Martelaar van Masjonaland (Deel 1)
deur Mike Oettle
SEDERT die vroegste dae van die Kerk het Afrika in sy geskiedenis na vore
getree. ’n Jood uit die huidige Libië – Simon van Cirene – het Jesus se kruis
gedra op pad na die kruisiging. Die bekering van ’n Etiopiese beampte verskyn
vroeg in die storie van Handelinge. Heilige mans en vroue uit alle dele van
Noord-Afrika speel belangrike rolle in die vroeë Kerk. Maar in Bantu-sprekende
Afrika – daardie groot streek wat vanaf die Oos-Kaap tot Kenia aan die een hand
strek, en tot Kameroen aan die ander – het die Kerk laat gekom.
Dit was nie voor 1891 dat ’n permanente sending in Masjonaland, die oostelike deel van die huidige Zimbabwe, gevestig is.
Dus as ons na 19de-eeuse getuies vir Christus wat uit Afrika kom, vind ons dat hulle dikwels ongeskoolde stamlede was van wie min bekend is nie behalwe dat hulle gedood is omdat hulle geweier het om die ou godsdiens te eer – Manche Masemola en Maqhamusela Khanyile is twee voorbeelde.
Maar Bernard Mizeki (18 Junie 1896 oorlede) is anders. Hy was nie slegs ’n uitsonderlike man nie, ’n opgevoede swart Christen en ’n persoon van
buitengewone geloof, moed en nederigheid, maar sy storie is ook versamel en in
’n boek[1] neergeskryf wat nie slegs sy lewe en die tyd waarin dit afgespeel het, weerspieël nie, maar toon dit ook, deur sorgvuldige sif en weeg aan die getuienis, dat hierdie man in alle opsigte ’n ware Christen-martelaar was. Geen getuienis van wonderwerke is na vore gebring nie, maar aangesien die Anglikaanse Kommunie nie soos die Rooms-Katolieke Kerk heiliges kanoniseer nie, en ook nie wonderwerke as bewys van heiligheid verg nie, word dit ook nie verwag nie. Aangesien Bernard in ’n tyd geleef het toe mense nie aangemoedig was om te dink dat wonderwerke verrig kon word deur lewende Christen-gelowiges nie, is dit onwaarskynlik dat enige sulke wonderwerke aan die lewende Bernard toegeskryf kan word nie.
Bernard was nie oorspronklik sy naam nie. Hy is ongeveer 1861 gebore in die distrik Inhambane[2] in Mosambiek, was hy Mamiyeri, seun van ’n Gwambe-stamlid genaamd Mitseka, en sou hy Mamiyeri Mitseka Gwambe genoem wees. As seun het hy saam met ’n groep ouer neefs besluit om in ballingskap te gaan en het saam met hulle per skip Kaap toe gereis. Daar het hy in Rondebosch[3] gewerk en sy naam as Barns aangegee. (Sy eie naam sou hy geheim gehou het, uit bygelowige vrees.) In sy vroeë 20s het hy ’n nagskool begin bywoon wat in Woodstock[4] aangebied is deur ’n Duitse dame, die barones Paula Dorothea von Blomberg, namens die Cowley-vaders.[5] Die Fräulein (soos sy bekend gestaan het) het vir hom as slim seun raakgesien, gewillig om te leer en vir die Christelike boodskap aanneemlik. Toe hy met die verloop van tyd onder die eerstes was wat op St Philip’s Mission in Sir Lowryweg gedoop is (7 Maart 1886), het sy as peetma vir hom voorgestaan. Toe hy gedoop is neem hy die naam Bernard aan; sy van verskyn skielik as Mizeki,[6] en hy het hierdie name behou.
Kort na sy doop het Bernard sy werk in Rondebosch laat vaar en het hy vrywillig en onbetaald (omdat hy dit so gevra het) die huisknaap geword op die St Columba’s Hostel, ’n residensiële tehuis vir swart mans naby Sir Lowryweg. Hier het hy ’n vaardigheid vir evangelisme getoon, en na enkele maande is hy na Zonnebloem Kollege[7] in Distrik Ses gestuur, om as kategis opgelei te word. Hy was nie aanvanklik ’n belowende student nie (behalwe in die oë van die Fräulein), en het hy ook in die begin ’n wantroue behou (soos dit van ’n tradisionele Afrikaan verwag kon word) vir die beantwoording van vrae, maar later het hy die uitblinker-student
van die kollege geword.
Toe in Januarie 1891 het die hoogeerwaarde George William Knight-Bruce, voorheen Anglikaanse biskop van Bloemfontein en pas aangestel tot die
splinternuwe Bisdom Masjonaland, in Kaapstad aangeland, op soek na vrywilligers
vir pionier-sendingwerk. Bernard was een van twee pas-opgeleide kategiste van
Zonnebloem wat daarop gereageer het.
Hierdie storie neem ek in die tweede artikel op.
[1] Mashonaland Martyr:
Bernard Mizeki and the Pioneer Church, deur Jean Farrant (Oxford University
Press).
[2] Hierdie Bantu-pleknaam is
in Portugees neergskryf en behou tot vandag toe sy Portugese vorm.
In Portugees het die
letter-kombinasie basies dieselfde funksie as Ñ in Spaans; die klank wat dit
verteenwoordig sou in die Nguni-tale as NY geskryf word, of in Sesotho as NJ:
sê I-nja-mba-neh.
Rondom 1900 is die Portugese
nedersettings aan die ooskus as aparte kolonies bestuur, en het Inhambane sy
eie posseëls uitgereik. Die gebied lê tussen Maputo (destyds Lourenço Marques)
en Beira.
[3] Die dorp Rondebosch, langs die Liesbeeckrivier, het tot in 1913 ’n eie munisipaliteit gehad. Dit was in daardie tyd hoofsaaklik landelik, maar is tans intensief verstedelik.
[4] Die dorp Woodstock, wat tot
in 1913 ’n aparte munisipale bestuur gehad het, lê vlak langs die Kaapse
middestad; die spoorwegstasie Woodstock is die laaste voor die hoofstasie.
[5] Lede van die Gemeenskap van
Sint Johannes die Evangelis (Society of St John the Evangelist, of SSJE), wat in Kaapstad ’n broodnodige
sending gestig het.
[6] Farrant verduidelik hierdie
naam glad nie. Dit wil egter voorkom asof die Fräulein “Mitseka” op die Duitse
manier neergeskryf het, en die TS met ’n Z geskryf, maar die laaste vokaal
verkeerd verstaan het.
Die naam Bernard is blykbaar
’n meer formele weergawe van “Barns”.
[7] Zonnebloem, wat deur biskop Robert Gray gestig is, was ’n slagoffer van die apartheidsjare. Sy geboue staan steeds en sy naam is aan die ou Distrik Ses gegee, maar die kollege is verskuif en met ’n ander inrigting op Kuilsrivier geamalagameer.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle