Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Man van Monte Cassino

deur Mike Oettle

DIE vader van Westerse monastisisme is een van die vele titels wat gegee word aan Bene­dictus van Nursia, wie se dag op 11 Julie val. (Monnike hou dit egter op 21 Maart, die tradisionele datum van sy afsterwe.) ’n Meer onlangse titel is beskermheilige van die ganse Europa, wat in 1964 aan hom gegee is deur pous Paulis VI.

Die mees lankdurende fisiese monument van sy lewe is die abdy op Monte Cas­si­no, wat vele Suid-Afrikaners onthou as die toneel van ’n uitgerekte en helse veldslag van die Tweede Wêreldoorlog tussen die Britse (en Geallieerde) 8ste Leër[1] en nazi-Duitsland in 1944. Maar die abdy is verskeie kere al vernietig (vernaamd, en foutiewelik, deur Geallieerde aksie in ’44) en herbou. Maar dit is oor sy reël vir die kloosterlewe wat ons vir Benedictus onthou.

Omstreeks 480 nC gebore te Nursia (tans Norcia) naby Spoletium (Spoleto, in Umbria) around 480 AD, het Benedictus in sy leeftyd die finale verval van keiserlike Romeinse gesag in Italië (in sy tyd het die keiser vanuit Konstantinopel geheers) en die vervanging daarvan met barbaarse bandeloosheid en pouslike regering. Hy is Rome toe vir sy opvoeding gestuur maar, geskok deur die losbandigheid van die stad, het hy ’n eensame monnikebestaan in die heuwels oos van die stad gaan leef.

Drie jaar lank is hy deur ’n monnik genaamd Romanus gevoed en geklee; Romanus het in een van ’n aantal nabygeleë kloosters gebly. Maar Benedictus is toe oorreed om ab te word van een van die kloosters. Sy ywer vir hervorming het egter daartoe gelei dat iemand hom probeer vergiftig het, en het hy na sy grot teruggekeer. Talle volgelinge het tog om hom saamgedrom, en het hy 12 nuwe kloosters gestig.

Op die ou end het moeilikheid weer uitgebreek en omstreeks 527 het hy na die heuwel bokant die dorpie Cas­sino verskuif, halfpad tussen Rome en Napels, in ’n streek wat steeds grotendeels heidens was – tewens, op die heuwelkruin was daar ’n altaar wat aan Apollo toegewy is. Hier het hy sy lewe uitgeleef, en daarby ook die meeste van die naburige bevolking vir die Christelike geloof gewen.

Sy tweelingsuster, Scholastica, het naby kom woon en het sy ’n vroueklooster gestig. Volgens oorvertelling het broer en suster mekaar slegs eenmaal per jaar gesien, vir slegs een dag. Scholastica, wat na hierdie jaarlikse ontmoetings uitgekyk het, het dikwels geprobeer om Benedictus te probeer oorweeg om langer te bly, maar hy sou altyd aan die einde van die dag loop. By een geleentheid (dit sou die laaste wees) het sy gebid dat hy gedwing sou wees om die nag oor te bly, en is haar gebed beantwoord met ’n aaklige storm wat hom in die vroueklooster laat aanbly het. Hulle het die nag in gebed en diepe geestelike samesyn deurgebring voordat Benedictus die volgende oggend huis toe gekeer het. Die dae later het sy gesterf, en Benedictus het haar op Monte Cassino  laat begrawe, in die graf wat hy vir homself voorberei het. Hy het self slegs enkele weke langer geleef.

Die datum van sy dood is onbekend, maar dit was omstreeks 547 nC – inderdaad is die enigste datum wat met sekerheid oor Benedictus se lewe bekend is, is die besoek in 542 van die Gotiese koning Totila, wat in 546 Rome in puin sou lê.

Benedictus het oor die jare heen sy  Reël[2] ontwikkel, soos hy ervaring verkry het van die gemeenskapslewe. Hy het altyd die kluisenaarslewe as die kroon van monastisisme beskou – vir iemand wat in die jare ryp en ervare was – maar het die Reël weens behoefte ontwikkel. Dit onderwerp lede aan ’n strenge dissipline wat vereis dat hulle binne die kloostermure bly, en om op gegewe tye te werk, studeer en rus, met heelwat gebed deur die dag. Volkome stilte word by etenstye vereis, sodat die broeders een uit hulle geledere genomineer kan toehoor terwyl hy hardop uit die Skrif of uit die lewens van die heiliges voorlees.

’n Groot voorsprong was die innovasie van ’n proeftyd of novisiaat, wat ’n nuweling toegelaat het om ’n jaar lank in gemeenskap te leef voordat hy homself tot hierdie lewenstyl toegewy het. Ook beduidend is die absolute gesag van die ab en die algehele verloëning van persoonlike eiendom – broeders word slegs klerasie en toerusting toegelaat wat deur die ab aan hulle toegewys is.

Terwyl so ’n reël van gemeenskapslewe ’n aansienlike verbetering was oor die monastisisme wat algemeen was toe Benedict Rome verlaat het, en veral oor die eensame lewens van die Woestynvaders, bly dit ’n kontemplatiewe leefwyse wat min doen om lede aan te spoor om in die wêreld uit te gaan nie. (Terwyl Benedictus self sy heidense bure tot geloof in Christus gebring het, is sy opvolgers nie vir sendingwerk beroemd nie.)

Dit is aan latere ordes, veral die Franciskane en Dominikane, oorgelaat om in evangelisasie aktief te wees. Tog is die Reël so ’n volkome en goed gegronde patroon vir ordelike gemeenskapslewe dat dit sedertdien gevolg en aangepas is.



[1] Die 6de SA Gepantserde Divisie, wat spesifiek vir diens in die veldtog in Italië gevorm is, het deel gevorm van die 8ste Leër, en die Slag van Monte Cassino was sy eerste toetrede tot die frontlinie.

Die divisie het vele geharde veterane ingesluit wat reeds gedien het in een of meer van die vroeëre vyf divisies wat uit Suid-Afrikaanse vrywilligers saamgestel is vir diens in die Tweede Wêreldoorlog – in al sy 51 bestaansjare het die Unie van Suid-Afrika geen troepe vir diens oorsee opgekommandeer nie.

[2] Vele debat is onder geleerdes oorgegee aan die vraag of die Reël aan Benedictus oorspronklik was aldan nie. Dit word vandag algemeen aanvaar dat hy dit op ’n vroeëre dokument, die Regula magistri (“Reël van die Meester”), gebaseer het, maar Benedictus se Reël is heelwat van die oorspronklike uitgebrei en word dit meer logies gerangskik.


Counter

Terug na bo

Vir Afrikaans, kliek hier

Hierdie artikel is oorspronklik Juliemaand 1992 in Engels in Western Light, maandblad van die Parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, uitgegee, en is deur die skrywer vertaal.


Terug na indeks van heiliges

Terug na chronologiese indeks

Terug na Heiliges & Jaargetye se hoofbladsy


Write to me: Mike Oettle