VOLKSRUST
Provinsie/staat: Mpumalanga (voorheen Provinsie Transvaal/Colonie Transvaal/Zuid Afrikaansche Republiek).
Toevoegings: –
Ingelyf: 2000, in Plaaslike Munisipaliteit Seme.
Die wapen mag so geblasoeneer word:
Wapen: Gedeel van blou en rooi; oor alles heen ’n spoorbrug van silwer bestaande uit ’n dek en twee klippilare, swart gemessel; die pilare spruit uit die boonste van ’n paar golwende silwer dwarsstrepies in die skildbodem; in die skildhoof ’n paar regterhande (met moue) in goud wat mekaar groetend vashou.
Helmteken: ’n Klipduif in sy natuurlike kleure.
Wrong en dekkleed: Silwer en blou.
Leuse: Fortitudo mea civium fides.
Oor die wapen:
Die skild vertel ’n storie oor die Derde Swaziland-konvensie, wat in Desember 1894 deur president Paul Kruger en die Britse Hoë Kommissaris, sir Henry Loch,[1] onderteken is.
Nog die een nog die ander was gewillig om op die ander se grondgebied te onderhandel nie, dus is die spoorbrug oor die Grensspruit, wat die grens tussen die Zuid Afrikaansche Republiek en Natal gemerk het, is as neutrale ontmoetingsplek gekies. ’n Passasierswa is in die middel van die brug geplaas (wat tans die Konvensie-brug genoem word), oor die middel van die stroom. Die twee staatsmanne kon dan aan die konferensietafel sit, elkeen op sy eie grondgebied.
Die brug is in 1954 as geskiedkundige monument geproklameer. Sedertdien is die spoorlyn met ’n roeteverandering verlê, en slegs die twee pilare, tesame met die opgehoopte grond weerskante, bly staan.
Die golwende silwer strepies simboliseer die stroom.
Die hande wat mekaar groet simboliseer Kruger en Loch en die ooreenkoms wat hulle oor die toekoms van Swaziland bereik het. Daardie staat het ’n Protektoraat geword onder die voogdskap van beide die ZAR en Brittanje. Brittanje het in 1900, nà die anneksasie van die ZAR, die enigste land geword wat voogdskap uitgeoefen het.
Die voël in die helmteken is swak geteken, en lyk soos ’n houtkapper of ander soort goggavreter, maar is in werklikheid veronderstel om ’n Afrikaanse klipduif (Columba guinea) te wees, ’n verwysing na die nabygeleë berg Majuba (“duiweheuwel”).
Oor die dorp:
Volksrust is op die plase Zandfontein, Verkyk, Boschpad Drift en Llanwarne (Rooibult) uitgelê. Hierdie plase is in 1888 deur die ZAR-regering vir hierdie doel aangewin. Die dorp is 27 Maart 1889 geproklameer.
Die Volksraad het Dorothea de Jager, dogter van Dirk C Uys (“Swart Dirk”) en vrou van Veld-Kornet G W J de Jager, versoek om die dorp sy naam te gee. Sy het op Volksrust besluit, waarskynlik omdat die burgers nà die Slag van Majuba (27 Februarie 1881) gerus het. Hierdie oorwinning is verwag om vir die Boerevolk ’n lang-termyn rus en vrede te verseker.
Die heuwel Majuba (die naam waarvan “duiweheuwel” beteken) lê slegs 15 km suid van Volksrust.
Op die dorpsplein, Voortrekkerplein, is ’n monument ter ere van die burgers wat aan die Eerste Anglo-Boereoorlog deelgeneem het. Die dorp het ook ’n monument aan die vroue en kinders wat tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog (Tweede Anglo-Boereoorlog) oorlede is.
Die spoorlyn vanaf Durban na Johannesburg het in 1891 Charlestown, Natal, bereik – kort suid van Volksrust – en in ’92 het dit by Volksrust die ZAR binnegesteek. Die eerste trein van die Natal Government Railways wat Johannesburg bereik het, het in ’93 geloop.
Op die vooraand van die Suid-Afrikaanse Oorlog het die ZAR-magte te Sandspruit, ’n spoorweghalde 16 km noord van Volksrust, bymekaar gekom voordat hulle Natal binnegetree het.
Die dorp het in 1893 ’n gesondheidskomitee gekry, wat in 1903 met ’n dorpsraad vervang is, en die volgende jaar met ’n munisipaliteit.
Die Drakensberg-bergrant (wat hier heelwat laer is as òf langs die grense van Lesotho òf in die middel van Mpumalanga) vorm die suidgrens van die distrik Volksrust, wat ook die grens is tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal.
Die enigste ander dorp in die distrik van Volksrust was Perdekop.
Nà die plaaslike regeringsverkiesing van 2000 het Volksrust deel geword van die Plaaslike Munisipaliteit Seme, tesame met Amersfoort, Perdekop en Wakkerstroom. Seme is deel van die Distriksmunisipaliteit Oosvaal.
[1] Sir Henry was hoofsaaklik Goewerneur van die Kaapkolonie, maar sy addisionele amp van Hoë Kommissaris het hom gesag gegee oor die ander Britse gebiede in Suider-Afrika, asook ’n posisie waarin hy met ander lande namens die Britse Regering kon onderhandel.
For English, click here
Terug na munisipaliteite-indeks
Terug na Armoria civica-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle