deur Mike Oettle
DIE voorkoms van Allesieledag[1] (2
November)[2] op
die Anglikaanse kerkkalender is ietwat van ’n anomalie, want die rede vir die
bestaan daarvan is ’n Rooms-Katolieke kerkleer wat nie in die Nege-en-Dertig
Artikels[3] goedgekeur is nie.
Dit is die geloof in die purgatorium,
ook die vaevuur genoem, ’n plek waar Christelike sondaars – die wat ten minste
die las op hulle siele van mindere sondes het – moet wag voordat hulle tot die
hemel toegelaat word totdat hulle siele gereinig, of gepurgeer, is deur die
gebede van die gelowiges.
Indien jy ooit Neil Boyd se boek Bless
Me Father gelees het, wat vertel van sy lewe as Katolieke priester, sal jy
die tong-in-die-kies manier onthou waarop hy vir homself en vader Duddleswell, die
parogiale priester, beskryf soos hulle op Allesieledag woes die een mis op die
ander gebruik sodat hulle die vergane siele kan bevry en hulle die hemel “invee”.
Dit lyk vir my alles taamlik
bygelowig. En, ja, die Nege-en-Dertig Artikels veroordeel beide die geloof in
die purgatorium en die gebruik van misse vir ontslapes, en om grondige
skriftuurlike redes. Artikel 22 stel dit so:
The Romish Doctrine
concerning Purgatory, Pardons, Worshipping and Adoration, as well as of
Images as of Reliques, and also invocation of Saints, is a fond thing vainly
invented and grounded on no warranty of Scripture, but rather repugnant to the
Word of God.
(Die Roomse leer
aangaande die purgatorium, aflatings, die aanbid en verering van heiliges,
asook van beelde en relieke en die smeekbede tot heiliges, is ’n dwaalleer wat
op geen gesag van die Skrif gegrond is nie, maar eerder teenstrydig met die
Woord van God.)
En Artikel 31 noem, onder andere:
Wherefore the sacrifices of Masses, in the which it was commonly said, that
the Priest did offer Christ for the quick and the dead, to have remission of
pain or guilt, were blasphemous fables, and dangerous deceits.
(Die opoffering van misse waardeur, volgens algemene aanvaarding, die
priester Christus vir lewendes en afgesterwes opgeoffer het, sodat hulle vergiffenis
van pyn of skuld kon verkry, is godlasterlike fabels, en gevaarlike misleidings.)
Maar voordat ons heeltemal
vir Allesieledag laat vaar, eers ’n woordjie oor die gebruike daarvan. Dit vaan
om die sielekoek, wat op sy beurt blykbaar ontleen word aan heidense gebruike
wat verband hou met die Koringgees. Tot enkele geslagte gelede sou kinders in
sekere distrikte van Engeland van deur tot deur gaan en tradisionele rympies
sing – dit is “souling” genoem – vir appels en pennies. Dit is ’n tipiese “soul
song”:
Soul! Soul! for a soul cake!
I pray, good missis, a soul
cake!
An apple or pear, a plum or
cherry,
Any good thing to make us
merry.
One for Peter, one for Paul,
Three for Him who made us
all.
Hierdie gebruik het blykbaar, en
jammerlik, uitgesterf, en in Amerika, waar dit met die aktiwiteite van Halloween, is sy
oorspronge vergete.
[1] Die woordeboek gee hierdie dag se naam as Allersieledag
aan, blykbaar na aanleiding van Allerheiligedag (wat ek as Alleheiligedag skryf).
Soos ek daar verduidelik, is die gebruik van die letter R
verwarrend, want dit gee dan voor dat 1 November die heiligste dag van die jaar
is; inteendeel, die fokus daarvan is op alle heiliges.
[2] Indien 2 November ’n Sondag is, verskuif Allesieledag na
die 3de (die Maandag).
[3] Die Nege-en-Dertig Artikels is ’n verklaring van Protestantse
geloof wat in 1571 deur die Konvokasie van die Kerk van Engeland aanvaar is, en
daarna goedgekeur is deur koningin Elizabeth (*1533 †1603, koningin vanaf 1558)
en op geestelikes opgelê.
Dit volg op die Dertien Artikels wat in 1538 under
Elizabeth se vader, Henry VIII (*1491 †1547, koning vanaf 1509) aanvaar is, nà
’n ooreenkoms met die Duitse Lutherane en beïnvloed deur die Augsburgse Belydenis.
Hierdie artikels het op hulle beurt gelei tot die
Twee-en-Veertig Artikels wat in 1553 deur aartsbiskop Cranmer geskryf is “for
the avoiding of controversy of opinions” (om verskille van opinie uit die weg
te ruim).
Die Twee-en-Veertig Artikels is onder Elizabeth se
halfsuster koninin Mary (*1516 †1558, koningin vanaf 1553) geëlimineer. Sy het
die Katolieke geloof herstel en het, onder andere, verskeie biskoppe na die
brantstapel gestuur, daaronder Hugh Latimer.
Nà Mary se dood en Elizabeth se troonopvolging was ’n
nuwe verklaring van kerkleer nodig, en in 1563 het die Canterbury-konvokasie (die
sinode van die suidelike helfte van die Kerk van Engeland) die Twee-en-Veertig Artikels drasties hersien,
wat dan verder op die koningin se versoek geamendeer is.
Die Nege-en-Dertig Artikels, die uiteindelike resultaat,
“handel kortliks met die leerstellinge wat deur Katolieke en Protestante
aanvaar word, en meer volledig met strydpunte” (my vertaling uit die Encyclopædia Britannica).
Die Britannica noem
verder: “Dit is egter dikwels opsetlik veelsinnig, want die Elizabethaanse
regering wou die staatskerk so inklusief maak vir verskillende gesigspunte as
moontlik. Dus het interpresies van die artikels dikwels van mekaar af verskil.
Sedert 1865 is ’n verklaring van geestelikes van die Kerk
van Engeland vereis dat hulle die leerstellinge daarin bevat “agreeable to the
Word of God” is (ooreenkomstig met die Woord van God), en in Suider-Afrika is
dit soortgelyk van Anglikaanse geestelikes verwag dat hulle daarmee instem.
In die Protestant Episcopal Church of the United States (die
Anglikaanse kerk in daardie land), word dit egter van nog geestelikes nog leke
vereis om dit formeel te onderskryf nie.
For English, click here
Terug na hoofbladsy van Heiliges & Jaargetye
Skryf vir my: Mike Oettle