Armoria patriæ
http://uk.oocities.com/landswapen

Provincie Natal

Province of Natal

Verlening van 1911 / Wapen van 1907 in Londen aangeteken (1955) / Wapen in Pretoria geregistreer (1969)


Natal (1910)

Die Provincie Natal het voortgegaan om die wapen wat per Koninklike Oktrooi op 16 Mei 1907 aan die Colony of Natal verleen is. Die blasoen lees (volgens my vertaling):

Wapen: In blou, voor berge en op ’n vlakte, twee Swart Wildebeeste wat los hardloop, alles in natuurlike kleure.

Oor die provinsie:
Die kolonie het 31 Mei 1910 formeel ’n provinsie geword van die Unie van Zuid Afrika geword. Dit was die enigste van die vier provinsies wat nie ’n nasionale hoofstad gehad het nie (die funksies van wetgewing, administrasie en regterlike gesag is tussen Kaapstad, Pretoria en Bloemfontein gedeel). Die provinsie se eie wetgewer, met sy setel in Pietermaritzburg, is die Natalse Provinciale Raad genoem. Aan die hoof van die administrasie was ’n Administrateur wat deur die Goewerneur-Generaal met die raad van die Eerste Minister aangestel is. Hy is bygestaan deur ’n Uitvoerende Komitee, die lede waarvan verkose lede van die Provinciale Raad moes wees.

Heraldiese ontwikkelings:
Natal (1911) ’n Wapen is 4 Mei 1911 deur die College of Arms aan die provinsie verleen, in die vorm van die Natalse kwartier van die Uniewapen, maar die wapen wat so verleen is, is nie eens aan die provinsie meegedeel nie (kyk Unie van Zuid Afrika) en, ten spyte van die tegniese ongeldigheid van die verlening van 1907, is daardie wapen steeds gevoer.

Die Natalse kwartier in die Uniewapen is ’n aansienlike verbetering oor die verlening van 1907, aangesien die landskap-agtergrond vereenvoudig is tot ’n veld van goud. Die provinsie het egter voortgegaan om die wapen van 1907 te voer, ten spyte van twyfelinge oor of die provinsie die reg gehad het tot die wapen wat aan die kolonie verleen is.
Natal Colony seël onder Koning Edward VII

In werklikheid het die vertoon van die wapen die patroon gevolg is wat eers in die seël wat onder Koning Edward VII gebruik is, waar daar bo die skild ’n keiserlike kroon was en daaronder ’n lint waarop die kolonie se naam, NATAL, verskyn het.

Dit was ’n vertoonstyl wat in 1910 ontstaan het, toe daar bo die skild die soort kroon wat toe in gebruik was – soortgelyk aan die Tudor-kroon wat koning Edward VII se voorkeur was – verskyn het. Dit is gedoen al het die oktrooi van 1907 geen verwysing na enige soort kroon gemaak het nie.

Die Official Gazette van Natal het tot aan die einde 1929 bo-op sy voorblad die Britse koningswapen vertoon, toe dit met die provinsiale wapen vervang is. Die Provinsiale Raad het egter vanaf die tyd van Unie konsekwent die koloniale wapen gevoer.

Naam van die provinsie:
Alhoewel die Colony of Natal slegs in Engels amptelik genoem is, kon die provinsie óf in Nederlands óf in Engels genoem word, aangesien altwee ampstale was. In 1925 het Afrikaans langsaan Nederlands amptelike status verkry, en die Afrikaanse naam is met slegs een letter na Provinsie Natal verander. Aangesien Afrikaans slegs in die noordelike dele van die provinsie die meerderheidstaal was, is hierdie naamvorm in Pietermaritzburg of Durban weinig gebruik. Ook in 1925 het Afrikaans ’n medium van instruksie in skole geword.

Provinsie Natal

Natal Province

Natal (1955)

Versierde koloniale wapen formeel geregistreer:
Staatsheraldikus F G Brownell skryf dat in 1950 die Sekretaris vir Binnelandse Sake die kwessie van provinsiale wapens met die Eerste Minister opgeneem het. “Elkeen van die Provinsies is gevra om aan te duie watter wapen dit graag wil aanneem. Namens Natal het die Administrateur-in-Uitvoerende Raad besluit dat die Provinsie se wapen dié moet wees wat in 1907 volgens Koninklike Oktrooi verleen is, maar met die toevoeging van die kroon en die woord NATAL – soos wat die wapen in die praktyk sedert 1910 gevoer is.”

Brownell haal dan ’n berig vanaf die Sekretaris tot die Eerste Minister aan die Sekretaris van Binnelandse Sake, sonder datum maar duidelik nà die dood van Koning George VI in 1952 [weereens my vertaling]:

“Die saak is aan Haar Majesteit die Koningin voorgelê, luidens die Eerste Minister se instruksies, met die mededeling dat indien formele goedkeuring aan die Wapens nie toegeken kon word nie, naamlik, dié van Transvaal en die Oranje Vrystaat, wat blykbaar nie met die wette van die heraldiek ooreenkom nie, nie sonder dat dit die Koningin in die verleentheid sou stel en indien Haar Majesteit dus sou verkies om nie daarmee geassossieer te wees nie, die Ministers nie sou wens om enige verdere stappe in die rigting van die verkryging van sulke formele goedkeuring te neem nie. Dit is verder meegedeel dat, in so ’n geval, die Ministers dit voorgedoen het om Haar Majesteit se goedkeuring te soek vir die onttrekking van die Koninklike Akte van 4 Mei 1911, en aangesien dit ongepas sou wees om nuwe Aktes in die geval van die Provinsies Kaap en Natal alleenlik uit te reik, om aan al Vier Provinsies informele verlof te gee om die wapens te voer wat hulle respektiewelik graag wil voer.

“’n Antwoord is nou vanaf die Paleis ontvang wat lui dat Haar Majesteit bly sal wees om die voorafgaande voorstel te aanvaar, waardeur die Koninklike Akte van 4 Mei 1911, wat sekere Wapens aan die Provinsies verleen het wat hulle nie langer begeer nie, onttrek word en informele verlof gelyktydig aan hulle gegee word om die Wapens te voer wat hulle graag wil gebruik. Haar Majesteit voel dat dit nie minder as reg is nie dat die keuse van hulle Wapens by die Provinsies self moet bly. Onder hierdie omstandighede sal ’n nuwe Koninklike Akte nie gesoek word nie.

“Stappe word tans gedoen om bogenoemde Akte te onttrek en u sal meegedeel word wanneer formele goedkeuring daarvoor verkry is.”

In 1954 is die Administrateurs van die vier provinsies meegedeel: “. . . Haar Majesteit die Koningin het formeel die onttrekking goedgekeur, met krag vanaf 22 Junie 1954, van die Koninklike Akte van 4 Mei 1911, in terme waarvan sekere Wapens aan die Provinsies verleen is. Daardie Provinsies wat nog nie so gemaak het nie, is nou vry om die Wapen te voer wat hulle graag wil aanneem.

“Die Sekretaris van Buitelandse Sake meld dat die Hoof-Wapenkoning Garter . . . voorgestel het, toe hy meegedeel is van die terugtrek van die Koninklike Oktrooi en van die verlof wat aan die Provinsies toegestaan is, dat die nuwe Wapens by die College [of Arms] geregistreer word.”

Brownell gaan voort: “Verlof is gelyktydig aan Natal verleen om die kroon te voer, indien dit verlang is. Natal het dus aan die College of Arms aansoek gedoen om sy wapen in die vorm te voer wat dit graag wou voer, en dit is in 1955 teweeg gebring.”

’n Anomalie in die wapen soos deur die College aangeteken, is dat die kroon nie na die St Edward-kroon (wat in 1952 as die amptelike simbool van die monargie aanvaar is) verander is nie. Dit was egter ook nie streng die Tudor-kroon wat tydens die regering van Koning Edward VII (1901-10) in gebruik geneem is nie.

Brownell noem soos volg die punte van verskil tussen die “Natalse kroon” en ’n egte koninklike kroon: 1. Die rant van die kroonring is met breedarmige kruise verhoog, nie afwisselende breedarmige kruise en lelies (fleurs-de-lys) nie. 2. Die kroonring is sonder juwele, en het bloot ’n gebosseleerde patroon. 3. Die boë is sonder pêrels. 4. Bo-op die kroon is geen ryksappel met breedarmige kruis bo-aan nie; die ryksappel ontbreek heeltemal. 5. Die kroonmus is nie diep karmosyn nie (soos in die heraldiese kroon) of selfs purper (soos in die regte Staatskroon) maar swart. 6. Die hermelyn-voering van die mus verskyn nie onder die kroonrant nie.

Brownell eindig: “Die gebrek aan ’n Koninklike Oktrooi wat die gebruik van ’n Britse Koninklike Kroon tesame met die wapen van Natal magtig, moet ’n mens tot die gevolgtrekking kom dat die College of Arms in werklikheid nie bedoel het om óf ’n spesifieke Koninklike kroon óf die konvensionele Britse heraldiese kroon voor te stel nie, maar slegs ’n goue kroon in die algemeen.”

Hierdie anomalie is egter nie onder die aandag van die Buro vir Heraldiek (wat volgens ’n Wet van 1962 geskep is) gebring nie, en toe die provinsie se wapen onder hierdie Wet in Oktober 1967 geregistreer is, het die sertifikaat na “die kroon van St Edward” verwys, en die illustrasie het hierdie soort kroon vertoon.

