Armoria patriæ
http://uk.oocities.com/landswapen

Provincie Oranje Vrij Staat (dikwels Vrij Staat genoem)

Orange Free State Province

Verlening van 1911 / Republikeinse wapen heraangeneem, 1937 / Republikeinse wapen erken, 1950-55


Oranje Vrij Staat (1910)

Die Provincie Oranje Vrij Staat (soos dit eers genoem is) het voortgegaan om die wapen wat 10 Desember 1904 aan die Orange River Colony deur Koninklike Akte verleen is, te voer. Die blasoen hiervan lui (volgens my vertaling):

Wapen: In silwer, op ’n grond ’n Springbok en op ’n blou skildhoof die Tudor-kroon, alles in natuurlike kleure.

Oor die provinsie:
Die kolonie het formeel op 1 Mei 1910 ’n provinsie van die Unie van Zuid Afrika geword. Bloemfontein is tot regterlike hoofstad van die Unie geproklameer, en die provinsie se eie wetgewer is die Provinciale Raad Oranje Vrij Staat genoem. Aan die hoof van administrasie was ’n Administrateur wat deur die Goewerneur-Generaal aangestel is nà die raadgewing van die Eerste Minister. Hy is bygestaan deur ’n Uitvoerende Komitee, die lede waarvan verkose lede moes wees van die Provinsiale Raad.

Heraldiese ontwikkelings:
Oranje Vrij Staat (1911)

Op 4 Mei 1911 is ’n wapen deur die College of Arms aan die provinsie verleen in die vorm van die Vrystaatse kwartier van die Unie-wapen, maar die wapen wat so verleen is, is nie eens aan die provinsie meegedeel nie (kyk Unie van Zuid Afrika) en, ten spyte van die tegniese ongeldigheid van die verlening van 1904, het die voer van die koloniale wapen voortgeduur.

In 1925 het die Unie-wapen dié van die Orange River Colony op die notules van die Provinciale Raad Oranje Vrij Staat vervang.

Naam van die provinsie:
Aangesien die amptelike tale van die Unie Nederlands en Engels was, het die provinsie ook Orange Free State Province geheet. In 1925, toe Afrikaans erkenning verkry het, het die Nederlandse vorm van die naam verval; die gewone Afrikaanse vorm het uiteindelik Oranje Vrystaat geword (die letter Y in plaas van IJ, en dit is na lange redekawel besluit om Vrystaat as een woord te skryf). Reeds in 1914 is Afrikaans as medium van instruksie in skole erken.

Provinsie Oranje Vrystaat (Vrystaat)

Orange Free State Province

Oranje Vrystaat (1937)

Republikeinse wapen heraangeneem:
Staatsheraldikus F G Brownell skryf dat die Provinsiale Raad Oranje Vrystaat 25 Mei 1937 besluit het dat die wapen van die Oranje Vrij Staat amptelik erken word as die wapen van die Provinsie Oranje Vrystaat. Die besluit is aan die Sekretaris van Binnelandse Sake aangestuur, wie in antwoord op die Koninklike Akte van 1911 aangedui het. Die Provinsiale Sekretaris het geantwoord dat die Provinsiale Administrasie geen kennis van die Koninklike Akte gehad het nie en ook nie geraadpleeg is nie, en dat die Uitvoerende Komitee met die verlening ontevrede was en beslis nie die wapen van 1911 sou voer nie. ’n Verdere brief het (luidens my vertaling) bygevoeg:

“. . . terwyl die Provinsiale Embleme wat in 1911 aan die Provinsie toegewys is . . . as ’n paslike kwartering vir gebruik in die Unie-wapen beskou kan word, is dit – al word dit uit ’n estetiese, kunstige, geskiedkundige of enige ander oogpunt beskou word, beslis nóg wenslik nóg paslik as Wapen vir gebruik deur die Provinsie vir Provinsiale doeleindes.”

Verdere briewe het bloot die situasie herhaal: die Vrystaat was nie bereid om enige veranderinge aan die republikeinse wapen van 1856 te aanvaar nie, en die Sekretaris vir Binnelandse Sake was ewe onbereid om hierdie wapen aan die Kroon vir oorweging voor te lê. Op hierdie dooie punt het die Vrystaatse owerhede op eie verantwoording opgetree en op 3 September 1937 het die ou republikeinse wapen op die provinsie se Amptelike Gazette verskyn.

Republikeinse wapen reëlmatig gemaak:
“In 1950,” skryf Brownell [weereens my vertaling], “het die Sekretaris vir Binnelandse Sake die kwessie van provinsiale wapens met die Eerste Minister opgeneem, en is elkeen van die Provinsies versoek om aan te dui watter wapen hulle wou voer. Die Vrystaat het reeds in 1937 sy besluit geneem, en het daarby gehou. Transvaal het soortgelyk besluit.”

