Armoria patrić
http://uk.oocities.com/landswapen

Provinsie Gauteng

Provinsie Gauteng

Gauteng se wapen is 17 Julie 1995 die eerste maal buite die Provinsiale Wetgewer in Johannesburg geopenbaar. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: Op ’n Nguni-skild van blou, versterk met vier rieme van silwer weerskante, ’n regop pik van goud.

Helmteken: ’n Kroon bestaande uit ’n wrong van silwer en goud, versier met afwisselende simbole van yster, in silwer, en goue bye; twee half-simbole, een heel simbool en twee bye is sigbaar.

Skildhouers, kompartement en leuse: Twee klimmende leeus in hulle natuurlike kleure wat elk op ’n goue staaf staan; tussen die twee stawe ’n derde; die leuse op die drie stawe: Unity in diversity.

Wapen verduidelik:
Die provinsie se naam beteken “plek van goud”, en slegs die Sotho-naam word gebruik, ten spyte van die vele ander tale wat in die provinsie gepraat word. (Die term “Sotho” sluit hier nie net Noord- en Suid-Sotho in nie, maar ook Tswana.) Die woord is ontleen aan die Sesotho gauta, wat direk van die Nederlandse/Afrikaanse goud ontleen is, plus die plekvormende agtervoegsel -ng. Nguni gebruik ’n effens gewysigde vorm van die naam, iRhauteni, maar die uitspraak is amper dieselfde. Die eerste klank is die G van Sesotho, Afrikaans en Nederlands.

Die naam is in Sesotho, want dit lę effens oos van die middelpunt van die Sotho-sprekende binneland, wat grotendeels ooreenstem met die Hoëveld en die bergagtige węreld van die suide van Limpopo Provinsie. Sedert die ontdekking van goud in 1886 egter, het die Witwatersrand ’n invloei van trekarbeid uit baie dele van Suid-Afrika (binne sy huidige grense) beleef, asook van verder weg. Die provinsie huisves mense van baie tale, maar onder hierdie gemeenskappe vorm die Zulu-sprekers ’n meerderheid, en as sprekers van Xhosa, Swazi en Ndebele bygevoeg word, maak dit ’n meerderheid Nguni-sprekers – dus die keuse van ’n Nguni-skildpatroon, eerder as dit wat tradisioneel is onder die Sotho-sprekende volkere.

Die Nguni-skild kom in drie vorms voor: die tradisionele Nguni-krygskild is die lengte van ’n man se hoogte; die Zulu-krygskild is ongeveer 600 mm lank; en die Nguni stokgeveg-skild (wat in die tradisionele oefening van jong mans gebruik word) is effens meer as 300 mm lank. Maar aldrie het dieselfde formaat, min of meer. Dit is van beesvel gesny en gestut deur ’n raamwerk stokke. Die stokke word vir reis uitgehaal, en dan weer vir gebruik ingevoeg. Die raamwerk is aan die skild vasgemaak met beesvel-rieme wat dikwels in ’n kontrasterende kleur is en produseer die kenmerkende patroon van kort vierkantige blokke oor die skild se voorkant.

Die kleure blou, silwer en goud is egter duidelik Westers, en vermy die beesvel-kleure wat tradisioneel is vir skilde in die tradisie van Afrika. Dit dui op die teenwoordigheid van vele immigrant-gemeenskappe uit ander węrelddele (veral Europa) wat daar leef.

Gauteng is in der waarheid die mees veeltalig van al Suid-Afrika se provinsies. Dit is die enigste waar al 11 van die land se amptelike tale gepraat word, en ’n groot getal Europese tale word ook deur redelik groot gemeenskappe gepraat.

Die pik simboliseer die mynbou-aktiwieteite waarop die provinsie se rykdom gebou is. ’n Pik het ook in die wapen van Suid-Rhodesië en die Republiek Rhodesië verskyn; daardie land is ook grotendeels op mynbou opgerig.

In die helmteken dui die ystersimbole op ander aktiwiteite, veral die yster- en staalwerke van Pretoria en die Vaal-Driehoek, asook vervaardiging en die swaar ingenieurswese, terwyl die bye nie net ekonomiese aktiwiteit simboliseer nie, maar versterk die goue element in die wapen. Dit verwys ook na Pretoria, waar bye nie nie in die stadswapen verskyn nie, maar ook in die wapen van die Universiteit Pretoria.

