AFBREEK VAN WOORDE - OPSOMMENDE AFRIKAANSE SPELREËLS EN OPMERKINGS

| Tuisblad | Koop die AWS | Geskiedenis van die AWS | Taalkommissie-lede | Oorsig oor die reënboog-AWS | Spelreëls en kommentaar (ons s'n en joune ook) | Omgangstaalafrikaans | Weggelate woorde | Debat oor die 1991-AWS | Skakels |

Kliek hier vir die spelreëls-hoofbladsy.

AFBREEK VAN WOORDE

Die reëls vir die afkap van woorde aan die einde van reëls het nie wesenlik verander nie.

(1.1) Woorde word afgekap volgens lettergreep. Dit volg dus dat slegs woorde met meer as een lettergreep afgebreek mag word. (1.2) Die afbreekteken, wat lyk soos 'n koppelteken, kom aan die einde van die eerste reël en word nie saam met die afgekapte lettergrepe na die tweede reël verskuif nie. As daar dus nie spasie vir óf die hele enkellettergrepige woord óf ten minste die afkapteken nie, kan die woord nie afgekap word nie. [x] Finish en klaar.

Teoreties gesproke word woorde (1.3) by voorkeur afgekap op grond van "betekenisvolle" dele, of (1.4) indien nie, op grond van klankgrepe. Onses insiens is die inbring van reël 1.3 'n powere poging om voorsiening te maak vir woorde wat nie streng volgens klankgrepe verdeel nie. Prakties gesproke het die reëls oor afkap nie juis verander sedert 1964 of 1991 nie. (1.5) Woorde moet verkieslik so afgekap word dat hulle nog steeds maklik lees. Hou stamme verkieslik intak. Kap dus 'n woord eerder af as af-ge-baken-de as afgeba-kende.

(1.6) (1.7) Dis nou toelaatbaar om 'n deelteken-letter, wat deel van die afgekapte lettergrepe is, te behou. Vroeër mog die deelteken nie by afgekapte woorde geskryf word nie. Byvoorbeeld: ge- ëet (vroeër ontoelaatbaar, tans wel toelaatbaar), ge- eet (vroeër enigste toelaatbare vorm, tans steeds toelaatbaar). 'n Mens wonder of dié reël ingestel is om voorsiening te maak vir rekenaar-afkapprogramme.

(1.8) Woorde in die vorm =[s][medeklinker][medeklinker]=, soos distrik en frustreer, kan soms op meer as een plek afgekap word, byvoorbeeld dis-trik en di-strik, en frus-treer en fru-streer, en dié variasie is toelaatbaar, hoewel daar in sommige gevalle tradisioneel 'n voorkeur vir een vorm is, byvoorbeeld indus-trieel word verkies bo indu-strieel. Let op die woorde "soms" en "dikwels".

(1.9) Die toegewing van reël 1.8 geld egter nie meer vir tradisionale wisselvorme in die vorm =[klinker][medeklinker][l/r][klinker]= nie, byvoorbeeld di-plomaat en nie meer dip-lomaat nie, en re-frein en nie meer ref-rein nie. REGSTELLING: Vir woorde in die vorm eks= geld die volgende reël: indien daar 'n medeklinker ná die eks voorkom, breek 'n mens ná die eks af maar as daar 'n klinker na die eks voorkom, breek 'n mens tussen die k en die s af (behalwe as "eks" "oud" beteken) (kyk ook reël 12.28).

(1.10) Soos ons op skool geleer het, word lettergrepe waar daar twee identiese medeklinkers op die verdeling voorkom, tussen die twee medeklinkers afgekap, byvoorbeeld interes-sant en nie volgens die klankgrepe intere-ssant nie. (1.11) Eweneens word =ng= of =nk= ook nog soos op skool hanteer, met ander woorde verlan-gens en lin-kerhand. Let op die afkapping van bang-jan (nie ban-gjan nie).

(1.12) Wanneer woorde in die vorm =[s][j]= nie 'n shhh-klank het nie, word daar tussen dié twee medeklinkers afgebreek, maar (1.13) indien die sj-kombinasie wel 'n shhh-klank vorm, word hulle as 'n eenheid behou, byvoorbeeld kaas-jogurt en maar man-sjet.

(1.14) Verkleiningsvorme wat op =tjie/djie of =jie eindig, word ná die t/d afgekap indien dit deel van die stam van die vorige lettergreep vorm, maar (1.15) ná die t/d andersins. Dus hand-jie en kat-jie, maar padda-tjie en blomme-tjie.

(1.16) Woorde in die vorm =[klinker][x][klinker]= word ná die x afgekap, en ons vermoed dieselfde geld ook vir =[klinker][ks][klinker]=, byvoorbeeld alex-ander en nie ale-xander nie.

KOMMENTAAR

Ons verwelkom kommentaar van ons lesers, hetsy kommentaar op ons opmerkings of direk kommentaar op die spelreëls sélf. Skryf solank jou kommentaar, en wanneer ons klaar is, sal ons die posadres gee waarheen jy jou kommentaar kan stuur. Kommentaar word onderaan elke hoofstuk geplaas (anoniem of met jou naam).


Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.

Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.

π