toe hierdie state tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog deur Brittanje (as die Orange River Colony en die Transvaal Colony) geannekseer is, is die landdroste deur magistrate vervang. Hulle het sonder die behulp van enige raad gefunksioneer. Hierdie situasie het ná Unie (1910) in die Provinsie Oranje Vrystaat en die Provinsie Transvaal voortgeduur.
Die enigste gesag wat in die Provinsie Transvaal geskep is, wat gesien kan word as soortgelyk aan afdelingsrade, was die Raad op Buitestedelike Gebiede, wat verantwoordelik was vir die administrasie van (hoofsaaklik blank-bewone) dorpsgebiede en dig bevolkte plattelandse gebiede buite die bestaande geproklameerde munisipaliteite.
Die kolonie en provinsie van Natal het in gelyke wyse magistrate gehad maar geen ander distriksgesag nie.
[1] Simon van der Stel is in 1691 tot Goewerneur bevorder. Isbrand Goske en Johan Bax was vroeër Goewerneurs van die Kaap, maar is slegs hierdie titel gegee omdat hulle reeds elders goewerneurs was. Maar vanaf 1691 is die Kaapse nedersetting tot goewerneurskap verhoog, en was nie meer ’n kommandeurskap nie.
[2] Die woord drostdij dui op beide die gebou wat as tuiste en kantoor van die landdrost gedien het, en die gesag wat hy oor die distrik gevoer het.
[3] Elkeen van Swellendam, Graaff-Reinet en Uitenhage was ’n dorp wat spesifiek in die lewe geroep is om ’n administratiewe sentrum te wees vir ’n ylbevolkte grensstreek. In aldrie was die drostdygebou etlike jare lank die grootste van ’n blote handvol geboue in die dorpie.
Terug na Armoria civica-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle