MEDEKLINKERS - OPSOMMENDE AFRIKAANSE SPELREËLS EN OPMERKINGS

| Tuisblad | Koop die AWS | Geskiedenis van die AWS | Taalkommissie-lede | Oorsig oor die reënboog-AWS | Spelreëls en kommentaar (ons s'n en joune ook) | Omgangstaalafrikaans | Weggelate woorde | Debat oor die 1991-AWS | Skakels |

Kliek hier vir die spelreëls-hoofbladsy.

KONSONANTE

[x] Die enigste werklike probleme wat daar by medeklinkers opduik, is (a) die toepassing van die beginsel van "ons skryf ammekaar dieselfde", (b) die keuse tussen =te en =de, en (c) die verdubbeling van medeklinkers tussen klinkers. Die res is heel logies.

(11.1) 'n Woord in die vorm =[b] waarvan die b as 'n p uitgespreek word, word met 'n b geskryf as gevolg van gelykvormigheid met vorme soos =[bb]=. By sommige afleidings met 'n p-klank, word sulke woorde in die vorm =[b][p]= geskryf. Dieselfde (11.2) geld vir woorde in die vorm =[d], wat soms ook die vorm =[d][t]= kry, byvoorbeeld Kokstadter en robpie. Reël 11.2 geld veral (11.3) ook by plekname in die vorm =[stad].

Natuurlik is daar uitsonderings op dié reël, en niemand weet hoekom dit so is nie. Die voorbeelde wat die AWS gee is kwaad x kwater, beeld x beeltenis, en verbind x verbintenis. Onses insiens is daar geen rede waarom die wisselvorme kwaadter, beeldtenis en verbindtenis nie ook aanvaar kan word nie.

(11.4) In woorde in die vorm =[l|n|r][d]= bly die "d" behoue selfs al word dit (deur byvoorbeeld assimilasie) nie uitgespreek nie.

By deelwoorde is daar sommige woorde wat die "d" kry en sommige wat die "t" kry en sommige wat albei kan kry.

(11.5) Voltooide deelwerkwoorde kry nooit 'n "d" aan die einde nie (tensy die stam op 'n "d" eindig). Voltooide deel- byvoeglike naamwoorde en voltooide deelbywoorde kry dit soms wel. Dus "Jy vermoei my" x "Ek is vermoeid". Die AWS gee op bladsy 98 'n lysie woorde wat met die d en sonder die d geskryf kan en mag en moet word. Daar is geen reël nie... jy moet hulle maar net leer.

(11.6) Voltooide deelwoorde in die vorm =[k|p] kry altyd 'n "te" aan die einde as dit attributief gebruik word.. (11.7) By diesulke woorde in die vorm =[f|g|s] kan jy 'n "te" óf 'n "de" gebruik, hoewel sommige vorme meer gevestig is as ander, en 'n mens daarom jou die reg kan toe-eien om op mense wat nie die gevestigde vorm gebruik nie, neer te sien. (11.8) Dit geld ook vir diesulke woorde in die vorm =[f|g|s][t|d][heid].

(11.9) Onthou julle reël 11.5? Oukei, let nou mooi op na die verskil tussen daardie reël en hierdie reël: 'n Swak voltooide deelwoord (nie 'n deelwerkwoord nie) wat van 'n werkwoord afgelei is (is dit nie maar alle deelwoorde nie?), en waarvan die werkwoord in die vorm =[l|m|n|ng|r|vokaal|diftong], kry altyd 'n =de as dit attributief gebruik word. (11.10) Voltooide deelwoorde in die vorm =[kort klinker behalwe i of u][b|d], kry 'n "de" as dit attributief gebruik word. (11.11) Swak voltooide deelwoorde in die vorm =[i|u|lang vokaal][d] kry slegs 'n =e as dit attributief gebruik word.

Omdat die f-klank soms met 'n "f" en soms met 'n "v" geskryf word, en omdat die w-klank soms deur 'n "v" en soms met 'n "w" geskryf word, en omdat die wh-klank soms deur 'n "w" geskryf word, gee die AWS die volgende wenke:

(11.12) 'n V-klank aan die einde van 'n lettergreep word met 'n "f" geskryf, tensy dit 'n akroniem is, in welke geval jy soms 'n "v" sal kry. (11.13) Die v-klank aan die begin van 'n lettergreep kan met beide 'n "f" en 'n "v" geskryf word, behalwe vir wisselvorme met "ph".

Die "f" verander soms na 'n "v" in afgeleide vorme. By manlike woorde in die vorm =[f] kry die vroulike vorm die vorm =[vin] sonder die "f". By woorde met die agtervoegsel =eer is daar geen patroon nie, hoewel 'n klein meerderheid wel die "f" vir 'n "v" verruil, byvoorbeeld half x halveer en filosoof x filosofeer. Alle vorme met =[grafeer] kry 'n "f". Sommige "w"-woorde kry 'n "v" in die verbuiging, byvoorbeeld halwe x halveer - maar daar is ook nie juis 'n reël nie en jy moet maar net die uitsonderinge uit jou kop/hoof uit leer.

(11.14) Die w-klank aan die begin van 'n lettergreep van 'n nieklassieke woord word met 'n "w" geskryf. By (11.15) woorde van klassieke herkoms word die w-klank soms net deur 'n v, soms net deur 'n w, en soms wisselvormig deur 'n w én/óf 'n v geskryf. Weereens, ai ai, 'n mens moet hulle maar net léér. Reël 11.14 geld ook vir klassieke woorde wat 'n f-klank het maar met 'n "v" geskryf word, byvoorbeeld universeel (u-nie-fer-seel x u-nie-wer-seel).

(11.16) Die wh-klank in verafrikaanste en Afrikaanse woorde word met 'n "w" geskryf, hoewel dit soms ook met 'n "u" geskryf word (byvoorbeeld linguistiek).

(11.17) Die g-klank word in Afrikaans deur 'n "g" geskryf. Die (11.18) gh-klank kan deur 'n "g" én 'n "gh" geskryf word, en as jy wonder wanneer is dit watter ene, kan jy na reëls 18.5, 18.6 en 18.10 gaan loer.

(11.19) Net in eiename en leenwoorde word die z-klank met 'n "z" geskryf. (11.20) In eg-Afrikaanse woorde en ook sommige leenwoorde word dit met 'n "s" geskryf. Die ts-klank van sommige leenwoorde word ook met 'n "z" geskryf. Wonder jy ook watter woorde is "eg-Afrikaans" en watter is "leenwoorde"? Kyk gewoon watter woorde met 'n "s" of "z" geskryf word... (dis 'n sirkelredenasie, maar ons is mos gewoond daaraan).

(11.21) Is jy gereed? Die t-sh-klank aan die begin van 'n woord word gewoonlik in Afrikaans met "tj" geskryf, tensy dit met "tsj", "ch", of "c" geskryf word. Leenwoorde uit Afrikatale word soms anders geskryf (kyk reël 18.12). (11.22) Die d-zh-klank aan die begin van 'n woord word met "dj" in Afrikaans geskryf, op enkele uitsonderings na (gewoonlik leenwoorde uit spesifieke tale soos Frans of Arabies, soos met "garage" in plaas van "garadj").

(11.23) Medeklinkers verdubbel tussen 'n kort, beklemtoonde klinker en nog 'n klinker, tensy die kort klinker 'n ie-, oe- of uu-klank het. Daar is uitsonderings, soos baseer, frikkadel, interessant, ens... (11.24) Medeklinkers tussen 'n kort ie-, uu-, oe- of eu-klank en nog 'n klinker staan, word nie verdubbel nie. (11.25) Medeklinkers tussen 'n diftong en nog 'n klinker word nie verdubbel nie. Om die een of ander rede verseg die Taalkommissie om "eu" as 'n diftong te erken.

(11.26) By afleidings waar die agtervoegsel op 'n klinker begin, en waar die stam eindig op 'n kort, beklemtoonde a-, e-, o- (soos in bot), i- (soos in sit) of u- (soos in sug) klank plus 'n medeklinker, word die medeklinker verdubbel. (11.27) As dit egter 'n lang, beklemtoonde vokaal is, word die medeklinker nie verdubbel nie. (11.28) Indien 'n woord eindig op 'n kort, onbeklemtoonde a- of o-klank plus 'n medeklinker, word die medeklinker verdubbel. Dis egter nie die geval by 'n i- (soos in sit) klank nie, en ook nie by onreëlmatige vorme van naamwoorde in die vorm =[s] of =[g], waar die meervoud byvoorbeeld mas x maste of veldslag x veldslagte is.

(11.29) 'n Woord in die vorm =[klinker][s] waar die klinker 'n kort, onbeklemtoonde a-, i-, u- of o-klank is, verdubbel die medeklinker by meervoude en verkleinings. (11.30) Net ingeval dit nie logies genoeg is nie, wel, as een woord op 'n "s" eindig en die woord of voegsel waarmee dit saamsmelt, begin met 'n "s", dan bly albei s'e behoue.

KOMMENTAAR

Ons verwelkom kommentaar van ons lesers, hetsy kommentaar op ons opmerkings of direk kommentaar op die spelreëls sélf. Skryf solank jou kommentaar, en wanneer ons klaar is, sal ons die posadres gee waarheen jy jou kommentaar kan stuur. Kommentaar word onderaan elke hoofstuk geplaas (anoniem of met jou naam).


Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.

Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.

π