Die Provinsiale Sekretaris het die Staatsheraldikus in kennis gestel dat dit “nie aan die Administrateur-in-Uitvoerende Komitee aanvaarbaar is nie” en het ’n verbeterde sertifikaat verlang.
die kroon in die wapen van Natal

Die Buro het daarmee akkoord gegaan, en onder registrasiesertifikaat No 102, wat 29 Januarie 1969 uitgereik is, is die wapen geregistreer volgens die blasoen van 1907 maar met die bykomstige bewoording (my vertaling):

. . . Bo-aan die skild ’n kroon bestaande uit ’n kroonring met agt breedarmige kruise en vier boë, waarbo ’n breedarmige kruis van goud, met ’n swart kroonmus.

Die illustrasie het ’n lint onder die skild getoon met die woord NATAL, maar dit is in die blasoen nie gemeld nie. Die gebruik van die College of Arms is om leuses nie in blasoen te noem nie. In hierdie geval is dit egter nie ’n leuse nie, maar die naam van die provinsie, en dit is swak heraldiese gebruik om die naam van die gesag in sy wapen in te sluit.

Die provinsie het nietemin daarop aangedring dat dit in die blasoen ingevoeg word, en in 1985 is ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer wat genoem het dat die woord NATAL op ’n lint onderaan die skild verskyn.

Gebieds- en grondwetlike veranderings:
Natal het groot stamtrustgebiede ingesluit. Deels het dit gespruit uit die “lokasies” wat Theophilus Shepstone soos ’n lappieskombers oor die Colony of Natal (soos dit voor 1897 bestaan het) georganiseer het, en deels in die dele van Zululand en die St Lucia-meer- en Ingwavuma-gebiede wat in die hande van die inheemse volk gebly het.

Alhoewel die inheemse volk nie oorspronklik almal aan die Koning van die amaZulu onderworpe was nie, het die gebeure van die 19de en vroeg 20ste eeu daartoe gelei dat die meeste kapteins, indien nie almal nie, van hierdie verskeie klans hulle onderworpenheid aan die koningshuis erken het. Die taal wat deur die mans van die klans was eenvormig isiZulu (in ’n verskeidenheid dialekte), alhoewel die vroue van enkele klans ander tale gepraat het.

Gevolglik is al die provinsie se stamtrustlande in 1970 saamgegroepeer onder die Gebiedsowerheid KwaZulu, wat 30 Maart 1972 sy eie Wetgewende Vergadering verkry het. KwaZulu het besluit om die “onafhanklikheid” wat deur die Suid-Afrikaanse regering aangebied is, nie te aanvaar nie.

Die “onafhanklikheid” in 1976 van Transkei het as gevolg gehad die isolering van Griekwaland-Oos (landdrosdistrik Mount Currie) vanaf die res van die Kaapprovinsie. Alhoewel die Grondwet dit gestipuleer het dat enige wysings aan provinsiale grense deur die betrokke provinsies goedgekeur moet word, het die sentrale regering (sonder formele konsultasie met die provinsies) besluit om Griekwaland-Oos aan Natal oor te gee. Aangesien Natal lank reeds die gebied begeer het, en sy blanke grondeienaars sterk bande met die provinsie gehad het, is hierdie reëling deur die administrasie in Pietermaritzburg aanvaar.

Die administrasie van die Afdelingsraad Griekwaland-Oos het ’n plaaslike kantoor van die Natalse Provinsiale Administrasie geword, en die munisipaliteite Kokstad en Matatiele het boroughs van Natal geword.

Onder die Grondwet van 1984 is die Provinsiale Raad afgeskaf. Die Administrateur, steeds deur die president benoem (hierdie prerogatief het in 1961 na die Staatspresident oorgegaan), het nou die Uitvoerende Komittee gekoöpteer in plaas daarvan dat dit uit verkose wetgewers geneem is. Die ooglopende doel hiervan was om die basis van die provinsiale administrasie te verbreed, sodoende mense van ander rasse te betrek (slegs blankes kon lid wees van die Provinsiale Raad), maar dié wat aangestel is, was grotendeels slaafs onderdanig aan President P W Botha.

In 1994 was die provinsie een van twee wat min of meer dieselfde as voorheen gebly het. Dit is met KwaZulu herenig en het formeel as KwaZulu-Natal bekend gestaan.

Die afbakeningskommissie het aan KwaZulu-Natal die linkeroewer van die Phongolorivier oorkant Swaziland toegewys, en het daardeur die lang draai van die Piet Retief-distrik (in Oos-Transvaal, tans Mpumalanga) wat aan die suidekant om Swaziland gekrul het, uitgesluit. Daarby het die kommissie voorgestel dat Griekwaland-Oos na die Provinsie Oos-Kaap oorgaan. Natal het hom egter hierteen verset, en alhoewel altwee provinsies administratiewe reëlings vir die gebied gemaak het, bly Griekwaland-Oos effektief onder die beheer van KwaZulu-Natal, nie Oos-Kaap nie.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Heraldiese bron: National and Provincial Symbols of South Africa, deur F G Brownell.


    Terug na vier provinsies-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • 1