Daar het 'n paar nuwe reëls oor die afkappingsteken (die apostroof) ingetree, waarvan sommige nogal 'n verassing mag wees, veral by meervoudsvorme wat op snaakse letters eindig.
(2.1) Oudergewoonte kry meervoudsvorme en verkleinings van woorde wat op i, o, u en 'n beklemtoonde a eindig, 'n afkapteken, tensy (2.2) die i deel van 'n tweeklank is of (2.3) daar 'n klinker voor die u is (ongeag of dit deel is van 'n tweeklank). Dié reël geld egter nie indien (2.4) die klinker dubbeld aan die einde van 'n woord voorkom nie. Dus foto'tjie en senu'tjie, maar keutjie, luitjie en kabrootjie.
(2.5) Die afkapteken word ook nie gebruik indien die stam se laaste klinker 'n diakritiese teken op het nie, ongeag of dit uitgespreek word. (2.6) Dieselfde geld vir woorde in die vorm =y of =ie. Reël 2.6 staan ook in die 1991-AWS, hoewel heelwat kollegas dit steeds vreemd ag. Voorbeelde is gôtjie in plaas van gô'jie, en Garys in plaas van Gary's.
Die reël oor die meervoude of verkleining van die beklemtoonde a word nou apart hanteer (2.7), en dit geld nou ook vir 'n lang a-klank. Dit geld ook vir afgeleide woorde waar die klem nie meer op die a val nie, soos byvoorbeeld pa's en peetpa's, maar om die een of ander rede geld dit nie vir oupas nie (die Taalkommissie beskou "ou+pa" geriefshalwe nie as 'n samestelling nie).
Wanneer (2.8) die slot-e van 'n woord (gewoonlik 'n vreemde woord) nie uitgespreek word nie, kan die meervoud met 'n afkap-e of met 'n nieafkap-s gedoen word, ongeag die uitspraak. Dus by garage'e of garages, franchise'e en franchises is albei reg. Dié reël geld vir eiename ook. Nóg 'n reël by eiename (maar nie by soortname nie), is (2.9) dat woorde in die vorm =rs of =s waar die rs of s nie uitgespreek word nie, ook 'n afkapteken kry in die meervoud of verkleining. Dus Louis (uitgespreek loei) word Louis'e of Louis's, maar Louis (uitgespreek "loe-iez" of "lou-is") word Louise in die meervoud (hmmm, vreemd...).
Ons het 'n paar taalpraktisyns gevra hoe hulle woorde soos Du Toit, Tredoux en Du Preez (waar die slot-medeklinker nie uitgespreek word nie), in die meervoud of verkleiningsvorm sou skryf, en hoewel hulle deur die bank 'n afkapteken sou gebruik, gee beide die 1991- en die reënboog-AWS (2.10) aan dat die afkapteken verkeerd is wanneer die onuitgespreekte letter 'n t, x of 'n z is. REGSTELLING: Vroeër het die woord "verkeerd" in die laaste sin van hierdie paragraaf gelui "onnodig".
By meervoude en verkleinings van (2.11) akademiese kwalifikasies, byvoorbeeld B.Tech.'jie en B.Tech.'e of M.Mus.'ie en M.Mus.'e, word 'n afkapteken gebruik, ongeag of die graad as 'n woord uitgespreek word (wat gewoonlik die geval is). Reël 2.11 geld blykbaar ook vir enige afkorting se meervoud of verkleining, maar by afkortings maak dit saak of die letters afsonderlik uitgespreek word of nie. Letter-uitgespreekte afkortings kry die afkapteken, byvoorbeeld L.P.'tjie en L.P.'s. Afkortings wat egter ingekorte woorde is, en waarvan die volvorm van die woord nie 'n afkapteken kry by meervoude nie, kry nie 'n afkapteken nie, byvoorbeeld departement en departemente, en dept. en depte. (nie dept.'e nie). Dié reël geld ook (2.12) vir enkel-letters en (2.13) (2.14) getalle, en by simbole.
Terloops: Volgens reël 3.16 ev hang die keuse tussen =s en =e by meervoudsvorming af van die laaste letter van die afkorting, nie die laaste letter van die volvorm nie. Maar eintlik geld dié reël slegs vir afkortings soos L.P., en nie vir afkortings soos dept. nie.
(2.15) Die afkapteken word by sekere verswakte vorme gebruik. [xx] Daar is nie 'n hard-and-fast reël hiervoor nie; 'n mens moet die gevalle maar net leer en op jou gut-gevoel staatmaak, so lyk dit my. Voorbeelde is g'n, s'n, 'k, 't, aan't. Dieselfde geld vir (2.16) sekere klanknabootsings, soos b'r (brrr) of h'n-'n (uh-huh).
In sommige gevalle van (2.17) vreemde woorde met 'n afkapteken bly die afkapteken in Afrikaans behoue, byvoorbeeld by die Engelse besitlike vorm, of by Franse ingekorte woorde.
Ons verwelkom kommentaar van ons lesers, hetsy kommentaar op ons opmerkings of direk kommentaar op die spelreëls sélf. Skryf solank jou kommentaar, en wanneer ons klaar is, sal ons die posadres gee waarheen jy jou kommentaar kan stuur. Kommentaar word onderaan elke hoofstuk geplaas (anoniem of met jou naam).
Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.
Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.