Daar word na die helmteken as ’n kroon verwys, maar die basis daarvan is duidelik ’n wrong. Ook buitengewoon (in der waarheid, hoogs onreëlmatig in die heraldiek) is die gebruik van twee metale in die wrong. Dit is miskien opsetlik, om die minerale rykdom van die streek te beklemtoon.

Die leeus (Leo leo) is ten eerste daar omdat die streek deur leeus bewoon is toe blanke setlaars ten tye van die Groot Trek eers aangekom het (en lank daarna) maar ook omdat die leeu in die wapens van die Zuid Afrikaansche Republiek en Provinsie Transvaal verskyn, asook in die vlagembleem van die Transvaal Colony.

Die provinsiale sportliggame wat in Johannesburg gebaseer is (teenoor dié in Pretoria) het tradisioneel leeus in hulle wapens gebruik. Voor 1994 het die Suid-Transvaalse Krieketunie die wapen van die ZAR vir sy eie embleem gebruik, en die Transvaal (tans Gauteng) Rugby-unie het jare lank ’n leeu as sy wapen gebruik. Die professionele span onder die GRU is tans bekend as die Gauteng Lions. Lede van hierdie span en van die Vrystaatse span, die Cheetahs, kombineer as die Cats om Super 12 rugby te speel.

Die goudstawe wat die kompartement vorm verwys weer na die streek se goudmyn-aktiwiteit – dit is die węreld se grootste produsent van goud, en het reeds meer as ’n eeu lank daardie status. Dit wil voorkom of die stawe ontleen is aan die drie goue gewigte in die wapen van Johannesburg.

Die leuse is in Engels omdat dit gesien word as neutrale kommunikasiemiddel.

Oor die provinsie:
Die provinsie – voorheen deel van die Provinsie Transvaal – het 27 April 1994 formeel tot stand gekom, toe verkiesings die eerste maal in Suid-Afrika gehou is waar volwassenes van alle rasse stemgeregtig was. Aan die hoof is ’n Premier, verkies deur en uit die Provinsiale Wetgewer. Hy (of sy) word bygestaan deur ’n Uitvoerende Raad bestaande uit lede van die Wetgewer.

Die provinsie was eers PWV genoem – hierdie naam het ontstaan uit ekonomiese statistiek, wat die Witwatersrand saam met Pretoria en die Vaal-Driehoek gegroepeer het as die ekonomiese middelpunt van die land en die digs bevolkte konurbasie. Een van die Provinsiale Wetgewer se eerste besluite was om die naam Gauteng te aanvaar.

Dit bestaan uit die distrikte:

Hammanskraal, Cullinan, Bronkhorstspruit, Pretoria, Krugersdorp, Randburg, Kempton Park, Delmas, Randfontein, Roodepoort, Johannesburg, Germiston, Brakpan, Springs, Alberton, Nigel, Carletonville, Westonaria, Vanderbijlpark, Vereeniging en Heidelberg.

Dit is die kleinste in oppervlakte van al die provinsies – minder as die helfte so groot as Mpumalanga, wat die kleinste van die plattelandse provinsies is – maar dit het verreweg die grootste bevolking. Die Provinsiale Wetgewer het tweemaal soveel setels as KwaZulu-Natal, die digs bevolkte plattelandse provinsie.

Dit is moeilik om te verstaan hoekom Sasolburg (suid van die Vaalrivier in Vrystaat) nie in die provinsie ingesluit is nie, aangesien dit – tesame met Vereeniging en Vanderbijlpark – ’n integrale deel is van die Vaal-Driehoek is.

Maar tegelykertyd is die bevolkingskonsentrasie so groot dat dit redelik geredeneer kan word dat dit in drie gesplits moet word – Witwatersrand, Groter Pretoria en Vaal-Driehoek, met die buite-distrikte Hammanskraal, Cullinan en Bronkhorstspruit gedeel tussen die provinsies wat die naaste lę.

Sedert die stigting van Pretoria in 1855 is daar ’n konsentrasie van politieke en ekonomiese mag in Gauteng, veral sedert die ontdekking van goud, maar dit dien gemeld te word dat selfs voor die Groot Trek dit ’n magsentrum was. Mzilikazi, stigter van die Ndebele-koninkryk van Zimbabwe, het kort voor die Groot Trek sy hoofstad in die omgewing van Pretoria gehad.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Skandering met vergunning van Bruce Berry.


    Terug na nege provinsies-indeks

    Terug na Armoria patrić-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle