deur Mike Oettle
NOEM jy verpleegkunde, en feitlik almal het gehoor van Florence Nightingale
(1820-1910), wie sekulêre verpleging’n agtenswaardige professie gemaak het.
(Voor Florence was feitlik alle verpleegsters in die Engelssprekende wêreld wat
nie none was nie, vroue van min opvoeding en sonder enige reputasie.) Maar
buite die verplegingsberoep het min gehoor van Henrietta Stockdale
(1847-1911).
Maar sonder Henrietta sou die goeie werk wat deur mej Nightingale gedoen is, maklik tot heelwat later vergete gebly het – en danksy haar strewe het die Kaapkolonie ’n baanbrekerstaat geword in die erkenning van verpleegkunde as behoorlik georganiseerde professie.
Kom ons kyk na die begin: Henrietta is in Nottinghamshire gebore, die oudste van vyf kinders van eerwaarde Henry Stockdale, vikaris van Misterton
(en later van Bole). Sy het, soos Florence Nightingale, tuis ’n deeglike
klassieke opvoeding geniet, eers van haar vader en later van ’n goewernante.
In die ouderdom van 16 het Henrietta “vas besluit om in Afrika ’n sendeling te word”.[1] Toe sy 25 jaar oud was, het sy vir Allan Becher Webb, biskop van Bloemfontein,[2] hoor pleit vir onderwyseresse en verpleegsters om in die Oranje Vrij Staat met hom te kom saamwerk. Haar antwoord was om op twee Londense hospitale opleiding te ondergaan. Hier het haar lewe weer met dié van Florence Nightingale gelyk gemaak, want sy het in haar midel-20s deur God geroepe gevoel om verpleegster te word, en het op Kaiserswerth, in Duitsland se Ruhr-gebied, opleiding ondergaan op die Instituut vir Protestantse Diakenesse.
Die daaropvolgende jaar, 1874, het Henrietta haar by moeder Emma (Emma Proctor) en vier metgeselle aangesluit en Bloemfontein toe gereis, waar hulle die Gemeenskap van Sint Michiel en Alle Engele gevorm het. Sy het haar
kloostereed afgeneem en het as suster Henrietta bekend gestaan.
In 1876 she is sy Kimberley toe en het eerstens in die mynkampe as
distriksverpleegster gewerk, en toe op Kimberley se nuwe Carnarvon-hospitaal.
Daar is sy as vroedvrou opgelei, maar het toe ingewandskoors opgedoen en het na
Engeland teruggevaar. Sy het op Londen se University College Hospital
verplegingsopleiding gestudeer, en toe sy na die Carnarvon-hospitaal terugkeer,
het sy die eerste opleidingskool vir verpleegsters in Suider-Afrika gestig.
Laat in 1877 het sy na Bloemfontein teruggekeer vir ’n jaarlange diens as matrone van die Sint George-hospitaal, en toe weer na die Carnarvon-hospitaal teruggekeer. Tydens die Transvaalse oorlog van 1880-81 (die Eerste
Anglo-Boere-oorlog) was sy in beheer van die militêre hospitaal op Newcastle
in Natal, en tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902) het sy weer gewonde
mans verpleeg.
In 1890 is Henrietta by die British Trained Nurses’ Association geregistreer (sertifikaat No 15), en het sy nouliks saam met die vereniging se stigter saamgewerk, mev Bedford Fenwick, wat ’n vroeë voorstaander was van staatsregistrasie van verpleegsters. Danksy druk wat Henrietta op invloedryke persone gebring het, veral dr William Guybon Atherstone, van Grahamstad, het die Parlement van die Kaap de Goede Hoop die eerste wetgewer ter wêreld geword wat voorsiening gemaak het vir die registrasie van verpleegsters en vroedvroue, deur die Medical and Pharmacy Act (Mediese en Aptekerswet) van 1891.
In 1892 is die Carnarvon- en Diggers-hospitale saamgevoeg om die Kimberley-hospitaal te vorm. In ’93 het die Kaapse regering die hospitaal vergroot en gesubsidieer, en dokters soos Starr Jameson en John Mackenzie gestuur, wat deel gehad het aan die opleiding van verpleegsters. “Deur haar geïnspireer en gelei,” skryf dr Charlotte Searle in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, “het Kimberley-verpleegsters uitgegaan na waar hulle ookal benodig was, en het hulle hospitale en verpleeg-opleidingskole gestig, en verplegingsorg voorsien.”
In 1895 het die orde uit die Kimberley-hospitaal onttrek. Henrietta het na die Sint Michael-tehuis oorgegaan, en het ’n kraam-verplegingsinrigting en ’n verpleegsters-koöperatief gestig.
Dr Searle gee hierdie beskrywing van Henrietta: “Hierdie merkwaardige vrou, wat in Suid-Afrika die fondament gelê het van professionele verpleging en moderne hospitaal-organisasie, was ’n buitengewoon aantreklike persoon, lank, goed gebou, met ’n roomagtige gelaat, sagte, donkerbruin hare, blou oë en ’n aangename stem. Sy is deur sommiges vir ’n heilige aangesien, en deur ander as ’n yweringe sakevrou en politikus. Sy het tot die politieke kwessies van die dag ’n vreeslose benadering gehad, en het nooit geskroom om die hulp van ’n koninklike prinses in te roep toe sy gevoel het dat verpleging en die versorging van siekes bedreig is nie.”
Dat sy in later jare vir ’n heilige aangesien is, staan in skerp kontras met Florence Nightingale want, alhoewel sy haar lewe lank voortgeveg het vir verpleging ten spyte daarvan dat sy ’n invalide was, in haar oudag bitter en venynig geword het.
Henrietta is 6 Oktober 1911 oorlede en is op Kimberley begrawe. ’n
Gekleurde glasvenster in die katedraal van Sint Cyprianus herdenk haar lewe en
werk, en in die katedraaltuin is ’n standbeeld van haar deur Jack Penn. Die
oorspronklike kapel van die Kimberley-hospitaal, wat gebou is toe sy daar
gedien het, is ’n nasionale monument.
[1] Aangehaal uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa (my vertaling).
[2] Biskop Webb, wat toe in Engeland besoek afgelê het, was die tweede biskop in beheer van die Vrystaat, maar die eerste wat “van Bloemfontein” genoem is, en was later derde biskop van Grahamstad. Hy het ook vir Cecile Isherwood (Moeder Cecile) beïnvloed om na Suid-Afrika te kom.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye -indeks
Skryf vir my: Mike Oettle