Viljoen se skuinskruis
deur
Mike Oettle
DIE Viljoen-familie in Suid-Afrika het ’n heel eenvoudige wapen, bestaande uit ’n rooi skild met ’n goue skuinskruis daarop.
Of dit die wapen is wat die Suid-Afrikaanse familie se voorouers in Frankryk gevoer het – en selfs of hierdie familie ’n wapen gevoer het – is onbekend, want dit is onmoontlik om vas te stel vanwaar in die Franse koninkryk die stamvader, François Villon,[1] afkomstig was.
Nietemin is dit vasgestel dat daar in Frankryk ’n familie is wat as Villon de Varennes bekend staan, wat wel hierdie wapen voer, met ’n muurkroon as helmteken.
Die inskrywing in Cor Pama se Heraldry of South African Families illustreer Viljoen se wapen nie, maar die blasoen of tegniese beskrywing noem die goue skuinskruis op rooi en die muurkroon-helmteken.
Die Staatsheraldikus het nietemin ingestem om die skildwapen (in rooi, ’n skuiskruis van goud) in die naam van die Viljoen-Familiebond te registreer – alhoewel die destydse besluit om aansoek te doen op niks uitgedraai het nie. Tot op datum is die wapen nie geregistreer nie.
Een opsigbare verskil tussen die wapen soos deur die Familiebond goedgekeur en soos dit deur die Staatsheraldikus goedgekeur is, is dat die Buro daarop aangedring het dat ’n silwer skildhoof by die skuinskruis gevoeg moet word.
Die skuinskruis word ook ’n saltier of Sint Andrieskruis genoem; die Apostel Andreas is, volgens oorlewering, op so ’n stellasie gekruisig. ’n Wit skuinskruis op blou is die landsvlag (eintlik ’n koninklike kenteken) van Skotland, ’n blou skuinskruis op wit die vlootvaandel is van Rusland, en die ou simbool van Boergondië, en later van Spanje, was ’n rowwe hout-skuinskruis in rooi op wit.
Prof H Christo Viljoen[2] skryf dat die Suid-Afrikaanse familie aanvanklik (blykbaar vanaf die 1940s) die wapen nes die Franse familie gevoer het, maar “op grond van heraldiese advies en ’n familiestemming wat gedurende 1972 landswyd gehou is het die Suid-Afrikaanse Viljoens besluit om liewer ’n paar gevoude arendsvlerke as helmteken te neem”.
Nietemin is daar besluit om die helmteken nie geregistreer nie (om redes wat die professor nie verstrek nie).
Hy noem ook: “Omdat ’n muurkroon hoofsaaklik op die wapens van stede en nie families nie voorkom, is die besluit om daarvan af te sien ’n logiese een.”
Hier moet ek egter van hom verskil, want die muurkroon het twee aparte betekenisse in die heraldiek, en die oudste hou glad nie met munisipale regering verband nie.
Die muurkroon was in sy oorsprong ’n erkenning van dappere optrede tydens die inname van ’n stad – met ander woorde, ’n grotere of kleinere dorp wat met verdedigingsmure
omring is – en is deur die owerhede van die Romeinse Ryk aan enkele indiwiduele soldate as helde-erkenning gepresenteer.
Eers heelwat later is dit oorgeneem as simbool van munisipale gesag. Verskeie soorte muurkrone word in die heraldiek van verskeie lande gebruik, en dit verskyn bokant die skild in die stadswapen.
Vir ’n voorbeeld van ’n muurkroon wat verleen is as erkenning vir ’n heldedaad, kyk die wapen van Byng in hierdie artikel.
Die professor is nietemin korrek in sy siening dat ’n muurkroon nie paslik is as helmteken vir die familie Viljoen nie.
Die wapen van die familiebond is dus:
In rooi, ’n skuinskruis van goud.
Wrong en dekkleed: Goud en rooi.
Helmteken: ’n Goue vlug.
Die kunstenaar wat die wapen-illustrasies vir Pama se Groot Afrikaanse Familienaamboek geteken het, het die vlug as oop versprei geïnterpreteer, en dit ook in twee kleure geteken.
