deur Mike Oettle
JOHANNES – ja, sal jy miskien sê, die Geliefde Dissipel. Daar is min mense
op die Kerk-almanak wat so bekend en so bemind is as die Apostel Johannes, wie
se dag soms 6 Mei gehou word ter gedagtenis van ’n beweerde wonderwerk,
alhoewel dit amptelik op 27 Desember val.
Ons weet wel heelwat van hom. Sy vader was Sebedeus, sy moeder Salome. (Indien jy ooit die musiekblyspel The Witness gesien het, sal jy onthou hoe Salome [“Mrs Zebedee”] met die Here gepleit het vir goeie posisies vir haar seuns, en waar sy entoesiasties van “my boys” praat.)
Sebedeus was ’n visserman langs die See van Galilea, en Johannes[1] en sy broer Jakobus[2] was met hulle nette besig toe Jesus hulle geroep het om eerder mense te vang – die broers wat bekend is as Boanerges, of manne van die donder. Miskien was dit weens hulle vurige temperament: dit was hulle wat Christus versoek het om vuur uit die hemel te roep op die Samaritane wat hulle verwerp het. Johannes was saam met Jakobus en Simon Petrus teenwoordig toe Jesus op ’n hoë berg gegaan het en verheerlik is.[3]
Maar terwyl daar baie is oor Johannes wat ons wel weet, is daar ook baie wat ons nie weet nie. Was hy in werklikheid die “dissipel vir wie Jesus baie lief was”[4] wat tydens die Avondmaal teen die bors van Jesus gelê het,[5] en wat Jesus vanaf die kruis aangespreek het; Hy sê vir Maria: “Vrou, daar is u seun,” en aan die dissipel: “Daar is jou moeder.”[6] Was dit wel hy, moet dit ook dieselfde dissipel gewees het wat op die Sondagoggend nà die kruisiging vir Petrus vooruitgedraf het en, toe hy die leë graftombe sien, geglo het. Toe die dissipels na Galilea teruggekeer het en heelnag vergeefs probeer visvang het, was dit hierdie selfde dissipel wat sy Meester op die strand erken het en vir Simon Petrus vertel het – Petrus het al plassende deur die water gedraf om die Here te groet. Johannes 21:2 noem nie indiwidueel die seuns van Sebedeus by name nie, maar stel dit duidelik dat hulle daar was.
Ons weet hiervan omdat dit in Johannes se Evangelie genoem word as dade van hierdie “geliefde dissipel”, en volgens tradisie identifiseer ons dit met die skrywer, wat homself op die agtergrond stel en in die vertelling, homself nie noem nie.
Maar selfs die outeurskap van die Evangelie van Johannes, van die briewe van Johannes en van die Openbaring word betwis. Toe tekstuele kritiek in die 19de eeu ontwikkel is, is groot aandag aan die woordeskat van die teks gewy.
Daar is duidelike verskille gevind in die Grieks van die Evangelie, van die
Briewe en van die Openbaring, en is die gevolgtrekking gemaak dat dit onmoontlik die werk kon wees van dieselfde skrywer nie. Maar in die nabye verlede was skrifgeleerdes nie so dogmaties nie, en heelwat kundiges glo tans
terwyl Johannes miskien nie vir die finale redaksie van hierdie dokumente
verantwoordelik was nie, hy ten minste die bron is van die tradisies wat daarin
saamgevat is, en dat hy ’n groot deel daarvan geskryf het.
Indien hy wel die skrywer is van Openbaring (die mees betwiste dokument uit die drie onderverdelings) is dit waarskynlik dat hy ’n versameling rofweg aantekeninge en mondelingse herinneringe aan dit wat hy gesien het, oorgelaat het, wat sy dissipels uiteindelik aanmekaar gewerk het. Wat die Evangelie betref, is Johannes volgens vroeë oorlewering (die Kerk se mondelingse
leertradisie) die skrywer. Oorlewering is nie altyd ’n betroubare gesag nie,
maar hoe vroeër dit neergeskryf gevind word, des te meer waarskynlik is dit dat
dit korrek is.
Johannes word in Handelinge genoem (by voorbeeld in die genesing by die Mooi Poort, toe Petrus gesê het: “Geld het ek nie . . .”). Maar van sy latere loopbaan het ons geen presiese besonderhede nie, nóg in Romeinse dokumente nie, nóg in die Skrif.
Hy word egter volgens vroeë tradisie op Efese geplaas: Polykrates, biskop van Efese aan die einde van die 2de eeu, het hom as die geliefde dissipel geïdentifiseer en van hom praat as “priester, met die priesterlike borsplaat, beide martelaar en leermeester”. Irenæus, biskop van Lugdunum (Lyon) rondom 180 nC, vertel dat Johannes te Efese sy Evangelie en Briewe geskryf het, en die Openbaring te Patmos, en dat hy later op Efese dood is. Twee plekke op Efese is as Johannes se graf uitgewys. Die Noord-Afrikaner Tertullianus, ook in die 2de eeu, vertel dat Johannes in kokende olie gedompel is en wonderbaarlik dit oorleef het. Dit was miskien die oorsprong van die latere geloof dat Johannes nie gesterf het nie, maar soos Enog en Elia hemel toe geneem is.
Johannes se simbool as Evangelis is die arend. Sy naam, wat vertaal word as “Gods genade” of “gawe van Gods genade”, het een van die Westerse wêreld se gewildste name geword. Waar ek na Johannes die Doper kyk, benader ek ook die verskeie vorms daarvan.
[1] In Hebreeus, Joganan.
[2] In Hebreeus Ya’akov.
Hierdie naam het in sekere Italiaanse dialekte Giacopo geword (uitgespreek as Djakopo), maar in ander was dit Giacomo. Die vorm met die M is die een wat Skotland toe geneem is as James, en toe ook Engeland toe in hierdie vorm.
[3] Matteus 17:2; Markus 9:2.
[4] Johannes 13: 23.
[5] Die vertalers van die
Afrikaanse Bybel van 1983 was blykbaar met hierdie bewoording ongelukkig, en
het dit gestel dat die dissipel langs Jesus gesit het.
Dit is egter geboekstaaf dat dit die gebruik was onder die Jode van daardie tyd om op rusbanke te lê om die Paasmaal te eet, as simbool van hulle vryheid, en dat hulle nie aan tafel gesit het nie.
[6] Afrikaanse Bybel, 1933. Die
Nuwe Vertaling laat die aanspreekwoord “Vrou” uit.
Die woord is ’n vertaling van die Aramaïese gebruik van die woord vir “vrou” in daardie taal as agtingsvolle aanspreekvorm, en het geen verbintenis met die Westerse neiging om “vrou” op ’n neerhalende manier te gebruik.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle