Armoria familia
http://www.oocities.org/skildsoom

Liggaam, verstand en siel

deur Mike Oettle

Christoffel Snyman / De Savoye

DIE eerste lid van die Snyman-familie wat ’n wapen geregistreer het, was eerw Roy Snyman TSSF, ’n senior Anglikaanse priester.[1]
wapen van vader Roy Snyman

Die wapen soos geregistreer het verskeie heel interessante aspekte, en dit is die moeite werd om die samestelling daarvan in sy besonderhede te bestudeer. Maar om mee te begin, die formele blasoen van die wapen, soos dit op die amptelike sertifikaat vanuit die Buro vir Heraldiek, gedateer 10 Januarie 1979, verskyn (volgens my vertaling):

 

Wapen: In rooi, ’n goue skuinskruis; op ’n blou binneskild, ’n geklede regterarm wat uit ’n wolk onder links uitsteek, wat in die hand ’n sekel vashou, alles van silwer; op ’n silwer skildhoof, bo-oor ’n osjuk van swart, ’n afkomende duif van rooi.

Helmteken: Drie rooi koringare wat middeldeur omring word deur ’n kroon van drie fleurons, waarop vyf smaragde.

Wrong en dekkleed: Goud en rooi.

Leuse: Non Agit Perperam.

Wat veral van belang is, is die helmteken in hierdie wapen, wat vader Snyman self verduidelik – met erkenning aan die voorstelle van majoor F G Brownell, wie later Staatsheraldikus geword het en tot in 2002 gedien het.

Vader Snyman se volle doopname is Robin Roy. Hy skryf (my vertaling):

“’n Christenpersoon het drie dele: liggaam, verstand en siel. Die Heraldikus het hierdie konsep in die gebruik van drie koringare ingesluit.

Robigus was die antieke Romeinse god aan wie Romeinse boere gebid het om hul oeste te red van die swamsiekte ‘roes’ te beveilig. Van die naam Robigus kom die woorde robyn, rossig, rooiborsie, rooskleur, et cetera.

“In hierdie wapen word Robin voorgestel met drie koringare wat wel ‘geroes’ is, of, (in Christelike terme) gevalle. Robigus oorwin nie.

Christenmense glo dat hulle gered is en van gevallenheid of sonde vrygespreek is deur Jesus die Christus. Christos (CristoV) beteken ‘die gesalfde een’, ‘messias’ of ‘Koning’. Jesus is ’n Persoon in die Heilige Drieëenheid, wat die Woord-wat-Vlees-gemaak-is en die Perfekte Mens, die ‘tweede Adam’ in St Paulus se geskrifte. Hy is ‘Koning Jesus’.

“Enigiemand wat geloof het in Jesus die Christus, en in Hom gedoop is, deel in die seëninge van Verlossing. Jesus Christus is in werklikheid Le Roi – die Koning wat die heersende, opgestane Verlosser-Koning is.

“In hierdie wapen word Roy deur die kroon verteenwoordig. Die kroon van Koning Christus omring die gevalle drie koringare en bring daardeur verlossing aan Robin. Hy, die Ware God-Koning, vervul daardie verlossing wat volgens die antieke mense slegs deur die heidense god Robigus bewerkstellig kon word.

“Robin (van Robigus) vind verlossing, vervulling en volwassenheid in die rojale van Roy (van Le Roi) – d.w.s. die gevalle Robin Roy vind verlossing en verheerliking in Christus die Koning, nie in Robigus die heidense god nie.

“Ook bevat die kroon die fleur-de-lis of lelie, ’n simbool van die Heilige Drieëenheid, en ’n heraldiese simbool van ’n Franse familie of een wat van Franse herkoms is. Christus is ’n Persoon in die Heilige Drieëenheid, en die Snyman-familie is, aan beide vaders- en moederskant, direkte afstammelinge van Marguerite Thérèse de Savoye – verlangs verbind met die De Savoye-familie, hertoë van Turyn, konings van Sardinië en deur Cavour gekose eerste konings van die verenigde Italië.

“Verder bevat die kroon vyf rooi robyne. Hulle simboliseer die glorieryke wonde van die opgestane, opgevaarde, vertroonde en ewige Christus in die hemel (soos in die Boek Openbaring).

“Hierdie helmteken som dus die name en Geloof op van die houer van die wapen, Robin Roy Snyman.

Aangaande die posisie van die kroon, en die helm, voeg maj Brownell hierdie opmerking by:

“Die kroon van die helmteken rus nie op die helm nie, dus maak die houer daarvan nie aanspraak op rang nie, maar die kroon verwys na die familie De Savoye. Ook het die helm ’n edelman se goue helmklep. Sou die helm na vore kyk, en was dit geheel van goud, sou dit ’n aanspraak op koningskap wees.”

Van die skild skryf vader Snyman:

“Die skildhoof bevat ’n juk wat deur veeboere gebruik is. Dit dui hier daarop dat beide die Snyman- en Viljoen-families boere was.”

Die Snyman-familie kan teruggevoer word na Christoffel Snyman, seun van Catharina van Palicatte. Sy was getroud met Anthonij van Bengale, maar dit blyk dat Christoffel se vader Christoph Schneider was (hy het aan die Kaap as Christoffel Snyman bekend gestaan), uit Heidelberg, in Duitsland. Die jongere Christoffel het blykbaar in 1789 met Marguerite de Savoye getrou, en het voor 1707 gesterf.

“Maar hierdie Snymans is ook direkte afstammelinge van die Voortrekkers.

“Hierdie geslag se direkte voorvaders was a) Andries Hendrik Potgieter, die Voortrekker-leier, en b) kommandant Jan Viljoen, die beroemde jagter-ontdekker – volgens die familie-legende was dit hy wat die Victoria-waterval ontdek het, en wat vir Livingstone daarvan vertel het. Sy plaas was Vergenoeg in die distrik Zeerust, en word steeds deur die Viljoen-familie besit.

“Die Snymans het hulle oorspronklike (en verlore) fortuin gemaak met hul wa-treine wat produkte en goedere tussen Oos-Londen en die binneland aangery het.

“In hierdie wapen verwys die juk ook na die juk van Christus wat ek as priester in die Kerk van Christus dra. Bo die juk is ’n (rooi) duif, wat almal herinner dat hierdie priestersamp onder God die Heilige Gees is, en wat deur Hom geïnspireer en versterk word. Die simbool van die Heilige Gees is altyd ’n duif. Die Heilige Gees is tydens die Pinksterfees in tonge van vlam ‘uitgestort’, daarom is hierdie duif rooi.
wapen van Viljoen

“Die skild toon die wapen van die Snyman-familie as binneskild op die wapen van die Viljoen-familie.

“Hierdie twee families is saamgesnoer deur hul gesamentlike stammoeder, Marguerite Thérèse de Savoye, weduwee Snyman. Sy is die eerste Afrikaanse vroulike voorouer van al die Snymans. Toe, in haar weduweejare, het sy en haar oudste dogter, Catharina, die voorouers geword van al die Viljoens – deurdat hulle met die twee broers Henning en Johannes Viljoen van Groot Idasvallei naby Stellenbosch getroud is.

“Let daarop dat die Snyman-wapen ’n arm bevat wat ’n sekel vashou. Dit is weer ’n simbool van ’n boerefamilie. Die Snymans was boere wat die koring gesny het en die oeste op hulle plase ingeoes het. Hulle was die manne wat hul oeste gesny of geoes het, en was in werklikheid ‘sny-mans’.

“Die term ‘uit ’n wolk’ mag beteken: ‘Hulle herkoms is in geheime gehul,’ of ‘Die familie is geseën in hulle aankoms in Suider-Afrika,’ of ‘Hulle was ’n toegewyde en godsdienstige familie,’ of selfs dat ‘hul boerdery het gefloreer’ of dat dit hemelse seëning geniet het.

Oor die leuse skryf hy:

“Die bron is onseker, maar dit kom uit die Vulgata, die Latynse vertaling van Paulus se Eerste Brief aan die Korintiërs 13:5, wat dit stel dat (Christelike) liefde ‘nie arrogant is nie’.

“Die Latynse ‘Non Agit Perperam’ kan stip vertaal word as ‘Hy dra nie arrogansie nie’. Die leuse is tegelykertyd ’n verklaring en ’n uitdaging aan die voerder van hierdie wapen: ‘Hy is nie arrogant nie.’

Voordat hy by hierdie wapen uitgekom het, het vader Snyman ’n ontwerpproses deurgegaan wat begin het met die wapen wat aan die Snyman-familie toegeskryf is in ’n artikel wat in die 1940s in die tydskrif Die Brandwag gepubliseer is. Dit is:

 

Snyman-wapen soos in Die Brandwag gepubliseer

Gevierendeel: 1. In goud, ’n ryksarend wat uit die skeidslyn kom; 2. en 3. In rooi, ’n geklede regterarm wat in sy hand ’n sekel vashou, alles van goud; 4. In swart, twee dwarsbalke van goud.

Hy het eerstens uit hierdie rangskikking een van die twee Snyman-kwartiere uitgehaal en die twee dwarsbalke uit die vierde kwartier. In die tweede kwartier het hy ten eerste die skuinskruis van Viljoen ingevoeg, en in die vierde ’n siborium[2] en ’n eucharistiese hostie, as simbool van die priestersamp.

’n Verdere skets het die eucharistiese simbole op die adelaar se vlerk geplaas, drie lelies by die skuinskruis gevoeg, en in die vierde kwartier die kruis-en-duif-simbool van die Hugenote. Daarby het hy bo Snyman se arm ’n osjuk gevoeg. Almal het ook, vir die helmteken, ’n voorarm met ’n sekel tussen die vlerke van ’n vlug ingesluit.[3]

Dit was alles te ingewikkeld, en maj Brownell het ’n briljante vereenvoudigingstaak uitgerig.
wapen van Hay van Park

Dit kan ook genoem word dat die osjuk in die skildhoof ’n tradisionele Suid-Afrikaanse osjuk, wat jukskeie[4] insluit, wat heeltemal anders in styl is as die juk wat in Europa tradisioneel is. Die graaf van Erroll, hoof van Klan Hay, gebruik ’n juk as een van sy kentekens, en een van sy klanlede, Hay van Park, sluit so ’n juk in sy skildhoof in (kyk hierdie artikel en ook hierdie een).

Oorerfbaarheid:
Aangesien Roy Snyman ’n selibate priester is, sal hierdie spesifieke samevoeging van simbole saam met hom sterf; hy het geen direkte erfopvolger nie. Dit beteken egter nie dat dit nie na die volgende geslag mag oorgaan nie.

Hy is een van ’n familie van ses, en het broers wat ook seuns het. Majoor Brownell noem dat enigeen van hierdie broerseuns dieselfde kombinasie van ’n blou Snyman-binneskild op die skuinskruis van Viljoen mag registreer, bloot met nuwe simbole in die skildhoof, asook ’n nuwe helmteken.

Vir enige ander Snyman, is die presedent nou gevestig dat die simbool van die Snymans ’n arm is wat ’n sekel vashou. Majoor Brownell was eintlik bly dat vader Snyman sy wapen geregistreer het, want nou kon enige ander Snyman dieselfde doen.

Hy mag die kleure verander, of die arm op ’n veld plaas van meer as een kleur, die arm mag ook naak wees, in plaas van geklee, en ander kombinasies van wapenfigure is ook moontlik. Die keuse is aan hulle oor.

De Savoye:
Aangaande die de Savoye-familie kan dit genoem word dat terwyl die verbintenis tussen Jacques de Savoye en sy dogter Marguerite (Margarethe of Margo), en die hertoë van Savoje nie met sekerheid nagespoor is nie, Jacques oorspronklik ’n onderdaan was van die koning van Frankryk, en as sulks sou hy slegs ’n van gevoer het wat die adellike voorvoegsel de ingesluit het indien hy werklik lid was van ’n adellike familie.

Dit kan dus afgelei word dat hy werklik van die familie van die hertoë afgestam is.

Wat wel van hom bekend is, is dat hy van ’n Franse dorp genaamd Aeth afkomstig was, en dat hy in 1687 op Ghent, in Vlaandere gewoon het. Hy was ’n Hugenoot-koopman wat bekend dat hy vurig sy geloof bely het, en dat hy reisende Protestantse pastore genooi het om in sy huis dienste te hou. Hiervoor het hy die vyandskap van sy Katolieke bure verdien, en is hy deur die Jesuïete vervolg. (Die Edik van Nantes is in 1685 afgeskaf, en dit is waarskynlik dat hy op hierdie stadium uit Frankryk gevlug het.) Ten minste een poging is gemaak om hom dood te maak.

Sy eerste vrou, Christine du Pont, het nege kinders gehad, van wie ses volwasse geword het. Nà haar dood in 1686 het Jacques op Sas van Ghent gaan bly, oorkant die Nederlandse grens in Zeeland.

Terwyl hy in 1686-87 in Sas van Ghent was, is hy getroud met Marie-Madeleine le Clerq uit Tournai, in Hainault (of Henegoue). Hulle het vanaf Sas van Gent getrek na Middelburg, waar hy dadelik planne gemaak het om aan te sluit by ’n groep setlaars wat hulle in die Kaap die Goeie Hoop sou vestig.

Die Huis van Savoje kan teruggevoer word na Humbertus I Withande, blykbaar van Boergondiese herkoms wie in die middel-11de eeu nC effektief heer was van die gebied wat in 1860 in Frankryk ingelyf is as die départements Savoie en Haute-Savoie, asook ander distrikte langs die Rhône suid van die Meer van Genève.

Hierdie feodale heerlikheid het ’n graafskap geword, en daarna (soos wat die gesag van die Heilige Romeinse Keiser gekwyn het) is dit na ’n hertogdom verhef.

Die Encyclopædia Britannica noem (my vertaling): “Onder die voortreflikste van die grawe van Savoje was Amadeus VII (1383-91 aan bewind), onder wie die hawe Nizza verkry is, en Amadeus VII (1391-40 aan bewind), onder wie Piedmont (hoofstad Turyn), aan die Italiaanse kant van die Allpe, definitief ingelyf is (nadat dit vir byna twee eeue aan ’n tak van die huis behoort het) en aan wie die titel hertog in 1416 verleen is.”

Die konings van Frankryk het die distrik begeer omdat dit strategiese roetes na Italië beheer het, maar alhoewel dit verskeie male deur Franse magte ingeneem is, het die hertoglike huis elke maal dit teruggekry.

’n Tyd lank het die huis op koninklike status aanspraak gemaak deurdat hulle die titel koning van Siprus van die Huis Lusignan geërf het (’n Kruistogter-titel wat prakties leeg geword het toe Turkye die eiland gevat het).

Victor Amadeus II (regerend 1675-1730) het werklike koningskap behaal as heerser van Sicilië, wat hy in 1720 vir Sardinië verruil het.
vlag van die Koninkryk Italië (1848-1946)

Koning Victor Emmanuel I (1802-21 regeer) het in 1815 die provinsie Ligurië tot die familie se besit toegevoeg (met inbegrip van die hawestad Genua), en het dus ’n soliede blok grondgebied behou vanaf die Liguriese See tot aan Switserland (met Sardinië by). Dit was die platform waarvan die dinastie sy ambisie gelanseer het om Italië onder ’n Savojardiese kroon te verenig, wat uiteindelik 1861 bewaarheid geword het.

Die wapen van die hertoë van Savoje was ’n silwer (of wit) kruis op rooi. Toe die familie oor Italië geregeer het, het die koningswapen die kruis binne ’n blou skildsoom aangetoon – hierdie wapen het op die wit paneel verskyn van die groen-wit-rooi vlag van Italië vanaf 1848 tot in 1946.



[1] Vader Roy is tans afgetree. Sy laaste twee aanstellings was as dekaan van Kimberley en as rektor en vise-provoos van die Kollegiale Kerk van die Maagd Maria, Port Elizabeth. Laasgenoemde kerk is tans Port Elizabeth se Anglikaanse katedraal.

Die letters TSSF agter sy naam dui daarop dat hy ’n tersiêre lid is van die (Anglikaanse) Orde van Sint Fransiskus.

Roy Snyman is ’n selibate priester. Terwyl die meerderheid Anglikaanse priesters wel trou, is daar heelwat wat tydens die 19de en 20de eeue uit vrye wil gekies het om selibaat te bly – ’n keuse wat hulle as meer betekenisvol insien as die verpligte selibaatheid van Rooms-Katolieke geestelikes.

[2] ’n Kelkvormige beker met deksel, dikwels uit goud of silwer vervaardig, wat geskep is om die eucharistiese hostie te bevat.

[3] ’n Vlug is ’n paar vlerke; die Viljoen-Familiebond voer ’n goue arendsvlug as helmteken, alhoewel dit nie geregistreer is nie.

[4] Die sport jukskei, wat die gooi van sulke skeie op ’n pen behels, is glo deur òf Trekboere òf Voortrekkers uitgedink.

Hierdie sportsoort het tydens die Voortrekker-eeufees van die 1930s algemeen geraak, en word vandag gespeel deur mense wat in wit geklee is, soos rolbalspelers.

Dit word nie op gras gespeel nie; die spel vind plaas op ’n sandkuil waar die skeie op ’n pen afgegooi word. Dit toon ooreenkomste met die Amerikaanse sport hoefyster-gooi. Suid-Afrikaanse jukskei-spanne het al in altwee dissiplines teen hoefyster-gooiers gewedywer.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Aantekenings en sketse deur vader Snyman, en korrespondensie wat aan die skrywer geleen is. Hoofillustrasie van ’n gedrukte kaart wat sy wapen vertoon; illustrasie van gevierendeelde wapen van ’n foto deur François Snyman; wapen van Hay van Park uit Simple Heraldry deur Moncreiffe en Pottinger; Italiaanse vlag uit Flags of the World deur Whitney Smith. Kleure met behulp van MS Picture It! © aangepas.

    Terug na familiewapens indeks

    Terug na Armoria familia-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle