Armoria patriæ
http://uk.oocities.com/landswapen

Provinsie KwaZulu-Natal

iPhondo leKwaZulu-Natal

KwaZulu-Natal Province

KwaZulu-Natal

KwaZulu-Natal het ’n volle dekade gewag voordat dit ’n nuwe wapen in gebruik geneem het. Soos ek hierdie woorde skryf, is die registrasieproses steeds onvoltooid, tog is die Engelse weergawe van die amptelike blasoen beskikbaar. Die blasoen is in beide Engels en isiZulu voorberei – die eerste maal wat enige heraldiese wapen amptelik in Suid-Afrika in enige taal geblasoeneer is in enige taal behalwe Engels en Afrikaans. My vertaling van die blasoen lui:

Wapen: In silwer ’n groen hoekige dwarsbalk binne ’n groen duifstert-skildsoom ’n strelitziablom in sy natuurlike kleure; op ’n hoekige blou skildhoof, onder silwer omlyn, ’n silwer ster van vyf punte. Bo die skild is ’n goue kopring, waarop ’n Zulu-hut in sy natuurlike kleure. Agter die skild ’n spies en knopkierie skuins gekruis, in hulle natuurlike kleure.

Skildhouers: Op ’n groen grond, die onderste rand van goud, regs ’n leeu en links ’n swart wildebees in hulle natuurlike kleure.

Leuse: Masisikume Sakhe.

Wapen verduidelik:

Die keuse van skildtipe is hoogs paslik: ’n Nguni[1]-skild, wat die militêre tradisies van die kryger-amaZulu en hul voorgangers weerspieël. Die vorm daarvan is dit van twee hakies: ()

Nguni-skilde is al dikwel deur Europese heroute in Afrika-omstandighede toegepas, op grond daarvan dat die skildtipe uit Afrika afkomstig is, maar dikwels nie op ’n paslike wyse nie, want die lande waarvoor dit gebruik is het òf heeltemal ander skildtradisies gehad – Botswana by voorbeeld – of dat hulle slegs rakelings deur Nguni-invalle geaffekteer is.

Die skildformaat is lank voor die tyd van Shaka deur die abeNguni gebruik, maar is destyds op ’n lang skild toegepas wat ten minste 2 m hoog gestaan het, waaragter die krygsman hom weggesteek het terwyl die vyand hom met lang werpspiese gegooi het.

Shaka se hervorming het beide lang skild en lang spies afgeskaf; die werpspies is met ’n kort steekspies of assegai vervang, en die skild se lengte is tot ongeveer ’n meter verkort, sodat dit slegs in handgevegte van nut was.

Selfs korter skilde, sowat 300 mm hoog, word tradisioneel in stokgevegte gebruik, wat die tradisionele sport is onder jong Nguni-mans.

Die skild word tradisioneel uit koeivel gemaak, of die vel van ’n ander soort hoefdier, en word met stokke gestut. Wanneer die skild nie in gebruik is nie, op parade of in ’n veg-situasie, word die stokke vir gemaklike dra verwyder.

Die stokke word met rieme op hul plek gehou, rieme wat dikwels in kontrasterende kleure is. Sulke rieme kan in die Nguni-skilde gesien word wat tans deur Gauteng gevoer word, en voorheen deur KwaZulu, maar is in hierdie voorbeeld afwesig, want die skildveld is met wapenfigure gevul op ’n wyse wat in die Weste meer tradisioneel is.

Die hoof-wapenfiguur is ’n blom van Strelitzia reginæ, wat algemeen bekend staan as die kraanvoëlblom of die paradysvoëlblom. Dit is inheems in die warm valleie van Zoeloeland naby die see, maar word nie natuurlik in ou Natal-kolonie suid van die Thukelarivier aangetref nie, alhoewel dit ook in Transkei voorkom en sover suid in Oos-Kaap as Humansdorp. Dit word nietemin algemeen in tuine in Natal aangeplant, soos ook in ander wêrelddele – dit is amptelik ’n simbool van die Stad Los Angeles in California – en groei ook wild, nadat dit uit formele tuine saad gemaak het.

Ten minste een ander spesie Strelitzia word ook in KwaZulu-Natal aangetref, naamlik Strelitzia nicolai, wat tot ’n hoogte van 6 m groei, en maklik verwar kan word met ’n piesangboom – sy gewone naam is in werklikheid Natal wild banana. Wanneer dit blom, kan ’n mens nie fout maak nie, want sy blomme – ten minste tweemaal so groot as dië van S reginæ – het duidelik dieselfde vorm, alhoewel dit romerig gekleur word waar die kraanvoëlblom oranje is, en pers-swart waar die kraanvoëlblom groen en bloeskleurig is.

Die kraanvoëlblom (S reginæ) was die amptelike blom-embleem van die Provinsie Natal.

Ek sou raai dat die dwarsbalk, met sy hoekige voorkoms, die Drakensberge voorstel, wat die grens vorm van KwaZulu-Natal waar dit aan Lesotho en die Vrystaat raak.

Groen is die oorwegende kleur van die KwaZulu-Natalse landskap.

Agter die skild gekruis is ’n assegai en ’n knopkierie, tradisionele simbole van kapteinlike gesag.

Die helmteken is ’n byekorf-hut, die tradisionele struktuur wat gebruik is in die oprig van die huise van die abeNguni. ’n Opstal word gewoonlik uit ’n aantal sulke hutte opgemaak, een vir die manlike hoof van die huishouding, en een vir elkeen van sy vroue en hulle onderskeidelike kinders. Alhoewel die amaZulu grotendeels hierdie tipe hut laat vaar het, kan dit huidiglik gesien word in die geskiedkundige wat opgerig is naby die kraal van Shaka, Mgingindlovu.

Hutte van hierdie tipe was ook kenmerkend van die suidelike Nguni in wat later Transkei en Ciskei geword het, maar die styl is in daardie streek sowat anderhalf eeu gelede laat vaar. ’n Voorbeeld van die styl kan nietemin gesien word in die seël van King William’s Town, wat die hoofstad was van die kolonie British Kaffraria.

Die regterhandse skildhouer is ’n natuurlike leeu (Leo leo), uit die wapen van KwaZulu, en verteenwoordig die gesag van die Zulu-koning.

Die linkerhandse skildhouer is ’n swart wildebees (Connochætes gnou). Twee van hulle saam was die simbool van die kolonie en provinsie Natal sedert 1870, en deel van sy wapen sedert 1907. In hierdie wapen word die boksoort vir die eerste maal as klimmend aangetoon, eerder as lopend.

 

Interim-simbool:

Gedurende die eerste 10 jaar van die provinsie se bestaan, het KwaZulu-Natal die wapens van beide Natal en KwaZulu, langs mekaar geplaas, gebruik om die provinsie voor te stel.

KwaZulu-Natal (interim-simbool, wapens van Natal en KwaZulu)

 

Oor die provinsie:
Die Provinsie KwaZulu-Natal het 27 April 1994 formeel tot stand gekom, toe verkiesings waarin kiesers van alle rasse stemreg gehad het, die eerste maal in Suid-Afrika gehou is. Aan die hoof is ’n Premier, verkies deur en uit die Provinsiale Wetgewer. Hy (of sy) word bygestaan deur ’n Uitvoerende Raad bestaande uit lede van die Wetgewer.

Die provinsie is gevorm uit die eermalige Provinsie Natal en die nie-onafhanklike tuislandstaat KwaZulu, plus daardie deel van die distrik Piet Retief (uit die Provinsie Transvaal, tans in Mpumalanga) wat suid van Swaziland geleë was, op die oewer van die Phongolo-rivier.

Die distrikte wat die provinsie uitmaak is (met een uitsondering):

 

Alfred (Harding), Babanango, Bergville, Camperdown, Dannhauser, Dundee, Durban, Eshowe, Estcourt, Glencoe, Hlabisa, Inanda, Ingwavuma, Ixopo, Kliprivier, Kranskop, Lions River, Mahlabatini, Mapumulo, Mooirivier, Mpendle, Msinga, Mtonjaneni, Mtunzini, Ndwedwe, Newcastle, Nieu-Hanover, Ngotshe, Nkandla, Nongoma, Nqutu, Onder-Tugela, Onder-Umfolozi, Paulpietersburg, Pietermaritzburg, Pinetown, Polela, Port Shepstone, Richmond, Ubombo, Umbumbulu, Umlazi, Umvoti, Umzinto, Underberg, Utrecht, Vryheid en Weenen.

 

Die distrik wat betwis word is Mount Currie (of Griqualand-Oos; distriksetel Kokstad). Die behoud van hierdie distrik deur Natal, ten spyte van die aansprake van Oos-Kaap, beteken dat die Oos-Kaapse distrik Umzimkhulu van die res van Oos-Kaap geskei word deur KwaZulu-Natalse gebied.

Die provinsie het twee hoofstede geërf: Pietermaritzburg, wat gestig is as die hoofstad van die Republiek Natalia, en Ulundi, setel van die wetgewer van KwaZulu. Die provinsiale wetgewer het tot in Juliemaand 2002 geen besluit gemaak nie; in daardie maand is dit ten gunste van Pietermaritzburg beslis.

Gebiedsuitbreiding:
KwaZulu-Natal is die enigste provinsie van Suid-Afrika wat sedert 1843 deurentyd gegroei het. In daardie jaar is dit (as Natal) deur Britse magte beset en is sy noord-oos grens aan die Thukelarivier neergelê (daardeur is grondaansprake deur die Republiek Natalia tot so ver noord as die Swart Mfolozi laat vaar).

Natal is in 1844 formeel as distrik van die Kaapkolonie geannekseer, en het ook sy suidelike grens op die Mzimkhulurivier vasgestel. In 1856 is dit van die Kaap apart gemaak en het ’n aparte kolonie geword. Tien jaar later het dit grond tussen die Mzimkhulu- en Mtamvunarivier as Alfred County geannekseer.

In 1897 het die kolonie Zululand deel van Natal geword. Daarmee saam het St Luciabaai gekom, wat in 1884 geannekseer is, en Kosibaai, wat in 1895 geannekseer is.

In 1903, nadat Natal eise ingestel het vir oorlogsreparasies, is drie distrikte van die Transvaal Colony (voorheen Zuid Afrikaansche Republiek) aan Natal toegevoeg: Utrecht, Vryheid en Paulpietersburg (laasgenoemde twee was wat oorgebly het van die Nieuwe Republiek).

Die enigste maal wat Natal kleiner geword het was gedurende die 1970s, toe KwaZulu sy eie wetgewer verkry het en is effektief (alhoewel nie formeel nie) van die Provinsie Natal geskei.

In 1976 het Natal van die Kaapprovinsie Griekwaland-Oos verkry.

In 1994 is KwaZulu en Natal herenig en het van die Transvaal die Phongolorivier “panhandle” verkry. Aangesien dit effektief Griekwaland-Oos behou het, het die provinsie elke grondaanwins sedert 1866 behou.

Tale van die provinsie:
Die tale wat hoofsaaklik in KwaZulu-Natal gepraat word is isiZulu (kyk Natal Colony vir ’n bespreking hiervan), en Engels. Afrikaans is ’n meerderheidstaal slegs in die noord-westelikste dele van die provinsie.

Die provinsie se naam verskyn hierbo in aldrie tale. Die woord iPhondo verskyn ook in die Xhosa-benaminge van Oos- en Wes-Kaap. Die voorvoegsel “kwa-”, wat plek of land beteken, word in isiZulu as “ghwa-” uitgespreek, nie “kwa-” soos in isiXhosa nie.

Geen ander van Suid-Afrika se 11 amptelike tale word deur groot gemeenskappe gepraat nie, maar daar is ’n aansienlike minderheid wat ’n aantal Indiese tale praat, nasate van die ingeboekte arbeiders wat gedurende helfte van die 19de eeu Natal binnegekom het (hoofsaaklik uit suid-Indië) en van die sogenaamde passassier-Indiërs, handelaars uit die noordelike state, hoofsaaklik Gujarat.

Zulu is verreweg die meerderheidstaal in die provinsie as geheel. Daar is ook ’n minderheid stedelike Bantu-sprekendes wat ander tale gebruik, hoofsaaklik isiXhosa-sprekende amaMpondo uit Transkei. Engels word deur die meerderheid stedelinge gepraat, en deur die hoogste proporsie boere in enige deel van Suid-Afrika, veral langs die kus en in die Middellande. Die meeste Indiërs het Engels as die taal wat hulle buite hulle huise gebruik, maar hul huistaal hang dikwels van hul godsdiens af. Christen-Indiërs is hoofsaaklik Engelssprekend; Hindoes praat ’n verskeidenheid Indiërtale, maar in in KwaZulu-Natal hoofsaaklik Tamil, en Muslim-Indiërs praat grootliks Gujarati of Engels, met Arabies as godsdienstaal.

Die provinsie se bevolking was voorheen volgens ras geklassifiseer: swart (letterlik “Bantoe”, wat abeNguni en swart minderheidsgroepe gedek het), blank en Asiaties (hoofsaaklik Indiërs, maar met ’n paar Sjinese by). Daar is ’n klein Kleurling-gemeenskap, behalwe in Griekwaland-Oos waar daar ’n groot Griekwa-gemeenskap is (wat geklassifiseer was as ’n sub-groep van Kleurling).



[1] Die abeNguni is ’n kultureel-taalkundige groepering onder die Bantu-sprekendes van Suidelike Afrika wat die amaZulu van KwaZulu-Natal, die Xhosa-sprekendes van Oos-Kaap, die Swazi of Swati van Swaziland en die eermalige Bantustan-staat KaNgwane, die amaNdebele van die eermalige Bantustan-staat KwaNdebele en die amaNdebele van die westelike deeel van Zimbabwe.

Die Noordelike amaNdebele van die Provinsie Limpopo en die Ngoni-stamme van Zambia, Malawi en Tanzania het grotendeels hul Nguni-taal verloor, maar behou nietemin aspekte van Nguni-kultuur.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Erkenning: Wapenbeeld ontvang vanaf Bruce Berry, van die Suid-Afrikaanse Veksillologiese Vereniging, en Marcel van Rossum, van die Buro vir Heraldiek in Pretoria. Inligting oor strelitzias uit What South African Flower Is That? deur Kristo Pienaar (Struik) en National and Provincial Symbols deur F G Brownell.


Terug na nege-provinsies-indeks

Terug na Armoria patriæ-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle

1