Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Die Messias se voorganger

deur Mike Oettle

Sagaria / Maria

SOU jy dit nie ook ongelooflik vind dat iets wat in 400 jaar nie gebeur het nie – dis nou vir ons langer gelede as Van Riebeeck se aankoms in Tafelbaai – in jou leeftyd sou gebeur, en nie slegs voor jou oë nie maar in jou eie huisgesin?

Geen wonder dan dat Sagaria[1] die priester, wat besig was om sy diensbeurt in die Tempel te doen, skepties was toe die engel Gabriel hom vertel het dat hy en sy onvrugbare vrou Elisjeba,[2] in hulle oudag, ’n seun sou hê wat Joganan sou heet. (Hy het blykbaar vergeet dat Sara op die minste tweemaal haar ouderdom was toe Isak gebore is.)

Maar nee, dis nie dit wat in 400 jaar nie gebeur het nie: dit was dat hierdie seun sou grootword en ’n profeet wees. Almal het tog geweet dat God sedert Maleagi niemand geroep het om profeet te wees nie.

Verder sou hierdie profeet ’n nasiriet wees en ’n nuwe Elia, die voorganger van God se Messias. Elke goeie Jood het in die hoop geleef dat hy of sy sou toesien dat die Gesalfde die wêreld sou regmaak.

Maar Sagaria kon dit nie verstaan nie, en die Here het hom stom geslaan. Nie slegs minute lank nie, sodat hy die seënwoorde nie kon uitspreek toe hy uitgekom het van die wierookaltaar nie, maar vir ’n volle nege maande, plus nog ’n week.

Toe Elisjeba ses maande swanger was, is sy in Judea besoek deur haar niggie Mirjam,[3] wat vanaf Nasaret gestap het om haar te vertel dat sy ook swanger was. En daar sou iets spesiaals wees aan Mirjam se baba ook, want toe sy die huis binnekom, het Elisjeba se kind in die moederskoot van blydskap geroer, en Elisjeba het vir Mirjam “die moeder van my Here” genoem.

Toe die tyd voltooi is, is Sagaria se seun gebore en, tydens sy besnydenis,[4] is almal verras toe beide Elisjeba en toe Sagaria (deur om op ’n skryfbordjie te skryf) hulle vertel het dat die seun se naam nie Sagaria sou wees nie, maar Joganan, soos die engel hom vertel het. En op hierdie punt is Sagaria se tong toe losgemaak om die Here te loof – ja, en ook te profeteer.

Die Kerk vier 23 September die konsepsie van Johannes die Doper, soos Joganan vir ons beter bekend is, 7 Januarie sy fees as Doper, 24 Junie sy geboorte en 29 Augustus sy dood.

Lukas se verhaal van die seun wat profeet sou wees eindig: “Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.” (Lukas 1:80) In die volgende artikel sal ek die storie daar optel.

Maar voordat ek hiermee afsluit, kom ons kyk gou na die naam wat sy vader in opdrag van die engel hom gegee het. Joganan beteken “Jahweh het begunstig” of “Jahweh se genade”. Die Griekse vorm is Ioannes [IoanneV] (wat vir ons die moderne Griekse vorms Janni en Jannis gee), en in Latyns is dit Johannes.

Dit gee vir ons die Duitse Johann (Jôhan) en die Nederduitse (Nederlandse en Afri­kaanse) Johan, asook Han­nes of Hans. Jan is ’n vorm wat nie slegs in Nederlandies gebruik word nie, maar ook in Tsjeggies en Pools; in Hon­ga­rye is dit Janos. ’n Algemene Engelse bynaamvorm is Jack (in Skotland, Jock) – sommige sê dit is ’n vorm van Jacobus, maar dit kan ook van die Vlaamse bynaam (verkleinvorm) Janneken[5] afgelei word, wat deur Middeleeuse Vlaamse wewers Engeland toe geneem is. ’n Engelse familienaam wat hiervan kom is Jenk­ins. In Swee­ds is dit John (anders uitgespreek as in Engels), Russies Ivan, in Frans Jean (Zhañ), in Ital­i­aans Gio­vanni (Djo­wan­ni) of Gian­ni, in (Castiliaanse) Spaans Juan (Hwan of Gwan), in Catalaans Joan[6] (Zhoan) en in Port­ugees João (Zhoao, nasaal uitgespreek). Die oud-Gaëliese vorm Eoín (wat in Ierland gebruik word van beide die Doper en die Evangelis, maar nie as gegewe naam nie) gee vir ons die Walliese Evan of Ewan en die Skotse Iain of Ian; maar die Ierse voornaam Sean (Shaun of Shane) is van die Engelse voornaam afgelei.

Vroulike vorms van die naam is volop – uit Frans het ons Jeanne en Jeannette, Duits/Nederlandse Johanna, Spaanse Juana, Juanita en Nita, Ital­iaans Giovanna, Gio­van­ni­na, Gianna, Giannina of bloot Gina, en die Engelse Joan, Jane, Jan­et, Jean, Joanna, Janine, Janis en andere, terwyl Jenny soms ’n bynaam is vir ’n Jane of Janet.[7]

Uit die vele familiename wat van vorms van Johannes afgelei is, is een wat in die Engelssprekende wêreld baie algemeen voorkom, maar wat miskien moeilik is om aan sy herkoms te ken: die Walliese naam Jones. Ander sluit in Jen­nings en Hancock (klein Hane of Hans).



[1] Sagaria: “Jahweh het onthou.” Nog ’n Afrikaanse vorm van hierdie naam is Sagrys. In Engels is dit Zachariah, Zacharias, of Zach­a­ry. Lukas vertel vir ons dat hy “uit die diensgroep van Abia” was. Dit herinner aan die verdeling van die afstammelinge van Aäron onder koning Dawid en die hoëpriester Sadok in 24 groepe sodat elkeen twee weke uit die jaar in die Tempel sou dien. Abia se fam­ilie is in die afwisseling die agtste plek toegewys. (1 Kronieke 24:10)

[2] Elisjeba beteken “my God is voldoening”. In Afrikaans is dit Elisabet; in Engels, Eliza­beth; in Spaans Ysabel; in Skotland òf Els­peth of Isobel. Lukas vertel vir ons dat Elisjeba “van Aäron afgestam” is.

[3] In Afrikaans, Duits en Latyns, Maria; ook in Afrikaans Marie; in Engels, Mary. Aangesien beide Sagaria en Elisjeba Leviete was, moes Mirjam ook aan ’n familie behoort het wat ten minste deels Levities was. Dit is egter ook moontlik dat dit uit Juda gestam het, soos Josef se familie.

[4] Die agtste dag na sy geboorte, soos neergelê in Genesis 17:12.

[5] Hierdie naam word huidig slegs as vrouenaam aangetref, maar ek word verseker dat dit wel in die verre verlede ’n mansnaam was.

[6] Onder die Nederlandse amptenare wat in Van Riebeeck se tyd en daarna gedien het, het heelwat hul voornaam as Joan gespel, in plaas van Johan. Dit is moontlik deur die Cataaanse vorm beïnvloed.

[7] Jenny is ook ’n verkorting van Jennifer, wat ’n verengelsde vorm is van die Wallies-ontleende Guinevere.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Desember 1994 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle