Kliek hier vir die spelreëls-hoofbladsy.
Hoe 'n meervoudsvorm gespel word hang van 'n hele rits dinge af. Lees die AWS op bladsy 130 as jy dié rits wil lees.
(13.1) Gewoonlik kry woorde wat op b, d, f, g, k, p, s en t eindig, bloot 'n ekstra =e as meervoudsvorm, behalwe vir sommige woorde wat op f of g eindig, waarvan die meervoudsvorm ongewoon is (gleuf x gleuwe), en behalwe ook vir woorde wat op -aar, -aard en -erd eindig (hulle kry 'n =s in die meervoud).
(13.2) Woorde wat op l, m, n, ng, en r eindig en waarvan die voorafgaande klinker beklemtoon word, kry 'n =e in die meervoud, behalwe vir woorde wat op -êr of -ier eindig (hulle kry 'n =s as meervoud). By enkele gevalle, met sogenaamde betekenisverskil, is daar wisselvorme (soos by mans x manne). (13.3) Woorde van reël 13.2 waarvan die klinker onbeklemtoon is, kry 'n =s as meervoudsvorm. Dit geld ook vir ongeskrewe klinkers, soos in "arm" x "ar(e)m". [x] Daar is ook uitsonderings... duh.
(13.4) Woorde wat op 'n tweeklank eindig, kry 'n =e in die meervoud. (13.5) Woorde wat op 'n enkele klinker of op 'n onbeklemtoonde "ie" of "ee" eindig, kry 'n =s in die meervoud. (13.10) Woorde van reël 13.5 wat 'n beklemtoonde "ie" of "ee" het, kry 'n deelteken-e in die meervoud.
(13.6) Woorde wat op y eindig, kry 'n =s in die meervoudsvorm, tensy dit 'n vreemde woord is én die y word sonder die hulp van enige ander voorafgaande klinkers as "ie" uitgespreek, in welke geval die meervoudsvorm =ies" is (sonder die y).
(13.7) =s-meervoude van woorde wat eindig op i, o, u en 'n lang, beklemtoonde a, kry 'n afkapteken, behalwe as die u of o (en seker ook die i en die a, maar dit word nie gesê nie) deur 'n klinker voorafgegaan word. (13.8) By =e-meervoude van woorde wat eindig op -e of -r of -rs waar daardie letters nie uitgespreek word nie, kry 'n afkapteken. Dus franchise'e (hoewel franchises ook aanvaar word). (13.9) Meervoude van letters, syfers, simbole en sekere afkortings (vernaamlik akronieme en grade) kry 'n afkapteken.
(13.11) By woorde in die vorm =[e|ie|o|oe|oo][g] van die g weg in die meervoud en 'n deelteken-e word in die meervoud gebruik, tensy om historiese redes (die verskoning wat vir die uitsonderings gebruik word). Woorde in die vorm =[a|aa][g] kry nie 'n deelteken-e nie, hoewel die g ook soms wegval.
(13.12) (13.14) Saamgestelde range of ampsbenamings se meervoudsletter kom aan die heel einde, tensy (13.13) die tweede deel van die samestelling 'n byvoeglikenaamwoord-funksie het, in welkegeval die eerste deel die meervoudsvorm kry.
By (13.15) sommige afkortings verdubbel die laaste letter van die meervoudsvorm, maar by (13.16) sommige ander word 'n =e of 'n =s aangelas, en by sommige (13.17) vorme (veral klassieke vorme) word die eerste en die laaste letter van die meervoudswoord geskryf (die afkorting word dus opnuut gevorm van die meervoudswoord af).
(13.18) By letternaamwoorde (met ander woorde woorde soos AWS, CD en IK) word 'n ='s of ='e gebruik. (13.19) Maatname en SI-simbole kry nie meervoude nie, behalwe in die volvorm en dan slegs vir letterkundige doeleindes.
Eiename in die vorm (13.20) =[s|sch|sh|z] kry 'n =e in die meervoud (sonder afkapteken). Eiename (13.21) in die vorm =[ch|gh|l|r] kry 'n =s in die meervoud. (13.22) Eiename in die vorm =[a|e|ie|oo] (waar dié letters onbeklemtoon is) kry 'n =s in die meervoud. (13.23) Eiename van Franse herkoms in die vorm =[ee|ie] (beklemtoond), kry 'n =s in die meervoud. (13.24) Eiename in die vorm =[y] kry 'n =s in die meervoud, ongeag of daar 'n klinker of 'n medeklinker voor die y kom. (13.26) Eiename wat eindig op 'n klinker met 'n diakritiese teken, kry 'n =s in die meervoud. (13.28) Eiename in die vorm =[t|x|z] (onuitgesproke) kry nie 'n afkapteken nie, dus net =s in die meervoud.
(13.25) Eiename in die vorm =[a] (lang, beklemtoond) of =[i|o|u] eindig, kry 'n ='s in die meervoud (met afkapteken). (13.27) Eiename in die vorm =[e] (onuitgesproke) kry 'n ='e in die meervoud, en dieselfde geld vir die vorm =[s] (onuitgesproke), wat 'n ='s in die meervoud kry.
(13.29) Sommige meervoudsvorme het wisselvorme. Kyk op bladsy 140 vir 'n lysie van hulle, maar daar is geen reëls nie... dis almal uitsonderings met sommige wat patrone het wat nie konsekwent toegepas kan word nie.
Ons verwelkom kommentaar van ons lesers, hetsy kommentaar op ons opmerkings of direk kommentaar op die spelreëls sélf. Skryf solank jou kommentaar, en wanneer ons klaar is, sal ons die posadres gee waarheen jy jou kommentaar kan stuur. Kommentaar word onderaan elke hoofstuk geplaas (anoniem of met jou naam).
Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.
Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.