Aangesien die wapen nie geregistreer is nie, is so ’n interpretasie toelaatbaar, en ek sou aanraai dat die familiebond wel die wapen tesame met ’n helmteken registreer, om sulke verwarring uit die weg te ruim.
Helmtekens wissel ook van familietak tot familietak, dus is die vlug glad nie verpligtend vir enige indiwiduele Viljoen wat ’n breukwapen wil registreer. Enige paslike helmteken mag saam met die skuinskruis geregistreer word.
In der waarheid is selfs die voer van ’n helmteken nie verpligtend nie; ’n wapen kan ook daarsonder geregistreer word. In Frankryk word die meerderheid wapens sonder enige helmteken gevoer.
In die amptelike tekening van die wapen wat in die Viljoen-Gedenkboek verskyn, staan daar ook onder die skild ’n silwer lint waarop die familienaam geskryf staan.
Prof Viljoen verwys hierna as ’n naamkrul, maar dit dien om genoem te word dat dit nie ’n goeie heraldiese gebruik is om bloot die familienaam op so ’n lint te plaas nie, dus het ek dit uit die hoof-illustrasie uitgelaat.
Die lint se eintlike heraldiese doel is om die leuse te vertoon. Soms sal die leuse ’n woordspeling op die familienaam wees, maar gewoonlik is dit iets heeltemal anders.
’n Finale punt wat oor die wapen genoem moet word is dat, sou dit in die familiebond se naam geregistreer wees, dit nie die persoonlike eiendom van enige familielid sou wees nie.
Enige lid van die familie sou dit mag vertoon, maar nie op so ’n manier dat dit as daardie persoon se eie wapen gesien kan word nie.
Dit staan ook enige familielid vry om self ’n variasie op die wapen te registreer, wat dan sy persoonlike eiendom sal wees, en wat vir sy nageslag oorerfbaar sal wees.
Ek is nie bewus van enige Viljoen wat sy eie wapen geregistreer het nie, maar dit mag wees dat een of meer wel so gemaak het. ’n Viljoen-nasaat, eerwaarde Roy Snyman, het wel die goue skuinskruis op rooi, asook die silwer skildhoof, in sy eie wapen ingelyf – wat heeltemal toelaatbaar is.
Die enigste beperking (binne die reëls van die heraldiek) op sulke variasies of breukwapens is dat hulle uniek moet wees. Vir voorbeelde van hoe ander families breuke aan die basiese familiewapen aangebring het, kyk hierdie artikel en hierdie een.
Die Franse uitspraak van die familienaam is Wie-jôñ, maar dit het redelik vinnig aan die Kaap die vorm Fil-joen aangeneem.
Die herkoms van die Viljoens:
Die heel eerste Franssprekende nedersetter aan die Kaap was François Villon,[3] wat in 1671 in Tafelbaai beland het – 18 jaar vòòr die eerste georganiseerde nedersetting van Franse vlugtelinge aan die Kaap.
Van sy herkoms is slegs met sekerheid bekend dat hy van Clermont afkomstig was – die pleknaam verskyn langs sy naam in die Kaapse huweliksregister. Maar aangesien daar verskeie plekke in Frankryk wat die naam Clermont dra, is dit onseker uit watter hy gekom het.
Die Viljoen-Familiebond erken egter die bevindinge van Jacques de Villiers,[4] wat ’n ruk lank Suid-Afrikaanse Inligtingsraad was in Parys.
De Villiers se navorsing het bewys dat verskeie Villons of Villions woonagtig was op Clermont[5] in die Île-de-France (die streek rondom Parys). Dit is geen sekere bewys nie, want hierdie rekords was slegs dié van Rooms-Katolieke.
Dit was die gebruik, in die tyd van koning Louis XIV van Frankryk, om enige rekord wat op Protestantse families en indiwidue betrekking gehad het, te vernietig. Dus is dit blykbaar die naaste wat ons gaan kom aan kennis van François se geboorteplek.
