INSIGTE OOR DIE AFRIKAANSE WOORDELYS EN SPELREËLS

| Tuisblad | Koop die AWS | Geskiedenis van die AWS | Taalkommissie-lede | Oorsig oor die reënboog-AWS | Spelreëls en kommentaar (ons s'n en joune ook) | Omgangstaalafrikaans | Weggelate woorde | Debat oor die 1991-AWS | Skakels |

Aandag skoliere en studente: Gedeeltes van hierdie webwerf is doelbewus in informele taal geskryf. Ten einde die webwerf nuttiger vir skoliere en studente te maak, het ek alle sinne wat niestandaardtaal bevat, met "[x]" vooraan gemerk. Die spelreëls-afdeling is myns insiens akkuraat ten spyte van die informele taalgebruik en doelbewuste terminologiese inkonsekwensies. Dankie.

INLEIDING

Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in September 2002 die negende uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls gepubliseer. Die bundel is grondig verwerk en uitgebrei om dit toegankliker te maak en waarde daaraan te voeg.

Die nuwe AWS staan alom bekend as die "reënboog-AWS" of as die "bont boek", vanweë die helderkleurige omslag. [x] Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls bevat onder meer 'n terminologie-lys waarin taalterme verduidelik word, 'n lys met Omgangstaalafrikaans, 'n gids om Cyrilliese name te verafrikaans, 'n lys buitelandse plekname, meer as 30 000 woorde en meer as 180 bladsye vol reëls met grondige kruisverwysings. Die woordelys het 'n fauxduimnaelindeks en die nommers van die spelreëls word is in die linker- en regterhoek van elke bladsy gedruk vir maklik vind.

Elke hoofstuk, subafdeling en reël volg dieselfde formaat. Reëls is deurgaans genommer sodat nie twee reëls in verskillende hoofstukke dieselfde nommer het nie. Die afdelings is ook in alfabetiese volgorde gerangskik, met kruisverwysings.

MAKLIKE SPELREËLS

Die 2002-AWS verskil heelwat van die 1991-AWS, en die maklikste manier om korrek te spel, is om die 1991-AWS te ingoreer asof dit nooit bestaan het nie. Trouens, dit makliker om bloot te veronderstel (hoewel baie vereenvoudig) dat die 2002-AWS 'n herdruk van die 1964-AWS is, met enkele wysigings vir wisselvorme. Die reëls is egter baie vollediger uiteengesit en toegelig as in die 1964-AWS.

HIERDIE WERF...

Hierdie werf is 'n poging om enersyds die AWS meer toeganklik op die web te maak, en andersyds om Afrikaanse spelreëls (nie soseer die AWS sélf nie) ook meer toeganklik op die web te maak. Dis ook 'n kommentaar op die huidige spelreëls, en die skrywers het hulle redelik wat vryheid veroorloof om tong diep in die kies te suig.

Die werf se uitleg is as volg:

1. Koop die AWS

Beide die blou boek en die bont boek is tans via hierdie bladsy by Kalahari.net te koop. By dié aanlyn inkopieplek kos die vorige AWS ongeveer R100 en die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls ongeveer R120 (hoewel die kleinhandelsprys ongeveer R150 is). Komaan, koop die nuwe AWS!

2. Geskiedenis van die AWS

Hier volg 'n kort oorsig oor die verskillende uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, asook 'n kykie na die werk van die verskillende Taalkommissies. Dis 'n blik op die verlede.

3. Taalkommissie-lede

Ons hoop om mettertyd die lede van die Taalkommissie (en medewerkers aan die AWS) aan julle te kan voorstel. Ons kort foto'tjies en kort biografieë van die lede.

4. Oorsig oor die reënboog-AWS

Die bont boek lyk sommer stukke beter as die blou boek. Op hierdie bladsy is kiekies van die verskillende afdelings in die boek, om die mond te laat water. Ons gee ook 'n voëlblik oor die afdelings, met 'n bietjie statistiek.

5. Spelreëls en kommentaar (ons s'n en joune ook)

Hier volg 'n opsomming van die spelreëls wat in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls vervat is, met ons eie kommentaar en (soms snedige) opmerkings sommer tussen-in. Die reëls op hierdie bladsye is nie gemerk nie, maar die reëls waarvan dit 'n opsomming is, word in elke geval tussen hakies aangegee. Daar is ook spasie vir lesers se kommentaar en kritiek op die spelreëls (of op ons kommentaar).

Ons hoop ook om mettertyd 'n vereenvoudigde weergawe van die reëls te skryf - die nuwe AWS is nouwel grondig bygewerk, maar die hoofstukke is oor die algemeen verwarrend en baie kompleks.

6. Omgangstaalafrikaans

Ons kyk vlugtig na dié nuwe, opwindende afdeling van die AWS, en lei reëls af uit die gegewe voorbeelde.

7. Weggelate woorde

Eendag, ver in die toekoms, wanneer ons baie tyd het, beplan ons om 'n lysie te maak van woorde wat by die 1991-AWS uit die 1964-AWS weggelaat het, en by die 2002-AWS by die 1991-AWS weggelaat is.

8. Debat oor die 1991-AWS

Blykbaar was daar nogal heelwat debat in die pers oor die gehalte van die 1991-AWS. Ons het 'n bietjie in die Afrikaanse koerante se argiewe gaan rondsnuffel op soek na van dié debatte, en was dit nou nie interessant nie. NUUT: Dooie skakels is weer reggemaak!

9. Skakels

As jy 'n webwerf het wat oor Afrikaans of spelling handel, sal ons graag daarheen wil skakel. Ons moedig mense ook aan om skakels na óns toe op hulle webwerwe te plaas. Gebruik gerus die onderstaande baniertjies:

Afrikaanse Spelreëls

Ons is nie grafiese ontwerpers nie - as jy 'n beter baniertjie kan skep, laat ons weet!

Afrikaanse Spelreëls

Dankie aan Roeland Delhez vir hierdie oulike (baie beter as ons s'n) baniertjie. Gebruik dit gerus!

10. Briewe

Hierdie laaste bladsy bevat van die briewe wat ons ontvang het. As ons jou brief plaas, en jy wil *oeps* nie jou naam óf jou brief geplaas hê nie, laat ons weet (en wees spesifiek).


Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.

Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.

π