Brownell haal dan ’n memorandum van die Sekretaris tot die Eerste Minister aan die Sekretaris vir Binnelandse Sake aan. Dit is ongedateer maar val duidelik ná die dood van koning George VI in 1952 [weereens my vertaling]:

“Die saak is aan Haar Majesteit die Koningin voorgelê, luidens die Eerste Minister se instruksies, met die aanduiding dat, indien formele goedkeuring aan die Wapens nie toegeken kon word nie, naamlik, dié van Transvaal en van die Oranje Vrystaat, wat blykbaar nie met die wette van die heraldiek ooreenkom nie, sonder dat dit die Koningin in die verleentheid sou stel en indien Haar Majesteit dus sou verkies om nie daarmee geassossieer te wees nie, die Ministers nie sou wens om enige verdere stappe in die rigting van die verkryging van sulke formele goedkeuring te neem nie. Dit is verder meegedeel dat, in so ’n geval, die Ministers dit voorgedoen het om Haar Majesteit se goedkeuring te soek vir die onttrekking van die Koninklike Akte van 4 Mei 1911, en aangesien dit ongepas sou wees om nuwe Aktes in die geval van die Provinsies Kaap en Natal alleenlik uit te reik, om aan al Vier Provinsies informele verlof te gee om die wapens te voer wat hulle respektiewelik graag wil voer.

“’n Antwoord is nou vanaf die Paleis ontvang wat lui dat Haar Majesteit bly sal wees om die voorafgaande voorstel te aanvaar, waardeur die Koninklike Akte van 4 Mei 1911, wat sekere Wapens aan die Provinsies verleen het wat hulle nie langer begeer nie, onttrek word en informele verlof gelyktydig aan hulle gegee word om die Wapens te voer wat hulle graag wil gebruik. Haar Majesteit voel dat dit nie minder as reg is nie dat die keuse van hulle Wapens by die Provinsies self moet bly. Onder hierdie omstandighede sal ’n nuwe Koninklike Akte nie gesoek word nie.

“Stappe word tans gedoen om bogenoemde Akte te onttrek en u sal meegedeel word wanneer formele goedkeuring daarvoor verkry is.”

In 1954 is die Administrateurs van die vier provinsies meegdeel: “. . . Haar Majesteit die Koningin het formeel die onttrekking goedgekeur, met krag vanaf 22 Junie 1954, van die Koninklike Akte van 4 Mei 1911, in terme waarvan sekere Wapens aan die Provinsies verleen is. Daardie Provinsies wat nog nie so gemaak het nie, is nou vry om die Wapen te voer wat hulle graag wil aanneem.”

Na die onttrekking van die Akte van 1911 het die Oranje Vrystaat aansoek gedoen om sy wapen by die College of Arms te laat aanteken, wat in July 1955 plaasgevind het.

Na die promulgering van die Heraldiekwet van 1962, is die wapen van die Provinsie Oranje Vrystaat by die Staatsheraldikus volgens registrasiesertifikaat No 100 geregistreer, wat 30 Oktober 1967 uitgereik is. Brownell haal nie ’n blasoen uit hierdie sertifikaat aan nie.

Gebieds- en grondwetlike veranderings:
Anders as die drie ander provinsies van die Unie, het die Vrystaat stamtrustgrond in slegs twee landdrosdistrikte gehad: Thaba Nchu, waar die inwoners Tswana-sprekend is, en Witsieshoek, wat Sotho-sprekend is. Thaba Nchu het deel geword van die Tswana-tuisland, wat 6 Desember 1977 onder die naam Bophuthatswana sy “onafhanklikheid” geneem het. Witsieshoek en Botshabelo, ’n nuutgeboude oornagdorp buite Bloemfontein, het die nie-onafhanklike tuisland QwaQwa geword.

In terme van die Grondwet van 1984 is die Provinsiale Raad afgeskaf. Die Administrateur, wat steeds deur die President aangestel is (die prerogatief het in 1961 na die Staatspresident oorgegaan), het nou sy Uitvoerende Komitee gekoöpteer in plaas daarvan dat hy verkose wetgewers moes aanstel. Die ooglopende doel hiervan was om die basis van die provinsiale administrasie te verbreed, sodoende mense van ander rasse te betrek (slegs blankes kon lid wees van die Provinsiale Raad), maar dié wat aangestel is, was grotendeels slaafs onderdanig aan President P W Botha.

In 1994 was die provinsie een van twee wat min of meer dieselfde gebly het. Dit het formeel bekend geraak as die Provinsie Vrystaat.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Heraldiese bron: National and Provincial Symbols of South Africa, deur F G Brownell.

  • Skanderings met vergunning van die Evening Post.


    Terug na vier provinsies-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmkerkings, navrae: Mike Oettle

  • 1