François verskyn op die lys vrye persone aan die Kaap wat 26 Mei 1671[6] gedateer is, sy naam gespel as François Viljon. Die opgaaf wys dat hy “4 koeien, 1 snaphaan en 1 degen” besit het. In die rol van 1 Februarie 1675 verskyn hy (met die selfde naamspelling) as eienaar van “13 schapen, 1 snaphaan en drie koeien”. Die lys vir 1676, sy huweliksjaar, is nie gevind nie.
Hy is 17 Mei 1676 te Kaapstad met Cornelia Campenaar getroud. Dit word in die NG Kerk-argief in Kaapstad genoem dat sy ’n jongedogter uit Middelburg op die eiland Walcheren[7] in Zeeland[8] afkomstig was. Geen inliging aangaande haar ouers of geboortedatum word aangegee nie, en navrae in hierdie verband was tot dusver vrugteloos. Die Centraal Bureau voor Genealogie in Den Haag berig dat die argief van Middelburg tydens die Tweede Wêreldoorlog totaal verwoes is.
François se van word in die huweliksregister as “Signon” gespel, en weer in die doopregister-inskrywing van 1677 toe sy seun Pieter gedoop is. Maar toe sy dogter Anna in 1678 gedoop is, verskyn die van as “Vignon”.
Die opgaaf van vrye persone vir Maart 1677 gee François se besittings as “1 snaphaan, 1 degen en 1 slaaf”.
In 1682 is François die plaas Idas Valley[9] verleen, aan die voet van Simonsberg in die Stellenbosch-vallei, en was ’n vryburger daar tot sy dood, blykbaar in 1689, die jaar toe die georganiseerde groep Hugenote aangekom het. Die formele geskrewe verlening is egter eers 2 September 1692 uitgereik.
François en Cornelia het ses kinders gehad, van wie die twee jongste op Stellenbosch gedoop is. Die oudste, Pieter, gedoop 07-02-1677, was nie getroud nie en het blykbaar nie volwasse gegroei nie. Anna (19-05-1678 gedoop), is met Heinrich (Hendrik) Venter getroud. Hy was uit Hameln in Duitsland. Heinrich en Anna is die stamouers van die Suid-Afrikaanse Venter-familie.
In 1707 is Henning[10] (08-03-1682 gedoop) met Marguerite (Margarethe of Margo) de Savoye getroud. Sy was die dogter van Jacques de Savoye en weduwee van Christoffel Snyman.
Johannes (24-09-1684 gedoop) is 14-08-1708 met Marguerite se dogter Catharina Snyman (toe 18) getroud.
Cornelia (13-10-1686 gedoop) is met Hercules du Preez getroud, en Francina (24-04-1689 gedoop) is met Jacob Cloete getroud. Francina was blykbaar postuum gebore, want sy is die enigste in die familie wat met ’n naam soos haar pa s’n gedoop is. Nà Hercules se dood is Cornelia 14 April 1690 met Wemmer Pasman getroud. Hulle het drie kinders gehad. (Die van Pasman het egter later in Suid-Afrika uitgesterf.)
In 1712 het Henning die plaas Watergat verkry, naby die huidige Simondium in die Bergriviervallei, ongeveer halfpad tussen Franschhoek en die Paarl waar die rivier uit sy weswaartse koers draai en noordwaarts vloei. Die eiendom grens aan die huidige landbounavorsingstasie Bien Donné. Watergat se vorige eienaar, Willem
Hendriksz van Brantwyk, het aan Henning ’n groot som geld geskuld, en die plaas is blykbaar ter vereffening van die skuld oorgedra.
Henning het blykbaar voor 1732 gesterf, want Marguerite het 28-10-1732 haar testament as “weduwee Henning Viljoen” onderteken.
Uit haar eerste huwelik het Marguerite nege kinders gehad. Daarna het sy en Henning (b3) vier kinders gehad: Cornelia (05-03-1708 gedoop), Frans (26-12-1709 gedoop) en
twee seuns met die naam Henning. Die eerste is 12-03-1712 gedoop, maar het
blykbaar nie lank geleef nie, want ’n tweede Henning[11] is 16-08-1713 gedoop. Hierdie Henning is 06-11-1732 met Susanna Durand, dogter van Jean Durand, getroud.
François se jongste seun se inskrywing in die doopregister op Stellenbosch (24-09-1684) verskyn as Joannes Viljon.[12] Hy is 14-08-1708 met Marguerite de Savoye se dogter Catharina Snyman getroud (sy was toe 18).
Hulle het twee kinders gehad, Margaretha (12-01-1709 gedoop), wie blykbaar jonk gesterf het, en Johannes[13] (19-09-1711 gedoop).
Hierdie jong Johannes was eers burger in Drakenstein, en later beesboer in Het Land van Waveren (vandag die Tulbagh-vallei). In 1745 het hy die leenreg op die plaas Doornrivier verkry, in wat vandag die Worcester-vallei is, en op die Paarl in 1744 is hy getroud met Aletta Olivier, dogter van Hendrik Olivier en Maria Vivier.
Al Suid-Afrika se Viljoens is òf van Henning (1713) – die Henning-stam – òf van Johannes (1711) – die Johannes-stam – afgestam.
My eie afstamming is deur die Henning-stam.
[1] Die letter a word gebruik om die eerste geslag van ’n familie in Suid-Afrika woonagtig, aan te dui. Aangesien François alleen geïmmigreer het, is hy die a-geslag (sonder identifiserende nommer). Daaropvolgende geslagte word b, c, d en so aan gekodeer, met nommers om die geboorte-orde aan te dui.
[2] In Viljoen-Gedenkboek (Viljoen-Familiebond, Stellenbosch, 1977).
[3] Die van verskyn ook op plekke as Villion, maar François het blykbaar sy van as Villon gevoer.
[4] Mnr De Villiers se moeder was ’n nooi Viljoen.
[5] ’n Edelman genaamd Baudouin de Claromonte het in 1023 nC op hierdie Clermont ’n klipkerk laat bou. Die landgoed is deur die Franse koning aan Baudouin se sesde seun, Robert de Clermont, verleen. Robert het die familienaam van sy vrou, Béatrice de Bourbon, oorgeneem. Die koningshuis van Bourbon (’n vertakking van die dinastie van Hughes Capet) is van hierdie huwelik afgestam. Die Hôtel de Ville de Clermont, die dorp se hoofgebou, is in 1459 deur Louis II de Bourbon opgerig.
[6] Hierdie rolle word in die Algemeen Rijksarchief in Den Haag, Zuid Holland, gebêre.
[7] Walcheren is nie meer ’n eiland nie. Die Nederlandse Deltaplan van die 20ste eeu het die eilande Walcheren, Noord-Beveland en Zuid-Beveland in ’n enkel skiereiland omskep en die binnelandse walle met vars water omring, nie sout nie. Middelburg is so genoem omdat in die middel van Walcheren geleë was.
[8] Die provinsie Zeeland bestaan uit die eilande van die Scheldt-Maas-delta en die suider-oewer van die Westerschelde, wat Zeeuwsch-Vlaanderen genoem word.
Die gebied is tot in 1323 tussen die grawe van Vlaandere en Holland betwis. In daardie jaar is Zeeuwsch-Vlaanderen aan Holland geannekseer. Dit is tydens die regering van Stadtholder Willem III (1672-1702) met die res van Nederland verenig.
[9] Die oorspronklike plaas Idas Valley (in Afrikaans Idasvallei geskryf, of in Engels as Ida’s Valley) het vier hoof-onderverdelings. Die oorspronklike opstal staan steeds onder daardien naam bekend, alhoewel die H-vormige huis op die perseel eers in 1789 deur Samuel Johannes Cats gebou is. Twee ander plase, Rustenburg en Schoongezicht, is daaruit verdeel, asook ’n dorpsgebied wat in die apartheidsjare vir Kaapse Kleurlinge gestig is (ook Idasvallei/Ida’s Valley genoem).
[10] Genealogiese kode b3 (kyk voetnoot hierbo oor François).
[11] Genealogiese kode b3c4.
[12] Genealogiese kode b4.
[13] Genealogiese kode b4c2.
For English, click here
Terug na Armoria familia-indeks