Die webskakels na Media24 se koerantartikels is reggemaak en werk nou weer!
Die volgende artikels kom almal uit óf Beeld óf Die Burger, maar daar is in elk geval baie duplisering tussen dié twee publikasies. Hier en daar is die chronologiese volgorde omgeswaai om dinge in tematiese perspektief te stel.
Kort artikels is verder verkort en opgesom, maar vir langer artikels is daar 'n direkte webskakel na die Naspers-argief gegee. As jy binne Suid-Afrika woon en nie 'n lid van M-Web is nie, mag jy dalk toegang tot daardie argiewe geweier word. Probeer gerus 'n anonimiseerder gebruik, soos http://www.anonymizer.com.
Prof. Francois Odendal het gesê dat die Taalkommissie besig is met 'n "volledige herformulering van die spelreëls" en 'n "indringende herbewerking van die woordelys", maar dat die grondbeginsels wesenlik onaangetas sal bly. Die spelreëls sal nie gewysig word nie. Die kommissie probeer eerder om dit in eenvoudiger en begrypliker vorm te verwerk sodat die man op straat dit makliker kan verteer.
Die Taalkommissie oorweeg dit om vanjaar 'n derde werksessie te hou naas die gebruiklike twee, het prof. Francois Odendal gesê. Die kommissie wil die volgende uitgawe so gou moontlik laat verskyn, moontlik reeds in 1990.
Volgens prof. Odendal sal die lys van afkortings, asook die woordelys, aansienlik uitgebrei word. "Ons hoop om die nuwe uitgawe binne die afsienbare tyd te voltooi. Daar word ook aandag gegee aan die leenwoorde in die Afrika-tale in die Republiek. Bepaalde gedeeltes van die woordelys sowel as spelreëls word in hersiening geneem met die oog op konsekwensies en die moontlike wysigings waar teenstrydighede of foute kon insluip." Volgens prof. Odendal word daar aandag gegee aan korrespondensie deur verskillende individue en instansies wat taalnavrae aan die Taalkommissie gerig het. 'n Besluit van die Taalkommissie in 1987 dat eiename plus soortname los en vas geskryf kan word, het groot byval gevind.
Volgens dr. Attie Coetzer, lid van die Taalkommissie moet nog net 'n paar veranderinge aan die finale manuskrip aangebring word voordat dit binne 'n maand na die uitgewers gestuur word. "Ons het veral probeer om die reëls eenvoudiger te formuleer," het dr. Coetzer gesê. Vir diegene wat sukkel met die miljoene, is 'n paar riglyne neergelê: 'n Biljoen is 'n miljoen miljoen; triljoen is drie maal miljoen en 'n miljard is duisend miljoen. Vier maal miljoen is kwadruljoen.
Opmerking deur webmeester: Vier maal miljoen is tog viermiljoen, nie waar nie?
Volgens dr. Attie Coetzer word die gedeelte oor spelreëls nuut geformuleer sodat dit makliker verstaan kan word. Baie van dié reëls word ook vereenvoudig. Aandag word veral gegee aan leenwoorde uit die swart tale, sowel as die spelling van eiename in dié tale. Daar is ook 'n langer lys van afkortings.
Dr. Coetser het gesê sommige veranderinge en aanpassings in die nuwe uitgawe is interessant. Weer eens wat los geskryf was, is nou 'n wisselvorm wat vas of los geskryf kan word. Weer eens se woordmaats - soos meteens en opeens - word almal vas geskryf, verduidelik hy. Waar die gravis in 'n geval soos òf die een òf die ander gebruik is, word dit vervang deur die akuut: óf die een óf die ander en nóg tyd nóg geld. In die nuwe uitgawe sal kleinboet 'n standerdsessie genoem word - standerd en sessie word vas geskryf. Maar wanneer die afkorting vir standerd gebruik word, moet dit nou met 'n syfer en nie 'n woord nie gepaard gaan, dus st. 6. Ten opsigte van die gebruik van die oe-klank in plekname is nie 'n eenvormige reël vasgestel nie. In die algemeen word plekname noord van die Sahara met 'n "oe" geskryf - soos in Koeweit en Roemenië - en name van plekke suid van die Sahara met 'n "u" - soos in Uganda en Lusaka. Die term desk top publishing (DTP) sal voortaan in Afrikaans as kantoorpublisering (KTP) bekend staan.
Vir 'n rukkie is daar allerlei optimistiese artikels oor die nuwe AWS.
Lees gerus dié artikels op die web:
http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/1991/05/7/9/2.html
http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/1991/05/11/9/1.html
http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/1991/05/18/8/3.html
http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/1991/06/6/12/3.html
E. Roux, Strand, skryf:
Die Akademie se nuwe AWS het nou ook die handdoek ingegooi in die stryd teen Engels en erken al soveel as vyf skryfwyses om 'n eienaam soos Nico Malan-teater te spel. Die arme taalonderwysers wat moet bybly! Of moet ons eerder sê dit word al hoe "meer moeilik" om "kategories" te verklaar wat is korrek of verkeerd? Mense moenie praat van al die basterwoorde soos "boks" wat nou erken word nie. Englikaans is verseker van "haar" toekoms. Bye-bye!
Indien die nuutste uitgawe van die AWS bedoel is om skoolkinders te help om kennis te maak met die skryf- en spelreëls van Afrikaans, slaag dit nie in die doel nie, het mnr. Achmat Davids, uitvoerende lid van die Afrikaanse Taalfonds en die Grassroots Education Trust gesê.
Mnr Davids het die volgende besware:
Hy het ook lof, aan die ander kant:
Mnr. Davids het gesê die AWS bevat ook positiewe aspekte, soos die insluiting van woorde soos chops, lorry en leotard. Hy verwys ook na die skryfwyse van eienaam samestellings, soos Nissan-onderdele, Yskor-staal en Maanlig-nagklub. Dit kan nou op vyf maniere geskryf word. Die taalreëls vir die spelling van woorde met Griekse en Latynse morfeme, is vergemaklik. Onduidelikhede oor die spel van woorde is nou uit die weg geruim en die reëls ten opsigte van afkortings is vollediger.
Die nuwe AWS stel wel 'n aantal van die foute in die ou AWS reg, maar bevat ander groot foute wat baie probleme vir mense kan veroorsaak wat elke dag met die taal werk, sê mev. Dineke Ehlers, 'n lektrise van die departement Afrikaans aan Unisa.
Lees mev Ehlers se hele artikel op die web:
http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/1991/07/25/20/4.html
Sy had die volgende besware:
Prof. Johan Combrink van die Taalkommissie, wat die AWS saamgestel het, het gesê mev. Ehlers se beweringe is "uiters verdagmakend onbillik". Hy het gesê van die reëls in die nuwe AWS is beslis in die praktyk getoets voordat dit gepubliseer is. "Van die reëls is lank, maar 'n mens is nie veronderstel om dit te onthou nie. Dit is die beginsels wat jy moet snap."
In "Gids by die AWS" vergelyk Johan Combrink die 1964-uitgawe met die 1991-uitgawe: hoe spelreëls verander het en watter nuwes bygekom het; hoe die spelling van bepaalde woorde gewysig is; watter woorde geskrap is en watter nuwes opgeneem is; hoe die afkortingsreëls gewysig is en watter nuwes bygekom het.
Die meeste van die nuwe spelreëls het nog nie neerslag gevind in die skole nie aangesien leerlinge en leerkragte steeds skoolboeke gebruik waarin die ou spelreëls geld. Prof. Combrink het voorgestel dat die nuwe spelreëls vanaf die einde van 1993 moet geld.
'n Nuwe uitgawe van die AWS, wat waarskynlik in 1995 sal verskyn, word reeds deur die nuwe Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns beplan.
Twee vroue sal vir die eerste keer in die kommissie dien. Hulle is drr. A.E. Feinauer van die Universiteit van Stellenbosch en J. Swanepoel van die Pretoriase Technikon.
'n "Vriendeliker, redaksioneel opgeknapte" uitgawe van die AWS sal waarskynlik in 1996 verskyn, het prof. Johan Combrink, lid van die Taalkommissie van die Suid- Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, gister by navraag gesê.
Prof Combrink het na 'n paar klagtes wat ontvang is, verwys:
Volgens prof. Combrink was daar nie baie foute of flaters nie, maar die nuwe woordelys kan wel "vriendeliker" wees.
"Ek weet van geen taal behalwe Afrikaans waarvan die spelling al om die hawerklap verander word nie. Dit is dié soort akademiese speletjie wat mense bang maak om Afrikaans te skryf en selfs die opvoedingstelsel verdag kan maak," het mnr. Koos Human, besturende direkteur van die uitgewer Human & Rousseau, Vrydagaand by die oorhandiging van die Rapport-boekpryse vir 1991, gesê.
Hy het die volgende besware gehad: 1. Dis te gou. 2. Later weet niemand meer hoe om te spel nie. 3. Dit veroorsaak 'n nagmerrie in die publikasiebedryf.
Dineke Ehlers, dosent in Afrikaans en kursusleier van Unisa se kursus Praktiese Afrikaans, antwoord op Koos Human se brief beamend, en gee 'n hele rits besware teen die huidige AWS. Dis omdat dit so vol foute is, meen sy, dat daar binnekort weer 'n nuwe AWS uitgegee moet word.
Lees haar artikel op die web:
http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/1992/06/25/2/22.html
Dit lyk of prof Combrink omgangstaal sommer by Standaardafrikaans wou inlyf...
"Braaf beteken weer dapper. Dieselfde vryheid wat by ander eiename geld, geld nou ook by straatname," het prof. Johan Combrink, voorsitter van die Taalkommissie, gister aan Beeld gesê. Volgens prof. Combrink sal die volgende uitgawe van die AWS vryer werk met frases soos "doel dien", "'n kans staan" en "in gemeen hê". Die beskouing dat "'n rekord breek" uit die bose is, is 'n misvatting wat deur skoolboeke gevestig is, het prof. Combrink gesê. Die AWS gaan ook verruim word deur woorde van ander gelowe op te neem. Die spelling van sekere Moslem-woorde gee nog probleme, het prof. Combrink gesê.
... maar op die ou end besluit die Taalkommissie om dit eerder apart uit te gee:
Die Taalkommissie gaan naas die AWS 'n tweede boek uitgee oor die spelling van Afrikaanse woorde. Die gaan 'n titel hê soos Woordelys van Omgangsafrikaans. Waarom 'n twééde boek? Die AWS bevat die Afrikaans wat gepraat en geskryf word in formele omstandighede. Sulke omstandighede heers byvoorbeeld wanneer iemand 'n openbare toespraak maak, sê maar by die ingebruikneming van 'n nuwe snelweg, of wanneer iemand 'n sakebrief skryf aan die munisipaliteit. Maar ons praat en skryf hoegenaamd nie altyd onder formele omstandighede nie. En dán is ons spraak én ons skryfwyse informeel, meer ontspanne. Nogtans neem die mense rondom ons ons nie kwalik oor ons losser manier van praat of skryf nie: dit is nie sleng of Substandaardafrikaans nie, dit is net gemakliker. Dit is Omgangsafrikaans.
Die hele artikel kan op die web gelees word:
http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/1992/10/05/2/3.html
Vier jaar later probeer Johan Combrink weer omgangstaalwoorde by Standaardafrikaans betrek:
Die tekortkominge in die huidige AWS is die rede vir die haas met die nuwe uitgawe daarvan. Só het prof. Johan Combrink, voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie, gister hier gesê. Hy het daarop gewys dat die nood bestaan om eenvoudiger gestelde reëls te versprei.
"Daar sal nie 'n drastiese herformulering van die reëls wees nie," het hy gesê. Die boek sal wel 'n groot mate van vryheid toelaat wat die los en vas skryf van woorde betref. Die nuwe AWS sal volgens prof. Combrink meer gebruikersvriendelik wees en baie meer omgangswoorde bevat. "Daar sal baie nuwe woorde wees wat in die omgangstaal gebruik word. Baie van die woorde behou die Engelse spelling, maar sommige is verafrikaans," het hy gesê.
Intussen probeer die Taalkommissie via sy mondstuk Johan Combrink hard om die volk se guns te wen met allerlei (nuttige) verwere oor die voordele van die huidige spelreëls:
http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/1992/11/02/4/14.html
http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/1993/03/15/2/17.html
http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/1993/08/02/2/32.html
http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/1997/10/20/13/9.html
In die volgende artikel lewer prof Combrink veral kommentaar op die idee van sommige taalkenners om die Afrikaanse skryftaal aan te pas om dit deel van die rekenaareeu te maak.
http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/1998/01/29/13/1.html
Louise Steyn van Kampsbaai skryf:
Dis nou al geruime tyd dat ek in tydskrifte en elders 'n nuwe taalverskynsel sien wat my heeltemal onthuts. Dis iets wat, so lyk dit my, gebaseer is op 'n waninterpretasie van die nuwe(rige) AWS se "reël" dat "keelskoonmaak" as een woord geskryf moet word. Nou sien mens kort-kort dat daar geskryf word "hy maak keelskoon" pleks van "hy maak keel skoon".
Die AWS se aanbeveling omtrent vas skryf werk seepglad wanneer jy 'n sin het soos: "Hy blaai deur die boek terwyl hy keelskoonmaak", of "Hy het keelskoongemaak en toe verder gepraat". Maar die opstellers van die AWS het tog sekerlik nie gemeen dat mens só hard moet probeer om vas te skryf dat jy ook "hy maak keelskoon" skryf nie!
Pieter Erasmus, Nuweland, skryf:
Die redakteur van Die Burger se antwoord op mnr. Louis Louw van Oranjezicht se brief (''Los en vas skryf van woorde'' Menings, 7 Junie) is geheel en al onbevredigend. Dit is wel so dat die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns skrywers 'n mate van vryheid gun om sekere samestellings óf los óf vas te skryf. Ek kan my egter nie voorstel dat selfs die verwarde Taalkommissie dit sou goedkeur dat daar lukraak en inkonsekwent te werk gegaan word nie.
Mnr Erasmus se klagte handel meer oor Die Burger se interpretasie van die AWS as oor die AWS sélf. Sy brief (en die redakteur se antwoord op sy brief) kan op die web gelees word:
http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/1994/06/10/8/7.html
Prof Combrink lewer ook kommentaar op Die Burger se aweregse spelwyses, en praat dit goed. Lees op die web wat hy geskryf het:
http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/1995/10/09/9/10.html
Hier volg 'n verkorte weergawe van 'n referaat oor die nuwe (2002-) AWS, gelewer deur 'n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) se Taalkommissie, prof. Wannie Carstens van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO, op die jaarkongres van die Linguistevereniging van Suider-Afrika in Potchefstroom.
Omdat kritici bevind het dat die bestaande AWS, wat in 1991 gepubliseer is, sy doel gemis het, is besluit om gou "regstellende" stappe te doen...
http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/1998/08/10/4/4.html
Hieronder tel:
'n Nuwe en vriendeliker AWS gaan in die nuwe millennium die lig sien, het 'n Taalkommissielid, prof. Wannie Carstens van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit aangekondig.
Die bestaande AWS, wat in 1991 gepubliseer is, is deur sommige kritici "globaal" as 'n fout beskou en as "'n bron wat sy doel gemis het". Voorts is gesê dit was nodig om gou "regstellende" stappe te doen om moontlike "gebreke" aan te suiwer. Die nuwe Taalkommissie van 1992 en die kommissies daarna (dit word elke drie jaar hersaamgestel) het eers 'n strategiese-beplanningsessie gehou waar besin is oor sy taak, missie, visie en samestelling, asook oor beplanning van werk vorentoe. Maar dit het gou geblyk dat die werk nie in enkele jare gedoen sou kon word nie, "veral as die aard en omvang van die kritiek op die 1991- AWS behoorlik verreken moet word". Die aanvanklike teikenpublikasiedatums, bv. 1995 en 1996, vir 'n nuwe AWS "het geblyk nie veel meer as 'n hersenskim te wees nie", het Carstens gesê.
"Tans word beplan vir vroeg in 2000, maar die afronding van die teks en die tyd wat die terugvoering van taalpraktisyns in beslag kan neem nadat die manuskrip voltooi is (een van die hoofbesware teen die vorige AWS), kan dit dalk later maak."
Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.
Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.